Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Kit Malloy se lenige figuur is donker afgeëts teen die venster. Hy draai om; sy elegante onderbaadjie van fluweelbrokaat weerkaats die laaste daglig. Die modieuse paisley-ontwerp daarop glim soos juwele.

Die stemmige Mac MacIntyre, Kit se jare lange vennoot en kameraad, oorweeg kortstondiglik hoe so ’n flambojante onderbaadjie aan sy eie stewige bolyf sou lyk, maar die blote idee is so verregaande dat dit hom half verleë laat glimlag.

Die kontras in voorkoms tussen hom en sy vriend, Kit Malloy, was nog altyd opvallend. Kit, met sy effe geboë arendsneus, sy wakker donker oë, herinner aan ’n Spaanse edelman, maar volgens Mac se mening is dit die Ier se ingebore grasie, die latente energie wat hy uitstraal, wat hom uitsonderlik maak en bo gewone sterflinge laat uittroon.

Kit beweeg met die soepelheid van ’n luiperd, en op ’n manier is hy ewe gevaarlik as jy aan sy verkeerde kant kom. Ten spyte van sy vriend se imposante voorkoms, is die man ’n alleenloper – nie dat die dames nie voortdurend om sy guns wedywer nie. Malloy se ongewone skuheid vir romantiese verhoudings is te wyte aan die grusame voorval byna tien jaar gelede in Pondicherry, Indië. Kit was betrokke by ’n getroude vrou. Die vrou se tragiese dood het daartoe gelei dat Kit, kaptein van sy garnisoen, sy rug op die Brits-Indiese leër gekeer het en uit die Lancers bedank het. Ná dié pynlike ervaring het Kit hom na Afrika gewend in die hoop om ’n nuwe lewe te probeer bou, en Mac het hom ’n paar maande later gevolg. Die suidpunt van Afrika het hulle nie teleurgestel nie.

Mac het sy vriend se geskiedenis selfs nie eens met sy geliefde Meg gedeel nie. Om haar van daardie makabere gebeure te vertel, sou die vertroue skend van die man wat telkemale sy lewe in benouende omstandighede gered het.

Onbewus van Mac se gedagtes draai Kit weg van die venster waar hy uitgekyk het op die bedrywighede onder op die markplein. Sy kenmerkende spottende glimlag pluk aan sy mondhoeke.

“Dis ou Kurt Mannheim se uitspattige kales daar onder. Die ou is vroeg vandag. Seker op pad huis toe.”

Mac se sproeterige gesig lyk bekommerd. “Jy was vanmiddag onnodig rof met die tong teenoor sy sekretaris. Die man is weliswaar ou Kurt se skoothond, maar –”

“Hopelik dra sy skoothond die boodskap hierdie keer deegliker oor,” onderbreek Kit hom. Hy reik uit na die pakkie lucifers en sy bruingebrande hand speel ’n sekonde daarmee. Hy haal een uit en trek dit teen die sool van sy stewel. Die swaelstokkie se kop vlam groenerig op en verlig Mac se bekommerde gesig ’n oomblik lank. Kit begin die twee olielampe aan weerskante van sy lessenaar aansteek. Mac se uitdrukking amuseer hom.

“Miskien moet ek jou ’n ordentlike whisky injaag. Jy lyk maar valerig om die kiewe, my vriend. Imponeer die oukêrel se grootdoenery jou soveel?”

“Is dit nou nodig om uit jou pad te gaan om skoor te soek?”

Kit lag saggies. Hy gaan sit en strek sy lang bene in hul leerstewels voor hom uit. “Daar lê vlaktes braak wat die ellendige ou swernoot kan inpalm. Waarom neul hy nou spesifiek oor my lap aarde daar by Onderkopjes? Dis buitendien bougrond, nie myngrond nie.”

“Ek het verstaan Kurt Mannheim beplan glo om vir hom ’n huis te bou.”

“Daar? Teen Onderkopjes se rant? Dis myle van sy myne af!”

Mac sien nietemin dat Kit die brokkie nuus wat hy hom gegee het ’n oomblik lank oorweeg. Dan lag Kit. “Nou toe nou – ’n huis vir die Mannheims, nè? Ek moet sê, hy sal nogal ’n uitsig hê. Van daardie rantjies af het ’n mens ’n arendsblik op hierdie myngehuggie.”

Mac bestudeer sy vriend se gesig ’n oomblik lank voordat hy praat. “Miskien onderskat jy Kurt Mannheim. Hy is ’n moeilike man en daarby is hy so ryk soos koning Croesus self. En Onderkopjes … wat wil jy so danig met daardie grond maak? Wat maak dit so uitsonderlik?”

Die glimlag bly om Kit se mond speel, maar sy oë is skielik glinsterhard. “Basta, Mac. Hou op om duiwelsadvokaat te speel. Die grond is myne. Dit geval my daar, en dis die einde van die saak.”

