Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 11

Hoofstuk 8

Оглавление

Die balkon van die Mermaid Hotel bied Kit Malloy ’n uitstekende uitsig oor die hawe en die Donkin-toring. Met genoegdoening asem hy die seelug in. Dis één voordeel wat hy uit sy sending kry, om weer die see te kan sien en ruik. As ’n Ier wat die see van meet af aan in sy bloed gehad het, word hy nou opnuut bewus van hoeveel hy dit in die binneland mis.

Sodra sy sending voltooi is, sal hy die res van die week ten volle benut. Hopelik sal die weer ook saamspeel.

Hy bepaal sy gedagtes by die taak wat hy namens die ZAR onderneem het om verdere guns by Kruger te wen. Kruger skuld hom reeds heelwat teengunste. Hy werk nou al meer as vier jaar aan hierdie klandestiene projek en het dit selfs vir Mac geheim gehou. Maar indien alles volgens sy plan verloop, sal Kit hopelik teen die einde van die jaar op Kruger kan toeslaan en opeis wat hom toekom. Nie dat Kruger en die ZAR nie ook grootliks daarby gaan baat nie!

Kit voel die opwinding in sy are bruis. Hy het alles reeds haarfyn beplan; hy kan dit bekostig om nou die suksesvolle uitkoms te visualiseer. Die dag wanneer dié internasionale transaksie suksesvol beklink word, sal hy ongetwyfeld ’n baie welaf man wees.

Hy glimlag sardonies. Maar intussen, vandag, bly hy nog die onbetaalde snuffelaar van Kruger en Leyds.

Hy is beveel om Port Elizabeth onder een of ander voorwendsel te besoek. Informante het die ZAR ingelig dat Cecil John Rhodes, die Brit wat reeds aansienlike aansien geniet in die Kaapse politieke kringe, blykbaar nou ’n oog op Johannesburg het. Die Witwatersrand met sy ongekende rykdomme interesseer dié ambisieuse man glo al hoe meer.

Kit weet dat die berigte waarskynlik waar is. Rhodes het één groot ideaal, en dit is om Afrika van die Kaap tot by Kaïro te oorspan met die Union Jack vir Haar Majesteit, koningin Victoria van Brittanje. Kit het Rhodes een maal tevore vlugtig ontmoet, eintlik té vlugtig om ’n blywende indruk te kry. Tog het hy en Rhodes daardie aand ’n interessante gesprek gehad oor Matabeleland, die ryk land van Lobengula, waar Kit kort tevore op ’n jagtog was. Matabeleland is Rhodes se groot passie. Hy het die land en sy mense op sy eie vreemde manier lief.

Dit sal nou Kit se taak wees om weer met die man kontak op te bou en uit te vind hoe ernstig sy belangstelling in die ZAR werklik is, en of daar enige waarheid steek in die gerugte dat blokhuise beplan word op die Kaap-Vrystaatgrens.

Dis vir Kit verstaanbaar dat die ZAR as gevolg van Brittanje se gierige anneksasie van Kimberley pas ná diamante ontdek is, ongemaklik voel, veral nou nadat die nuus omtrent die ongehoorde ryk goudriwwe van die Witwatersrand wêreldwyd opslae maak. Die Boereleiers én Kit weet maar te goed dat die Transvaal gevaar loop om net soos Kimberley geannekseer te word. Hulle besef dat min die Britse inpalmers sal kan stuit as daar eers ’n besluit geneem word in die woning van die Britse eerste minister in Londen.

Kit is oortuig dat daar wel ’n ander uitweg is as direkte konfrontasie. Die republiek se enigste werklike kans is om te onderhandel. Maar Kruger is so verduiwels koppig! As hy selfs net ten dele bereid sou wees om ’n paar toegewings te maak ten opsigte van die daagliks toenemende aantal immigrante wat hul op die goudvelde kom vestig het. Baie van hierdie mense – net soos hy ook destyds – is op soek na ’n nuwe lewe in ’n nuwe vaderland. Hulle wil burgerskap hê, en dis verstaanbaar. Dit is ’n soort sekuriteit vir wat hulle opbou; dis tog geen onredelike versoek nie.

Maar Kruger en sy volksraad vrees die groot getalle uitlanders. Hierdie vrees – dat die Johannesburgers hulle uit die saal kan lig – is verantwoordelik vir die onredelike haat en afsku waarmee Kruger die uitlanders bejeën. Hy het dit al so aan Kit uitgespel. Hoewel die belasting wat van die myne ingevorder word die staatskoffers vul, bly die president agterdogtig oor Johannesburg en sy goud.

Die Johannesburgers, aan die ander kant, raak al hoe meer ontevrede, want die belasting op drank en plofstof, waarop die staat ’n monopolie het, is buitensporig hoog.

Maar dis die kwessie van stemreg vir die buitelandse burgers wat die grootste probleem skep. Daar word aan die Rand gevoel dat ’n man die reg het om te stem as hy geld in ’n dorp gesteek het en die dorp deur sy beleggings ontwikkel word.

