Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 13

Hoofstuk 10

Оглавление

Die poeierfyn geel Johannesburgse stof wat voortdurend deur venster en muur sif, lê al weer soos ’n laag as oor die lessenaar wat sy pa, Kurt, hom gegee het. Karl Mannheim plaas die pen wrewelrig terug in die penhouer en blaas die stof vir die soveelste keer van die inskrywingsboek af.

Hoe haat hy nie hierdie mynkantoor waarin sy pa hom geprop het ná sy terugkeer uit Engeland nie. Hierdie eindelose, idiotiese inskrywings wat hy uit die lêers van meneer Rheed, sy pa se boekhouer, moet oordra – hoe verpes hy hulle! Sy pa vertrou hom nie genoeg om hom minstens die status van boekhouer te gee nie, dink hy, opnuut bitter teenoor die dominerende ou man. Daar is min liefde tussen hom en sy vader, maar so is dit al baie jare lank.

Kurt maak sy lewe in hierdie mynkantoor hel. Karl het nou wel aan die begin hier en daar geringe foutjies gemaak, maar die enorme bohaai wat die kru ou man daaroor opgeskop het, het selfs die onderdanige Rheed verbaas. Hy het ’n halfhartige poging aangewend om vir Karl in die bresse te tree, maar dit het hom net ’n snydende teregwysing van ou Mannheim op die hals gehaal.

Karl doen hierdie sieldodende werk dag in en dag uit. Dis waarskynlik sy straf omdat hy uit Oxford geskors is, dink hy. Hy voel tog in ’n mate jammer oor sy skorsing – nie omdat hy enige berou voel teenoor sy pa nie, maar omdat die laaste drie jaar in Oxford waarskynlik van die gelukkigste in sy hele lewe was.

In Oxford was hy weg van Kurt se tirannie; hy kon vergeet van die ongelukkige tye in die koue en perverse privaatskole waarheen hy teen sy sin gestuur is.

Ná sy eerste jaar aan die universiteit het hy besluit om sy studierigting te verander. Dit was Kurt se wens dat sy seun hom as juris moes bekwaam, of hy nou daarvoor trek of aanleg gehad het of nie, maar Karl het reeds gedurende die eerste semester besef dat die verstokte wetstudente en die stowwerige, muwwe wetsboeke hom koud laat. Hy het besluit om sy kursus te verander sonder om sy pa in kennis te stel. Hy het gedoen wat hy altyd wou doen: die kunste bestudeer!

Nuwe wêrelde het voor hom oopgegaan in letterkunde, musiek – waarvoor hy van kleins af talent gehad het – en in filosofie en die werk van die eertydse wysgere het hy ongekende wysheid gevind.

Akademies het Karl goed gevaar. Maar hy het ook deel geword van ’n boheemse groep met wie hy onder meer sy groot liefde, die teater, kon bespreek.

Karl sug en blaas weer die stof van sy boek af.

Hy sou waarskynlik nog op Oxford gewees het as dit nie juis vir hierdie onnutsige groep vriende van hom was nie, wat op daardie stadium ook die onmoontlike prins Edward en sy minnares ingesluit het.

Prinnie, soos hulle hom almal genoem het, het hulle uitgedaag om ’n vermaaklikheid te prakseer wat hom net vir één nag in sy lewe van sy aangebore verveling sal verlos. Daar is besluit op ’n Romeinse nag van hedonisme en oordadigheid, in die fynste besonderhede gebaseer op Petronius se skunnige beskrywings in die Satyricon. Karl is aangewys as die organiseerder en regisseur van hierdie onderneming.

Wyn het in strome gevloei en opium was vryelik beskikbaar, en die nag het dimensies begin aanneem wat Karl nie voorsien het nie. Die skrapsgeklede Romeinse prostitute (gehuurde ontkleedanseresse uit die ongure Soho-klubs in Londen) was gou nie opwindend genoeg vir sy vriende se perverse smake nie. Hulle het toegesak op die niksvermoedende mooi, jong kelners in hul slawekostuums, wat Karl onder die eerstejaars gewerf het.