Kit lig sy bene op die lessenaar. Hy tel sy sigaardoos van silwerdraadwerk op en hou dit uit na Mac. Mac kies woordeloos ’n sigaar uit en knik dankie. Kit steek sy eie sigaar aan en teug diep daaraan. Blou sigaarrook omsluier sy sterk gebeitelde gesig.

“Kurt Mannheim,” sê hy byna ingedagte, “dink hy is koning op hierdie mishoop genaamd Johannesburg. Hy probeer om die hele dorp vir homself in te palm. Ek is moeg vir sy hovaardige houding. So, waarom sal ek verkoop? Waarom sal ek aan hóm van alle mense my grond afstaan? Die ses akkers daar teen die rif is goed geleë en die lug daar is vry van stof en die rook en stank van konkavure.”

Hy glimlag en tik die as van sy sigaar af. “Maar gee die duiwel sy eer … die ou bliksem het my ’n idee gegee! Wie weet, miskien bou ek self nog eendag vir my ’n huis daar op die hoogste koppie – nee, ’n paleis, goed genoeg vir ’n koningin!”

Mac glimlag halfhartig. “Sal wragtig ’n soort Delila moet wees … iemand wat jou kan vasweef sodat jy nie kan wegkom nie. Ek twyfel of so ’n koningin in dié kontrei rondloop!”

Kit slaan nie ag op Mac se laaste aanmerking nie. Hy sit ingedagte en trommel ’n ritme uit met sy vingers. Dan lig hy sy bene van die lessenaar af en sit orent. Sy gesig is skielik waaksaam. “Los dit. Laat ou Mannheim in sy eiewaan versuip! Dis nie waaroor ek met jou wou praat nie.”

Mac teug aan sy sigaar en kyk hom vraend aan.

Kit rook ook ’n kort rukkie in stilte, dan sê hy: “Jy weet so goed soos ek dat die dorp gaan uitbrei. Die goudriwwe hier is diep en dit mag vorentoe probleme veroorsaak. Maar Johannesburg gaan nie dieselfde pad loop as die Oos-Transvaalse delwerye nie. Daar kom daagliks al hoe meer fortuinsoekers op die markplein aan en die tentdorpe wat nou om die myne begin paddastoel, begin ’n kopseer word vir Von Brandis. Daardie tente gaan plek maak vir huise en nog meer huise, vir kroeë, winkels, kantore … Die Onderkopjes-grond is ’n belegging, maar ek wil dit laat lê. Dis vir later. Grond gaan ons goud word, MacIntyre! Ons moet nou rondom die dorp begin opkoop soveel as wat ons kan.”

Mac vryf die stoppels aan sy ken ingedagte. Hy is skrikkerig vir oorbesteding. Sy Skotse aard laat hom glo aan bates wat sonder skuld bestuur kan word. Maar wat Malloy sê maak goeie sin. Hy gooi nogtans halfhartig wal. “En die salonne? Wat van hulle, Kit? Ons het al klaar ons hande vol; ek sou liewer dat ons uitbrei op ’n gebied wat ons ken.”

“Toegegee. Daar is drie ander lokale wat ek glo binnekort op die mark gaan kom … Ons gaan hulle koop, Mac.”

Mac kyk hom onseker aan. Wat sou hy bedoel? Hy het geen gerugte gehoor dat hul kompetisie wil verkoop nie. Dit sou onsinnig wees, veral in so ’n bloeitydperk. Iets broei in die Ier se kop, dink hy terwyl hy die lenige man dophou.

Kit staan op om vir hulle whisky te skink uit ’n kristalkraffie wat een van die salonmeisies reeds vroeër die middag op die geleentheidstafeltjie gesit het. Hy gee vir Mac sy glas en hulle klink oudergewoonte voor die eerste teug.

Die skemer buite wyk nou finaal voor die donkerte wat ongemerk soos swart steenkoolstof teen die ruit begin kleef. Kit is buitengewoon stil. Mac merk die frons tussen sy welige wenkbroue toe hy skielik sy sigaar dooddruk.

“Daar is iets anders waaroor ek ook met jou wil praat.” Die kilheid in Kit se stem ontgaan Mac nie. “Is jy nie eens ’n bietjie nuuskierig om te weet onder watter van ons kompetisie ek gaan inklim nie, Mac?”

Mac sit sy glas neer. “So dis nie opkoop nie, dis oorneem …”

“Nie heeltemal nie, hoewel hulle verdien om uitgeroei te word. Ek praat van die gespuis in Markstraat.”

“Die Petite Parisienne?” Mac skud sy kop onthuts. “Nou speel jy wragtig met vuur! Hulle is deel van ’n sindikaat. Die Bowry-broers is ’n gevaarlike spul.”

“Ja, dis wat hulle almal wil laat glo. Maar ek onderskat hulle geensins nie. Hulle is uitvaagsels, Mac, opdrifsels uit die Ou Wêreld wat hier met hul onheilige bedryf kom nesskop het!”

