Читать книгу Plaasmoord - Karin Brynard - Страница 9
ОглавлениеHoofstuk 6
6
Dis Vrydagmôre, nog voor agt, maar die son bak al witwarm.
Beeslaar vee verergd met sy sakdoek oor sy nat voorkop. Here, wanneer sal hy dan begin akklimatiseer? Die ergste van alles is dat dit elke goddelike dag so warm is. Onder die veertig grade word hier rond as ’n “koel” dag beskou. En almal reken hierdie somer is nog mak. Daar’s “minstens” nou en dan ’n donderbui wat die wêreld afkoel.
Maar die hitte pla sy twee kollegas, wat hier oorkant sy lessenaar sit en deur hul notas blaai, skynbaar nie. Seker ook elandbloed, soos ’n boer nou die ander dag teenoor Beeslaar opmerk. Elande het glo die vermoë ontwikkel om hul bloedtemperatuur te verkoel op baie warm dae, sodat hulle breine nie kook nie. Of so iets. Hy is ook nie heeltemal seker of dit elande is nie. Kan blerrie koedoes ook wees, vir al wat hy weet. Die goed lyk alles eenders.
Beeslaar loer onder sy wenkbroue na die twee oorkant hom wat sit en notas uitsorteer. Daar’s stukkende plekkies op Pyl se nek, waar hy met die skeerslag ’n paar puisies getref het. Hy’s nog jonk, skaars 23. Sy klein postuur, saam met die baadjiepak wat te groot is, laat hom nóg jonger lyk. Hy’s so maer soos ’n riet. En kortgat, met ’n oorontwikkelde adamsappel. Maar hy’s lewendig, en gretig.
Johannes Ghaap is net ’n jaar of wat ouer, maar sy lyf vertel ’n ander storie, of hy al baie geleef het. Hy is donker van gelaat, lank en sterk gebou, met ’n vlesige gesig en ingeduikte neus. Dit lyk of hy al sy kwota kroeg-fights agter die rug het. Anders as Ballies Pyl, dra hy nie ’n pak nie, steur hom minder aan konvensie. Hy’s rustig, selfs effe gevrek, lyk dikwels verveeld. En anders as Pyl, wat heeltyd lyk of hy miere in sy broek het, is Ghaap se bewegings traag en stadig, asof alles hom moeite kos. Die mense noem hom “Janus”, het Beeslaar gemerk, lank en lui uitgespreek, asof die vinnige ritme van sy volle naam dalk aanstoot sou kon gee.
Albei van hulle is nog rou, maar pas ses weke uit die aanklagkantoor. Het net die basiese polisie-opleiding, is verder syne om op te lei.
Beeslaar die kindermeid, oftewel Nanny McPhee sonder die snor.
“Oukei,” sê hy dan, “wat het julle vir my?”
Pyl tel ’n bondel papiere, wat hy netjies op Beeslaar se lessenaar gestapel het, op. En sit dit haastig weer neer. Van die papiere fladder grond toe. Hy duik agterna. Dan skeur hy ’n vel uit sy aantekeningboek en kyk fronsend daarna.
Beeslaar sug innerlik.
“Gaan af op gisteroggend se lys, sersant, beginnende by De Kok. Jy was weer by hom en het sy alibi nagegaan. Terloops, onthou asseblief, albei van julle, ons skryf kort, duidelike verslae van al die inligting wat ons insamel. En moet in godsnaam nie die datum en tyd vergeet nie. En jy los dit nie in jou boek nie, dit kom alles in die moorddossier. Elke dag. Soos ek verduidelik het.”
Pyl knik, skraap sy keel en begin dan: “Ek was gisteroggend om nul-negehonderd-uur op Huilwater, waar ek meneer Adam de Kok by sy huis gesien het. Ek het hom ...”
“Jy hoef nie die verklaring voor te lees nie, noem maar net die hoofpunte, sersant.”
Die adamsappel beweeg ’n paar maal op en af. Dan gaan Pyl voort: “Ek het hom weer ondervra, inspekteur, maar sy storie bly dieselfde. Hy was in die dorp die hele oggend en het eers na twee die middag teruggegaan plaas toe. Oubaas Bekker van die handelshuis bevestig dat De Kok die oggend rondom elfuur by sy winkel was. Hy het die ou tante – die huishoudster, mevrou Johanna Beesvel – afgelaai. Meneer Bekker sê De Kok en mevrou Beesvel doen byna elke Woensdagoggend die plaas se inkopies by hom. By die landboukoöperasie bevestig die mense ook dat De Kok daar was. Jan Regopstaander, senior verkoopsman, sê De Kok het draad gelaai ...”
