Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 83

16 Maart

Оглавление

God ontrafel die kommerknopies

Psalm 121:3 – Hy wat jou beskerm slaap nooit nie.

Ons mooie land leef in ’n tyd van geweld. Elke week hoor ek die persoonlike belewenisse van mense wat deur die vloedgolf van skok moet werk nadat hul persoonlike, emosionele en gesinsgrense oortree is deur geweldenaars.

As gelowiges is ons natuurlik nie uitgesluit van hierdie blootstelling nie. Ons woon tog in hierdie wêreld. Natuurlik moet ons ook verantwoordelik wees oor ons veiligheid en dié wat ons liefhet verantwoordbaar beskerm.

In tye waarin ons nie meer soveel beheer oor dinge het nie, is ons natuurlikste toevlug ’n plek van veiligheid. Nie net fisiek nie, maar ook ’n emosionele en geestelike hawe. Hierdie geestelike toevouproses gebeur net in die teenwoordigheid van God.

Ek kan nie help om te dink aan die geloofshelde in Egipte wat ’n ruk gelede, internasionaal gebeeldsend, onthoof is vir hul geloof in die Lewende God nie. Terwyl ek daarna gesit en kyk het, kon ek myself nie keer om te wonder waaraan hulle in daardie oomblikke gedink het nie. Waaraan sou ek en my gesin gedink het as dit ons was? Sou ons so vas kon staan en so hoog kon leef dat ons God in daardie grusame oomblikke kon vertrou, en loof en eer?

Des te meer moet ons dan streef om in die alledaagse lewe van woel en werskaf, van kinders en huweliksmaats ons bekommernisse aan die voet van ons Heer te plaas – te oefen om die klein knopies in ons kop te ontrafel met die hand van God. Dan sal ons weet dat die grotes op dieselfde manier sal gebeur.

Vertrou ek werklik God vir die toekoms van my lewe?

Vader God, help my om my vertroue dieper aan U te oorhandig. Amen

Duet

Подняться наверх