Читать книгу Plaasmoord - Karin Brynard - Страница 8

Оглавление

Hoofstuk 5

5

Beeslaar vang oom Koeks se oog. Dis nog te vroeg vir drank, maar hy’s reg vir ’n Tafel Lager – kry dit in ’n spierwit bevrore glasbeker. Hy neem sy eerste sluk en sak gemaklik in sy hoek in. Hy hou van die donkerte van die hoek, sukkel nog met die vreemde blootgesteldheid van die lewe in ’n klein gemeenskappie. Die aanhoudende gegroetery. Die amper uitspattige ingenomenheid waarmee die boeregemeenskap hom verwelkom het: asof hy die messias is waarop almal gewag het. Hy begryp dit wel, want hier het omtrent niks aangegaan nie: ’n paar konstabels wat dronkies en huismoles moes uitsorteer. Die laaste speurder is twee jaar gelede al weg – pakket gevat. Vir ernstiger goed moes die kantoor op Upington ingryp, met al die gepaardgaande frustrasie.

Tot Beeslaar se koms. Toe is twee van die konstabels opgeklap na hom toe saam met ’n rangbevordering: Johannes “Janus” Ghaap en Gershwin “Ballies” Pyl.

Hel, hy mis die stad. Veral op dae soos vandag. Hy mis die anonimiteit, die gesigloosheid waarin jy kan wegkruip.

Sy selfoon tjirp. Sersant Ghaap wat sê hy’s terug by die kantoor. ’n Ander vent, dié Ghaap, dink hy nadat hy die oproep beëindig het. Bejeën Beeslaar na twee maande nog steeds van ’n afstand, praat net die nodige met hom. Hy’s ’n bietjie van ’n toe boek, dié Ghaap. Boorling van die omgewing, praat stadig, met ’n swaar Noord-Kaapse aksent wat sy a’s en o’s plat trek, asof sy mondhoeke permanent met twee rekkies aan sy ore gehaak is.

Beeslaar glimlag by die gedagte en glip die foon terug in sy hempsak, kyk oor die rand van sy glas na ’n dik jong man wat deur die kroeg se swaaideure ingeslof kom.

Polla Pieterse, sien hy, en skuif laer af in sy stoel. Polla is een van die eerste locals wat hy uit sy sak moes skud. Hy’s ’n blonde vetsak wat saam met sy pa en broers boer, en een van die redes waarom Beeslaar naweeksaande, wanneer die kroeg regtig besig raak, liewer die plek vermy. Want vir ouens soos Polla – en hier’s heelwat van hulle – is elke blanke polisieman óf ’n gabba óf ’n uitverkoper. Een vir wie jy dit moet sê, veral as jy ’n paar kappe weg het.

Die man het skaars by die kroegtoonbank gaan sit of ’n vrouestem roep hom van die kroegdeur se kant af: “Polla, waar is jou maat?”

Dis Nelmari, maar sy kom nie in nie, bly by die kroegdeur staan. Die Rooi Duin-kroeg, een en enigste in ’n radius van ’n honderd kilometer, met sy swaar sigaretlug en skril Afrikabinneversiering vir die “toeriste”, is nie die soort plek vir iemand soos sy nie.

Sy’s ’n vreemde soort, besluit hy en neem ’n slukkie bier: mooi, maar gooi nie sommer haar flikkers vir ’n man nie. Sy’s ’n sakevrou. En dis nie asof sy arm is nie. Glo ’n selfgemaakte miljoenêr, met ’n yster in elke denkbare vuur. Het ’n eiendomsagentskap hier, op Upington en op Kimberley. Maar haar moederskip is in Johannesburg, hoor hy, waar sy oorspronklik vandaan kom. Sy glo die Noord-Kaap is die volgende toerismemekka van die land, naas Kaapstad en die Kruger Nasionale Park. En sy wil daar wees om die kommissie te vat van al die grond wat in die proses van hande gaan verwissel vir nuwe toerisme-ontwikkelings en rykmanspeelplekke.

“Sorrie, juffrou Viljoen.” Polla het ’n swaar, nat bry in sy erre. Dit laat hom effe soos ’n vertraagde kind klink. “Weet nie waar loop die man rond nie. Maar terwyl jy nou hier is, kan ek nie vir jou enetjie bestel nie?”

“Nee dankie, Polla, ek het werk,” antwoord sy. “Sê asseblief vir Buks ek soek hom.”

