Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 52

15 Februarie

Оглавление

Kry jou gereedskap reg

Romeine 8:28 – En ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Elke mens het ’n goddelike roeping. God is egter baie duidelik oor die prioriteite in ons lewe, en daar kan gewis in verskillende seisoene daarvan verskillende roepings wees.

Die huwelik bly die belangrikste roeping vir getroudes. Naas ons verhouding met ons Skepper is ons grootste verantwoordelikheid om die beste lewensmaat te wees.

Die meeste mense word nie voldoende voorberei vir die verantwoordelikhede van die huwelik nie. Ons gebruik die beperkte, soms gebroke, voorbeeld van ons ouers se verhouding as maatstaf vir geluk. Hierdie gebrek aan kennis en vaardighede lei tot gevoelens van onsekerheid en konflik binne die verhouding.

Soos ek die Woord verstaan, maak God dit vir ons moontlik om ’n groot deel van ons skeppingsdoel binne die huwelik uit te leef deur die huwelik ’n verbondsverhouding te maak. Vanuit die eenheid van hierdie verhouding beloof God dat alles sal vloei. Dis vanuit die vervulling van hierdie doel dat God ons gesondheid, ons kinders, ons geldsake, ons hele lewe seën.

Leef dus die verhouding wat God gebruik as voorbeeld van sy verhouding met ons, doeltreffend uit. Doen soveel moontlik kennis oor die aard van die verhouding op, lees, woon kursusse by en leef dan die kennis prakties uit. Kennis van die goddelike huwelik sal julle bemagtig om te weet wanneer julle reg optree en wanneer julle foute begaan. Sien dus jou verhouding as deel van jou roeping en bemagtig jouself met kennis.

Het ek genoeg kennis oor God se prentjie van en doel met die huwelik?

Almagtige God en Vader, help ons op die pad na beter vervulling van ons doelwit om geluk binne die huwelik te vind. Amen

Duet

Подняться наверх