Читать книгу Plaasmoord - Karin Brynard - Страница 10
ОглавлениеHoofstuk 7
7
Tannie Yvonne het aangebied om saam met Saar deur te ry na die lykshuis op Postmasburg. Voor hulle die sowat 120 kilometer Postmasburg toe aanpak, stop hulle eers by die begrafnisondernemers op die dorp.
“Ek sal solank ingaan en gaan vra of daar iemand is wat ons kan sien,” sê tannie Yvonne. “Jy kan hier buite wag en jou asem terugkry. Jy het soos ’n spook gelyk toe jy nou net daar uit die polisiekantore kom.”
Saar is dankbaar vir die kalm teenwoordigheid. Sy’s bang vir wat voorlê. Die polisieman het haar gewaarsku: Freddie sal moontlik baie anders lyk as wat Saar haar onthou.
Die gedagte aan Freddie se dood bly onwerklik. Alles om haar voel onwerklik – bekend, maar ook vreemd: die gebiedende son, die sonbesies wat so meedoënloos skree. Dit voel of dit vanuit jou eie kop kom, die gesuis. Die dorp se doodse strate, die verdorde bome – die munisipaliteit moes iewers besluit het om hulle nie meer water te gee nie. Hier en daar het ’n kanniedood-karee bly vasklou, maar die bloekoms en seringbome staan soos geraamtes. ’n Groepie verflenterde mense hang in die skadu van die winkel se afdak oorkant die straat en kyk belangstellend na haar. Tipies van al hierdie klein plattelandse dorpies, dink sy en klim uit die kar. Daar’s altyd sulke groepies wagtendes by die drankwinkel of op die ander winkel se stoepe. Maer, vuil mense met verslete skoene en toiingrige klere. Die vroue sal soms kraaiend lag vir ’n opmerking, hul oopgesperde monde tandeloos. En as hulle dronk is iemand oor ’n afstand sit en uitskel onder die rok in.
Vandag is hul vervelige bestaan opgehelder deur die opspraak van die moord. Hulle kyk openlik nuuskierig na Saar en praat gedemp onder mekaar, wys nou en dan met ’n ken in haar rigting, maak die kleintjies wat huil hardhandig stil.
Saar knik in hulle rigting en hulle groet eerbiedig terug. Dan sluit sy en stap na Van Zyl & Van Zyl Begrafnisdienste, soos ’n handgeverfde kennisgewingbord by die voordeur aandui.