Buks Hanekom is ’n jong boertjie wat onlangs terug is uit die stad om by sy pa oor te vat. Op die oog af ’n wakker kêrel, maar Beeslaar vermoed sy hart lê nie by boer nie. Daarvoor is hy gans te veel op die dorp. En spesifiek in die Rooi Duin. Hy maak glo baie skuld, ook. Dalk het hy klaar die oubaas se grond aan Nelmari verkoop. Dit sou sin maak, want daar’s glo nie veel geld in boerdery hier rond nie.

Beeslaar het in sy twee maande hier al heelwat oor die omgewing en sy boerdery-aktiwiteite moes leer. Die omgewing, weet hy, kan skaap en bees vat, maar die gebrek aan water en die wisselvallige reënval maak die risiko’s hoog. Die enigste boere wat regtig groot geld maak, is dié ouens naby die Gariep – Upington se rigting in – wat met sagtevrugte en druiwe boer. Die res bly maar kleinskaals. Of mik in die rigting van jag- en wildtoerisme vir die buitelandse mark. Maar daarvoor het mens geld nodig – en baie grond. Daar is enkelinge wat al begin het. Hy weet van een of twee dieper die Kalahari in, Namibië se kant toe. En natuurlik Boet Pretorius.

Beeslaar lig sy glas, neem ’n groot sluk en dink aan die chaos in daardie plaashuis gister. En die arme drommel van ’n Pretorius. Iemand het iewers gesê hy en Freddie Swarts het trouplanne gehad ... Waarvoor was hy te laat?

“Jes, jes, jes!” onderbreek ’n nuwe aankomeling sy gedagtes.

Dis Buks Hanekom, sy kort, atletiese lyf vol energie en geesdrif. Stap in asof hy die plek besit, kake wat ’n kougom verniel, vang sy eie weerkaatsing in die Castle-spieëls agter die kroegtoonbank.

“Hoesit, ou Paultjie?” sê hy en klap vir Polla met ’n bakhand tussen die blaaie voor hy langs hom op ’n kroegstoeltjie wip.

“Nee, kwaai, my ou,” antwoord Polla, sy pienk gesig ’n gelukkige, ronde maan. In kontras met die slowwerige Polla Pieterse lyk Hanekom netjies en goedversorgd: Helder blou oopkraaghemp met ’n fyn, wit strepie, ingesteek by ’n kakiekortbroek. Duur Australiese stapstewels van gladde leer en bypassende leerhoed. Ray-Bans. Sy rooibruin besemsnor en blonde hare is netjies geknip.

“Gooi vir my goeie vriend hier jou koudste Kasteeltjie, oom Koeks,” bruis Polla, en die kroegman buk stilswyend in sy koelkas onder die kroegtoonbank in. “Op my rekening.”

Hy moet hier uitkom, besluit Beeslaar, voor hulle hom raaksien en geselserig begin raak. Almal het sedert gister ’n eiertjie te lê oor die saak. En het ’n grief wat hulle wil lug ...

Vir ’n oomblik wik hy nog oor die vol bier voor hom, maar Buks Hanekom gee hom nie kans nie.

“Middag, inspekteur.”

Hy steek sy hand uit en Beeslaar moet noodgedwonge half uit sy stoel beur om terug te groet, sy moed in sy skoene.

“Is daar al nuus?”

“Ons maak vordering, ja,” probeer Beeslaar die vraag ontwyk.

“Ek wil net hê jy moet weet ons staan soos een man agter jou,” sê Buks, hande op die heupe.

Beeslaar knik.

“Ons het heelwat lede van die ou kommando weer bymekaar gekry. Informeel, hoor. Maar ons ry al sedert gisteraand patrollie deur hierdie hele distrik. Van die manne het regdeur die nag gery. Ons wil graag help. Ons het onderneem om enige verdagte persone direk aan jou uit te lewer.”

“Verdagtes? Waarvan praat jy, meneer Hanekom?”

“Ons kán nie toelaat dat hierdie onding ... hierdie ... Sien jy dan nie wat hier aan die gang is nie, inspekteur? Skielik word daar vir ons gesê alle blanke grond is gesteelde grond. En dan kom die boewe. Steel ons rot en kaal. En begin hulle die werkers terroriseer en uitmoor. En dan soek hulle die sagte teikens, die vroue en kinders. Dis niks anders as ’n deursigtige poging om ons van ons grond af te vee nie.”

