Читать книгу Plaasmoord - Karin Brynard - Страница 5
ОглавлениеHoofstuk 2
2
Saar Swarts soek ’n koelteboom voor Driedoringstraat nommer drie. Dis die huis van tannie Yvonne Lambrechts, haar moeder se eertydse vriendin en een van die min mense in die kontrei wat sy nog ken.
Die einste tannie Yvonne wat haar gistermiddag in die Kaap gebel het met die nuus van Freddie. En die kind.
“My ou hartjie, jy moet nou sterk wees. Tannie het bitter slegte nuus.”
Dit was soos ’n donderslag. Freddie ... op só ’n manier. En ’n kind. Die een wat sy glo wou aanneem. Van wie sy ’n foto’tjie aangestuur het. Saar het destyds skaars na die foto gekyk, was nog nie oor haar ding met Freddie nie ... Here.
Saar skakel die karenjin af en klim uit. Sy’s suf gedink. Die hele nag deur, kilometer op kilometer van meedoënlose pad – al uit die Kaap uit hiernatoe. Dink. En selfverwyt. Al langs die Weskus op tot by Vanrhynsdorp, toe oos en noord. En die heelpad met Freddie in haar kop. En die ding met Freddie, daai laaste bitter woorde ...
Oor die platorand, deur Hantam toe. Daarna die groot, plat Boesmanland. Twee, drie uur se ry tussen die slapende dorpies. Die pad reguit soos ’n liniaal, ’n grou tonnel in die donker. Hier en daar die vuurrooi kolle van ’n dier se oë, of iets wat grys en blindelings oor die pad skarrel. Muskeljaatkat. Muishond, ’n bok. G’n ander sterfling te sien nie. Net die swart nag en die twee kolle lig van haar Corsa’tjie in die meedoënlose swart teerpad. Tot sy vanoggend met sonsopkoms die eerste kokerbome begin gewaar het, soos swart figure in ’n wilde dans afgeëts teen die eerste lig. En toe die rooi duine tussen die haakbos- en grasveld, die kameeldorings met hul kenmerkende sambreelvorms. Sy het skielik weer gevoel of sy tóé eers grondvat – hier in hierdie bekende wêreld, asof die nag ’n aaklige droom was waarin sy in ’n donker doolhof op soek was na ... wat ook al.
Haar klop aan tannie Yvonne se voordeur word begroet met ’n histeriese gekef en voor die deur nog behoorlik oop is, storm drie klein wit wolhondjies oor haar voete en spring teen haar kaal bene op.
Tannie Yvonne vou Saar woordeloos in haar arms toe. Sy’s nog in haar slaapklere, ruik na poeier en slaap. Saar staar met droë oë oor haar skouer na die vaag-bekende gang en voorkamer.
“Kom in,” sê die tannie, “dan maak ek vir ons tee.”
“Ek moet seker eers polisie toe gaan,” keer Saar.
Maar die vrou vat haar ferm aan die arm en lei haar deur die huis na die agterstoep. “Dis nog koel hier. Rek jy solank jou bene, dan bring ek die tee. Dis klaar gemaak. En jy moet iets inkry voor jy hierdie dag begin.”
Saar kyk teësinnig om haar rond. Na die sementstoep met sy sink-oordakkie, die potplante wat die ruimte verswelg, die afgeleefde rottangstoele met hul slap kussings. Sy voel angstig, asof ’n geteedrinkery nou tydmors is. Maar dalk is dit beter dat sy eers bykom voor sy polisie toe gaan. Dalk moet sy eers bad, iets vars aantrek. Haar hare kam.
Sy kyk af na haar kaal bene en voete. Sy dra nog die kort minirompie van denim waarmee sy gister werk toe is, haar plakkies moet nog in die kar lê. Haar T-hemp het ’n koffiekol op die bors. Sy lek ’n vinger nat en vryf daaroor, sonder veel energie. Dan haal sy die rekkie uit haar hare, laat val haar kop vooroor en vat die hare weer in ’n bondel en bind dit in ’n poniestert vas.
’n Halfuur later stap sy by die voordeur uit polisiestasie toe. Dis naby genoeg vir stap. Die dorp is bitter klein – een lang hoofstraat, geteer, en ’n paar stowwerige dwarsstrate wat hom kruis. Die polisiestasie is in die hoofstraat, ’n halwe blok met die hoofstraat af uit Driedoringstraat.
