Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 84

17 Maart

Оглавление

Leef soos die veldblom

Matteus 6:30 – As God dan die veldplante wat vandag daar is en môre verbrand word, so mooi aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Is julle geloof dan so klein? (NLV)

Die wêreldekonomie spoel in ’n wye sirkel. Ons almal voel die impak van hoër oliepryse en swak wisselkoerse. Skielik is ons geld minder werd. Dis nie lekker as die gordel van verminderde geldwaarde om jou middellyf knyp nie.

Matteus vergelyk ons met veldplante. Dink aan daardie delikate veldblomme wat so vol selfvertroue op die vlaktes van die Karoo kan blom. Ek staan jaar ná jaar verslae oor die bolle wat in my stadstuin opkom, so asof hul wekker net nooit gaan staan of agter raak nie. As dit tyd is, dan stoot daai affodille groen puntjies boontoe; wanneer die tyd kom, dan blom die woestyn.

God gee ook die opdrag dat ons moet werk en ons brood in die aangesig van ons sweet moet verdien. So, natuurlik kan ons nie sit en niks doen nie. Van niks doen, kom niks, só sê juffrou Bergh uit my kinderdae.

Maar van bekommernis kom siek word. Só sê al die groot sielkundiges en mediese skrywers en navorsers. Die verwagting van dit wat sleg is, laat die brein daardie gedagte ontsyfer as die werklikheid. Dit waaroor jy so sit en tob, beleef jou brein as waar. Jou emosies reageer dan op jou nuwe waarheid en die stresvlakke van jou lyf en jou kop raak onuithoudbaar.

Gaan weer na sy Woord, gaan dink en lees en maak dit jou eie. So word ons soos die veldblomme, pragtig en volledig lewend op die tyd wat God beskik.

Wat in my gedagtes moet ek laat gaan en oorgee aan God?

Vader, help my om U te vertrou vir die volle spektrum van my behoeftes. Amen

Duet

Подняться наверх