Beeslaar sê niks.

“Weet jy hoeveel boere al in hierdie land vermoor is, inspekteur? Ek sal jou sê. Tweeduisend, indien nie meer nie. Meer as wat daar destyds in die Angola-oorlog dood is! En ek kan jou een ding sê: Ons gaan nie handjies gevou sit en toekyk hoe ons mense uit hulle grond uit gemoor word nie!”

Beeslaar sug vermoeid en tel sy bierglas op. Hy beter iets koels na binne kry voor hy hom begin vererg. Want dis nou nét wat hy nodig het, ’n klompie jong manne met meer hormoonbelaaide emosies as breins. Hy neem ’n sluk en sit die glas dan stadig en met konsentrasie weer op die tafeltjie voor hom neer.

“Meneer Hanekom, ek kan verstaan dat mense ontsteld is. Maar hierdie is nou ’n polisiesaak. En ons doen alles ...”

“Ontsteld is nie die woord nie, inspekteur,” sê Buks en laat sy stem val. Hy buig oor die tafeltjie, sy gesig só naby aan Beeslaar s’n dat hy die kersiekougom kan ruik. “Ons het ’n teiken geword, jy weet dit, nè? Ons, die boere van hierdie land – en dit lyk of dit niemand g’n bloue moer kan skeel nie. Al die mense in die buiteland wat destyds blou moord geskree het oor apartheid. Waar’s hulle nou? Dis mos net nuus as dit ’n wit man is wat kammakastig menseregte oortree. Maar ek het nuus vir jou: Ons gaan nie stilsit en toekyk hoe ons mense, onskuldige vroue en kinders, in hul huise vermoor word nie.”

Beeslaar leun weg van die kersie-asem. “Kyk, meneer Hanekom, ek weet nou nie presies waarmee jy dreig nie. Maar as jy die reg in eie hande neem, oortree jy die wet. En dan kry jy met mý te doen. Ek begryp dat mense ’n vinnige resultaat wil sien. Maar dis die polisie se werk ...”

“Ja-ja. Intussen sterf ons boere soos vlieë. En dit kan julle lot nie skeel nie. En ek sê weer, ons is keelvol. Ons word stuk-stuk kaal uitgetrek. En ons mag niks doen nie. Ons bekke hou en ja-baas, nee-baas. Ons godgegewe régte om onsself en ons huise te beskerm, word een na die ander weggevat. Ons gewere word afgevat, die kommandostelsel word afgeskaf, nou is daar wetgewing wat ons Zimbabwe-styl van ons grond kan afdwing.”

Beeslaar sug. “Daai wet is nie deur nie.”

“Vir nou. Maar ek en jy weet dit gaan weer kom. Want dis deel van ’n groter, georkestreerde plan om die blankes van die grond af te dwing.” Hy skep asem, dan: “Maar niemand gaan ons demokratiese reg wegneem om ons grond en ons mense en ons goed te beskerm nie. Daarvoor kan ek jou vandag hier ’n brief gee.”

Beeslaar het genoeg gehad. Hy staan skielik op, die bierglas wat byna omtiep van die momentum. Dis met geen geringe genoegdoening nie dat hy sien hoe Buks effe terugdeins voor sy volle 1,95 meter-lyf. Wie sê size doesn’t matter? dink hy terwyl hy ’n laaste sluk van die bier in sy keel afgooi en die glas weer hard op die tafeltjie neerplak.

“Ek moet nou gaan, meneer Hanekom,” sê hy so bedaard moontlik. “Ek het werk om te doen. En as ek reg aflei, het jy ook ’n afspraak. Met Nelmari Viljoen. En as ek vir jou goeie raad het, gaan jy en al die oudkommandolede huis toe en los die polisiewerk vir die polisie. Oukei?”

Daarmee loop hy om Buks tot by die kroegtoonbank en sit ’n twintigrandnoot vir oom Koeks neer met die opdrag dat hy die kleingeld hou. Polla Pieterse sit oopmond na hom en kyk. Agter hom het daar nou nog twee mans ingekom, wat hulle oë afkeer as Beeslaar by hulle verbystap.

Wat is dit, wonder hy as hy deur die swaaideure na buite uitloop, wat in Buks Hanekom se oë geflikker het toe hy Nelmari Viljoen se naam noem?

Plaasmoord

Подняться наверх