Читать книгу Plaasmoord - Karin Brynard - Страница 20

Оглавление

Hoofstuk 17

17

Yvonne Lambrechts klap mismoedig met haar tong vir die gelui van die telefoon: “Daai blienkieng ding kry vanaand g’n einde nie.” Maar sy staan nie op om dit te gaan antwoord nie. Sy steek haar hand uit en vou dit oor Saar s’n. “Ek hoop jy kry geslaap, my kind.”

Saar lê al in die bed. Sy het ’n koel stort geneem direk nadat sy van die plaas af teruggekom het en toe in die bed kom klim. “Ek voel of ek ’n week sal slaap, tannie.”

“Die hele wêreld het al vanaand gebel. Die Bosch-meisie van die Sondagkoerant sommer twee keer. Sy sê jy ken haar. Ek het maar gesê sy moet probeer verstaan. Ek weet tog nie hoe die mense so ongevoelig kan wees nie.”

“Sy doen maar net haar werk, tannie. Ek het vanmiddag gepraat met Harri, my vriend in Kaapstad, en hy sê die koerante is nogal op hol oor hierdie ding. So, ou Maria doen maar net haar werk.”

“Hy’t ook weer gebel, dié Harri. Ek het gesê daar’s nie selfoonontvangs op die plaas nie. Werk hy dan ook saam met jou?”

“My buurman. Ons is al jare vriende. Ek kyk na sy plante as hy weggaan en omgekeerd.”

“O. Eintlik weet ek ook nie wie jou nommer mag kry nie.”

“Dis orraait, tannie Yvonne. Ek sal dalk môre meer krag hê om self te antwoord. Het tannie enigiets van Nelmari gehoor?”

“Sy’t gebel. Was baie ongelukkig toe sy hoor jy’s allenig uit plaas toe. Jy moet haar maar môre bel.”

Saar onderdruk ’n gaap. “Sy’s te besig, tannie Yvonne. Sy het die beste bedoelings, maar ... Hoe goed ken tannie vir Dam?”

“Nie baie nie. Maar Freddie was baie tevrede met hom.”

“Hy’s darem baie anders. Hy’s so ... ek weet nie. So ... of hy eerder elders tuishoort. Anderwêrelds. Jy verwag hom nie op ’n armsalige ou plasie in die Noord-Kaap nie. Maar hy loop in vellies rond wat lyk of hy dit self gemaak het. Sonder sokkies!”

Yvonne glimlag en staan op.

Saar beur orent, rus op een elmboog. “Het Freddie ooit vir tannie haar skilderye gewys? Ek bedoel, die goed waarmee sy besig was.”

Yvonne gaan sit weer. “Ek glo nie ek verstaan haar werk altyd so mooi nie.”

Saar glimlag. “Tannie klink soos Ma. Maar ek dink, soos ek nou voel, is dit selfs vir my te rof. Ek weet nie ... Daar’s veral een. Dis ’n skildery van Freddie self. Maar ... die hare. Sy’t haarself geverf nes ... soos ons haar vanmôre gesien het, tannie weet?”

Die ouer vrou frons. “Aggenee, kind. Is jy seker?”

“Ja. Maar tannie weet mos hoe was Freddie ...”

“Dink jy sy het dit sien kom? Soos julle ouma Nettie?”

Saar skuif regop, haar rug teen die kussings. “Ek weet nie, tannie. Maar dis regtig vreemd, daardie skildery. Dis van Freddie, met ’n groot snywond oor haar bors. En haar hare ... die hare is in klossies afgesny. Sy lyk regtig nes ... vanoggend.”

“Ai, jong. Probeer nou slaap, dan praat ons môre,” sê die ouer vrou en staan weer op.

Saar skakel die lig af en draai om sodra die deur toegegaan het. Maar sy’s helder wakker. Dis nie net Freddie se skildery wat vreemd was nie – die hele dag was. Uit wars uit. Beginnende by Freddie in daardie plek. En Nelmari. Met die uitheemse kantoor. Maar die vreemdste, nee, eerder verrassendste, was Dam.