Kruger bly egter onversetlik. Hy weier om selfs die geringste toegewings te maak. Hy word in sy koppigheid gesteun deur die volksraad, wat nog steeds herkou aan hul oorwinning by Majuba ses jaar tevore. In hulle stiksienige bravade glo die Boere dat hulle dit sou kon herhaal as die Engelse hulle land ’n tweede maal sou probeer oorneem. Kit het al hoeveel keer met van die volksraadslede geargumenteer oor hierdie uiters naïewe siening, maar nou het hy moed opgegee.

Cecil John Rhodes gaan vanaand ’n toespraak lewer, juis oor sy reise in Matabeleland. Kit besluit dat dit ’n uitstekende geleentheid sal wees om hul vroeëre kennismaking te hernu. Hy moet net ’n plan maak om ’n uitnodiging na die operahuis te bewerkstellig …

’n Perdewa kom om die hoek van Prinses Alicestraat gery. Dit is swaar gelaai met velle. Kit se aandag word getrek deur die drywer van die wa – ’n witkopmeisie, meer kind nog as vrou, wat die leisels vashou. Langs haar sit ’n bruin man in togryersklere. Na regte is hy die een wat die leisels moet hou, dink Kit geamuseer.

Die meisie in haar swart ry-uitrusting is beslis te keurig geklee om een van die valleiboere se kind te wees, die ander passasier ook. Volgens die klere wat sy dra, is sy waarskynlik die jong wadrywer se kleedster.

Die wa kom voor die imposante ingang van die Mermaid Hotel tot stilstand. Die jong meisie oorhandig die teuels aan die ou man.

Van sy balkon af kan Kit die gesprek volg. Die meisie stop die ou man ’n brief in die hand en beveel hom om solank met die velle koers te kry na die vendusiesaal.

“Vat jy die vrag Veremarksaal toe. Moenie die velle onder jou oë uitlaat nie, April. Die spul in die Baai is maar skelm. Ek kom so gou as wat ek kan. Komaan, Saartjie!” Sy praat met die jong bruin meisie. “Daar is min tyd om my skaflik te kry.”

Saartjie – die oudste dogter van Hans-Kaap en Toefie – gehoorsaam flink en lig die leerreistas van die wa af. Daar is ’n skaars verbloemde opgewondenheid in haar stem. “Ek het alles, nooientjie Deborah.”

Deborah – die witkopmeisie het ’n naam. Sy het ’n melodieuse stem en ’n afgeronde aksent wat getuig van ’n goeie agtergrond, dink Kit. Hy voel half vies vir homself oor die buitengewone belangstelling wat sy by hom wek.

Rats soos ’n jong gasel spring sy sonder seremonie van die wa af. Sy is lank, dink hy, en so slank soos ’n riet, maar sy beweeg met ’n dinamiese veerkragtigheid wat ongewoon is vir dames van haar portuur.

Argeloos plak sy die strooihoedjie wat sy in haar hand gehou het op haar kop en strik dit onder haar ken vas. Sy kyk spekulerend op na die naambord van die hotel.

Kit Malloy trek onwillekeurig sy asem in. Hy ken baie vroue, móói vroue, maar die onbekende witkop maak die woord “mooi” heeltemal ontoereikend. Die jong gesig het sterk, geëtste gelaatstrekke, en tog is daar ’n weerloosheid om die vol, sensuele mond. Dis nietemin die gesig van iemand wat, ten spyte van haar jeugdigheid, baie goed weet wat sy van die lewe wil hê.

Kit glimlag. Hy voel vreemd ontroer deur die meisie se mond en donker oë, oë wat ten spyte van haar gebiedende houding van ’n vars ongereptheid spreek, van ’n vrou wat nog onaangeraak is deur ’n man of die liefde … Kit Malloy word vir die eerste keer in ’n lang tyd aangenaam bewus van ’n weelderige gevoel van warmte in sy hart, ’n gevoel wat hy vir soveel jare al nie meer ervaar het nie.

Nooientjie Deborah … Die naam pas haar, net soos die naam van die Bybelse rigtersvrou van lank gelede háár gepas het. En hy weet ook waar om haar te vind ná sy haar skaflik gemaak het.

Kit Malloy lag saggies. Die dag het plotseling ’n nuwe betekenis vir hom.

Deborah kyk gefrustreer na haar beeld in die spieël. Die roomkleurige kostuum en verspotte geriffelde kantbeffie laat haar soos ’n oorgroeide Sondagskoolkind lyk, maar van al haar uitrustings is dit die gesofistikeerdste. Dis waarom sy dit gekies het.

Op Graaff-Reinet het dit haar min geskeel hoe sy lyk; hier in die stad is dit ’n ander storie. Hier sal sy verplig wees om ander taktiek te gebruik om die kopers en die markmeester te beïndruk.

Haar grootste vrees is dat hulle sal weier om met haar te onderhandel omdat sy ’n vrou is. Japie Malan van Towerwater het haar daaroor gewaarsku. Hy was bereid om saam met haar te kom. Deborah weet egter dat Japie kalfsoë het vir haar, en dit maak sake ongemaklik. Hoewel sy geen trek het vir hom nie, hou sy genoeg van die skamerige man om hom nie te wil seermaak nie.

