Читать книгу Plaasmoord - Karin Brynard - Страница 4
ОглавлениеHoofstuk 1
1
Die oproep het net na twee gekom.
Hy was by sy lessenaar in die polisiestasie, besig met sy middagete: vetkoek met mince. Afgesluk met soet, sterk, swart koffie.
Die ete was amper klaar toe die foon lui. Dit was een van die dienskonstabels in die aanklagkantoor. Koorsig.
Daar was ’n plaasmoord, het hy gehyg, twee dood. Vrou en ’n kind. Wit. Van die plaas Huilwater, sowat veertig kilometer uit die dorp uit op die grondpad Upington toe. En toe: Die inbeller is nog op die lyn, wil die inspekteur met hom praat?
Inspekteur Albertus Markus Beeslaar het die vetkoek eenkant toe geskuif.
Die man se stem was rukkerig en hees, hol, soos iemand sonder ’n tong. Te laat, het hy gesê. ’n Mal mens ... Waansinnig ... Duiwel.
Die stem het ent-ent weggeraak.
Soos diere. Hulle ... diere ... afgeslag. Albei ... Bloed. Op alles. Oral. Hy stáán daarin.
En toe huil die man. Hy het iets bly prewel van laat wees.
Dit het moeite gekos om sy naam uit hom te kry. Boet Pretorius, het hy uiteindelik geantwoord. Van die buurplaas.
Die kleintjie was maar vier jaar oud. Vier, net vier, het hy oor en oor gesê.
Waar’s die vrou se man, wou inspekteur Beeslaar weet. Hy moes ’n paar keer vra voor hy kon deurdring tot die man. Daar ís nie ’n fokken man nie, was die heftige antwoord. ’n Voorman, ja, maar dié is skoonveld.
Van waar af bel hy? Daar was ’n lang stilte, asof die man moes dink. Toe: Goeie God, man!
Gaan uit die huis uit, onmiddellik, het Beeslaar beveel. Wag buite. Ek kom dadelik.
Dit was drie ure gelede.
Drie ure waarin Beeslaar finaal teruggeruk is uit die belofte van ’n “nuwe, rustige, plattelandse pos”.
Hy het nog ’n oomblik gesit, toe haastig die vetkoek in sy snippermandjie gegooi, die dienskonstabel by die toonbank voor aangesê om ekstra hande uit te stuur Huilwater toe. Daarna het hy sy twee kollegas bymekaar geskraap en ’n kar gekry. Die klein wit Citi Golf. Enigste wat beskikbaar was uit ’n karpoel van twee. Sonder lugreëling en met ’n honderd en tagtig duisend kilo’s op die klok.
Hulle het ingebondel en die veertig kilometer grondpad aangepak.
Sersant Pyl moes agterin, sersant Ghaap voor in die passasiersitplek. Beeslaar self het met moeite sy groot lyf van byna twee meter agter die klein karretjie se stuur ingeprop. En onder sy asem geswets, soos elke keer as hy in die beknopte karretjie moet in: die stuur te laag oor sy knieë, die sitplek te klein, te min plek vir sy bene, sy kop wat teen die plafon stamp. Maak hom benoud en moerig. En vanmiddag was geen uitsondering nie. Hy was klaar in ’n bui, nog voor hulle die slegte grondpad geslaan het na die moordtoneel.
Maar dis nie soseer dít wat aan hom gekrap het nie. Eintlik meer die feit dat hy nog so watertrap in hierdie nuwe pos: ’n rasegte stadsjapie, ontuis in ’n wêreld van boere en beeste en plaaspaaie en sand en slange en hitte-sonder-aircon. En hy was skaars hier, salig onder die indruk dat hy ’n rustiger joppie op die platteland tegemoetgaan, of die kak spat in alle windrigtings.
Hy bevind hom midde-in ’n ongekende vlaag veediefstal. En óf hy is nie meer ’n speurder se gat nie, óf hy’t te doen met ’n supergesofistikeerde mafia, waarvan hy g’n spoor kan vind nie.
