Читать книгу Plaasmoord - Karin Brynard - Страница 17
ОглавлениеHoofstuk 14
14
Beeslaar gaan sit ongemaklik op die bank in Nelmari Viljoen se kantoor. Die ding lyk of sy fênsie pootjies enige oomblik onder hom kan padgee. Dis sy eerste keer hier en hy kyk onbeskaamd rond: die duur elegansie in die luimige roomyskleure. Die lugreëlaar wat yskoud suis. En oorkant hom, op ’n ligrooi gemakstoel, die dun figuurtjie van Viljoen haarself. Sy’s nie sy tipe nie, dink Beeslaar. Net oë en hare, plat soos ’n plank. Maar hy kan miskien verstaan hoe sy ’n prins soos Buks Hanekom se koerasie sal opja.
“Sy was my beste vriendin, inspekteur. En ek het nie familie nie, jy weet?”
“Wie het die meeste by haar gekom?”
Sy skud haar blonde hare effe. Dit was in ’n soort gedraaide bolla toe Beeslaar binnekom, maar sy het dit losgemaak en uitgeskud. Haar ore se bopunte steek effe deur, soos ’n kabouter s’n. “Seker maar ek,” sê sy met ’n ligte frons. “Jy kan maar sê ons was soos familie. Ek het haar ontdek, weet jy? Haar soort van bestuur. Sy het nogal swaar staatgemaak op my. Ek het haar eerste groot uitstalling in Johannesburg gereël, en nou weer dié een, wat ons vir later vanjaar beplan ... het.”
“Hoe was haar geldsake?”
Nelmari lig ’n wenkbrou. “Sjoe, maar jy’s direk, inspekteur.”
Beeslaar sê niks.
Haar gesig raak weer ernstig. “Toe ek haar leer ken het, was dit beroerd, om die minste te sê. Sy’t maar ’n skooljuffrou se salaris gekry. En hier op die plaas ... Huilwater is nie die soort plaas waaruit mens gaan ryk word nie. Jy’t self gesien hoe dit daar lyk. En nou’t sy die voorman ook aangestel. Ek het gehelp met die geldsake op die plaas. Freddie self was ’n nul op ’n kontrak as dit gekom het by finansies. Tipies kunstenaar.”
“Skuld?”
“Nee, nogal nie. Daarvoor moet mens jou hoed afhaal. Vir haar pa, natuurlik. Hy’s dood sonder skuld. Ek weet nie van enige boer wat nie op skuld lewe nie. Maar die wins uit so ’n plaas is eintlik nogal ... skokkend.”
“Genoeg om ’n voorman te bekostig?”
“Eintlik nie.”
“Nou waarvan het juffrou Swarts dan geleef? Haar skilderwerk?”
Nelmari skud hare uit haar gesig en buk om ’n pakkie sigarette van die koffietafel op te tel. Haar arms is skraal, maar gespierd, merk Beeslaar. Are wat duidelik oor haar benerige polse en hande vertoon. Sy steek op en blaas rook in die rigting van die plafon, fyntjies, met getuite lippe. “Nee, inspekteur, jy moet omtrent ’n Kentridge of ’n Bosman wees voor jy van jou skilderwerk alleen gaan leef.”
Nie een van die name lui ’n klok nie, maar Beeslaar besluit dis onbelangrik. “So?”
Sy sê niks, maar kyk betekenisvol na hom.
“U het haar onderhou?”
“Dit klink oordrewe. Kom ons sê liewer ek het swaar belê in haar.”
Beeslaar knik begrypend. “En nou?”
Sy antwoord nie dadelik nie, oë neergeslaan. “En nou het die swaarste dag van my lewe aangebreek, inspekteur.” Sy kyk weg, vee met ’n hand in die hoeke van haar oë.
Beeslaar gee haar kans om te herstel. Vra dan: “Die voorman, meneer De Kok. Hoe goed ken u hom?”
Sy sug diep, neem ’n trek aan die sigaret.
“Ek ken hom nie goed nie.”
“Weet u hoe sy verhouding met die oorledene was?”
“O, sy was heel tevrede met hom. Ek dink hy het sy werk goed genoeg gedoen. Hy het alles oorgevat op die plaas. Self die boeke begin doen, my soort van uitgeskuif.”
“Sou hy rede hê om haar leed te wil aandoen?”
Sy kyk peinsend na die brandende sigaret.
“Jy vra die verkeerde persoon, inspekteur. Ek het nie juis baie ooghare vir die man nie.”
“Hoe so?”
Sy kyk direk na hom, dan vinnig weg. “Ag, ek weet nie. Dis moeilik om jou vinger daarop te lê. Ek dink nie hy’s ’n maklike mens nie. Hy het my soms soos ’n onwelkome buitestander laat voel daar.”
“Het hy ooit met die oorledene vasgesit? Het hulle verskille gehad? Baklei?”
“Hoekom, is hy ’n verdagte?”
“Ek wil maar net ’n idee kry van die omstandighede rondom die oorledene, juffrou Viljoen, dis maar al. So, weet jy of hulle goed klaargekom het?”
“Nee. Ek bedoel ... ek het eintlik nie veel met hom te doen gehad nie. Maar ek dink Freddie was heel tevrede met hom. Verder ... Ek is bevrees ek sal jou nie kan sê wat hy alles in sy vrye tyd aanvang nie. Ek weet hy’t ’n ding met wilde voëls. Vir my persoonlik ’n bietjie grieselrig, wreed selfs, om ’n wilde dier te vang en so met ’n tou om die poot aan te hou.”
“En die res van die personeel?”
“Wat van hulle?”