Saartjie praat onophoudelik terwyl sy Deborah se weerbarstige krulle met ’n behendige swaai agter haar kop snoer met kammetjies: Sal hulle darem kans kry om die see van naby te bekyk? Sy’t Hankies belowe om vir hom ’n skulp te bring. “As mens in die see val, nooientjie, en jy swem en swem, sal jy in annerland uitkom?” vra sy naïef.

“Nee … maar as jy gelukkig is, is die hemel jou voorland,” antwoord Deborah half spottend.

Saartjie wil vir haar die verspotte strooihoedjie opsit, maar sy keer met die hand. Sy weet dis uiters onfatsoenlik om sonder ’n hoed uit te gaan, maar dié ding gee haar kopseer, en met haar massiewe haredos wat daaronder uitpeul, lyk dit vir haar alte veel na ’n roomtertjie op haar kop.

“Maar ek het Ma-Fytjie dan belowe!” protesteer Saartjie.

“Ma-Fytjie sal nie weet as jy haar nie sê nie. Skei dus uit en gee my retikule aan! Ek is al klaar laat!”

* * *

Die drie skepe wat die dag tevore vasgemeer het, dein liggies langs die kaai aan die swaar hawekettings waarmee hulle vasgemeer is. In hulle skadu’s woel en werskaf ’n kleurvolle menigte om hul ware aan die skeepsamptenare uit te veil. ’n Riksja met twee elegante here as passasiers kom bokspringend deur die geboogde rooi baksteeningang en vermy met verstommende bedrewenheid en koördinasie die opgestapelde ballasmandjies vol vrugte en groente en die berge songedroogde perskes.

Kit kyk verbaas na die bokspringende riksja met sy twee passasiers. Die een herken hy onmiddellik: Cecil John Rhodes! Wat sou hy hier kom soek? Kit kyk hoe die karretjie, getrek deur sy menslike perd, die twee here tot by die loopplank van een van die skepe neem.

Hoër op, op die loopplank, word hulle ingewag deur die kaptein en van sy bemanning. Hulle salueer Rhodes.

“Welkom aan boord die Sea Hawk, meneer Rhodes! Ons is gereed om anker te lig sodra u u toespraak gelewer het,” sê die kaptein onderdanig.

Rhodes knik. “My bagasie?”

“Daar is reeds daarna omgesien. U tasse is uitgepak. Ek het gedink dat u moontlik voor die toespraak sou wou verklee.”

Rhodes knik en verdwyn saam met die kaptein en sy bemanning op die bodek.

Kit Malloy het hom agter een van die kratte verskuil. Hy frons. So, Rhodes vertrek vanaand al. Dit gaan dinge bemoeilik wat die aanknoop van ’n vriendskap betref. Tensy … Kit glimlag – ’n skeepsreis! Kan daar ’n idealer geleentheid wees om ’n aanknopingspunt te soek met ’n vreemdeling?

Hy sal sy passaat op die Sea Hawk bespreek, dink Kit terwyl hy tussen die stalletjies deur slenter en begin koers kies na die Veremarksaal, oftewel die vendusielokaal, waar hy weet dat hy waarskynlik weer die uitsonderlike witkopmeisie op die lyf sal loop.

Kit se hoop beskaam hom nie. Hy sien haar sommer met die intrapslag. Sy Deborah – soos hy haar al klaar heimlik in sy gedagtes noem – is in druk gesprek met die markmeester. Dié maak onthuts afwerende gebare.

Kit bemerk die driftige blos op Deborah se gesig. Hy is nou naby genoeg om te hoor wat sy sê. “Wat het die feit dat ek ’n vrou is te make met die verkoop van velle?”

“Dis teen die kamer van koophandel se reëls om met vroue transaksies te beklink. Buitendien, jy is skaars ’n vrou. Jy’s blote kind! Jy sal lelik ingeloop word deur die bieërs as jy dit hier binne waag.”

“Meneer, asseblief! Ek is g’n kind nie! Ek kan my man staan, en ek is bereid om die risiko te loop. Ek bestuur ons familieplaas al die afgelope agtien maande lank. Op Graaff-Reinet het ek gereeld –”

“Jy moes liewer die velle daar van die hand gesit het!”

“Die prys wat ek hier in Port Elizabeth kan kry, is byna die helfte meer! Ek het die geld nodig!”

Die markmeester skud sy kop. “Ag so, geld? Dan skort daar seker iets met jou bestuur,” sê hy half spottend.

Vlamme van ergerlikheid vlek Deborah se wange. Haar donker oë blits. “Sorgenfrei is die beste plaas in die Graaff-Reinet-kontrei! Dit sal enigeen wat meer as u weet, u kan sê!” roep sy uit.

Kit het genoeg gehoor. Hy beweeg op sy geruislose manier tot reg agter Deborah.

“Jammer, maar jy is besig om ons albei se tyd te mors,” sê die markmeester. “Jy moes voorsien het dat dit ’n probleem sou wees. Jy moes een van jou familielede gevra het om vir jou in te staan op die veiling. Dis soos dit is, reëls is nou maar eenmaal reëls. As mens hulle eers –”

“Verskoon my dat ek die gesprek onderbreek.” Kit lig sy wyerandstrooihoed en knik galant vir die markmeester.