Saar stap met stywe, haastige treë, bewus van die hitte wat klaar oor die teerpad hang. En dis nog vroegoggend. Net na agt, toe sy laas gekyk het. Op die trappies voor die stasie gaan sy ’n oomblik staan, stryk met klam palms oor die kreukels van haar romp. Dan haal sy diep asem, skuif die sonbril op haar kop om die los hare uit haar gesig te hou en gaan binne.
“My naam is Saar Swarts,” sê sy vir die vrouekonstabel agter die toonbank. “Ek is hier oor die ... e ... dood van my suster. Swarts. Frederika. Sy is gister ...”
Saar sluk ongemaklik, sien die lig van ontsetting en medelye wat skielik in die gesette polisievrou se oë opgaan. Op die naamplaatjie op haar bors staan Kgomotse.
“Hai!” sê die vrou met ’n besorgde tongklap, “wag net, juffrou. Ek roep gou iemand.” Sy steek ’n hand uit en vou dit sag oor Saar se arm op die toonbank – asof sy bang is Saar se moed begewe haar. Met die ander hand lig sy ’n foon en sê iets in Tswana.
’n Oomblik later verskyn ’n rietskraal jong man in ’n deur regs van die aanklagtoonbank. “Gaan saam met hom, juffrou,” sê konstabel Kgomotse met ’n sagte stem, “hy gaan jou na die inspekteur toe vat.”
Die dun mannetjie stap haastig voor Saar uit tot by ’n oop kantoordeur. “Juffrou Swarts is hier,” sê hy gedemp in die kantoor in en draai dan om na Saar en beduie vir haar sy kan maar ingaan.
Saar verskuif die skouerband van haar groot handsak, haal die donkerbril van haar kop af en stap in. Dis ’n groot vertrek met staalkabinette langs een muur af en vensters na die warm hoofstraat langs die ander. Sy stap af op ’n reus van ’n man wat sukkel om betyds uit sy stoel uit op te staan om haar te groet.
“Beeslaar,” mompel hy verleë en bly half gebukkend in sy stoel staan, sy een hand wat ’n rooi das terughou, tot Saar op die stoel oorkant sy lessenaar gaan sit het.
“Dankie, sersant Pyl,” sê hy vir die jong man wat Saar by die aanklagtoonbank kom haal het. Die sersant se nuuskierige blik huiwer nog ’n oomblik op haar voor hy by die deur uit verdwyn.
“Ek waardeer dit dat u ingekom het,” sê die inspekteur effe kortasem. “Ek wás eintlik op pad na mevrou Lambrechts. Iemand het my laat weet u is hier. Klein dorpies ...” beduie hy met ’n glimlag.
Saar knik.
“Kan ek vir u koffie aanbied?” Hy wys met ’n groot hand na die skinkbord, eenkant op sy lessenaar, waarop twee koppies en ’n termosfles op ’n gehekelde lappie gereed staan. Plus ’n geblomde piering met gemmerkoekies. Saar skud eers haar kop, maar bedink haar dan.
“Asseblief,” sê sy sag.
Die polisieman lig homself dié keer met groter sukses uit sy stoel en draai met stywe vingers die fles se rooi dop af. Hy skink die sterk, swart vloeistof met ’n hand wat liggies bewe. Hoeveel melk en suiker? wil hy weet. Sy het twee gevra, maar hy gooi drie lepels suiker in, roer dit stadig en sit dan die koppie voor haar neer. Die pierinkie met koekies sit hy langs haar koppie neer, neem versigtig twee vir homself.
Hy’s nog langer as wat sy aanvanklik gedink het, besef sy voor hy weer agter die lessenaar inskuif. ’n Eertydse rugbyslot dalk, wat homself laat gaan het namate hy die veertig-merk nader. Die swart hare begin terugtrek van sy voorkop en gooi sout en peper rondom die slape. Hy’t een van daardie gesigte wat permanent na donderweer lyk. Ligte gesigvel, ingekleur met swaar, dramatiese lyne: groot, reguit neus, swaar, swart wenkbroue met ’n permanente diep fronskeep tussenin. Sy mond is wyd, maar sagter, met diep kuile op die bolip en onder die ken. Hoekige, sterk kakebeen.