Die lamplig teken die onverbiddelikheid op Kit se sterk gelaat nog sterker af teen die vensterruit, wat nou inkswart is. Hy sit ’n rukkie stil, versonke in sy eie gedagtes. Dan sê hy sag: “Hulle misbruik jong meisies – nee, kinders, Mac. Dít is wat hulle in daardie hool van hulle aan die delwers uitveil!”

Onder in die salon begin die pianola ’n meganiese deuntjie uittokkel. Julia sing saam en haar uitkenliedjie klink dofweg op: “I’ll be your golden gal, dear heart, and you’ll be my golden boy …” Die eerste klandisie van die aand moes dus aangekom het.

Mac kom orent. “Dis gerugte. Ek het dit ook gehoor, maar –”

“Is dit?” Kit kyk Mac strak aan. “Vra jou vrou of sy jou vanaand sal afstaan, dan gaan wys ek jou wat gerugte is en wat nie!”

Rook en die reuk van braaivleis hang verstikkend oor die markplein. Die honderde konkavure van togryers wat uitgespan het, gloei soos vurige oë in die vroeë aandskemering.

Die treurige geloei van die trekdiere meng met die perde se rustelose geproes en die mensestemme uit die watente en om die vure. Iewers op die donker gemeenskapsplein klink die klanke van ’n harmonium wat treur oor ’n land ver oor die see, waar deinende groen grasvlaktes en alpekrokusse gedy.

Elke dag neem die hoopvolle aankomelinge toe. Hulle kom van dwarsoor die wêreld, en die dorp word voller. Die barre aarde met sy bosryke koppies in die verte het die nuwe Eldorado geword waarom desperate drome van rykdom geweef word. Goud. Die towerwoord snoer entrepreneur en delwer saam in hul onversadigbare drang na daardie eenmalige groot fortuin.

Die skril gelag van ’n vrou en die dronkerige geroesemoes van manstemme styg uit bo die getonk van ’n blikkerige klavier toe Kit en Mac hulle perde aan die stutpaal vashaak buite die Petite Parisienne.

Mac kyk benoud na die swaaiende uithangbord waarop ’n halfnaakte vrou geskilder is. Dit is hier, in hierdie hool, waar Cockney Liz haar kom vestig het toe dinge vir haar begin skeefloop het in die Oos-Transvaal.

Mac dink ’n oomblik lank aan sy rysige blonde vrou, Meg. Sy sal veel te sê hê as sy moet uitvind waarheen Kit hom vanaand sleep! Hy sug en volg sy vennoot na die swaar, toegesperde houtdeur onder die uithangbord.

Mac se duidelike ongemak laat Malloy grinnik. Die sproeterige Skot kyk hom ergerlik aan, loop dan kordaat by hom verby en pluk hard aan die klokkoord.

Die loergat se skuiwer gaan oop. ’n Agterdogtige oog bespied die nuwe aankomelinge eers voordat die deur oopgemaak word. Kit onderdruk sy geamuseerdheid; hy het begrip vir Mac se fynheid van nerf wat dié dinge betref. Sy weersin in die onkuise hool is verstaanbaar, veral as mens sy respek en liefde vir die imposante en puriteinse Megan in gedagte hou. Maar Kit weet ook dat Mac se sin vir wat reg is swaarder by hom sal weeg as hy eers gesien het wat hier aangaan. Dis waarom hy hom gebring het.

Blou rookwalms hang soos misnewels in die drinkerslokaal en meng met die suur reuk van bier en goedkoop snaps. Delwers – swart en wit – nog in werksklere meng met sakemanne in hul eenvormige streepbroeke, donkergrys of swart manelbaadjies en modieuse hardebolkeiltjies wat oor die kliphard gestyfde vlerkboordjies van wit linnehemde troon.

Almal wat in hierdie kroeg saamgedrom staan het met dieselfde vleeslike versugting gekom: vroumense! Die Witwatersrandse rif het nog nie – soos Barberton destyds – genoeg bordeelmeisies aangelok nie, en die manne wat van heinde en verre maande lank op tog was, voel die sap brand in geswolle kliere.

Daar heers ’n gevoel van afwagting in die rokerige vertrek; van die donkergroen damasgordyne is toegetrek. Cockney Liz sal nou enige oomblik haar verskyning maak. Sy het gisteraand ’n verrassing beloof. Dis alombekend dat daar reeds twee weke gelede ’n nuwe besending vrygoedjies aangekom het. French-fontein, soos die Petite Parisienne gedoop is, hou dus die belofte in vir menige geil ure van plesier vorentoe.

Kit en Mac beur ’n pad oop en gaan sit ongemerk in ’n hoek onder die galery, weg van die massa manne wat voor die opslaanverhoog saamdrom. Daar is ’n rooi gordyn om die platform gespan om enige afloerpoging deur ’n voorbarige voyeur te kortwiek.

