Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 50

13 Februarie

Оглавление

Jou liefdesbelofte bly staan

Hooglied 2:16 – My liefling behoort net aan my, en ek is net syne. (NLV)

Vanoggend blaai ek deur ’n ou tydskrif, en sien die foto’s en ’n artikel van ’n jong kollega se troue raak. Ek sit lank en kyk na die pragfoto’s van die paartjie in die veld buite die Vrystaatse dorpie waar die twee getroud is. Dit herinner my aan die detail van die dag, die bruid se asemrowende mooi rok en die atmosfeer van vreugde en liefde wat geheers het. Maar dis die lys van beloftes van die bruidegom aan sy bruid wat my hart vandag die meeste raak.

“My belofte aan jou …

•Ek aanvaar jou as ’n gawe van God. Ek sal jou altyd liefhê en een met jou wees. Soos die Vader, Jesus en die Gees Een is.

•Ek wil my lewensreis met jou as my maat deel.

•Ek sal jou bemin en respekteer, in tye van geluk en ook in donkerder dae.

•Ek sal jou opsoek vir raad, liefde en ondersteuning.

•Ek sal simpatiek en teer en beleef teenoor jou optree.

•Ek wil my geluk en hartseer, my suksesse en mislukkings met jou deel.

•Ek sal altyd in waarheid en in liefde met jou praat.

•Ek sal jou eer en getrou aan jou wees solank ons leef.

•Ek gee jou hiermee my woord van trou en neem jou as my wettige vrou.”

Die onthaal, die gastelys en die detail van die dag vervaag, maar jul belofte aan mekaar moet vir altyd staande bly. Blaai weer ’n slag deur jul trou-album en herinner julself aan alles wat julle daardie dag aan mekaar beloof het.

Here, U is die Ewige God en getuie van ons verbintenis aan mekaar. Ons dank U daarvoor. Amen

Duet

Подняться наверх