Hy maak keel skoon en roer sy eie koppie koffie, kyk ’n oomblik van onder die swart wenkbroue opsommend na haar.
“My opregte simpatie,” begin hy die gesprek. “Voel u ... e ... in staat ...? U moes deur die nag gery het?”
Saar knik. “Ek kon nie op so kort kennisgewing ’n vlug uit die Kaap uit Upington toe kry nie.” Sy leun effe vorentoe in haar stoel, kan die man nie duidelik hoor nie. Dit klink of hy binnensmonds praat, soos een wat nie graag praat nie. So nie is dit haar ore wat nog toegeslaan is van die byna 900 kilometer-rit, die geraas van die grondpad tydens die laaste paar honderd.
“Daar is ’n paar formaliteite wat ek graag eers wil afhandel,” sê hy en trek ’n bruin dossier nader. Saar knik en neem ’n groot mondvol koffie. Dis onverwags warm. Sy sluk vinnig en voel hoe dit in haar slukderm afbrand.
“U’t al die pad alleen gery?” Meer stelling as vraag. Hy wag ook nie vir ’n antwoord nie, maar verseker haar dat hy bondig sal wees.
“U is die enigste familielid van die oorledene?” Sy stem is nou effe harder, asof hy meer tuis voel noudat die beleefdheidsgedeelte van die gesprek afgehandel is. Hy begin skryf.
“Sy was my suster.”
“Haar volle naam?”
“Frederika Cornelia Swarts.”
Hy knik sonder om op te kyk en skryf die naam met ’n skewe gekrabbel uit.
“Freddie vir kort,” voeg Saar ongenooid by en die polisieman kyk vir ’n oomblik op.
“Haar geboortedatum, plek van geboorte ...”
“Huilwater, die plaas waar ... waar dit gebeur het. Ons is albei op die plaas gebore ...”
“Jaar?”
“E ... 1976. Sy was drie en dertig.” Pas geword, onthou Saar met ’n skok. Sy’t Freddie nie eens gebel nie. Goeie Here. As sy opkyk, sien sy Beeslaar loer onder sy wenkbroue deur na haar. Daar’s ’n sagter trek in sy oë.
“U voel nog reg om aan te gaan ...”
Saar knip haar oë vir ja, raak bewus van haar een knie wat senuweeagtig spring en kruis haar bene.
“Die plaas. Huilwater ...” Hy staar na die vorm voor hom. “Was dit u suster se eiendom?”
“Familieplaas. Sy het op die grond aangebly nadat my pa dood is.”
“Wanneer was dit?”
“Omtrent so agtien maande gelede.”
“U moeder?”
“Oorlede. Ongeveer twintig jaar gelede ... 1989, daar rond.” Sy vee oor haar oë, verleë oor sy skielik nie die juiste datum kan onthou nie. “Maar Freddie ...” Sy sluk. “Freddie kom eintlik van Johannesburg af. Sy’t daar gewerk as ’n kunsonderwyseres. En eers onlangs, kort voor my pa siek geword het. En toe hy siek word ...”
Haar keel trek toe. Dis waar die moeilikheid tussen haar en Freddie begin het.
Beeslaar maak ’n aantekening op die papier voor hom. Wanneer hy klaar is, vra hy: “So daar’s nie ander familie nie?”
“Nee. Of daar is seker wel. My pa het ’n broer gehad, maar hy is lankal dood.”
“U volle name. Geboortedatum?”
“Johanna Susara. Dis 9 Mei 1978.” Sy gee die adres van haar woonstel in die Kaapse Kom. En haar werkadres.
Beeslaar kyk vlugtig op na haar. “U werk by ’n koerant? Joernalis?”
Sy knik en sien sy frons. “Ek doen omgewingsake.”
Hy sit sy pen neer, tel die koppie koffie op en kyk oor die rand na haar.
“Die kind, u suster se kind, Klara Boois. Ek verneem sy was in die proses om die dogtertjie aan te neem ...”
“Ek weet eintlik min van haar,” sê Saar vinnig en verskuif haar bene. “Ek bedoel ...” Sy staar na die lessenaar voor haar. Hoe sê mens dit sonder om soos ’n doos te klink?
