Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 19
14 Januarie
ОглавлениеDie warrelwind van sy genade
Psalm 91:1-2 – Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige. Ek sal vir die Here sê: “U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou.” (NLV)
Die lewe vat ’n mens soms op ’n onbekende, vreemde vaart en spoel jou op ’n klipperige, koue strand uit. En daar lê jy, blootgestel en ontredderd.
Ek word genooi om my studienavorsing in die VSA aan te bied. Ná vier jaar van worstel meen ek en twee slim professore dat ek die onderwerp van praktiese wysheid genoegsaam bestudeer het.
Philadelphia, in die deelstaat Pennsylvanië, is ’n groot stad tussen twee riviere. Ek voel ver van alles en naby aan niks. Vertwyfeling oorval my kragdadiglik. Ek probeer my vrou bel, maar die tydsverskil fnuik ons. Ek veg met God oor ek nie eens gepraat kry met een wat darem in my glo nie!
Die oggend van my aanbieding daag ek bleek en naar by die internasionale konferensiesentrum op. ’n Vriendelike Australiër koop vir my koffie en stel my voor aan sy vriendin uit Israel. Hulle babbel voort asof ek iemand van groot kennis is. In hierdie klein warrelwind van God se genade vergeet ek van die knoop in my maag.
Daardie middag loop ek ver in die geskiedkundige stad rond. Ek sien installasiekuns, en beland voor die standbeeld van die bokser Rocky! Op die trappies van die kunsmuseum sit ek lank, en glimlag skaam en dankbaar. Dat die Here nou daai twee vreemdelinge sou stuur om my onstuimige gemoed te kalmeer.
Ek dink aan my beskuldigings hemelwaarts vanoggend: Was ek dan nie reeds in gesprek met die Een wat in my glo nie?
Waar gaan ek heen wanneer ek onseker voel?
Ewige Vader, hou my tog bewus van u alomteenwoordige liefde vir my. Amen