Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 53

16 Februarie

Оглавление

Word ’n beter jy

Filippense 1:27 – Hoofsaak is dat julle leefstyl moet pas by die Goeie Nuus van Christus. (NLV)

Ek dank die Here vir die mense in my lewe wat my voorbeeld was en is van hoe om ’n beter lewe te probeer leef. Vir sommige mense dien hul ouers se lewe as inspirasie; ander se soeke na rolmodelle en mentors is ewigdurend.

As jong volwassenes leef die meeste mense roekeloos voort asof daar geen gevolge vir hul keuses is nie. Eers heelwat later in ons lewe sien ons die realistiese gevolge van ons besluite in en moet dit dan ook dra. Die meeste van ons het teen daardie tyd vergeet dat ons besluite van gister die lewe van vandag word.

Die huwelik bring vir ons ’n speelveld van ’n verhoudingslewe waar verantwoordbaarheid tot ons voordeel kan uitspeel. Die blote feit dat iemand wat jou liefhet nou die konstante waarnemer van jou keuses word, bring ’n helderheid na vore wat die meeste mense anders na hul besluite laat kyk.

Sommige sien hierdie konteks as beherend, ander as ’n plek van veiligheid. Hoe ouer ek word, hoe dankbaarder is ek vir die plek van veiligheid. Vroue weet en sien gewoon goed wat mans net miskyk. As jy as man die opmerkings van jou vrou kan sien as beveiliging van jul verhouding, eerder as beheer van jou lewe, is jy al ’n paar tree vorentoe om saam te groei na ’n meer volwasse verhouding.

Mag ek ’n beter weergawe van myself word, ’n meer heel ek wat gebrokenheid tog aanvaar as deel van my menswees.

Hoe kan ek ’n beter weergawe van myself word?

My Vader, gee my die krag om die lang pad te loop na volwassenheid in U. Amen

Duet

Подняться наверх