“Wát gelaai?” vra Beeslaar. Pyl se Noord-Kaapse aksent laat die woord soos “drât” klink.
“Draad. Waarmee mens draad span. Dis waarmee die twee werkers, Lammer van der Merwe en ... e ...” Hy skarrel in sy papiere. “Dawid Tieties. Dis waarmee hulle die middag van die moord besig was, mos. Inspekteur onthou? Ek en De Kok het hulle loop haal uit die kamp waar hulle besig was, om verklarings te kom aflê. Mos.” Hy sit die papier vinnig weg wanneer hy Beeslaar se ongeduldige handgebaar sien. “De Kok het draad gelaai wat hy ’n maand gelede bestel het. En medisyne – ek het die naam hier ...” Hy blaai deur sy notaboek. “Waar’s dit. Terimi–... iets. Ek weet nie hoe om dit uit te spreek nie. Dis vir wurms in skape of so iets.”
“Gaan net aan, Pyl, anders sit ons vanaand nog hier.”
“Reg. En hy het twee 25-liter-kanne paraffien gelaai en ’n drom diesel. Hy het ook sy bakkie se tenk volgemaak. Ou oom Niklaas Vegter, wat die pompe beman, sê hy dink De Kok is na twaalfuur daar weg. Hy is terug handelshuis toe om mevrou Beesvel met die week se inkopies op te laai.”
Beeslaar slaan innerlik sy oë hemelwaarts. As Pyl daardie hele inkopielys ook gaan voorlees, spring hy by die venster uit. Maar hy bedwing sy ongeduld en sê: “Goed, en die res van die storie het jy ook bevestig gekry?”
Pyl skuif ywerig vorentoe op sy stoel. “De Kok is terug winkel toe en meneer Bekker bevestig dit. Hy het self ook goed by die winkel gekoop, tandepasta en ...”
“Raait-raait, so De Kok se storie klop. Dankie, dis deeglike werk. Waar was hy daarna?”
“By die bank. Hy en die ou tante. Mevrou Januarie, die bankhoof of wat sy ook al is, sy’s mos maar die enigste een daar, het bevestig hulle was by haar en sy weet, want dit was net voor die middagete-toemaaktyd en dit was nogal besig in die bank omdat daar heelwat boere die oggend in die dorp was en sy was bekommerd dat sy almal sal moet uitja voor toemaaktyd en die boere raak kwaad as hulle tot twee-uur moet wag as sy weer oopmaak.” Hy skep asem.
“Maar De Kok, sersant. Wat van De Kok?”
“E ... ja, hy was een van dié wat weggewys is en toe het hy net na twee aan die beurt gekom en hy’t state vir die plaas se rekenings aangevra en geld uit sy persoonlike rekening getrek en aansoek gedoen vir ’n nuwe tjekboek ...”
“Raait-raait. Hoe laat is hulle weg?”
“Kort daarna, want hulle was mos nou net na ons op die plaas.”
“Wat weet ons alles van De Kok?”
Pyl kyk ’n oomblik na Ghaap, maar as dié nie reageer nie, praat hy: “Ek ken hom nou nie juis nie, maar die mense sê hy’t wild grootgeword en mens kan dit nou nie aan hom sien nie, want hy is so vol ...”
“Hoe bedoel jy, wild grootgeword?” val Beeslaar hom in die rede.
“Nee, ek meen nou maar soos ’n regte Boesman, sy mense is nog Boesmans daar uit die woestyne uit, in Botswana se koerse in, maar hulle sê hy’t nog in velle rondgeloop en miere geëet tot ander dag. Nou eet hy glo met silwermesse en -lepels. Wat hy van oorsee af gelaat kom het. En hy hou hom baie opstêrs en so, vol fyn maniertjies en dinge, te goed vir die armer volkies, kuier by die wit mense en so aan ... Maar die mense sê hy was nou-die-anner-dag nog bobbejaan.”
Pyl kyk vir ’n moment knipperend na Beeslaar. Dan gaan hy aan. “Ek het by al twee die buurplase ook met die werkers gaan praat. Die plase sit nie so naby aan die hoofpad soos Huilwater nie, so die mense sal nie sommer enige vreemdelinge gewaar nie, maar hulle is bang, inspekteur, bang.”