Die polisieman neem nog ’n sluk van sy koffie. Wanneer sy niks sê nie, tel hy sy twee gemmerkoekies fyntjies tussen duim en voorvinger op, doop hulle in die koffie en steek dit haastig met een groot hap in sy mond.
“Wat ek bedoel, is dat ek en Freddie nie juis die laaste tyd veel ... veel kontak gehad het nie.”
Sy wenkbroue lig terwyl hy die koekies ’n kou gee en dan afsluk. Sy sien die belangstelling in sy olyfgroen oë opflikker.
“Ek bedoel, dat ons ...” Sy sug en kyk af na haar hande, maar vind geen antwoord daar nie. Die naels se rooi lak is afgeknaag.
“Wat ek bedoel, is dat ek en my suster twee jaar gelede ’n soort van uitval gehad het en ek ... e ... ons het nie weer kontak gehad ... daarna nie.” Sy kan haarself hoor sluk. Dit klink belaglik, haar woede van destyds ... Maar dit was tog anders, toe. Geregverdig. ’n Groot issue. Nou lyk dit skielik so pateties. Kinderagtig, eintlik.
Wanneer sy opkyk, sien sy dat Beeslaar stip na haar kyk. Die blik in sy oë onpeilbaar.
“Inspekteur, wie het dit gedoen?” vra sy dan. “Het julle al iemand gevang?”
Hy takseer haar ’n oomblik langer, sy tong wat verlore koekiereste langs sy kieste soek. “Dis nog baie vroeg.” Hy trek aan sy hempskraag, asof dit hom knel. Die rooi das lyk of dit permanent skeef sit. “Wat ons wél weet, is dat ons in hierdie stadium kyk na ’n roof wat ... op die oog af skeefgeloop het, as ek dit nou so mag stel.”
“Plaasmoord,” sê Saar en raak eers bewus daarvan dat sy die woord gesê het wanneer sy die groot polisieman se frons sien.
“E ... ja. Ons verwys eintlik nie meer só daarna nie.” Sy stem is diep maar melodieus, asof dit uit die onderste perkussie van sy reuse borskas geproduseer word. “Wat ek bedoel, is,” hy skraap sy keel, “dit bly ’n verskriklike misdaad. Ek wil nie vir een oomblik te kenne gee dat dit nié is nie. Maar dit verskil nie van ander geweldsmisdaad nie. Dit ...”
Saar se ore sny uit. Sy sien vir Freddie nog in haar truspieëltjie, daardie laaste dag toe sy van Huilwater weg is. Sy het Saar pleitend bly volg, namate Saar haar koffers woedend gepak en in die kar gelaai het. Het nog ’n ruk by die motorvenster bly staan, haar hande op die vensterraam, asof sy fisiek wou keer dat Saar wegry, het bly verduidelik hoekom dit vir Pa beter is om op die plaas te kom sterf. Saar wat terugskree: “Maar Pa hóéf nie dood te gaan nie!” Freddie wat haar kop skud, trane wat van haar ken drup tot op haar rok. “Blý, Sarrie, bly by ons. Vir Pa se laaste ...” Saar wat die kar in rat sit en verwoed wegtrek. Freddie agterna. By die hek wat by die grootpad aansluit bly staan, ’n smal figuurtjie, kwalik sigbaar in Saar se truspieëltjie. Die lang, los rok van blou sy, goue krulle wat gewigloos in die stof opwaai.
Die polisieman het opgehou praat, besef sy skielik. “Wat presies hét gebeur, inspekteur?” vra sy om sy skerp, effe ondersoekende blik op haar te breek.
Sy wenkbroue ontspan. Hy vertel, effense huiwering in sy stem. Saar vermoed hy vertel net bolangs. Nogtans kan sy nie help om te dink aan ’n boosaard by Freddie, alleen op die plaas, nie. ’n Monster wat bruusk eis dat sy geld of vuurwapens produseer ... Freddie met haar tingerige liggaam, haar dun armpies en onhandige klein handjies. Saar was altyd die sterk een. Wild, bloots perdgery, nie geskroom om ’n seun met die vuiste by te dam nie. Freddie was soos ’n droë disteltjie. “Dink u my suster het gely?”
Hy trek sy rooi das ’n bietjie losser.
“Ons vermoed sy was moontlik swaar bedwelmd voor sy vermoor is.”
“Bedwelmd!”
