Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 85

18 Maart

Оглавление

Gedeelde vreugde, dubbele plesier

Handelinge 24:24 – Na ’n paar dae het Feliks, met sy Joodse vrou, Drusilla, gekom en vir Paulus laat haal en na hom geluister oor die geloof in Christus Jesus. (NLV)

’n Man en vrou wat saam na die verkondiging van die Woord van God luister, staan op ’n ander plek as paartjies wat nie as eenheid die Woord ontvang nie. In die huwelik is die eenheid van die huweliksmaats ’n plek van veiligheid. Ons hoef nie oor alles saam te stem of alles dieselfde te hoor nie, maar ons moet mekaar in ag neem.

Daar is tye dat ons weens belangstellings verskillende aktiwiteite beoefen. Dit is ook reg so. Dis hier waar ons saam met ons vriende ’n ander deel van ons lewe kan uitleef sonder dat ons maat noodwendig daarvan deel hoef te wees. Dit moet natuurlik altyd binne die konteks van jou verbondsverhouding met jou geliefde wees. ’n Goeie vraag om oor die inhoud van jou aktiwiteit te vra is: As my maat nou hier sou wees, sou hy of sy tuis voel?

Ons moet natuurlik as huweliksmaats dinge saam-saam doen waarvan een maat nie noodwendig baie hou nie. ’n Ouer en wyser vriend het aan my goeie raad gegee: As jy tyd saam met jou geliefde moet deurbring met iets waarvan jy nie hou nie, plaas jou fokus totaal op jou vrou en kyk bloot hoeveel sy dit geniet. Dit word dan jou plesier.

Onthou asseblief dat jy daardie spesifieke spesiale iemand in jou lewe gekies het as jou eie maat. Deel jou lewe diep en ontvang die vreugde van die liefde.

Deel ek my lewe diep en betekenisvol met my maat?

Jesus, dankie dat U alles met ons deel. Gee dat ek U as voorbeeld sal gebruik in my verhouding met my huweliksmaat. Amen

Duet

Подняться наверх