Deborah draai om en betrag die vreemde man wat nou voor haar staan. Sy oë is net so donker soos haar eie. Die lui glimlag om die mond weerspieël dieselfde onnutsigheid as wat die oë uitstraal.

“My liewe Deborah! Watter toeval! Om te dink dat ek jou ná al die jare in die buiteland hiér moet raakloop!” Sonder omhaal neem hy die verbysterde meisie in sy arms en soen haar vlugtig op elke wang. Ten spyte van die broederlike aard van die kus, voel Deborah ’n ongekende, wonderlike sensasie.

“’n Leeftyd van jare, my mooie kind,” fluister die wildvreemde man in haar oor.

Met sy arm steeds om die sprakelose Deborah se skouers, wend Kit hom tot die markmeester. “Ek kon nie help om die gesprek te hoor nie. Ek dink u het ’n uitstekende voorstel gemaak! Dit sal my plesier wees om vir my geliefde niggie as agent op die verkopersvloer op te tree.”

Die markmeester beskou die welgeklede Kit ’n oomblik en kom tot die gevolgtrekking dat hy, na sy voorkoms geoordeel, wel hier met ’n vermoënde heer van inbors te doen het. “Nou goed,” sê hy dan. “Mits dit natuurlik die jong dame se goedkeuring wegdra, is die saak afgehandel. U sal haar agent wees.”

Deborah knik verdwaas.

Verlig ontsnap die markmeester na waar die eerste houttrollies klaterend op die spoor nader gesleep word.

Deborah sukkel om tot verhaal kom. Terwyl Kit haar weglei na waar die ander verkopers nou reeds begin saamdrom, praat hy onderlangs met haar.

“Juffrou, ek vrees ek het nie die vaagste benul van die prys en gehalte van velle nie; jy sal my moet raad gee. Ek sal vir jou ’n sitplek so na aan die vloer as moontlik kry, maar dan moet ek en jy ’n paar tekens of seine uitwerk wat jy my dan sal gee as die bieëry begin.”

Deborah knik, nog steeds uit die veld geslaan. Maar skielik steek sy vas. Lank soos sy is, moet sy haar kop lig om hom in die oë te kyk. “Wie is jy, meneer? En hoe ken jy my naam?”

Sy skewe glimlag laat sy tande wit flits teen sy bruingebrande gesig. Vir Deborah is hierdie onbekende man met sy halfgeboë arendsneus die aantreklikste wese wat sy nog ooit gesien het.

“My naam is Kit Malloy, juffrou Von Albein. Laat my toe om my geheim te bewaar oor hoe ek jou naam ken …” Sy oë terg haar en sy glimlag laat klein sonplooitjies om sy oë uitwaaier. Sy hou van die plooitjies. Sy sou graag met haar vinger oor hulle wou streel.

“… miskien was dit die wind wat dit in my oor gefluister het …”

“Jy dryf nou die spot met my,” sê sy ongemaklik. Die man wek sulke rare gevoelens by haar op.

Sy probeer haar botsende en wispelturige emosies met ’n nuwe saaklikheid besweer. “Meneer Malloy, ek is jou dankbaar. Vir jou tussentrede, bedoel ek. Die velle wat ek hier het, is werklik eersteklas. Hulle is daarby so sag gebrei as wat kan kom. Daarom wil ek niks minder as my prys hê nie!”

Hy knik begrypend. “En wat is jou prys?”

“Tagtig pond,” kom die antwoord sonder aarseling.

Die man se skewe glimlag weerspreek die sedigheid van sy blik. “Dis ’n aardige bedrag! Jy oorreed my byna om ’n skaapboer te word.”

Sy ignoreer die gevoel dat hierdie man voortdurend op ’n fyn manier met haar die spot dryf. Sy het hom nodig, en daar is min tyd oor om hom touwys te maak. Saaklik verduidelik sy die prosedure. Die kopers kry die geleentheid om die velle voor die veiling te besigtig.

“Ek word dan nog op die vloer toegelaat, dus sal ek daar wees as daar vrae is. Die kopers het almal ’n lei en griffie om die vragnommers van die lot velle waarin hulle belangstel neer te skryf. Daardie vragte kom dan eerste onder die hamer. Maar voor die veiling begin, kry die kopers kans om met die verkopers op die vloer oor die pryse te kibbel. Daarna is jy op jou eie. Sorg net dat hulle jou nie ’n gat in die kop praat nie. Hulle kom gewoonlik met ’n boel treurmares oor die ooraanbod op die mark. Luister, maar moet jou nie laat inloop deur ’n vooraf bekookte transaksie nie.”

Sy kyk hom fronsend aan.

“Ek kan sien jy is nie vertroud met dobbeltafelreëls nie,” lag hy.

“Ek verpes dobbelary!” Die ingehoue drif in haar stem maak hom nuuskierig.

“Nogal jammer, juffrou Von Albein, want ek wil ’n voorspelling waag dat jy ’n formidabele dobbelaar sou uitmaak.”