“Daar was geen teken van ’n struweling nie, juffrou Swarts. Geen aanduiding dat sy probeer het om haarself te verdedig of teë te sit nie. Sy was nie vasgebind of enigiets nie. Ons vermoed in hierdie stadium sy het die aanvaller of aanvallers geken en self binnegelaat. Dalk het sy onwetend – sy en die kind – ’n dwelm ingekry wat dit vir hulle onmoontlik gemaak het om terug te baklei.”
“Maar sy is ... Hoe ... Wat presies is dit dan wat haar dood veroorsaak het?”
“Die nekwond. Die nadoodse ondersoek is nog nie klaar nie. Ons werk natuurlik so vinnig as wat ons kan, maar ... e ... in hierdie stadium is ons oortuig dat dít die ding is wat die dood veroorsaak het. By haar en die dogtertjie, die nekslagare wat met ’n skerp voorwerp deurgesny is.” Hy kyk vir ’n oomblik weer af na die dossier, frons diep. “Weet u of daar iemand of persone was wat ’n rede kon hê om haar dood te wil hê?”
Saar weet sy kyk skaapagtig na hom. Dan skud sy haar kop. “Ek dag dan ... Tannie Yvonne sê dis die veediewe. Sy sê ...”
Die wenkbroue sak. “Tja, dit wil voorkom of u suster dalk ’n slagoffer van hulle kon wees. U weet dus seker dat ons die afgelope paar maande ’n vlaag van regtig grootskeepse skaap- en beesdiefstalle gehad het. En ek praat van groot skaal. Mense wat baie gesofistikeerd te werk gaan, soos ’n georganiseerde sindikaat, met ’n baie goeie inligtingsnetwerk. Wat presies weet waar en hoe om toe te slaan. En dis genadelose mense, lyk dit. Uitgeslape. Twee weke gelede het hulle twee mense van Vaalputs om die lewe gebring, so ...”
“U bedoel hulle is óók keelaf gesny,” hoor Saar haarself sê. Dit voel so onwerklik, sy wil amper lag kry. Maar hier sit sy, sy wat Saar Swarts is. Met ’n knie wat al weer begin pomp het, soos ’n opwenspeelding met ’n eie wil. En sy praat oor Freddie. Sagte, dromerige Freddie, met haar stil, skerp humorsin, die verrassende sinisme en argwaan vir konvensies en tierlantyntjies. Freddie!
“Maar hoekom Freddie, inspekteur? Wat het sý aan hulle gedoen? Die Here weet, sy ... Ek weet nie eens of daar nog enigiets oor was om mee te boer nie. Dis ... Daar’s nie meer veel oor op Huilwater nie. Altans, nie sover ek weet nie. My pa het al begin uitdun aan die vee voor hy dood is.”
Die polisieman knik en trek sy skouers agteroor, asof hy sy groot spiere wil losmaak voor hy praat. “Ons meen maar dat dit ’n roof was. Onthou, die huis sit teenaan die grootpad Upington toe. Die hek staan aldag oop. Dis ’n maklike teiken. En daardie soort mense is maar opportuniste. Maar ek wil my ook nie vaskyk teen die veediewe nie. Dis net dat hierdie omgewing voorheen nog selde ’n plaasaanval gehad het. Selfs veediefstal was skaars – veral op dié skaal. So dis logies dat ’n mens die twee sal verbind. Maar dit wil nie sê ons skakel ander moontlikhede uit nie. Dus moet ek ook uitvind of daar dalk ander is van wie u bewus is wat enigiets teen u suster kon gehad het.”
Saar vee die hare uit haar oë, probeer om die prentjie van Freddie in daai lang, blou rok uit haar gedagtes te kry. Sy voel skielik moeg, te moeg om te praat. “Dis maar soos ek gesê het, inspekteur. Ons het die afgelope ... byna twee jaar nie met mekaar gepraat nie. Maar ek kan my nie indink nie ... Freddie is, wás regtig nie die tipe mens wat vyande gemaak het nie.”
“Die werkers op die plaas. Ek veronderstel u het van hulle geken? Die voorman? Die ouer vrou wat in die huis gewerk het?”
“Outanna!” Hemel, sy het skoon vergeet ... “Is sy oukei? Ek bedoel, sy het nie ook iets oorgekom nie?”
Die polisieman skud sy kop beslis.
