Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 51

14 Februarie

Оглавление

Bly getrou, soos die oestervanger

Psalm 50:11 – Ek ken elke voël op die berge; al wat roer in die veld is Myne. (NLV)

Jaar ná jaar sien ons hulle op die strand. Twee swart oestervangers met hul bloedrooi snawels wat rustig oor die strand stap, hier pik-pik en daar ’n geskulpte seeslakkie of twee uit die sagte sand haal. ’n Mens sien hulle selde vlieg. Soms sit hulle op die swart rotse, en wys net die rooi snawels dat hulle daar is.

Dié twee woon min of meer op dieselfde plekkie hier op ons strand, of so vermoed ons. Hul nes is iewers weggesteek tussen die wit duine en die soom van die blou branders. Die ideale woonplek, ongerep en stil, weg van die lawaai van mense.

Dié voëls kies een maat vir die res van hul lewe. En boonop is hulle ewe getrou aan hul woonplek as aan hul maat. Oestervangers woon tot 20 jaar lank op dieselfde plek. Die nes is sonder fieterjasies, slegs ’n paar skraapsels in die sand. Broeityd is gedurende die somer, wanneer die wyfie een tot vier eiers lê. Die taak om die eiers uit te broei word gedeel. Maar nie in eweredige porsies nie! Die wyfie bring meer tyd op die nes deur, terwyl haar wederhelf die omgewing dophou en sy vroutjie en voornemende kroos beskerm. Dié pragtige voëls is onder bedreiging ook hier aan die suidpunt van Afrika.

Hoe mooi dat hulle ’n lewenslange maat kies! So groot is ons Skepper – dat selfs ’n voëltjie deur sy skeppingswerk getrou aan sy maat kan wees.

Beloof weer jul trou aan mekaar. Vier jul huweliksband met ’n klein, intieme seremonie om julle so aan jul liefdesbeloftes te herinner.

Here, dankie vir my lewensmaat. Help ons om ook soos die oestervangers vir altyd aan mekaar getrou te wees. Amen

Duet

Подняться наверх