Beeslaar knik net.
“Dis die blankes ...” Pyl bly ’n oomblik stil, kyk met ronde oë na Beeslaar, wat beduie hy moet aangaan.
“Daar was glo ’n klompie blanke boere gister wat rondgegaan het en al die werkers ondervra het. Ek hoor by die mense van langs- en anderkant Huilwater. Dit smaak vir my hulle dra wapens en hulle werk maar rof met die mense. Weet inspekteur enigiets daarvan?”
Beeslaar sug. “Ek weet van hulle, ja.” Hy vertel vlugtig van sy onderonsie met Buks Hanekom van die vorige oggend in die kroeg. “Reg of verkeerd,” sê hy dan, “die emosie loop hoog. En Woensdag se ding, bo-op die diefstalle en die moorde van twee weke gelede. Dit maak sterk emosies los.”
Vraag is, dink hy by homself, waar trek jy die streep? Hoe hard keer jy – of los jy? Gryp hy nou vir Buks Hanekom voor die bors, klits hy die emosie net verder op. Veral hy wat die enigste wit gesig by hierdie stasie is. Te hard, en jy’s die wit poot wat wil gatlek by sy swart base. Los hy dit, wek hy die indruk by manne soos Hanekom dat hulle maar kan voortneuk. En die swart base maak jou uit vir ’n closet rassis ...
“Dis die kommando’s,” sê Ghaap skielik en trek homself lui-lui regop in sy stoel. Hy het tot dusver sit en krabbels trek op sy notaboek se buiteblad. “Ek dink dis vandat die kommando’s ontbind is dat die boere so moerig is.”
Beeslaar dink na. “Is seker, maar dis nie net dit nie,” sê hy dan. “En dis waar ons in die prentjie kom. Ek en jy en Pyl. Hierdie mense voel hulle word van alle kante gedruk. Dis die ekonomie en dis die politiek en dis die misdaad. En julle het nou self gesien hoe lyk die handewerk van ons veediewe, hoeveel van die mense ekonomies geknak is as gevolg daarvan. En nou het dit moord geword. Die Jacobs-broers van ’n paar weke gelede. En nou Woensdag se ding op Huilwater. So.”
Hy kyk na die twee manne voor hom, wonder of hy sy asem sit en mors, maar druk dan weer deur. “Die kommando’s is ’n ou kwessie. En die politiek wat daarmee saamgaan. Dis vir ons ’n langtermynsaak. Maar die bottom line bly dieselfde. Eerstens kan ons nie vigilante-aksies hier toelaat nie. Mense is geskok en hulle is moerig en hulle soek vinnige oplossings en hulle wil baklei. Maar, en dis my tweede punt, die gouste wat óns,” hy wys na homself en hulle twee, “hierdie hele ding kan ontlont, is om die mense wat al hierdie moorde gepleeg het agter tralies te kry. En intussen sorg ons dat onskuldiges nie verder seerkry nie. So, sersant Pyl, kon jy gister vasstel of daar enige vorm van intimidasie of afknouery of wat ook al was?”
Pyl skud sy kop. “Nee, inspekteur. Niemand praat ’ie. Kla die boere is onbeskof, maar niemand sien kans om ’n klag te lê nie. Maar ...”
Hy bly ’n oomblik stil, oënskynlik om sy gedagtes agtermekaar te kry. “Wat ek wil gesê het ... Daar’s ander goete wat die mense bang maak. Hulle sê dis die ... e ... Bantoes. En hulle sê die Bantoes gaan húlle ook uitmoor.”
Beeslaar skud sy kop. “Maar ek hoop jy sê vir hulle hierdie is nie ’n rasseding nie. Dis misdaad. Plein en simpel. Hierdie soort aanvallers is senuweeagtige, onervare rowers. En as hulle bedreig voel, maak hulle dood – maak nie saak wie voorkom nie – en dis baie keer ’n plaaswerker. Maar dis g’n rassekwessie nie.
“Wat van gevoelens teenoor die oorledene?” vra hy dan. “Wrokkigheid, iemand wat veronreg voel? Sy het dalk iemand van die plaas af weggeja? Iemand wat haar geld geskuld het?”
