Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 55

18 Februarie

Оглавление

Praat mekaar se liefdestaal

1 Korintiërs 13:1 – Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword.

My ernstige man is ’n man van min woorde as dit kom by uitbundige liefdesverklarings of die verspotte openbare vertoon van emosies. Hy verkies om eerder sy diepste gevoelens rustig op papier vas te pen en dan te deel. ’n Mooi kaartjie of briefie van hom af is iets wat ek bo alles koester. Met verjaardae en ander herdenkings kan ek altyd ’n paar woorde uit sy hart te wagte wees. Dikwels verras hy my met ’n nota in my tas of rekenaarsak as ek weggaan vir werk. Om te gee, ook met sy neergepende woorde, is sý liefdestaal.

Toe ek nou die dag my kas regpak, kom ek af op ’n opgerolde nota met dié woorde wat Johan met ’n vorige huweliksherdenking vir my geskryf het:

Na soveel jaar van getroude lewe is ek dankbaar vir my lewe.

Ek is dankbaar vir ons huis waar ons ons gesinsdroom leef.

Ek is dankbaar vir my werk waar ek my passie en my droom mag leef.

Ek is dankbaar vir jou werk waar jy jou droom en jou passie mag leef.

Ek is dankbaar vir seuns wat ons krone vol juwele maak.

Ek’s dankbaar vir my liefde vir jou wat my lewe rig en volmaak.

Dankie vir jou lewe saam met my.

Weet jy wat jou maat se liefdestaal is? Wat is jou liefdestaal? Lees gerus meer oor die onderwerp om mekaar beter te kan verstaan.

Here, my hart loop oor van dankbaarheid vir dit wat my maat vir my beteken en die spesiale manier, eie aan hom, waarop hy sy liefde aan my betoon. Amen

Duet

Подняться наверх