Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 14

9 Januarie

Оглавление

Jou heupe is soos juwele

Hooglied 7:1 – Die rondings van jou heupe is soos juwele … (NLV)

Vandat ek kan onthou, pla my gewig my. Het ek maar geweet wat ek nou weet!

Met die jare word die stryd teen die skaal nie minder nie; inteendeel, dit word net moeiliker. Twee swangerskappe en die natuurlike verloop van tyd het hul tol op my eens vietse lyf geëis. Nie dat ek ooit die tengerigste van vroue was nie en boonop is ek (en my man) lief vir kosmaak en eet!

Maar as ek vandag terugdink, wens ek ek het my lyf oor die jare meer waardeer en minder gekritiseer. Het ek tog maar minder tyd gemors met ongesonde diëte en negatiewe gedagtes oor myself, my minder met ander vergelyk en meer waardering getoon vir die unieke manier waarop God my gemaak het.

Ek is sterk en gesond, soepel en lief vir dans en beweeg! In sy Woord gee God, ons hemelse Bruidegom, ons die opdrag om Hom ook met ons liggaam te eer. Dit ís immers die tempel waarin die Heilige Gees woon. As huweliksmaats is ons veronderstel om mekaar ook met ons liggaam te eer en ter wille van ons gesin ons gesondheid op te pas. En te koester.

As ek goed voel oor myself is ek in staat om liefde in oorvloed uit te deel aan my naaste. In plaas van laatlê vanoggend trek ek my swembroek aan en kies koers na die gim. Terwyl my arms deur die blou water klief en ek my hart diep binne my voel klop, sê ek dankie vir my lyf en my gesondheid.

Ken die uitdagings vir jou gesondheid in elke lewensfase. Moedig mekaar aan om na julself om te sien.

Here, laat ons mekaar en U met ons liggaam eer. Herinner my daaraan dat ek ook u beminde is. Amen

Duet

Подняться наверх