Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 48

11 Februarie

Оглавление

Sy koninkryk is ook jóú deel

Matteus 5:3 – Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is húlle deel. (NLV)

In die bergpredikasie leer Jesus die volk deur prediking. Hierdie woorde kom direk uit die wese van Christus en is allerbelangrik vir elkeen wat Hom as Verlosser volg. Ons uitkyk op en belewenis van ons lewe verander volkome wanneer ons Christus se belofte verstaan, aanneem en deel van ons maak.

In die bergpredikasie sê Jesus nege keer dat ons geseënd kan wees. Dit beteken dat ons die potensiaal het om ’n lewe vol vreugde en geluk te leef. Hierdie positiewe uitkoms vloei uit God se blydskap oor die lewe wat die gehoorsame mens kies. Jy vind ’n rusplek by God as jy die saligspreuke uitleef. Jesus waarborg dat lewensgeluk en vrede sal volg in jou persoonlike verhouding met God. As jy weet hoe nodig jy God het, is sy koninkryk ook jóú deel.

Leef voortdurend in die vaste wete van hoe afhanklik jy van God, jou Skepper, is. Deur Hom eerste te plaas (en nie jouself nie), kan jy ook jou maat eerste stel en in ag neem. Min dinge kan erg skeefloop in verhoudings as ’n huwelikspaar in voortdurende afhanklikheid van God leef. Daardie lewende verhouding met God rig dan voortdurend ons keuses oor kommunikasie en konflikhantering.

Hoe baklei ’n mens met jou maat terwyl jy bewustelik daaraan dink dat God jou hierdie lewe geskenk het en dat hierdie maat van jou ook aan Hom behoort? Onmiddellik is daar ’n wag voor jou mond; jy kyk met ander oë na die uitkoms van die konflik.

Leef ek heeltyd bewus van my afhanklikheid van God?

Soewereine Heer, ek wil in afhanklikheid van U leef – in elke faset en oomblik van my lewe. Amen

Duet

Подняться наверх