Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 86

19 Maart

Оглавление

Kies saam ’n nuwe pad

Handelinge 5:1-2 – Daar was egter ook ’n sekere man, Ananias, wat saam met sy vrou, Saffira, ’n eiendom verkoop het. Hy het met die medewete van sy vrou van die verkoopprys vir hulleself gehou en net ’n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee. (NLV)

Foute en verkeerde besluite is deel van die lewe. Dit is egter ’n heel ander saak as ons bewustelik ’n optrede kies wat verkeerd, onwettig of meetbaar skadelik sal wees. As ons as huwelikspaar mekaar ondersteun in ’n verkeerde besluit, is die gevolge meetbaar sleg. Daar gebeur iets in die verhouding wat respek vir mekaar aantas en besoedel. Hoewel albei mekaar ondersteun het in die keuse, kan een van die twee dalk later die ander een aankla vir daardie fout.

Die huwelik is deur God ingestel om twee mense ’n plek van veiligheid te gee. Die twee moet nou kies om hierdie plek van veiligheid te bou en te onderhou. Hierdie verhouding word die fondament van hul lewe saam. Dit kan nie bly voortbestaan sonder voortdurende verbintenis met mekaar nie. Kommunikasie is die gom wat die struktuur van die verhouding aan mekaar hou en eerlikheid beskerm die integriteit daarvan.

As ’n huwelikspaar ’n meetbare fout begaan het, is dit natuurlik nie die einde van die pad nie. God gee die duidelike plan om weg te kom van foute en oor te begin met nuwe gedrag en denke. Om die eenheid in die huwelik te herstel moet die paar saam tot inkeer kom. Erken die fout aan mekaar. Doen die belydenis voor God en mekaar. Laat staan dan die ou gedrag. Kies saam ’n nuwe pad en bly daarop. Leef na aan God en mekaar.

Kommunikeer ek en my maat eerlik oor ons besluite met mekaar?

Jesus, help ons om in eerlikheid met mekaar en U te leef. Amen.

Duet

Подняться наверх