Hy’s tegelykertyd veldmens en Britse lord. Aan die een kant is hy so aards soos ’n Kalahari-meerkat. Maar dan is hy ook trots, byna superieur, die soort selfvertroue wat jy nie aldag by ’n plaashand sien nie. Die manier waarop hy tee skink alleen ... Lyk of hy in ’n finishing school was. Hy’s nie verwyfd nie. Net ... wat? Verfynd.

Hy het haar op sy agterstoepie laat sit, vir haar ’n tietbottel en handdoek in die hand gestop en gesê sy moet solank die lammer voer, en in die kombuisie gaan werskaf met teegoed. Die gesprek tydens die tee was algemeen – wanneer sy aangekom het, by wie sy tuisgaan, wanneer sy wil terug, waar werk sy in die Kaap, bly sy alleen? Sy’t uitgevra na die plaas, of hy en oom Sak dit alleen kan behartig. Hy’t gesê hy sal praat as daar nood kom. Maar hy glo hulle sal kan aangaan vir ’n ruk – so sonder Dawid- en Lammer-hulle. Daar’s een koei op stal wat gemelk moet word en ’n paar hanslammers, maar die koei is amper droog en hy gaan haar oor ’n dag of wat terug veld toe kan jaag. En die lammers is klaar verkoop. Hy moet hulle nog net wegbring. Vir Lottie die hanslam ook.

Hy het homself in ’n stadium verskoon om te gaan kyk of oom Sak regkom met die melkery in die stalle. Hy’t vir haar vars tee ingeskink voor hy weg is.

Toe hy terugkom, het hy ’n koue bier voorgestel, waarmee hulle op sy stoepie bly sit het tot die son in ’n rooi waas begin sak het.

“Hoe goed ken jy die man wat netnou hier was?” het sy versigtig gevra.

Dam het sy kop geskud en eenkant toe gekyk.

Maar na ’n ruk, toe sê hy: “Dit was sy tweede keer vandag hier. Ek weet nie wat sy storie is nie, wat hy aanhoudend hier kom soek nie. Maar dit lyk my hy het besluit ek het iets met die moorde te doen.”

Hy was vir ’n rukkie stil. Sy moes haar tong byt om hom nie uit te vra nie. Te vra wat hy dink hier gebeur het, en hoe hy voel.

“Ek kan hom seker nie kwalik neem nie,” sê hy toe, “hulle sal mos eerste kyk na onse mense. En dit lyk nie goed nie – met Dawid- en Lammer-hulle wat die hasepad gevat het. Ek ook. Ek het baklei Woensdag toe hulle my vingerafdrukke wou vat.”

Toe die aandhemel in ’n brose pienk uitsprei en die skemer dik begin aankom, het Dam besig geraak met twee roofvoëls wat hy op staanders in die agterplaas aanhou.

Hy het ’n lang leerhandskoen aangetrek wat hom tot by die elmboog bedek en gesê sy kan saamstap om hulle te gaan haal en in te bring na hul hokke op die stoep, waar hulle snags slaap.

Die kleiner voël is ’n bleeksingvalk, het hy gesê en saggies met die rugkant van sy voorvinger gestreel oor die blougrys bors van die voël wat met ’n riem aan haar poot op ’n staander gesit het.

Dit was amper magies, dink Saar en draai op haar rug, haar arms onder haar kop gekruis. Die sagte lig wat die aandskemer op hom en die verruklike voëls gegooi het, die stilte van die veld, die rustige band tussen hom en die diere op hul stokke.

“Uithou, Prinses, ons is amper daar,” het hy geprewel. Die voël het vooroor gebuig en liggies met haar bek aan die leerrieme om haar poot gepluk. Hy het haar ’n week of wat gelede in die veld gevind, uitgeteer en by die dood. Sy’s nog jonk, het hy verduidelik, moontlik uit die nes geskoffel voor sy goed genoeg geleer het om te jag.