Die boere is natuurlik moedeloos. En moerig, want hulle ly helse skade. Almal soek resultate. En hy wat Beeslaar is sukkel om ’n koei van ’n kat te onderskei, wat nog te sê ’n spul uitgeslape veediewe aan te keer.
En toe, twee weke gelede, word twee skaapwagters wreedaardig vermoor. Hulle moes die veediewe betrap het, want hulle liggame is tussen die karkasse van ’n trop skape gelos. Sommige van die skape was keelaf gesny, ander net by die hakskeensenings deurgesny. Sodat hulle die goddelike nag blêrend lê en uitbloei het. Tot die boer hulle die volgende oggend ontdek en van kant kon maak.
En toe eers die twee werkers, die Jacobs-broers, se verminkte lyke onder die karkasse ontdek het. Flenters getrap en gemaal deur die berserkte diere.
En hy wat Albertus Markus Beeslaar is, sit soos ’n uil op ’n kluit. En almal kyk na hom, die nuwe man met die jare ondervinding. Uit die grootstad Johannesburg. Grootgemaak en geskool deur die allerbestes uit die ou Moord en Rooftak van die Polisie. Maar hy loop hier rond soos ’n verdwaalde drol. Weet nie waar om te vat of te los nie.
As hy dus al eerder die veediewe vasgevat het, het die Huilwatervrou en haar kind vandag nog gel–...
Hy mis rakelings ’n gat in die pad. Kophou, maan hy homself, hou op tob en fokus liewer op die pad, die slaggate so groot soos kakhuise.
Met een oor het hy probeer luister na sersant Pyl agter hom, die een met die oorbodige energie, wie se bek g’n sekonde stilstaan nie. Wat omtrent moes skree om homself hoorbaar te maak bo die geraas van skietende klippers teen die Golfie se onderstel. Hy’t lang stories gehad oor die enkel-boervrou van Huilwater, ’n eksentrieke kunstenares uit Johannesburg. Oor die Griekwa-dogter wat sy besig was om aan te neem. Die vreemde Boesman-voorman wat haar plaas bestuur. Pyl se stem is feitlik uitgedoof toe die kar oor ’n stuk sinkplaat ratel, sodat Beeslaar nie heeltyd die draad kon volg nie.
Dit was ’n halfuur van skommel, skud en kopstamp. Pyl het vasberade bly voortrammel vanuit die agterbanke. Ghaap, sy lang, maer lyf soos ’n stokinsek gevou op die sitplek langs hom, is genadiglik minder van ’n prater. Toe het hulle uiteindelik die uitdraai na Huilwater gekry en in ’n stofwolk by die plaashuis se agterdeur gestop.
Boet Pretorius het op die stoeptrappie by die huis se agterdeur gesit. Daar was bloed oor sy klere. Twee groot kolle op sy knieë, elmboë en voorarms. Tot in sy hare. Hy moes geval het daarin. Daar was kotsmerke op sy hemp en droë bloed op die hand wat ’n sigaret vasgehou het.
Om hom het ’n paar mans woordeloos rondgestaan: boere uit die omgewing wat god-weet-van-waar-oral opgedaag het. Wie’t hulle almal laat weet? het Beeslaar vlietend gewonder. Pretorius?
Een het nog in die kombuisdeur gestaan, sy gesig wasbleek. Het seker pas sy makabere nuuskierigheid bevredig, het Beeslaar grimmig gedink en op die groepie afgestap.
“Beeslaar,” het hy homself voorgestel, “en dis sersante Pyl en Ghaap. Wie van julle was al binne-in die huis?”
Sy antwoord was neergeslane gesigte, growwe hande wat vroetel met ’n hoed of ’n pistool op die heup.
“Jissis,” het hy ruweg onder sy asem gesê en verby hulle gestap. Die man in die agterdeur het haastig geepad. “Daar’s niemand meer nie,” het hy vir Beeslaar gesê, wat vir ’n oomblik nie mooi begryp het wat die man probeer sê nie.