Kit beduie met sy kop na die bokant van die galerytrap waar ’n man in ’n teatrale rooi brokaatonderbaadjie en ’n weggesnyde swart manel sy verskyning gemaak het. Die vent bekyk die see wellustige gesigte onder in die kroeg. Hy vryf sy hande selftevrede.

Solomon Zeits is in sy skik. Vanaand wag daar vir hulle ’n bonanza uit die deurgeld en die drinkgeld. Hy lig ’n vet hand waaraan ’n ring soos ’n oorvrete bosluis kleef en streel sy snor, wat kliphard van die was verby sy wange en afdraande kennebak wentel. Hy sal die spulletjie teen mekaar afspeel, die veiling uitrek oor drie aande. Dit sal die afwagting verdriedubbel, en so ook sy winste. Hy haal ’n goue horlosie uit ’n sak van die blink onderbaadjie en loop ondertoe na die klavierspeler, met wie hy ’n kort gesprek voer.

“Solomon Zeits, die eienaar. Hy deel ook in die Bowry-broers se winste. Hulle voer in, en hy verkoop,” lig Kit onderlangs vir Mac in.

Die geoefende vingers van die musikant begin Cockney Liz se deuntjie op die klavier uit te tingel. Die omstanders juig bronstig, dan verswelg hul ritmiese applous die musiek.

Cockney Liz maak haar heupwiegende verskyning deur die toegetrekte gordyne. Die pers en rooi satyn van haar rok glinster onder die swaaiende daklanterns. Haar bollende borste ontsnap ampertjies uit die walvisbaleintronk wat hulle orent dwing. Die manne hyg van begeerte toe sy haar bolyf suggestief skud sodat die borste soos jellie begin bibber.

Haar swaar gegrimeerde gesig, met Indian Hibiscus-lippe wat ’n valse lag uitstraal, lyk afgetakel ten spyte van die poeier en rooisel. Al die grimeertruuks ter wêreld sal nie meer help om die tamheid van ’n dekade of meer se verkwanselde lyfgunste weg te steek nie. Die rooisel verdoesel ook nie meer die sweterige mis op haar wange nie, die gevolg van die siekte wat haar longe begin wegvreet het.

Liz sper haar karmosyn mond oop en begin sing. Haar verkopersballade tril hoog en yl uit haar keel. Sy weet egter sy hoef vanaand min te sing. Dis per slot van sake die sién wat belangrik is. Haar liggaam, steeds formidabel, begin die ritme van die liedjie uit te wieg. Met ’n geoefende kontorsie van haar bolyf ontsnap die eerste bors uit die bostuk van haar rok. Die tepel is rooi geverf, ’n klein hartvormige mondjie waarom blinkers geplak is. Die gehoor raak in ’n verrukte ekstase toe die linkerbors ook uitwip.

Liz ken haar gehore. Sy weet dis nou tyd vir die klimaks. Sy skop hoog, om die swetende, bronstige gesigte onderkant die verhogie ’n goeie blik te gee op die vlesige granaatjie tussen haar bene wat haar kardoesbroek se strategiese spleetjie nou aan haar kliënte ontbloot. Die toeskouers kreun van genot. Haar hoë stem skreeu skril ’n uitnodiging aan Jan Rap en sy maat om meester te word van haar oester. Dawerende applous beloon haar, en ’n menigte belustigde hande reik uit na haar.

Kit leun oor na Mac; hy moet hard praat om homself hoorbaar te maak. “Nou sal jy sien of ek van gerugte gepraat het.”

Op die verhoog klap Cockney Liz haar hande vir aandag. Geleidelik oorreed sy haar gehoor tot stilte.

“Only fer’ lookin’!” kondig sy aan met ’n spreeuagtige stem. “Only fer’ lookin’! No touchin’, boys!”

Die rooi gordyn word weggetrek. Daar is sewe jong meisies op die verhoog, sommige van hulle reeds gebrandmerk deur hulle beroep, maar twee van hulle is duidelik nie die situasie gewoond nie. Die oudste van die twee, ’n meisie met ’n welige bos rooi hare, plaas haar arms beskermend om die skouers van ’n nog jonger meisietjie. Liz beduie dat die meisies moet vorentoe tree, maar hierdie twee gehoorsaam haar nie.

Zeits klouter op die verhoog. Sy hare glim olierig in die lig van die daklanterns. Hy glimlag met byna vaderlike trots vir die toeskouers, wat nou begin handuit ruk om die verhogie, en strek sy arms uit.

“Friday night is the big night!” bulder hy. “Then you can bid for these lovely little ladies!” Die res van sy woorde word verswelg deur die omstanders se teleurgestelde uitroepe.

Kit merk Mac se geskokte uitdrukking. Hy kom beslis orent. “Jy kan teruggaan, Mac.”

Maar Mac bly versteen sit. Sy oë volg Kit wat doelgerig die trap op loop na Zeits se kantoor.

