Читать книгу Plaasmoord - Karin Brynard - Страница 19
ОглавлениеHoofstuk 16
16
“Hoe’s dinge?” groet Beeslaar toe hy by die aanklagtoonbank verbystap op pad na sy kantoor.
Die jong leerlingkonstabel plak die telefoon vinnig neer. “Middag, inspekteur.”
“Jou girlfriend nog lief vir jou?”
Die jong man skrop verleë met sy vingertoppe agter ’n bakoor, wend sy oë af. Beeslaar glimlag, maar sê niks. Die konstabel se steeloproepe na ’n befoeterde meisie is alombekend.
In die gang kom Jansie Boois op hom afgepyl. Sy het haar mandjie met kosblik en hekelwerk oor een arm, haar handsak in die ander. Op pad huis toe vir die naweek. “Inspekteur, daar’s ’n stawel boodskappe vir jou. Wil jy hê ek moet gou help voor ek gaan? Jy onthou nog ek loop vandag vroeg? Moet help om die saal reg te kry?” Sy is lid van die een of ander kultuurgroep wat ’n Afrikaanse sanger uitgenooi het.
“Gaan julle skoffel ook?”
“Ag jy,” giggel sy ondeund en skuif haar bril met ’n pofferhandjie terug oor haar neus. Dan trek sy groot oë. “Die superintendent het al twee keer uit Upington gebel.” Sy swaai haar wysvinger vir hom. “Stout.”
Beeslaar sug en trek ’n bek. “Ek sal bel. En kappityt, hoor! Doen die Macarena!”
Superintendent Leonard Mogale se ergenis is onmiddellik duidelik toe hy sy foon antwoord. “Jy’s ’n belangrike man, inspekteur. Heeltemal te belangrik vir my, of hoe?” Sy stem is ’n diep, donker bas en hy praat dralend, sonder wisseling in toonhoogte, sy woorde een vir een gevorm en sorgvuldig uitgespreek.
“Ek dag u is op pad hierheen, toe wou ek maar soveel moontlik dinge bymekaarkry. Om u in die persoon in te lig.”
“Hier’t iets opgeduik.” Hy kan hoor die superintendent kou aan iets. Hou die kêrel dan nooit op eet nie? Hy lyk klaar soos ’n baba-seekoei. Vaatjie-maag en vet gesig. En dan is daar sy bruuske aard, waardeur hy ’n bynaam verwerf het, afgelei van ’n kombinasie van Mogale en moegoe. Eindresultaat: Moegel. Die Moegel.
Die superintendent sluk af wat hy ook al geëet het. “Maar ek hoef nou seker nie my bewegings aan jou te please explain nie, inspekteur.”
“Ja, superintendent. Ek is jammer. Ding is net, ons is dun op die grond, net een voertuig.”
Die vet man grom misnoegd, sy stem vibreer soos ’n diesellorrie oor die foonlyn. “Ek hoor jou, inspekteur, en my hart bloei vir jou. Maar jý’s mos nou daar. Die groot wit lig uit Johannesburg!” Hy lag om die angel uit sy woorde te haal, maar Beeslaar weet daar was ongelukkigheid oor sy aanstelling hier. Mogale wou eerder een van sy eie mense hier gehad het, sy eie stempel op al die kleiner stasies in die uitgestrekte distrikte rondom Upington afdruk.
“Maar groot wit lig ofte not, in hierdie wêreld werk ons anders,” sê hy. “Hier werk ons saam, ons ignoreer mekaar nie. Jy met my? Van nou af wil ek elke dag ’n verslag hê van jou af. Beginnende Maandag, as ek jou en jou docket eerste ding hier by my op kantoor sien.”
Beeslaar wil protesteer, maar byt op sy tong. Dis amper ’n honderd en twintig kilometer Upington toe. Dus, ’n hele blerrie dag in sy moer in. Hy niks ryker nie en Die Moegel beslis niks wyser nie.
Mogale begin spoed optel: “Want ek lyk soos ’n fokken aap hier, man. Dis my eie direkteur wat wil weet wat aangaan, die kommissaris wat in ons al twee se nekke in afblaas. Dis politici, die opposisie, die blerrie boere van die landbou-unies. En die pers. En ek sit hier soos Kiepie-die-kont. Weet van niks, want inspekteur Beeslaar is te besig om my te bel en op hoogte te hou.”