Wat beplan was om ’n aand van sensualiteit in periodekostuums te wees, het ontaard in ’n orgie wat heeltemal handuit geruk het. Karl het beangs toegekyk hoe dinge skeefloop, maar hy was magteloos om dit stop te sit.

Die volgende oggend, toe hy wakker word tussen die gemors en leë drankbottels en ’n hele paar drankgesneuwelde partytjiegangers, het Karl geweet dat daar probleme gaan kom. Hy was reg. Die skandaal het Oxford tot in sy fondamente geskud. Die skokgolwe het tot in Buckinghampaleis uitgekring, waar die konserwatiewe ou koningin glo glad nie geamuseer was nie.

Prins Edward en sy ander vriende uit die adelstand het ’n sondebok nodig gehad, en Mannheim uit die kolonies – Mannheim uit Afrika – was die aangewese swaap om te blameer.

Karl en nog twee van hul groep is geskors, alhoewel al drie van hulle betreklik onskuldig was aan die perverse verloop van die aand. Wat Karl met die grootste bitterheid vervul het, was die feit dat prins Edward, wat die werklike belhamel was toe dinge begin handuit ruk, feitlik skotvry van die petalje afgekom het, behalwe dat hy glo darem streng berispe is deur koningin Victoria.

Vir Karl het dit die einde beteken van die wêreld waarin hy vir die eerste keer sedert die dood van sy moeder ’n mate van aanvaarding gevind het, ’n wêreld waar hy ingepas het en waar hy gelukkig was.

Sy pa het hom beveel om dadelik terug te keer. Die bevel was onomwonde: sy passaat na Suid-Afrika was reeds bespreek, en hy sou ’n geringe toelaag ontvang om hom deur te sien op sy reis. Alle ander toelaes is summier stopgesit en sy bankrekening is bevries. Karl het in sy laaste paar dae in Oxford baie gou uitgevind dat om geldloos te wees in die kringe waarin hy beweeg het, so goed was as om melaats te wees.

Uit die myngrag se rigting klink die skel gelui van die skofklok. Karl klad die laaste inskrywing met sand uit die sandbakkie en kom verlig orent. Vyfuur. Uiteindelik! Sam, sy getroue ou Sam, sal nou enige oomblik deur die mynhekke aangery kom om hom op te laai.

Ná die gedwonge aandete wat hy saam met die ou man moet nuttig, is die aande darem nog sy eie. Sy pa het weliswaar probeer om sy aande ook in te palm, maar elke keer wat hy Kurt vergesel het, het Karl gesorg dat hy die een of ander spektakel van homself maak om sy pa in die verleentheid te bring. Hy het óf te veel gedrink óf die gasheer en gasvrou gekritiseer. Afgesien daarvan dat Kurt hom een aand ná so ’n petalje met die vuis bygekom het, het die ou Mannheim spoedig opgehou om sy seun na die vervelige sosiale geleenthede te dwing.

Karl hoor die bekende geluid van die Mannheim-spaider en haas hom na die kapstok waar sy Harris Tweed-ruitjiesbaadjie hang. Dit was een van sy laaste aankope in Londen, en hy streel ’n oomblik oor die ryk, sagte materiaal.

Heimwee na die stad aan die Teemsrivier, die elegante, boomryke rylane en die huise om Hyde Park oorweldig hom ’n oomblik. Dis waar hy nou meer as ooit vantevore sou wil wees. Dáár, tussen die heerlike gewoel van Covent Garden of die bontspul van Petticoat Lane! So nie, sou hy wat wou gee om die dames van Belgravia, of dié van die stoute Soho-distrik, te vereer met sy teenwoordigheid.