“Nie een van julle kom weer naby die huis nie,” het Beeslaar geblaf. “Hierdie is ’n moordtoneel, nie ’n fokken freak show nie!” Hy’t sy moerigheid probeer sluk en toe weer probeer, meer besadigd: “Sorg asseblief dat niemand hier vertrek voor ek nie met elkeen gepraat het nie! Reg?” het hy uitgeroep en verergd gewag tot hy koppe sien knik. Toe draai hy om, die huis in. Oor sy skouer kry Pyl die opdrag om die agterdeur te beman – niemand buiten die forensiese ouens uit Upington word toegelaat nie. Ghaap moes solank verklarings begin afneem.
Binne-in die huis het inspekteur Beeslaar een van die meer grusame tonele van sy twintig jaar lange loopbaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanskou.
Hy’t eers die kind gesien. In die eerste slaapkamer. Op haar sy, in ’n wye kring bloed. Hy kon sien die bloed was taamlik vars – hoogstens ’n paar uur oud.
Die vrou se liggaam was in ’n tweede slaapkamer. Sy het plat op die grond gesit, haar rug regop teen ’n stoelpoot aangeleun. Haar arms gemaklik langs haar, hande wat sag op die vloer rus, palms ontspanne na bo. Soos ’n lappop wat op ’n kinderbed sitgemaak is. Maar sonder kop. Of liewer, van waar hy in die deur van die vertrek gestaan het, kon hy nie een sien nie. En hy wou nie nader gaan nie – hy sou wag vir die forensiese span. Nie dat daar veel van ’n moordtoneel oor was nie. Die twee kamers en gang was vol bloedspore soos die boere al daar in en uit was. Wat natuurlik Beeslaar se ergernis verder laat styg het.
Die forensiese “span” uit Upington blyk toe uiteindelik net een ou te wees. “Sorrie ek’s so laat,” het hy met die intrap gesê en homself voorgestel as Hans Deetlefs. “Sonder my GPS het ek die plek nooit gekry nie!” Hy’t heel ingenome gelyk met homself en sy GPS, met sy varswatergesig en groot bottelbodem-brilglase, twee ogies klein en ver en waterig blou agter hulle.
Hy was ’n kort mannetjie, maar kennelik sonder die sindroom. En het knap voorgekom. Klaar in sy plastiekoorpak en -skoene, tassie met die toorgoed van sy vak in sy linkerhand, ’n kamera om die nek. “Welkom in die Wilde Noordweste, inspekteur,” het hy gesê en sy ogies selfvoldaan geknip. “Ek hoor jy’s al die pad van Johannesburg hier by ons!” Beeslaar het iets teruggemompel, nie lus vir kakpraatjies nie.
Hans Deetlefs het ongestoord sy tassie uitgepak en stil en behendig begin werk, kort-kort iets vir Beeslaar uitgewys. Soos dat die vrou se kop tóg daar was. Haar nek was net só diep gesny dat dit heeltemal agteroor geknak het – in die holte van die stoel se sitplek in. Daarna het hulle saam-saam die chaos in die vrou se slaapkamer deurgekyk. Die klerekas se laaie was uitgetrek en op die vloer omgekeer, die matras halfmas van die bed afgeruk, asof iemand in groot haas na iets gesoek het. ’n Boekrak agter die deur na die gang was omgekeer, baie van die boeke in bloedspatsels bedek. Dit moes dus vóór die moord gebeur het.
“Sy moes sit en toekyk het,” het Hans opgewek verklaar – asof hy pas ’n paaseier ontdek het. “Wed jou ’n honderd rand sy’s Roofies ingeja voor sy vermoor is.” Hy’t met sy klein ronde ogies knipperend na Beeslaar opgekyk. Weer die onaardse glimlag – maar dan besef Beeslaar dis nie ’n glimlag nie, dis bloot die man se manier om sy swaar brilglase bo te hou deur sy wange te bol.
“Nie ’n dobbelman nie,” het Beeslaar iesegrimmig terug laat weet.
Die bloed was oral: mure, vloer, bed. Die vrou se lang, ligblou somersrok was swart gekleur daarvan.
Ook buite op die voorstoep was daar groot plasse bloed, waar drie groot honde en ’n keffertjie afgeslag gelê het.