Sy kyk weg, maar hy merk die bitter trek om haar mooi mond. “My stiefpa is ’n dobbelaar,” sê sy.

Kit begin begryp. Dis waarom die jong kind op haar eie hier is, uitgelewer aan die slinkse mark-entrepreneurs. Dis waarom hy die desperaatheid in haar stem gehoor het toe sy bely het dat sy geld nodig het ten spyte van die spogplaas. Kit voel ’n oorweldigende teerheid in hom opstu.

“Ek wil niks met dobbelary te doen hê nie, hoor jy my!” Haar stem bring hom terug aarde toe.

“Ek is die ene ore,” lieg Kit Malloy vlot, en hy neem haar hand in syne. “Maar ek sê jou wat, vandag gaan ek ’n weddenskap met jou aan dat ek vyf pond meer gaan kry as die tagtig wat jy vir die velle wil hê. Dis mos nie dobbelary nie. Sal ons hand skud op so ’n weddenskap?”

Haar donker oë is nou agterdogtig. Sy wil haar hand wegtrek, maar sy ferm greep verhoed dit. “As ek nie een van daardie spul kan oorhaal om vyf-en-tagtig pond of meer te betaal nie, dan koop ek persoonlik jou velle vir tagtig pond.”

Sy kyk hom ongelowig aan en maak dan haar hand beslis los. “Ek dink jy is gek!”

“Waarskynlik,” glimlag Kit. “Maar jy sien, ek is ’n Ier, en in hart en bloed geniet ek die uitdaging van ’n weddenskap.”

“Dan is jy net ’n dobbelaar,” voeg sy hom snedig toe.

Hy knik. Die spottende uitdrukking om sy mond terg haar genadeloos. “As jy dit so wil noem. Maar glo my, Deborah, ek verloor nooit nie.”

Sy is skielik ontsenuend bewus van sy oorweldigende nabyheid. “Ons moet ingaan,” sê sy stug.

Hy knik toegewend. Die skewe glimlag speel steeds om sy mondhoeke. “Maar in ’n weddenskap moet beide partye iets op die spel plaas. As ek wen, sal jy iets moet inboet.”

Sy kyk hom ’n oomblik in stilte aan voor sy sê: “Ek twyfel of ek enigiets het waarin jy sal belangstel.”

“Daar is jy so verskriklik verkeerd, my kind!”

“Hoekom noem jy my die heeltyd so!” roep sy geïrriteerd uit. “Ek is nie meer ’n kind nie. Ek is agtien jaar oud.”

Kit skaterlag en Deborah frons.

“Wat is so snaaks, meneer Malloy?”

“Jammer.” Hy onderdruk sy uitbundigheid. “Hoe onvergeeflik van my. Op so ’n hoë ouderdom verdien mens inderdaad meer respek,” sê hy gemaak sedig.

Hy spot voortdurend, dink sy. Kan sy hom werklik vertrou?

Kit merk haar vertwyfeling en bied haar sy arm. “Komaan, my liewe niggie! Laat ons die ring van die gladiatore betree!”

Die spanning op en om die vloer is byna tasbaar, en Deborah se naels byt pynlik in haar palms in. Die afslaer rammel teen ’n geweldige spoed voort. Daar is reeds ’n bod van sewentig pond gemaak vir Sorgenfrei se velle. Met ’n kloppende hart sien sy hoe die lenige donker man met die arrogante gesig sy kop misprysend skud vir ’n verdere twee pond.

“Twee-en-sewentig pond is afgewys. Gee my ’n bod, here! Uitsoek-merinovelle uit die hart van die Karoo …”

Onnosele ding! Sorgenfrei was nog nooit in die hart van die Karoo nie! “Vyf-en-sewentig!” klink ’n manstem agter haar op.

“Ek het ’n bod van vyf-en-sewentig! Vyf-en-sewentig, ’n uitstekende prys vir dié tyd van die jaar!”

Alle oë draai na die man in sy ligroom snyerspak wat net so min ’n boer kan wees as die man op die maan.

Kit Malloy se donker oë glim met berekende skerpte.

“Vergewe my, menere,” sê hy met duidelike minagting in sy stem, “maar ek stel nie belang in krummels nie! Die kopers ken die waarde van dié lot velle. U mors tyd met die geredekawel om my prys.”

“Tagtig pond!”

Dis weer die man agter Deborah.

Kit reageer asof hy die man nie gehoor het nie, sy gesig sfinksagtig. Deborah wil jubelend opspring en hom beveel om die afslaer te laat toeslaan! “Tagtig! Ons het tagtig, meneer Malloy …?” Die afslaer lig sy hamer, vas oortuig dat Kit so ’n aanbod nie kan weier nie.

“Nie aanvaarbaar nie!” sê Kit, oënskynlik verveeld.

Die aanwesiges brom onthuts, maar dit raak Kit klaarblyklik nie. Kalm haal hy sy goue sakhorlosie uit en kyk vlugtig hoe laat dit is. “Vyf minute, menere, dan onttrek ek die lot van Sorgenfrei se velle.”