Zeits se vlesige lippe vertrek in ’n glimlag en ontbloot die kunsgebit wat hy ten duurste in Londen bekom het, maar die glimlag bereik nie sy oë nie. Hulle rus waaksaam op die man voor hom. Malloy het in die ruwe delwersgemeenskap ’n reputasie as dodelike skut.

Zeits, wat op ’n keer Kit se pokeropponent was, weet ook dat Malloy ’n gedugte teenstander is by enige dobbeltafel. Kort ná sy aankoms uit Kimberley het hy die slegte geluk gehad om teen die Ier te speel. Malloy het blitsvinnig deur sy spel gesien en het hom daardie aand byna uitgeroei.

Waarom sou Malloy belangstel in die nuwe besending meisies? Hy het tog oorgenoeg in sy eie salonne. Zeits doen sy bes om sy agterdog weg te steek. “Die veiling is Vrydagaand, u kan dan –”

“Ek het klaar my aanbod gemaak, Zeits.” Kit staan op. Sy blik rus uitdrukkingloos op die Litauer, wat haastig begin skerm.

“Nee, nee! Moenie oorhaastig wees nie. Ons is albei sakemanne, is ons nie? Ons kan tog onderhandel … ?”

Zeits kyk hoe Kit sy beursie uit sy baadjie se binnesak haal. Hy sien die dik rol note, waarvan Kit ’n paar afstroop.

“Dertig pond. Dit is my finale aanbod, maar dan vat ek al twee meisies.”

Zeits kom vinnig orent. Sy ringbelaaide hande fladder protesterend. “Hulle is vars, die beste van die lot. Almal soek hulle. Op die veiling sal hulle ’n goeie prys behaal.”

“Waarskynlik. Veral as jy hulle soos gewoonlik drie maal in ’n aand gaan opveil. Ek ken jou.”

Kit voel ’n koue woede wat in hom opkook. Hy sou die man met plesier uit hierdie wêreld wou uithelp, maar dit sou niks aan die saak verander nie. Nog nie. Hy tel sy hoed op en loop deur toe, waar hy omdraai.

“Ek het môre ’n afspraak met ons landdros, Carl von Brandis. Ek is oortuig hy sal geïnteresseerd wees in hierdie veilings waarin kinders verkrag word.”

Voor hy die deur kan oopmaak, is Zeits by hom. Hy plaas ’n mollige hand afwerend op die deurknop om Kit te probeer keer. Von Brandis, die pasaangestelde landdros, is ’n preutse Duitser en ’n nuwe besem. Zeits glimlag pleitend.

“Komaan! Ons is dan in dieselfde bedryf, meneer Malloy. Moenie oorhaastig wees nie. Ek sal Liz vra om die meisies aan te sê om gereed te maak … of hoe?”

Onder uit die drinkerslokaal is die skel gelag van ’n vrou weer bo die dronkerige geroesemoes van die baie manstemme hoorbaar, en vanuit die kamer langsaan gaan die ritmiese kooi-geklik van ’n koppelende paar onverpoos voort. Naderhand hou dit op, ’n deur gaan oop en toe, en manstewels klater die houttrappe af. Nie lank daarna nie gaan die deur weer oop, en dan begin alles weer van voor af.

Gladys Smith lê op die smal ysterkateltjie met haar arms beskermend om haar jonger suster, Delphine, gevou. Sy wens sy kan haar ore toestop teen dit wat buite die vier mure van hul kamertjie aangaan, of dat sy, soos Delphine wat haar aan die slaap gehuil het, ’n soort vergetelheid kan vind. As sy maar net kon huil. Selfs dít sou verligting gebring het vir die opgekropte haat en bitterheid wat sy voel. Maar Gladys, wat van die ouderdom van twaalf jaar af verantwoordelik is vir haar en Delphine se voortbestaan, het lank reeds verleer om te huil.

Delphine draai in haar rustelose slaap op haar rug. Haar kinderlike, plomp gesiggie is rosig. Gladys trek die kombers weer oor haar voor sy saggies uit die smal katel kruip wat hulle noodgedwonge met mekaar moet deel.

Haar oë is nou gewoond aan die donkerte. Vir die soveelste keer bekyk sy desperaat die beknopte vertrek. Daar is geen venster nie, net die deur met sy bolig waardeur die lig van die trapgalery syfer, en selfs daar is daar gietystertralies.

Uit ondervinding weet sy die deur word van buite gesluit. Tog moet daar ’n manier wees om te ontsnap.

Die jong meisie met haar vag vlammende rooi hare tel die tjalie wat oor die stoel gevou lê op en swaai dit om haar benerige skouers. Die dun, verslete chemise weer skaars die koue af wat onder die deur en sinkmure insyfer.

Gladys gaan sit by die mankoliekerige tafel waarop ’n emaljelampetbeker en waskom staan. Op beide die beker en die kom is daar idilliese prentjies geskilder van ’n vreemdsoortige langbeenvoël met rooskleurige vlerke, teen die agtergrond van ’n poel waarop lelies dryf. Haar vingers trek ingedagte die effe opgehewe verfpatroon na.