Hy bly ’n oomblik stil om die teregwysing te laat insink, gaan dan kalmer voort: “Hoe verloop dinge daar? Ek hoor daar’s wit boere wat met gewere rondloop en die mense intimideer.”
Beeslaar sug innerlik. Dankie baie, sersant Ballies Gatlek Pyl.
“Dis dalk bietjie oordrewe, superintendent. Die mense is ontsteld en vol dreigstories. Maar dis waar dit bly.”
“Ek hou nie hiervan nie. Daar’s kort-kort oorlogspraatjies in die koerante. Ek soek nie sulke moeilikheid op my werf nie. ”
“In hierdie stadium is dit enkelinge. Maar ek hou dit dop. Ek wou nog vra: Terwyl u nou die kommissaris in u nek het, druk hom asseblief vir die brief?”
“Brief. Watse brief?”
Beeslaar voel hoe sy kopvel begin kriewel. Hy haal diep asem. Wanneer hy weer praat, moet hy konsentreer om nie te klink of hy deur sy kiestande praat nie.
“Die brief wat ons nodig het vir die laboratorium in Pretoria, superintendent. Ons soek mos ’n brief van die kommissaris wat moet sê dis ’n prioriteitsaak, dat ons nie nege maande hoef te wag vir die uitslag van die bloedtoetse op die slagoffers nie. Die brief om ...”
“Los maar die houding, inspekteur. Ek weet goed genoeg waarvan jy praat. Ek werk daaraan. Nou, gaan ek nog iets hoor oor hierdie saak, of moet ek iemand anders vra? Pyl? Hy lyk na ’n bruikbare klong. Of gee ek die saak vir my manne hier op Upington?”
Beeslaar byt op sy tande. Man soos hierdie, anderdag by die Diens aangesluit, elke middag vieruur by die huis. Bevordering elke keer as hy hoes. En manne soos hy self ... jarre van bloed sweet, veertien-uur-werkdag, geen naweke, geen oortyd, geen rus voor ’n saak opgelos is nie. Gesondheid in sy moer in. Maar van bevordering kan hy vergeet. Vir die res van sy lewe. Sy velkleur geweeg, te lig bevind ...
Hy maak keel skoon, begin dan: “Ons is tans besig met ondervraging, superintendent. Verklarings afneem, vingerafdrukke insamel. Ons werk almal deur op die plaas, omliggende boere. Daar is nog nie voor-die-hand-liggende verdagtes nie. Maar ons het vandag inligting bekom wat ons veediewe met die moorde kan koppel. Dis nog nie behoorlik gekontroleer nie ...”
“Watse inligting?”
“Hul voertuie is die nag voor die moord opgemerk in die omgewing waar die moorde plaasgevind het. Maar soos ek sê, ons moet dit nog behoorlik kontroleer. Verder wag ons. Die nadoodse ondersoek is afgehandel, ons wag vir die verslag, en vir die finale nagaan van vingerafdrukke by u manne daar. Die bloedtoetse – as die kommissaris dit regkry om dit prioriteitstatus te laat kry – sal minstens twee maande duur.”
“Nou maar reg. Wees julle intussen op die uitkyk vir vigilante-optredes van die boere se kant. En hou my in godsnaam op hoogte!”
Beeslaar gooi die telefoon neer nadat die lyn doodgegaan het. Hy staar eers na die dossier voor hom op die lessenaar, dan na die stapel pienk notatjies waarop Jansie Boois sy boodskappe neergeskryf het. Hy gryp die papiertjies, frommel hulle op en smyt hulle met geweld in ’n rigting in. Maar die wind van die waaier langs sy lessenaar vang hulle en smyt hulle terug.
Hy sug en tel die papiertjies een-een op, stryk hulle met sy hand plat en druk hulle deur die pen op sy lessenaar. Dan staan hy op, maak die dossier toe en sit dit in sy laai, sluit dit en steek die sleutel in sy sak.
Dis vyfuur. Huistoegaantyd in die nuwe SAPD.
En hy’t hoeka ’n dop nodig.