Hy is van sy verstand af, dink Deborah met toenemende angs.

“Vier minute …” hoor sy hom ongeërg sê.

“Goed! Vyf-en-tagtig pond!”

Dit kom van die gesette man oorkant die afslaer.

“Negentig!” roep die man agter haar uit.

Die lui glimlag wat nou om Kit Malloy se mond speel laat haar dink aan ’n veldheer ná ’n oorwinning.

“Aanbod aanvaar!” sê hy afgemete.

“Lot word toegesê aan meneer Benjamin Baines van Leather Goods Company,” sê die afslaer, maar sy hamertjie en sy woorde raak heeltemal weg in die spontane applous wat losbars.

Deborah neem die gebosseleerde koevert wat Kit haar aanbied. Sy lees: Kit Malloy Esq., Red Hussar, Johannesburg. Johannesburg! Die man kom van Johannesburg af! Haar skielike, onverklaarbare vreugde laat haar ’n oomblik effens skaam voel.

“Tel die geld. Kyk of alles in orde is,” sê hy, maar sy skud haar kop.

“Dis nie nodig nie. Ek vertrou jou. Ek is jou baie dankbaar, meneer Malloy! My prys was tagtig pond. Die tien wat jy gewen het, kom jou toe, soos ons ooreengekom het. Jy het dit meer as verdien.” Sy hou die koevert na hom uit.

“O nee, dis joune,” sê hy ferm, en sy sterk, mooi hand sluit warm om hare. “Onthou jy die weddenskap?”

Sy knik. Die warmte van sy blik laat haar voel dat hy haar gedagtes kan lees, en tot haar eie ergernis bloos sy.

Met een onverwagse, vinnige beweging trek hy haar teen hom aan en sy mond vind haar lippe. Dis die eerste maal in haar lewe dat enige man behalwe haar pa haar op haar lippe soen – en só soen nog boonop! Sy voel skoon duiselig van die lekker. Dis vir haar ’n totaal onbekende sensasie.

Hy lig sy kop en laat haar toe om terug te tree.

“Dankie, juffrou Deborah. Jy het my nou my beloning gegee. Jou deel van die ooreenkoms is nagekom,” sê hy saggies. “Tel nou eers die geld. Leer om niemand goedsmoeds te vertrou nie.”

“My nooientjiegoed!” klink ’n stralende April se stem agter hulle op. Hy lag wyebek van uitbundigheid. “Wragtig, ons velletjies het prys gevat! Dankie, seur,” straal hy na Kit, “dat jy vir ons Sorgenfreiers gepraat het op die vloer!”

Kit glimlag. “Dit was my plesier, e …?”

“April Sardyn, seur! Ek is die perdeman van Sorgenfrei. Wragtag, my seur, jy’t hierdie ou man se hart laat hop soos ’n hasie na die einde se kant!”

“Ek is bly ons kon hulle bluf pluk, my oudste,” sê Kit. Hy hou dadelik van die ou man. “Hoe lank bly julle nog?”

Die vraag is bedoel vir Deborah, maar dis April wat hom kordaat die antwoord gee waarop hy wag. “Tot my perdjies hul ruskans gehad het. Was ’n swaar vrag wat hulle moes trek, seur! Maar dit het ons ryk gemaak, nè, my mooinooi!”

Deborah glimlag. “Skaars rýk, maar dit sal darem help.”

“Jy het jou deel van die ooreenkoms nagekom, juffrou Deborah, maar mag ’n arm en eensame oujongkêrel hom moontlik beroep op jou liefdadigheid?”

Deborah kyk hom onseker aan. Sy oë lyk ernstig, maar sy weet nie of hy weer met haar spot nie.

“Sal jy my nie die eer aandoen om vanaand saam met my te kom eet nie?”

Sy kyk weg. Haar jubelende hart brand om ja te skreeu, maar sy weet dat geen dame so gou behoort te reageer op ’n eerste uitnodiging nie.

“Asseblief!” pleit hy. “Jy is tuis in die Mermaid Hotel … dit sal ons laaste kans wees, want ek vertrek vanaand.”

Deborah huiwer ’n oomblik. Hoe is dit dat hierdie man nie alleen haar naam ken nie, maar weet waar sy bly ook?”Jy sal my die middag moet gee om daaroor te dink.”

Die meisie klink so hooghartig, amper preuts, dat dit hom byna laat lag, maar hy beteuel hom haastig.

“Natuurlik! Dan kan ek maar net hoop dat ons mekaar wel weer sal sien.” Hy buig formeel en sy knik effens verbouereerd.

“Kyk na jou nooientjie, April!” sê Kit en draai om. Blitsvinnig verdwyn hy tussen die malende menigte in die Veremarksaal.

Deborah kyk af na die koevert met die vergulde letters in haar hande. Sy naam: Kit Malloy … Die naam van ’n vreemdeling … die naam van die opwindendste man wat sy nog ooit teëgekom het! Onwillekeurig raak haar vingerpunte aan haar mond. Kit Malloy. Sou sy nie sy uitnodiging vanaand aanvaar nie, mag sy hom dalk nooit weer ontmoet nie. Die blote gedagte daaraan ontstel haar.

