Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 46

9 Februarie

Оглавление

Bring jou broodjies en vissies

Matteus 15:34 – Jesus vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle het geantwoord: “Sewe, en ’n paar vissies.” (NLV)

Op my lessenaar by die werk lê ’n helderkleurige blou teëltjie wat ek by die kerkie in Tabga in Galilea gekoop het toe ons dit die eerste keer besoek het. Dié teëljie is daar om my elke dag te herinner aan die belofte van God se voorsiening.

Op die teël is die kenmerkende mosaïek-ontwerp wat die wonderwerk van die vermeerdering van die brode en die vissies uitbeeld. Daar is ’n mandjie, brode en vissies wat vir dié wat die Woord ken, spreek van oorvloed, genade en voorsiening.

Die kapel lê aan die voet van die Berg van Saligsprekinge digby die meer waar Jesus die skare gevoed het. Voor by die altaar van die eenvoudige kapel, lê die eeue oue mosaïek (deel van die oorblyfsels van ’n ou kerk wat voorheen daar gebou was) wat vir gelowiges kon bevestig dat dié wonderwerk daar op daardie plek plaasgevind het.

In die binnehof voor die kerkie groei ’n ou olyfboom met ’n dik stam. Binne die kerkie is dit koel en rustig. Op die banke sit pelgrims biddend, terwyl sommige ’n kersie aansteek, meestal as uitroep vir die verligting van finansiële nood. Van tyd tot tyd lui ’n non, geklee in grys, die kerkklok.

Ek maak my op een van die houtbanke agter in die kapel tuis om dankie te sê vir sy voorsiening en versorging, terwyl die lig van buite sag deur die albastervensters na binne skyn.

Vertrou jul finansies aan God toe. Hy kan selfs die kleinste broodjie en vissie tot ’n oorvloed vermeerder.

Here, U ken ons behoeftes. Dankie vir u voorsiening van ons daaglikse brood – na liggaam en gees. Amen

Duet

Подняться наверх