Deetlefs was ook glad nie veel gepla oor die gefokte toestand van die moordtoneel nie. “Shit happens,” het hy met ’n irriterende gryns gesê en sy oë weer ’n paar maal geknip. Sy woorde was nie koud nie, toe beland daar amper nóg ekskresie op die vloer: sersant Ghaap wat sonder skoenbedekking en met ’n brandende sigaret in die hand in die kamerdeur verskyn.
“Inspekteur, die mense buite vra of jy kan opsk–... e ... hoe lank dit nog gaan vat. Hulle wil ry.”
Beeslaar het tot tien begin tel, nie eens by drie uitgekom nie. “Fok weg hier met daai sigaret! En dan gaan sê jy vir die klomp daar buite: enigeen wat vanaand in die dorpselle wil slaap, moet dit waag om te ry!”
Toe Beeslaar uiteindelik tevrede was dat hy alles gesien het, het hy Deetlefs gelos om alleen aan te gaan. Kon hy uitgaan vir vars lug. En om Pretorius se storie te gaan aanhoor.
Maar nie voor daar amper nóg bloed gevloei het nie.
Die plaasvoorman het sy opwagting op die werf gemaak. En voor Beeslaar kon keer, het ’n groepie jonger boere die man met geweld uit sy bakkie gepluk en op die grond gesmyt, gereed om hom te donner. En te skiet agterna. Ghaap, Pyl en ’n paar platpette uit die aanklagkantoor moes die spul opbreek.
Adam de Kok, blyk sy naam toe te wees. Hy was heeldag op die dorp – saam met die plaas se huishoudster – vir die week se inkopies en aankope by die landboukoöperasie. Beeslaar het eenkant met hulle gaan praat, op die agterstoep van die voorman se huis, ’n ent van die plaashuis af. Maar hulle wis van niks – die ou tante heeltemal buite haarself van skok en angs.
Na hy met hulle klaar was, het Beeslaar sommer net daar op die voorman se agterstoep bly sit vir die res van die ondervragings. Beginnende by Boet Pretorius.
“Ek wou gewoon ... inloer,” het hy verklaar. “Was vanoggend gou in dorp toe. En op pad terug ...” Hy is net na eenuur uit die dorp weg. “Ek boer langsaan, Karrikamma,” het hy gesê. En nee, hy het geen ongewone of vreemde voertuig op pad of hier opgemerk nie.
“Ek ... wou net groet, die huis sit dan so teenaan die pad, mens kan vinnig in en uit wees.”
Sewe-uur. Deetlefs het pas die groen lig gegee dat die liggame weggeneem kan word. Die ambulansman, ’n ongewaste vent met ’n wynasem, sukkel om hulle ingelaai te kry. Die naaste patoloog wat voorkeur kan gee, is op Postmasburg.
Die plaaswerf het skielik stil geword. Die boere weg, die eenmanspan uit Upington weg. Ghaap en Pyl saam met die platpette terug stasie toe.
Dis nog net Beeslaar. Hy sit op die trap van die plaashuis se agterstoep. Dieselfde plek waar hy vroeër die middag vir Boet Pretorius aangetref het. Sit en kyk oor die werf uit, die twee reuse bloekoms wat skaduwee by die agterdeur gee. Die laning kareebome wat die voorman se huis van die hoofhuis skei. ’n Groot plaasdam van sink na die voorkant van die huis, ’n windpomp langsaan, wat klaend aan sy remme trek.
Dis besig om skemer te raak. Die ondergaande son brand rooi in die fyn stof wat nog oor die snuifgetrapte werf opstaan.
Beeslaar voel mislik. Nié van die bloedorgie wat hy vanmiddag hier aanskou het nie. Dis die water. Hy’s al twee maande in hierdie godverlate wêreld, maar hy kan steeds nie vat kry aan die brak water wat badseep laat skif en ’n kalkrand in ’n glas los nie. Sy liggaam roep na die goor swembadsmaak van Johannesburg se water.
Hy probeer om nie aan Johannesburg te dink nie. Dit was ’n ander lewe. Nou is hy hier. Op hierdie plaas, in hierdie hitte. En hy sweet soos ’n fokken otter. En bly dors.
Maar hy weet ook, die dors is nou, soos hy hier sit, die allerminste van sy probleme.