Dam het sy handskoenvuis voor die voël uitgehou en gewag dat sy van haar staander op die vuis klim. Bedags, het hy vertel, sit die twee vir lang tye hier buite op hul sitstokke – as hy naby die huis rond is. Die rieme aan hul pote is lank genoeg om hulle genoeg beweegruimte op die stok te gee, maar nie so lank dat hulle verstrengeld kan raak en hulself beseer nie.

“Nog net ’n bietjie vetvoer,” het hy saggies vir die voël gesê terwyl hy wag dat sy opklim, “dan’s jy weer op jou eie. Kyk ons of jy dié keer iets gevang kry voor jy omkap.”

Toe sy uiteindelik op die handskoen wip, het hy haar rieme tussen duim en voorvinger vasgeknyp en haar na die hok op die stoep gedra.

En toe die grote kom haal.

“Hoesit, ou pêl?” het hy gedemp gesê, ’n sagte lig in sy oë.

Hierdie een is ’n breëkoparend, het hy oor sy skouer aan Saar verduidelik. Sy wou haar verkyk aan die voël se imposante donker veredos en priemende geel oë. Die kroon van vere op sy koninklike kop.

Hy het kwaai na Dam se hande gepik terwyl hy die rieme van die staander losmaak en stewig om sy handskoenhand se pols bind.

“Hy vertrou my nog nie honderd persent nie,” het Dam saggies verduidelik. “Ek het hom in die veld gekry met ’n lam vlerk. Hy moes teen ’n draad of ’n ding vasgevlieg het. Maar hy’s amper weer reg.”

In ’n stadium het die voël skielik sy kop laat sak, venynig na die handskoen gepik en sy reuse vlerke oopgesprei vir balans. Vir ’n oomblik was dit donker oor die agterplaas.

Maar Dam se voete was stewig geanker. “Kom, ou pêl, slaaptyd. Son trek al water,” het hy gefluister en gewag dat die voël tot bedaring kom en op sy vuis klim. “Mooi so, Krakus.”

Hy was byna verdwerg deur die dier, maar het met rustige hale teruggeloop stoep toe en hom behendig in sy groot hok laat inwip en ’n kombers daaroor gegooi.

Toe het hy die handskoen aan ’n haak teen die muur teruggehang, sy pyp van ’n kassie afgehaal, rustig uitgekap en begin stop. Saar wou haar verkyk aan sowel die man as die voëls, die byna magiese ritueel wat sy pas kon aanskou – soos ’n toerbus-toeris wat iewers in ’n tydgaping verdwaal het.

Oom Sak het na ’n ruk van die lammerkamp se kant af aangestap gekom en eers sy hande uitgebreid by ’n buitekraan met ’n stuk blouseep staan en was. Toe kom handgee. Hy’s al dekades op die plaas, vir so lank as wat sy kan onthou. Hy het versigtig verskoning gemaak vir die ander mense, verduidelik hulle is bang – sodat sy nie sou dink hulle het uit ongevoeligheid getrek nie.

“Dis orraait, oom Sak. Ek dink ek verstaan heeltemal,” het sy hom verseker.

Dam het haar genooi om saam te eet.

“Dis ’n eenvoudige maaltyd,” het hy gewaarsku.

Hulle het in die kombuis gaan aansit. Dam het ’n geurige koue lamsboud te voorskyn gebring. Dit het na roosmaryn en wilde kruie geruik, wat hy saam met ’n plat brood en kruisementwater in groot bolwynglase voorgesit het. Sy’t in die Kaap laas behoorlik geëet, het sy besef, en weggeval.

En tussendeur versigtig probeer uitvra. Maar haar gasheer was steeks om oor homself te praat. “Ek het op ’n plaas grootgeword,” het hy vertel, “in die diep-Kalahari in. My mense was arbeiders daar.”

