Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 76

9 Maart

Оглавление

Stadig leef, stíl leef

Psalm 131:2 – Maar ek het kalmte en rus gekry, soos ’n kindjie by sy moeder rus, so is my gemoed. (NLV)

Dis ’n stil en warm Saterdag. Die geliefste is by ’n fotografiewerksessie vir die dag, die oudste weg Dullstroom toe vir vier dae saam met sy studentemaats, die jongste speel krieket in Pretoria tot laatmiddag.

Ek en die honde sit in die verste tuinhoek, die spruit langs die westekant van ons huis weer kalm ná die somerreën. Ek verskuif hier onder die boom plante en pak klippe, gesels so dan en wan met my drie behaarde vriende.

Ek gaan maak tee, steel die Kersuitgawe van Lééf en vat die pad terug tuin en water toe. Die jakaranda gooi my met pers bloeisels en die bure se roesrooi staffie lê en loer vir ons deur die heining met sy breë glimlag en klitsende stert.

In die sewe jaar dat ek die saggeaarde Fergis ken, het hy grysbek geword. Ek blaai deur die uitgawe en gee ’n gil van lekkerte toe ek my Swanepoel-maats in die blaaie sien. Fergis se wenkbroue lig en hy wonder oor sy buurman. Rudi skryf oor die lewe en betekenis wat ons vind in mekaar se lewe, God ín ons.

So dikwels is my naweke voller as die week se program. Hierdie asemskep-Saterdag was nie beplan nie, dis maar die gevolg van ander mense se beplanning. Ek voel ’n aanklag teen myself, die afskeep van my lewe en my stilwordtye. Want soos dit is, het ek ook grys geword, so onbewus van tyd wat loop.

So met hierdie gedagtes bly sit ek sag hier onder die pers boom. Stadig leef, stadig leef.

Kom ek genoeg kere tot stilstand om die dag te geniet?

Vader, help my om my tyd te bestuur sodat ek kan stil word en by U uitkom. Amen

Duet

Подняться наверх