Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 54

17 Februarie

Оглавление

’n Fontein van lewende water

Psalm 23:2 – Hy laat my lê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my. (NLV)

Ons kom bymekaar in die kapelletjie wat uitkyk oor die veld, bome en ’n berg in die verte. Aan die voorkant van die groot venstermuur is ’n poel water wat die kerkie en die natuurskoon buite soomloos aan mekaar verbind.

Die geleentheid, ’n lesersretreat vir diegene wat treur oor ’n verlies in hul lewe. Ons trek ons skoene uit by die ingang om in ootmoed tot God te nader. Daar is stoele vir diegene wat nie kans sien om op die vloer te sit of die gebedsbankies te gebruik nie.

Ek maak my tuis op ’n kussing reg voor by die venster. Twee engelstemme sing vanuit die agterkant van die kapel. “Soos ’n hert smag na waterstrome, smag my siel na U, o Heer. U alleen is my hartsverlange en ek bring aan U die eer.”

Ek voel ’n groot rustigheid my oorspoel. Toe ek my oë oopmaak, sien ek die bewegende kringetjies water in die poel voor my raak. ’n Teken van God se lewende water wat deur elkeen van ons vloei. Stadig en ritmies beweeg die water in kringbewegings tot by die hart van die fontein waar dit uiteindelik uitbundig borrel en bruis. Ek raak intens bewus van God se teenwoordigheid, van die geskenk van lewe, van hier wees. Met dié stap ’n ry tarentale ewe flink in gelid in die verte en ’n voël vlieg onverwags voor die venstermuur verby.

Daar is altyd klein tekens van lewe, al voel dit dalk dood in en om jou. Laat God jul huwelik soos ’n borrelende fontein van lewende water vir mekaar en ander wees.

Here, maak ons opnuut bewus van die stil krag van u lewende water wat deur ons huwelik vloei. Amen

Duet

Подняться наверх