“Nee, inspekteur. Sy het ’n baie goeie naam gehad onder die mense. Ek het ook geloop soek vir die padlangers en die karretjiesmense. Hulle slaap mos maar snags langs die paaie. Sien alles wat aangaan ... Maar daar was g’n niks of niemand langs die paaie nie. Ek dink dis die boere wat so op en af ja – mens vat mos nie kanse met ’n boer wat die moer in is nie. Veral nie as hy geweer dra nie!”
Beeslaar onderdruk ’n glimlag.
Ghaap kom in beweging in sy stoel. Sy stem is diep en grinterig, soos ’n ou roker s’n. “Huilwater se mense praat van ander goed ook wat hulle bang gemaak het.”
“Soos wat?”
“Toorgoed, die Tokkelossie, sulke goed.” Hy maak sy notaboek oop en kyk aandagtig na iets wat hy neergeskryf het. “Hulle praat van ’n toorder wat glo daar op die plaas was.”
“Soos in sangoma? Vir wat?”
“Sal nou selwers nie kan sê nie. Hulle is so bang dat hulle algar sak en pak weg is van die plaas af. Sit nou hier by hulle se mense in Chicken Vale op die dorp,” sê hy met verwysing na die hoofsaaklik bruin woonbuurt. “Miesies Tieties, dis mos nou die een vrou wat in die kombuis werk op Huilwater. Sy sê dis waar al die moeilikgeit begint het.” Hy bly ’n rukkie stil, lyk of hy diep nadink. “Maar mens kry ook nie veel uit hulle uit nie. Hulle is nog baie deurmekaar oor Woensdag se dinge. Maar as ek nou tussendeur al die gepraat moet luister, was dit so ’n ruk terug, die sangoma, ’n swarte. Van hulle wou tóé al loop. Maar De Kok en die ou antie, miesies Beesvel, het gekeer. Gesê hulle moet hulle nie steur nie. Dis sommer net die boervrou se snaaksigheid.” Hy maak ’n draaibeweging met sy voorvinger by sy regterslaap en kyk betekenisvol na Beeslaar. “Wou hom met sy dolosse en sy krale skilder ... en so aan.”
“En wat het van hom geword?”
“Sal selwers nie kan sê nie,” sê Ghaap skouerophalend. “En ou antie Beesvel lyk vir my nou éérs bang. Benoud. Senuweeste. Weet ôk ’ie presies hoe nie. Sy sê net oor en oor lat sy dit gesien aankom het. Maar sy sê nie hoe of wat ’ie.”
“Weet jy of sy enige mediese hulp gekry het?”
Ghaap skud sy kop, knip sy swart oë stadig, asof hy ’n energiekortsluiting beleef.
“Sy ook nou op die dorp?” vra Beeslaar.
“By haar suster, Anna van Wyk, daar in Chicken Vale.”
“Bly by haar. Sy’s dalk die enigste een wat regtig weet wat die laaste tyd daar op Huilwater aangegaan het. Hoor by die suster of sy haar nie kliniek toe kan vat nie. Sy moet regkom, want sy moet met ons praat.”
Ghaap knik. “Weet nie of dit iets is of niks nie, maar ek was agtermiddag in die swart buurt, toe jy weg is Postmasburg toe. Ek het mos wou hoor of daar vreemdelinge opgemerk is, in verband met die veediefstalle. By Mma Mokoena se sjebien. Nou ja, iemand daar sê toe van Mma Mokoena wat mos skielik ’n ryk boyfriend uit Johannesburg het. ’n Minora, sê hulle.”
“’n Wát?” Pyl se gesig vertrek of hy iets onbehoorliks gehoor het.
“Sharp-sharp. Windgat. Niemand weet enigiets van hom nie, behalwe dat hy geld soos klippers rondstrooi. Dis dalk niks, maar dis al wat ek oor vreemdelinge in hierdie omgewing gehoor het.”
“Goeie werk,” sê Beeslaar. “Wie weet, dis dalk ons eerste skakel na die veediefstalle. En die Here weet, ons het dringend iets nodig. Daai bliksems maak gatte van ons. Sersant Pyl, ek wil juis hê jy moet wéér vandag jou rondtes doen. Vat nou die Golfie en ry uit ...”
Sy foon lui. Die Swarts-meisie is in die aanklagkantoor en wil hom vinnig spreek. “Hou vas,” sê hy vir die twee manne oorkant hom. “Ek moet gou vorentoe.”