Jy is gek, Deborah von Albein, berispe sy haarself. Jy is tog nie ’n bakvissie wat oorstuur raak by die eerste aanblik van ’n man nie! Ferm maak sy haar handsakkie oop en plaas die koevert met die geld daarin.

“Laat ons koers kry, April,” beveel sy. “Ek het Saartjie belowe ek sal haar vanmiddag nog die see gaan wys.”

Kit stap die kroeg van die Mermaid Hotel binne. Hy word diskreet genader deur een van die kelners wat hy – met behulp van ’n paar stywe fooitjies – bevriend het.

“Die heer wat u wil ontmoet is op die oomblik in die leeskamer,” fluister die kêrel onderlangs. Soos hy verwag het, word hy ryklik beloon vir sy inligting.

Kit kies dadelik koers na die vertrek op die eerste vloer, elegant gemeubileer in die nou weer modieuse Regency-styl. Sy informant was korrek; Rhodes, reeds verklee vir sy toespraak om sewe-uur, sit in een van die gemakstoele, skynbaar verdiep in ’n koerant en onbewus van wat om hom aangaan.

Kit loop na die leesrak waar hy ook leesstof uitsoek. Toe hy omdraai, merk hy dat die man hom dophou. Rhodes se prominente oë rus net ’n oomblik te lank op hom voordat hy weer sy aandag by sy koerant bepaal.

Kit voel opgewonde. Hy voel oortuig dat Rhodes hom herken het, maar hy gee geen aanduiding van sy vermoede nie. Hy stap na die naaste sofa, skuins oorkant Rhodes, gaan sit en maak sy koerant oop. Toe hy weer opkyk, sien hy dat Rhodes hom nogmaals met ’n nuuskierige uitdrukking betrag.

Kit glimlag en laat sy koerant sak. “Meneer Rhodes, nie waar nie? Ek is inderdaad bevoorreg om die leeskamer met iemand so deurlugtig soos u te deel!”

Rhodes ignoreer die kompliment. Hy leun vorentoe. “Ons ken mekaar! Ek vergeet nooit gesigte nie,” sê hy.

Kit knik. Hy glimlag en strek doelbewus sy lang bene lui uit. “Vir iemand wat so baie mense ontmoet, het u voorwaar ’n uitstekende geheue.”

“Waar was dit nou weer?” vra Rhodes gefassineer. Iets in hierdie man se voorkoms het hom by sy binnekoms dadelik herinner aan ’n vorige ontmoeting – iewers, maar waar?

“Dit was maklik twee jaar gelede,” sê Kit. “In die klubhuis by Barberton.”

“Barberton … Natuurlik!”

Die herinnering aan die genot van daardie gesprek met die donker vreemdeling laat Rhodes glimlag. Hy sit terug in sy stoel. “Kit Malloy! Die grootwildjagter wat pas teruggekeer het … wat my nuus kon gee omtrent my geliefde Matabeleland, Lobengula en sy mense!”

Kit lag en wend sy aas. “En vanaand, so verneem ek, lewer u ’n toespraak daaroor in die operahuis! Ek sou wat wou gee om dit by te woon, maar ek kon nie kaartjies bekom nie. Ongelukkig vertrek my skip ook vanaand.”

“Skip?” vra Rhodes, nou duidelik geïnteresseerd. Hy hou van die kêrel. En soos hy onthou, was die man ’n Johannesburger, en op die oomblik stel hy geweldig belang in álle Johannesburgers.

“Die Sea Hawk. Ek is op pad Kaap toe om ’n besending meubels te gaan haal.”

“Watter toeval!” Rhodes se gesig verhelder en hy leun weer vorentoe. “Ek is ook ’n passasier op die Sea Hawk!”

Kit lag saggies. “Nou toe nou! Mag ek die hoop uitspreek dat ons ons gesprek oor Matabeleland op ’n geleë oomblik sal kan voortsit aan boord?”

“Inderdaad!” glimlag Rhodes. “Maar ek het ’n veel beter idee!” Sy oë rus pal op die man voor hom. “As my geheue my nie in die steek laat nie, kom u van Johannesburg af, nie waar nie?”

“Korrek. Destyds het ek my pas daar gevestig.”

Kit merk weer een van Rhodes se skaars glimlagge; ’n oomblik laat dit sy swaar gesig sagter lyk.

“Op ons seereis kan u my van Johannesburg vertel. Dié stad interesseer my geweldig! Wat ’n kaartjie vir die operahuis betref …”, Rhodes haal sy horlosie uit en kyk daarop, “… u sal beslis daar wees, as my gas. Ek het gereël vir ’n vroeë aandete. Ek hoop u sal instem om dit ook met my te deel.”

Vervlaks! dink Kit. Dit gooi sy planne met Deborah omver. Hy het ’n aand saam met haar beplan. Maar dit sal nou onmoontlik wees om te weier sonder om Rhodes in die gesig te vat, veral ná hy geskimp het vir kaartjies vir die ellendige toespraak. Hy sug innerlik, maar herinner homself aan die doel van sy reis.