Die vernedering, die angs en die woede wat sy ervaar het sedert die walglike ondervinding vroegaand, toe hulle soos vee op ’n vendusie uitgestal is voor daardie tierende horde mans, brand steeds in haar. Sy moet dit nou uit haar gedagtes probeer verban. Sy moet haar kalmte herwin. Tot dusver was dít haar en Delphine se redding: dat sy selfs onder die moeilikste omstandighede koel en beredeneerd kon bly.

Sy kyk selfverwytend na die slapende Delphine. Dis deur haar eie goedgelowigheid dat sy haarself en Del in dié gemors laat beland het. Die belofte van ’n nuwe toekoms het vir haar soos ’n godgegewe geleentheid geklink. Jim Bowry het vir hulle klere gekoop en gratis passasie na die Kaap gegee, die Kaap van Goeie Hoop – watter wonderlike visioene het dié sonnige naam nie by haar opgetower nie!

Bowry het haar beloof dat hulle daar opgelei sou word as naaldwerksters in sy klerefabriek. ’n Nuwe lewe, ver weg van die rookmis van Whitechapel se krotstegies waar sy en haar suster ’n heenkome gevind het ná hulle ouers se dood. Hulle sou ook wegkom van die eindelose bondels vieslike wasgoed wat hulle moes inneem om liggaam en siel aanmekaar te hou.

Daardie helder eksotiese Kaap wat die Bowry-man beskryf het, het alles versinnebeeld waaroor hulle gedroom het. Maar al wat hulle van daardie Kaap gesien het, was die eerste aanblik deur ’n vuil patryspoort van die rysige tafelvormige berg waaraan die see byna-byna geraak het.

Op die smerige dok wat na ou vis geruik het, is hulle sonder omhaal tussen reusebale wat die aftreedok soos ’n beskuttende muur afgeskerm het, in ’n koets gelaai.

Toe begin die lang tog na die noorde.

Gladys onthou met ’n skrynende afgryse ’n plek met die naam Kimberley, waar hulle reis vir drie dae onderbreek is. Daar is die eerste twee mans op haar afgedwing. Dit was toe eers wat sy besef het waarvoor sy haar en Delphine ingelaat het.

Gladys verstyf van skrik toe sy die sleutel van buite in die slot hoor draai. Sy storm na die bedstyl waaroor sy die vulgêre groen satynrok wat vroeër die aand vir haar gegee is, gehang het.

Cockney Liz maak die deur oop en neem onmiddellik die situasie waar: die rooikopkind met die wye, angsbevange oë, wat haar rok beskermend voor haar hou.

Sy het duidelik nog baie om te leer, dink Liz half geamuseer. Waarom sou Kit Malloy nou juis sinnigheid in háár hê? Sy het die aantreklike Kit, menige vrou se droom, nooit juis opgesom as pervers in sy drifte nie … Maar nou ja, as ’n man sulke jong kuikens wil pluk, dui dit net op een ding.

Liz se binnekoms het Delphine wakker gemaak. Sy sit verskrik orent. Haar asblonde hare tuimel soos ’n waterval om haar gesiggie. Sy is jonk; té jonk, dink Liz, toe sy haar gewete tog vlugtig voel skroei. Maar dan verdryf sy die gedagte. Sy self was destyds nie veel ouer nie. Liz kom die kamer binne en sit die lamp op die tafel neer.

“Julle moet aantrek, en gou ook. Meneer Zeits wil julle sien.”

Gladys se groen oë skitter vyandig. “Wat wil hy hê?”

“Jy sal gou genoeg uitvind.” Liz glimlag sinies. Sy draai om en loop uit.

Gladys hoor hoe die sleutel weer in die slot gedraai word. ’n Kort oomblik bly die jong meisie versteen staan. Dit kan net een ding beteken, Zeits se bevel dat hy hulle wil sien! Sy loop vinnig tot by die katel en ignoreer doelbewus die vreesbevange uitdrukking op Delphine se gesig. Sy lig een hoek van die matras op en bring ’n vlymskerp dolk te voorskyn.

Delphine hou haar dop. “Wat gaan jy doen?”

Gladys antwoord haar nie. Sy gooi haastig die satynrok oor haar kop en draai na Delphine, sodat sy die rok se lussies agter kan vasmaak. Gladys se vingers streel vlugtig oor die dolk se snykant en dan druk sy dit blitsvinnig in die mou bokant die rooi-en-swart kantval in. Daar behoort dit stewig genoeg te bly sit. Sy sal dit maklik kan uittrek as dit nodig sou wees …

Die koue lem van die mes teen haar vel kalmeer haar. Sy draai na Delphine en glimlag gerusstellend vir die bleek, verskrikte gesiggie.

“Trek aan soos die vrou gesê het en wag tot ek terugkom.” Sy raak aan Delphine se wang. “Moenie bang wees nie, ek sal nie lank weg wees nie.”