Karl glimlag terwyl hy die baadjie aantrek. Dan lig hy die elegante bolhoed van die kapstok af en plaas dit op sy kop. Hy loop terug na sy lessenaar en trek die skuifpaneeltjie van die geheime vakkie wat hy toevallig ontdek het, oop. Daaruit haal hy ’n silwerbeslaande handspieël en hou dit op sodat hy homself kan sien.

Karl het die fyn, aristokratiese profiel van sy moeder geërf, en ook haar uitsonderlike oë. Hy weet dat hy aantreklik is. Sy slanke, byna asketiese bou en die weerloosheid van sy gelaat faal selde om deernis te wek by dames. Karl is daarby ’n bedrewe minnaar. Reeds vanaf sy dertiende jaar, toe hy sy eerste seksuele ondervinding gehad het met die vrou van een van sy leermeesters, het hy hom daarop ingestel om die kuns van die liefdespel te bemeester.

Ten spyte daarvan, en ten spyte van sy talle seksuele eskapades, het nie een vrou nog ooit daarin geslaag om hom werklik emosioneel te raak nie. Wat Karl aanbetref, is dit die spel van verowering wat hom prikkel en interesseer, veel meer as ’n verhouding self.

Hy laat sak die spieël. Daar was wel een keer iemand wat daarin geslaag het om sy hart te raak … Hy onthou hartseer die beeld van warm sonbruin oë wat lag van onder ’n windverwaaide wit kuif. Hulle was so gelukkig daardie laaste dag saam … Dit was die derde keer wat die dood hom beroof het van iemand wat vir hom kosbaar was.

Karl sug en bêre die herinnering weer diep in sy geheue. Hy plaas die spieël ook weer terug in die geheime wegsteekplek in sy lessenaar. Dit sal nooit deug as een van sy pa se myners die spieël ontdek nie. En niemand mag ooit weet van Clancey nie.

Sam hou die verwarmde handdoek gereed vir sy jong meester om uit die koperbad te klim. Die dampende stoom in die badkamer laat Karl se blonde hare in sy nek krul. Sy donkerblou oë gloei helder onder die digte donker wimpers. Net soos hy kleintyd gedoen het, kom hy gehoorsaam orent uit die bad met sy vergulde bal-en-kloupote. Die water wat op sy glinsterende wit vel skitter, dink Sam, laat hom lyk soos een van die antieke standbeelde wat hy vir hom in sy boeke gewys het. Sy kleinseurtjie het voorwaar ’n man geword, en ’n mooi kêrel daarby!

Karl vat die handdoek by Sam. Hy glimlag breed. “Sam, jy is die enigste een hier wat die moeite werd is!” sê hy. “Sodra ek die dag een-en-twintig is, en ek kry Mamma se erfporsie, dan gaan ek en jy die wêreld vat! Londen, Parys, Italië, die Noordpool as dit moet! Solank dit net ver genoeg is van hierdie stinkende hool van stof en vlieë!”

Hy klim uit die bad uit en laat Sam toe om hom verder af te droog.

Sam se gesig is onleesbaar. “Dis nie meer so lank voor dan nie, my seurtjie, wanneer jy jarig raak nie. Die tyd hy loop al vinniger, noudat jy saam met ouseur werk.”

Sam sien hoe die jong man se gesig verdonker by die noem van sy werk, maar hy ignoreer dit. Hy haal die koningsblou fluweelkamerjas van die koperstaander af en hou dit vir Karl reg sodat hy sy arms in die moue kan steek.

Daar is daagliks toenemende spanning tussen Kurt en Karl, en Sam bekommer hom al hoe meer daaroor. Seur Kurt is ’n regverdige man, maar hy is ook ’n harde man, veral waar dit by Karl kom. Hy kan nie verstaan dat Karl nie soos hy is nie. Nou haak die ou bul en die jong bul aand ná aand horings; Sam Naudies weet dat die dag gaan kom wat die pot sal begin oorkook, en dit sal ’n lelike ding afgee!

