Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 63
26 Februarie
ОглавлениеTwee oor in die leë nes
Psalm 127:3 – Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.
Vroegoggend, toe die eerste lig oor die groot duin skuif, kruip Johan styf agter my blad in. “Dis koud!” sê hy half deur die slaap. Ons lê styf teen mekaar gekrul en raak sommer gou weer aan die slaap.
Toe ek uiteindelik wakker skrik, skyn die son reeds helder teen die wit gordyne. Ons kamer by die seehuis met die wit beddegoed en witgewaste houtmeubels voel kompleet soos ’n sagte spierwit wolk waarin ek toegevou word met vrede en welgeluksaligheid. Ek lê ’n lang ruk tjoepstil in my wolk van tevredenheid om seker te maak dat ek nie vir Johan te pla nie. Langs my lê hy nog rustig en slaap. Ek sien die grys haartjies teen sy slaap – nou meer daarvan as tevore, sy donker wimpers, die kleur van sy vel. My gedagtes dwaal na die dag wat voorlê. Ek bid vir die kinders en die mense by die huis, vir vriende en familie.
Hierdie stil tydjie is vir my kosbaar. Met die woorde, “Gaan jy vanoggend vir ons tee maak?” kondig Johan aan dat hy ook wakker is. ’n Beker tee in die bed is deel van ons opstaanroetine en ons maak beurte om die soet lafenis vir mekaar aan te dra.
“Ek mis vandag ons Christoff-kind,” sê hy toe ek die tee en bakkie beskuit langs hom op die bedkassie neersit. “Dié is mos tog so lief vir sy koppie tee in die oggend.”
Dis nie maklik wanneer jou kinders die nes verlaat nie. Gesels met mekaar oor die gemis eerder as om jou in jou eie hartseer van jou maat te onttrek.
Here, dankie dat U na ons kinders omsien, al is hulle nou grootmense, besig met hul eie dinge. Amen