Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 62

25 Februarie

Оглавление

Kruip onder God se vlerk

Psalm 121:8 – Hy sal jou beskerm waar jy ook al gaan, nou en vir altyd.

Ons bel ons jongste sommer die middag saam-saam vanuit die motor. Kleinboet is pas terug universiteit toe ná sy eerste kort vakansietjie by die huis.

Universiteitslewe is idillies. Hy het plek gekry in die koshuis en keuring vir die graad van sy keuse. Die lewe is ’n lied! Ek kry twee keer die geleentheid om hom in die Kaap te kan sien. My trane sit sommer vlak toe ek hom die eerste keer voor die regsfakulteit se gebou ontmoet.

Ma word styf vasgedruk – my baba, wat nou grootman is, is net so bly om my te sien. Hy gesels sonder ophou oor ’n groot pizza en ’n nog groter homp nagereg die aand.

Die tweede keer dat ek op Stellenbosch kuier, eet ons hamburgers by ’n plekkie in die dorp. Ek neem hom en sy twee beste maats vir ontbyt die oggend daarna. Die kinders gesels ’n hond uit ’n bos.

Dis met dankbare harte dat ons hom ’n paar maande later by die Gautrein aflaai om die vliegtuig Kaap toe te haal vir die tweede semester.

Gister se oproep ontstel my. “Niks werk nie, ek sukkel om te fokus, my ritme is versteur ná die vakansie!” sê die jong student oor die foon. Ons besef dat hy verlang. Johan praat hom moed in en gee koelkop raad.

Die aand sukkel ek om aan die slaap te raak. Here, help hom tog om te fokus en weer sy balans en vreugde te vind.

God bewaar jul kinders veilig onder sy vlerk. Vind rus in die wete, bid vir hulle en deel jul bekommernis met Hom.

Vader, ons vertrou op U in die vaste wete dat U in beheer van ons kinders se lewe is. Amen

Duet

Подняться наверх