“Sy het my en Freddie ...” Die woorde droog weg en haar keel raak skielik dik en pynlik. Sy byt op haar tande. “Sy’t alles gedoen. Ons grootgemaak. My ma was nie gesond nie.”
“En die voorman? De Kok?”
Saar skud haar kop. “Ek weet nie van so iemand nie. Hy moes later ...”
“U vermoed u suster het hom aangestel, moontlik na u vader se dood?”
“My pa het gepraat van verkoop, destyds. Ek dink aan ’n buurman, of iemand.”
“Pretorius? Boet Pretorius?”
Sy haal haar skouers op. “Hy’t nooit sover gekom nie, die kanker was te gou. En nou ja. Ek weet nie wat gebeur het na hy dood is nie.”
“Die werkers?”
“Sover ek kan onthou, was daar twee gesinne, maar dis soos ek gesê het ... Verdink u dan enigeen van húlle? Of die voorman?”
Die groot man oorkant haar trek weer ongemaklik aan sy hempsboordjie. Dan haal hy ’n sakdoek te voorskyn en vee die sweet van sy voorkop en slape af. Dit lyk of hy al hoe warmer kry. Maar Saar voel eienaardig koud.
“Ons het nog nie verdagtes nie, juffrou Swarts. Maar in hierdie stadium wil dit voorkom of die aanvallers geweet het Woensdae is klein Saterdag op die plaas – met die werkers wat die middag afvat, die bediendes ook, en die voorman en die huishoudster dorp toe vir besigheid. U suster en haar dogter was dus waarskynlik altyd Woensdae alleen tuis.
“Dit kan wees dat die aanvallers die huis vir ’n geruime tyd dopgehou het. Met die huis so teenaan die pad ...”
“Is Freddie gemolesteer, inspekteur?”
“Nee, juffrou Swarts. Nee, sy is nie. Maar dit wil vir ons lyk of die dader ... of daders ...”
“Sê maar reguit, inspekteur. Dis vir my beter so.”
Hy trek weer aan die hempskraag, kyk vir ’n oomblik by die venster uit na die hitte wat buite op die teerpad brand, dan terug na haar: “Dit lyk of hulle ’n boodskap wou los. Die manier waarop hulle haar gelaat het. Haar liggaam is teen ’n kombuisstoel gelos. In haar slaapkamer. In ’n sittende posisie. En haar hare is afgesny. Tot kort teen haar kopvel.”
Hy bly ’n oomblik stil en hou haar dop, amper of hy wil kyk of sy regtig so sterk is soos sy sê. “Niks maak sin as dit by hierdie soort aanval kom nie. Maar ek verseker u, ons werk voluit daaraan. Daar is baie mense wat toegang gehad het tot die plaas. En u suster het in ’n stadium verskeie kinders onder haar sorg gehad.”
“Liewe Here, daarvan weet ek niks. Hoe bedoel u dan, kinders ...” Saar voel vir die soveelste keer asof sy in ’n vreemde nagmerrie ingestap het. Freddie, met ’n aangenome kind. Sy was glo vier. Klara. En ’n plaasvoorman ... en die vreemde kinders ... dis ’n Freddie wat sy nie ken nie. Geken het nie.
“Volgens my inligting,” sê Beeslaar, “was dit ’n klompie jeugdiges wat sy glo so nou en dan in tydelike pleegsorg geneem het. Meestal uit die arbeidersgemeenskappe van die omgewing.” Hy wag vir reaksie, gaan dan verder. “U het natuurlik nie ...” Hy steek vas en maak ongemaklik keel skoon. Die sakdoek kom uit, mop sweet.
“Jammer,” sê hy floutjies. “Die hitte ... Ek is nie van hierdie wêreld nie, probeer nog gewoond ...”
“Wie sou so ’n vreeslike woede teen Freddie kon hê, inspekteur?”
“Dis wat ons gaan uitvind, juffrou Swarts.”
“Kan ek vir Freddie sien?”
“Ja, natuurlik. Die nadoodse ondersoek moet nog finaal afgehandel word, hopelik voor môre. Maar u sal Postmasburg toe moet ry. Ons moes haar soontoe neem. Dit was die naaste beskikbare distriksgeneeshere ...”
“Ek sal ry,” sê sy en kom orent. “Ek moet haar sien.”