“Dit sal ’n besondere eer wees om u uitnodiging te aanvaar, meneer Rhodes.”

“Goed. Ete word stiptelik om halfses bedien. Sal ons ’n kwartier voor die tyd ontmoet vir ’n aperitief?”

Kit staan op en buig beleef. “Afgespreek! Met dié dat my planne vervroeg is, sal u my nou moet verskoon. Ek het ’n paar sakies wat ek nog moet afhandel.”

Teen vyfuur daardie middag klop ’n uiters gefrustreerde Kit vir die derde keer tevergeefs aan Deborah se deur. Hy moet weer teleurgesteld omdraai toe niemand oopmaak nie. Waar sou sy wees, wonder hy, effens bekommerd. Hy kyk op sy sakhorlosie: oor vyftien minute moet hy vir Rhodes ontmoet vir ete. Hy het nou geen ander keuse as om die saak gewonne te gee nie. Die enigste uitweg wat vir hom oorbly, is om vir haar ’n nota te laat …

Kit haas hom na die skryfburo naby die trap, gaan sit en tel die pen op. Hy doop dit in die inkpot – en huiwer. Wat skryf mens aan so ’n fraai jong meisie wat jy pas ontmoet het? Watter verduideliking kan hy gee? Hoe kan hy aan haar sê dat sy hom met die eerste oogopslag bekoor het, dat hy haar weer wil sien, wil leer ken, haar skadu wil word! Is hy besig om van sy sinne te raak – soos destyds in Indië? Toe was hy veel jonger; mens sou dit tóé as verskoning kon aanvoer. Maar nou?

Tog weet Kit dat Deborah, vreemd en onverklaarbaar soos dit ook mag wees, vir goed in sy lewe en in sy hart ingeloop het.

Soos twee oorgroeide skooldogters baljaar Deborah en Saartjie kaalvoet in die vlak golfies tot beide se rokke en kardoesbroeke tot by hulle dye nat is en hulle verplig is om op die rotse by April te gaan sit om droog te word.

Deborah staar oor die ewig deinende golwe; sy voel aangenaam lomerig. Agter haar kwetter die opgewonde Saartjie soos ’n vink en deel haar indrukke met April.

Deborah glo sy het rede om tevrede te voel met die verloop van die dag se transaksie. Dit sou waarskynlik lelik skeefgeloop het as dit nie vir hom was nie … hom! Die donker man, wat sedert hulle ontmoeting nog nie een oomblik uit haar gedagtes is nie. Sy voel ’n rilling van plesier deur haar trek elke keer wanneer sy aan vanaand dink. Sy weet sy behoort te weier, maar sy gaan nie! Wat gee sy om vir die vervelige etiketreëls – hulle’s in elk geval waarskynlik vasgelê deur ou tantes! Sy is haar eie baas en sy wíl hom weer sien!

Toe die son aan die see raak, maak hulle uiteindelik aanstaltes om terug te keer hotel toe.

Deborah voel ’n dwingende behoefte om ’n kort tydjie alleen te wees. By die hotel veins sy dat sy moeg is en ’n rukkie wil rus voordat Saartjie haar vir die aandete moet help aantrek.

Toe sy die deur oopmaak, sien sy die toegeplakte koevert wat iemand onderdeur die deur moes geglip het. Haar naam staan daarop. Dis in ’n sterk, manlike skrif geskryf en sy weet nog voor sy dit oopskeur dat dit van hom af kom. Sy herken dit aan sy reuk wat liggies aan die koevert kleef. Met bewende hande skeur sy dit oop. Daar is net drie sinne op die enkel vel papier:

Ons afspraak vir ete sal moet wag vir ’n ander keer.

Ek sal jou weer sien.

Kit Malloy.

Met ’n sinkende hart druk sy die brief terug in die koevert. Sy kyk ’n kort oomblik lank nog daarna en dan skeur sy dit venynig in repies. Verby! Die gekheid van haar gevoelens vir die wildvreemde man is verby! Sy sal hom uit haar kop verban! Sommer dadelik! Daar is nie in haar lewe plek vir mans as sy wil bereik wat sy wil nie.

Sy loop na die venster en skuif die raam op. Sy trek die seelug met diep teue in. Vir haar is daar net een pad vorentoe: om selfstandig te word en op haar eie bene te staan. Die geld wat haar velle ingebring het, sal haar minstens die eerste hupstoot gee op daardie weg na sukses.

Ek sal jou weer sien … maal die brief se laaste sin treiterend deur haar gedagtes. Hoe? Waar? Al is die man klaarblyklik byna alwetend, is dit tog onmoontlik dat hy ook sal weet dat sy Johannesburg toe gaan.

Rusteloos skuif sy die venster weer toe. Die see lyk nou donker en olierig in die skemer. Haar asem maak ’n ligte wasem teen die ruit. Impulsief lig sy haar hand. Haar vingerpunt trek die eerste letter van sy naam na op die glas: K.

Dis die laaste maal wat sy aan hom sal dink, belowe sy haarself. Met die mou van haar rok vee Deborah die letter op die ruit dood.

Die fortuinsoekers

Подняться наверх