“Waarom die frons, Sam?” vra Karl tergend. “Dit laat jou ouer as die sangoma van Happy Valley lyk.”

Sam frons en kyk onrustig op. “Jy was weer daar gewees, seurtjie! Jy’t dan vir Sam gebelowe jy sal nie weer by die Chinaman en die sangoma loop nie.”

Karl lag. “Jy is preuts, my oudste, en bang!”

“Ja, seurtjie, dié ís ek! Bang vir wat met jou sal gebeur as jy neuk met daai mense! As jy daai goed koop wat jou kop van jou lyf af laat dryf, en jou oë se donker word so klein soos die speld se kop, dan vat die duiwel jou by die lyf! Seblief, seurtjie Karl,” pleit Sam, “jy moet daai mense uitlos!”

Karl sien die ontsteltenis op Sam se gesig en sit sy arm paaiend om die groot swart man se skouers. “Ek práát net, man! Natuurlik was ek nie weer soontoe nie.”

Wat Karl nie noem nie, is dat ’n Sjinese koerier nou vir hom sy pakkies kom aflewer. Dit is ’n baie geriefliker reëling, want die afskuwelike plakkersdorp met sy windklokkies wat om die eerste tentedorp opgeslaan is, geval hom bra min.

Opium … vergetelheid … om uit die kru barheid van sy omstandighede te kan ontsnap. Hy rook min, want in Soho het hy mense gesien wat verslaaf was. Hy ken die gevare. Eintlik gebruik hy dit slegs om hom te help om weer kreatief te dink, te skryf. Maar skryf is ’n tydverdryf waarvoor Karl nou minder en minder tyd het vandat sy pa ’n man van hom wil maak. Dit ontbreek hom hier ook aan stimulasie, en opium slaag altyd daarin om die barrikades om sy skeppende brein af te breek.

Hy loop sy kamer binne. Die skildery van sy ma bokant die kaggelrak trek sy aandag soos altyd wanneer hy in sy kamer kom. Dit boei hom. Dis asof die koorsagtige, donkerblou oë van die vrou in haar wit balrok vanuit die skildery met hom kommunikeer. Asof Jutta, gevange in die swaar vergulde raam van die skildery, nog lewe …

“Ek het dié pak uitgehaal, seurtjie,” sê Sam en hy lig die donkerblou aandpak van die staander af op.

Karl knik gelate. Dit sal nie help om Sam te sê dat hy ’n hekel het aan sy pa se pretensieuse gebruik dat hulle ten alle tye vir aandete aanddrag moet dra nie.

Simpel ou parvenu! As hulle in een van die deftige, nuutgeboude paleise teen die hange van Doornfontein gebly het, kon mens dit miskien regverdig, maar in hierdie trekkerige ou plaashuis waaraan Kurt Mannheim smaakloos en planloos laat aanbou het, is dit ’n sotlike gewoonte.

Terwyl Sam sy das vir hom strik, kyk Karl weer verby hom na die skildery van Jutta. Skielik begeer hy intens om soos destyds sy neus teen haar sagte liggaam te hou en haar warm, parfuumdeurdrenkte liggaam in te drink, om by haar in die bed te lê en hom teen haar aan te vly. Jutta se magnetiese blik hou syne gevange. Dis asof die oë vanuit die skildery iets aan hom wil sê. Hy ril liggies.

Sam kyk hom vraend aan. “Kry jy koud, seurtjie Karl?”

Karl skud sy kop. “Kry klaar, Sam. Hulle sê daar het ’n groep danseressies in die dorp opgedaag. Hulle gee glo ’n paar vertonings in die Royal, en dít wil ek nie misloop nie!”

In die somber eetkamer met sy donker Victoriaanse meubelstukke sit vader en seun in ’n gespanne stilte teenoor mekaar. Hulle sit aan weerskante van die lang tafel, wat bedek is met ’n gestyfde wit damastafeldoek. Die tafel is formeel gedek met ’n oormaat porselein en ou silwer wat sag glim in die lig van brandende kerse.