“Sou daar iemand kon wees wat haar wou dood hê? Dalk ’n wrok gehad het?”
“O. Nee, ek glo nie. Maar mens weet ook nooit nie, of hoe?”
“Wat van die jeugdiges wat sy versorg het? Ek verstaan u was taamlik betrokke daarby?”
“Daardie kinders was klein – die meeste van hulle onder tien. Maar daar was een ... Boelie, of Bongi, so iets. So ’n stilbeneukte kind. Hy was skaars twaalf, maar het klaar tatoeëermerke gehad, een daarvan was ’n horlosie. Hy’t bietjie soos ’n ... skollie gelyk, ’n regte klein moeilikheidmaker, nooit gepraat nie. Maar Freddie ... ai, die liewe, naïewe Freddie. Sy’t gesê hy’s eintlik net ’n bietjie gestrem, verstandelik. En hy’t die een of ander soort spraakgebrek gehad. Niemand kon sy ouers opspoor nie. Hy’t maar hier rondgeswerf. Uit die ashope geleef, al sulke goed, jy ken seker die storie. Ek weet nie wat van hom geword het nie. Maar as jy my vra, is hy lankal óf in die tronk óf lid van die een of ander bende. So ... jammer, maar dis eintlik al wat ek kan onthou.”
Hy maak ’n aantekening. Dan: “Is Buks Hanekom een van jou kliënte?”
Sy sit regop, verrassing op haar gesig.
“Buks? Hoekom vra jy?”
“Ek weet jy het gister na hom gesoek.”
“Sommer besigheid,” sê sy met ’n stouterige glimlag en ’n handgebaar.
Beeslaar knik, maar gee nie op nie: “Wil hy verkoop? Ek dag die plaas is nog sy pa s’n.”
Die glimlag raak breër, die oë groot. “Sjoe, inspekteur, ek kan nie sien wat dit met Freddie se dood te doen het nie.”
Hy glimlag terug. “Alles is relevant by ’n moord, juffrou Viljoen. En ek dink dis vir mý om te besluit of dit relevant is al dan nie. Hanekom het nogal sterk gevoelens oor hierdie moorde.”
“En ek, inspekteur, hoef nie met jou te praat oor my sake nie. Superintendent Mogale op Upington is ’n persoonlike vriend van my. En ek glo nie hy sal hou van jou taktiek nie.” Haar groot oë flikker uitdagend.
Beeslaar besluit om dit vir eers daar te laat. Daar’s geen sin daarin om ’n piskompetisie teen een van die super se beste vrinne aan te gaan nie.
“Gepraat van grond,” sê hy dan, “Freddie Swarts was mos betrokke by ’n grondeis, nie waar nie?”
Sy dink ’n oomblik na, oënskynlik tevrede dat sy die eerste ronde gewen het. “Dit het begin as ’n skilderprojek, dink ek. Freddie wou die ou kaptein van die plaaslike Griekwa-stam skilder. Maar toe raak sy heeltemal op loop met hulle. Die Griekwas. Oor hulle grondloosheid, die armoede. Dit was tipies ...” Sy sug ligweg. “Ieder geval, sy het gevra ek moet help met ’n eis. My prokureurs het die dokumente nagegaan, maar ongelukkig het hulle nie gekwalifiseer nie; die stam, bedoel ek. Ek het Freddie oortuig om haar los te maak van die mense. En toe begin sy met die kinders. Dit het soort van voortgevloei uit die Griekwa-ding.”
“En hoe sou dit by mense soos Hanekom afgaan?”
“Maar hoe sal ék dan nou weet, inspekteur?”
Beeslaar staan op. “Net nog een ding, juffrou Viljoen.”
“Noem my asseblief Nelmari.” Sy staan ook op. Haar parfuum spoel diskreet oor hom. Dis blommerig, tropies.
“Daar’s mense,” sê hy, “wat beweer jou Groen Kalahariprojek sukkel. Ís dit so?”
Sy glimlag koel. “Lyk ek vir jou bekommerd, inspekteur? Ek weet nie van jou nie, maar ek vind nogal dat mense soms heeltemal te veel praat oor goed waarvan hulle niks weet nie.” Sy bly ’n oomblik stil. Toe sy weer praat, is haar stem lig en baie sag. “Soos die mense wat praat oor hoekom jy uit Johannesburg weg is.”
Hy gaan nie byt nie, besluit hy. Maar hy is skielik bewus van die lugreëling se gedempte suising, die koelte wat grens aan yskoud.
“Jy’t nie my vraag beantwoord nie,” sê hy.
“Is dit relevant?”
“Hierdie is ’n moordondersoek, soos ek gesê het. Alles is relevant.”
“Alle bouprojekte gaan deur stadia, inspekteur. Maar ek kan jou verseker hierdie een is kerngesond.”
“En het jy nog die besigheid in Johannesburg?”
“A ja-a.”
“Óók eiendom?”
“Ja. Hoofsaaklik industrieel. Ek het ’n afdeling vir die huismark, maar die fokus is industrieel. Ek verkoop, maar ek verhuur ook. Dis eintlik my hoofbesigheid en dis goed geolie. Ek het ’n goeie man wat dit bestuur. Ek self gaan net een maal ’n maand vir ’n week soontoe. Kyk of alles darem nog staan.”
Beeslaar knik en loop deur toe. Sy loop nie saam nie. Wanneer hy omdraai om te groet, sien hy sy is klaar weer agter haar lessenaar, foon in die hand. Sy wuif met die ander hand vir hom terwyl hy die deur agter hom toetrek.
Vir die eerste keer in sy ses weke hier, besef Beeslaar toe hy buite kom, is die hitte amper welkom.