Soos die moederowerste van ’n markplein lei Liz die rooikopmeisie Zeits se kantoor binne. Kit sien die vrees en die vyandigheid in die blitsende groen oë. Zeits glimlag joviaal en staan op uit sy stoel.

“A-a, ons klein verleidster uit Whitechapel! Gladys, meneer Malloy hier het ons ’n baie goeie aanbod gemaak –”

Kit se stem kom soos ’n sweepslag. “Ek het gesê ek wil alleen met haar praat!”

Zeits huiwer slegs ’n oomblik lank voor hy skouerophalend bes gee en die vertrek verlaat, gevolg deur Liz, wie se oë ’n laaste maal Malloy se viriele gestalte opsoek. Maar dié se aandag is nou ten volle by Gladys Smith.

Gladys se hart klop in haar keel. Die man met sy swart hare en donker oë is die aantreklikste wese wat sy nog ooit gesien het. Sy gesig is bruingebrand en hy ruik na son en wind. In haar kort lewe het sy nog baie min so aan ’n man gedink … As dit maar die eerste keer in Kimberley iemand soos hy kon gewees het, sou sy nie so baie omgegee het nie. Die gedagte skok haar, en sy dwing haarself om Cockney Liz se spottende woorde op pad na Zeits se kantoor weer op te roep: Liz het gesê dat Malloy haar waarskynlik vir een van sy salonne wou hê.

Ongemerk plaas Gladys haar hand op haar boarm. Sy voel die dolk; hierdie keer sal niemand haar so maklik vat nie. Nie eens hierdie man, wat soos die een of ander edelman lyk, sal daardie voorreg hê nie!

Kit wag dat die deur se slot klik voordat hy praat. “Hulle het my gesê jou naam is Gladys … Gladys Smith?”

Hy kom nader en sy retireer vinnig agter die rooi fluweellessenaarstoel in. Haar oë is waaksaam gerig op die man voor haar. Sy sien ’n sweem van ’n glimlag om sy mond.

“Ek kan verstaan dat jy agterdogtig is ná wat met jou gebeur het, Gladys,” sê hy saggies. “Maar glo my, jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal niks aan jou doen nie.”

Die wantrouige groen oë som die situasie gespanne op. “Liz het gesê jy’t my gekoop,” sê sy vyandig.

Kit kyk haar ’n oomblik in stilte aan, dan knik hy kortaf. “Maar wanneer ons hier uitstap, is jy vry om te gaan waarheen jy wil. Ek moes betaal om jou uit hierdie nes te kry. Verstaan jy dit?”

Die patetiese flikkering van hoop en ongeloof op die jong meisie se gesig vul hom met deernis. Dis duidelik dat sy reeds uiters ongure ervarings moes verduur het. Baie versigtig tree hy weer nader aan die stoel waaragter sy probeer skuil.

“Ek bedoel wat ek sê, juffrou Smith. Ek sal jou nie teen jou sin hou nie, maar ek weet dat jy nêrens het om heen te gaan nie. Daarom maak ek jou ’n aanbod …”

Teen haar sin luister sy na hom. Op ’n eienaardige manier word sy gerusgestel deur sy welluidende stem. Sy bly staan toe hy nog nader kom.

“Die Red Hussar, een van my salonne, het ’n jong dame se dienste nodig. Ek kan jou vyf pond per maand betaal om mee af te skop.” Hy merk op hoe haar blik verskerp terwyl sy die aanbod oorweeg. Dit laat haar ouer lyk. “Plus natuurlik vry inwoning en kos,” voeg hy by.

“Wat moet ek daarvoor doen … watse werk?”

Kit lag. Sy tande steek wit af teen sy bruingebrande vel. Ná wat sy deurgemaak het, verstaan hy die kind se agterdog maar te goed.

“Jy sal moet leer om met die roulettewiel te werk, en daarby sal jy ook by die tafels bedien,” sê hy paaiend. “Met ander woorde, ek het iemand nodig wat ek kan vertrou om ’n oog te hou oor die salon as ek nie daar is nie.”

“Wat nog?”

“Net dit. En glo my, jy sal min genoeg vrye tyd hê as jy die werk behoorlik wil doen.” Sy gesig raak ernstig. “Ek weet wat jy vrees, Gladys, maar jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek het nie nodig om soos die Bowry-broers meisies te koop vir ander doeleindes nie. Dié wat vir ons werk, werk uit vrye keuse.”

Die skielike stilte in die vertrek beklemtoon die rumoer van onder. Gladys het die man se voorstel reeds oorweeg en aanvaar. Dit is ten minste één manier om uit hierdie plek te ontsnap. As hulle eers uit is, kan hulle nuwe planne maak. Sy stoot die stoel waaragter sy probeer skuil het terug en kyk hom berekenend aan. Sy sal dit waag.

“Goed, ek aanvaar, maar …”

“Ja?” vra Kit saggies.

Sy antwoord nie dadelik nie, want sy moet haar woorde goed kies. As hy weier, is hulle kans om te ontsnap daarmee heen.