“Broers en susters?”

“Nee.”

Hy het elke keer eers sy mes en vurk versigtig neergelê, deeglik klaar gekou en dan sy kort antwoord afgelewer. En laat blyk dat die eienaar van die plaas, wat hy “oubaas van Jaarsveld” noem, hom in ’n stadium Kimberley toe gestuur het om te gaan leer.

Sy wou nog baie weet. Soos hoe dit dan gekom het dat hy so anders is – maar hoe vra mens nou so iets?

“Tannie Yvonne sê jy het in die Midde-Ooste gewerk voor jy hierheen gekom het,” het sy later weer gewaag. “By ’n klomp ryk Arabiere?”

Oom Sak het geproes vir die vraag, en vir ’n oomblik was sy bang dat sy nou te ver gegaan het met haar invraery. Dam het tydsaam klaargekou, sy eetgerei neergesit en sy mond met ’n lapservet afgevee. Daar was ’n effense glimlag oor sy strak gesig, het sy verlig gemerk.

“Ek het in die veld grootgeword,” het hy begin. “Wild, soos die mense sê. My oupa N!xi het my soos ’n regte Boesman grootgemaak, toe dit nog moontlik was – voor alles so verander het. Ek is eers laat skool toe. Toe wou ek veearts word, maar daar was nie geld nie. Die oubaas het probeer help om vir my ’n beurs te kry. Maar daai dae was dit nie so maklik vir ’n ‘agtergeblewene’ nie.”

Agtergeblewene. Die woord sit skeef op hom, het sy gedink.

Hy het weer sy mes opgetel, ’n puntjie botter oor sy brood platgevee. Rustig. “Die oubaas het my gehelp om ’n werk te kry – en ek het na-uurs in die rekeningkunde gestudeer. Darem ’n diploma behaal.”

“En die voëls?”

“Op Kimberley begin. Ek het ’n paar outjies ontmoet van ’n valkeniersklub. Toe’t ek my vakleerlingskap gedoen by een van hulle. Hy’s toe naderhand Dubai toe. En ek is agterna.”

“Is dít waar jy by die ryk Arabiere opgeland het?”

Hy het gelag.

“Nee, ek het nie direk vir die ‘ryk Arabiere’ gewerk nie. Ek het vir ’n Brit in Dubai gewerk wat ’n klomp valkeniers in diens gehad het – eintlik nog steeds het. Ons jop was om die stad se duur hotelle duifvry te hou.”

“Met die valke?”

“Ja.”

“Maar hoe ... En hoe’t jy toe hiér opgeëindig?”

“Ek was maar net moeg vir daardie soort lewe. Ek het genoeg geld bymekaargemaak om terug te kom. En dis dit.” Hy het ’n lepeltjie konfyt op die brood gesit, die potjie na haar uitgehou. “Vorige jaar se kwepers,” het hy gesê. “Ons het dit self ingemaak. Dis lekker surig.” Toe het die gesprek geswenk na die stand van die plaas – hoeveel skaap daar is, hoeveel bees, die wild. Oom Sak het tjoepstil gebly dwarsdeur die ete, oënskynlik nie gewoond aan die geselskap nie.

Na ete het hulle in stilte afgedek en die skottelgoed gewas.

Maar die stilte was nie ongemaklik nie. Daar is iets aan Dam, besef sy nou – sy ongeaffekteerdheid, ’n soort ligvoetse vredigheid wat hy uitstraal – wat ’n mens ongemerk laat ontspan. Jy wil naby hom bly, in die lawende nabyheid van sy kalmte. Dis iets wat jou aanraak, wat jou laat vergeet van gister, wat môre se kommer laat verdof. Jy vind vrede in die hier en die nou. Ten spyte van die buitengewone omstandighede – van wat net twee dae vantevore gebeur het. Daar, skaars ’n paar treë verder.

In die groot huis.

Plaasmoord

Подняться наверх