“Ja?” por hy haar weer aan.

“Ek kan nie gaan as Delphine, my suster, nie saamkom nie. Ek sal my kos en kamer met haar deel, en jy hoef net vir my ’n salaris te betaal. Asseblief! Jy sal nie jammer wees nie.”

Die stortvloed woorde raak Kit diep. Hy nader haar versigtig en steek sy hand formeel na haar uit om die transaksie te beklink. Gladys huiwer nie meer nie en neem sy hand sonder aarseling.

“Gaan pak julle goed, ons vertrek dadelik.”

Dankbaarheid straal uit Gladys se oë. Sy glimlag vir die eerste keer, en raak aan die hand wat hy op haar skouer plaas. “Dankie! Baie dankie, meneer Malloy. Ek sal dit nooit vergeet nie!”

Uit die salon van die Red Hussar dreun ’n gesellige geroesemoes van stemme en die klank van ’n pianola. Kit suig lui aan sy sigaar voordat hy die ewig beswaarde Mac antwoord.

“Waaroor is jy so begaan? Gladys gaan ’n aanwins wees. Sy het in ’n ommesientjie geleer hoe om met die wiel te werk, en sy het ’n merkwaardige talent om die ruwe tipes op hulle plek te sit.”

“Ek weet,” sê Mac iesegrimmig. “Meg is ook beïndruk, met al twee die meisies. Maar dit gaan nie daarom nie, en jy weet dit. Jy kan nie soos ’n wafferse ridder George elke jong kind koop wat die Bowry-broers invoer nie. Jy sal ons waaragtig nog bankrot maak!”

Mac kyk na sy vriend, wat in stilte rook. Hy weet daar broei iets in daardie kop, en Kit se swygsaamheid maak hom nog meer onrustig. Kit druk die sigaar dood voordat hy praat.

“Jy was self ná die spektakel in die Petite Parisienne maar blekerig om die kiewe, my vriend.”

“Ek stry nie. Ek was geskok. Maar magtig, Kit, die feit bly staan dat daar geen wet is wat koppelary verbied nie! Om die waarheid te sê, die ZAR laat dit ooglopend toe. Bordele soos die Parisienne lok die mans, en hulle koop drank. Hulle omset is seker twee keer soveel soos ons s’n, en jy weet self: hoe meer drank verkoop word, hoe meer ontvang die staat van Nellmapius se drankfabriek!”

“Dit gaan nie vir my om die bordele nie. Dit sou skynheilig wees. Jy weet so goed soos ek dat die kliënte in twee van my salonne met die gesellinne kan verkeer, mits dit die dames se goedkeuring wegdra. Maar hier praat ons van iets geheel en al anders, van dít wat ek en jy Woensdagaand gesien het. Meg het jou seker gesê hoe oud Delphine is. Sy’s maar dertien jaar oud, Mac!”

Mac knik ongelukkig. Meg het hom inderdaad die kop gewas nadat sy die storie van die kinders verneem het, asof hy skuld aan die saak gehad het! Hy sien hoe Kit opstaan en na die venster oorloop waar hy die kantgordyn lig.

Onder in die straat rammel die waterkar rakelings verby ’n groep amawasha wat met bondels wasgoed in lakens gebind oor die straat tou. Die amawasha gaan die wasgoed in die spruit naby Braamfontein was, waar dit nog vry is van die tent- en sinkskuilings. Dis die enigste inkomste vir die trotse Zoeloemans … nét dit. Tensy die myne hulle insluk. Maar vir die Zoeloes is daar iets onheiligs aan delf in die aarde, waar mens die geeste van voorvaders moontlik mag ontstig.

Kit laat val die gordyn. Sy besluit is klaar geneem toe hy terugdraai na Mac. Hy besef sy vriend se onrus wel deeglik, en hy weet ook dat Mac eintlik vrees dat hulle in ’n openlike skermutseling met die Bowry-broers gaan beland.

Sonder om te praat loop hy na die buffet en skink vir hulle twee glase konjak. Hy het in sy siel geen twyfel dat die morsige spul getrap moet word nie, maar dis onnodig om nou vir Mac verder te verontrus. Hy glimlag en knipoog vir Mac terwyl hy hom sy konjak gee.

“Miskien help dit so bietjie vir jou lang gesig, MacIntyre!”

Mac glimlag stroef en klink sy glas. “Jy loop met iets in die kop rond, Malloy. Ek ken jou goed genoeg. Uit daarmee!”

Kit lag saggies. Sy vonkelende oë rus onskuldig op sy vriend. “Niks meer as om môreoggend vroeg op te saal en Pretoria toe te ry nie.”

“Hoekom? Jy gaan om die ou president te sien?”

Kit lag oor Mac se openlike agterdog. “Ja, en wat daarvan?” Hy lig sy glas in ’n spottende saluut. “Die president is my lankal ’n guns verskuldig!”

Die fortuinsoekers

Подняться наверх