Die twee diensmeisies, in eenderse swart-en-wit gestreepte uniforms met wit broderie anglaise-voorskote en -mussies, staan voor die ornate Victoriaanse buffet met sy spieëls en Gotiese torinkies. Die aandmaal word daarop warm gehou onder die koepelvormige silwerdeksels.

Die meisies se donker, blink gesiggies kyk bevange na die hoofhuiskneg, Sam Naudies, vir dié se kopknik wat hulle telkens sal beveel om die meester van die huis en sy seun met die volgende gang te bedien. Die geluid van silwer teen porselein klink oorverdowend luid in die andersins grafstil vertrek.

Kurt Mannheim se kristalglas sing toe hy met sy vurk daarteen tik. Die behendige Sam tree geoefend nader met die wynkraffie en vul die glas van die meester. Daarna vee hy die nek van die bottel met sy wit servet af en rig ’n vraende blik na Karl. Karl knik, en Sam stap om en vul sy glas ook.

Kurt Mannheim se donker oë, in die kerslig geheimsinnig verskuil deur sy swaar wenkbroue, frons vir Karl oor sy wynglas. “Dis reeds jou derde glas,” merk hy op.

Karl kyk sy pa uitdrukkingloos aan en lig sy glas. “Salut, mon cher Papa!” sê hy spottend, en glimlag koel.

Kurt gluur met wrewel na sy enigste kind, hierdie nasaat van hom met wie hy eenvoudig geen rapport het nie.

En Karl kyk sy pa tartend aan.

Heimlik moedeloos, gee Kurt uiteindelik met ’n handgebaar opdrag dat die maal mag voortgaan.

Sam knik vir die twee diensmeisies. Hulle lig die silwerdeksels van die opskepskottels en dra hulle tafel toe. Soos gebruiklik, bedien Sam eerste vir Kurt en daarna vir Karl. Langs hom draai Sam sy gesig sodat dit verskuil is vir Kurt. Sy lippe vorm ’n klanklose pleidooi: Oppas, seurtjie!

Karl glimlag. “Goeie ou Sam sê ek moet oppas …” tart hy sy pa op ’n lui, dralende toon. Hy draai sy kop en knipoog vir Sam. “Waarvoor, Sam? My pa?”

Die verleentheid op Sam se gesig laat Karl seunsagtig grinnik. Hy klop die man gemoedelik op die rug. “Toemaar, Sam, ek sál my gedra.” Hy drink diep uit sy glas en beduie dat Sam dit weer moet volmaak.

“Jy suip te veel, Karl!” grom Kurt.

Karl lig sy wenkbroue, gemaak verbaas.

“Is dit so, Pa? Maar wat anders is daar te doen by so ’n ete? Kyk net na ons! Ek en Pa, die Noordpool en die Suidpool, en tussen ons hierdie see van wit linne – O, en natuurlik, die stilte. Altyd die stilte, Pa.”

“Hou jou mond en eet jou kos!” snou Kurt hom toe.

Karl ignoreer sy pa se bevel.

“Weet Pa waaraan laat dit my dink? Dit laat my dink aan ’n lykwaakfees. Pa en ek is paslik geklee in ons roupakke!” Hy lag. “En goeie ou Sam in sy pikkewynpak is die stemmige begrafnisondernemer!”

Met blitsige behendigheid steek hy ’n stuk vleis op sy bord met sy vurk.

“Das Leichenmahl, soos julle Duitsers sou sê.” Hy lag weer tartend en hou die druppende stuk vleis omhoog. “En hier, geliefdes, het ons die gestorwene se liggaam …”

“Staak dit, Karl!” bulder Kurt.

Met genoeë kyk Karl hoe sy pa se gesig rooi word van woede.

“Mea culpa, Pa, mea maxima culpa,” sê hy spottend en prop die hele stuk vleis in sy mond. Hy begin dit met onsmaaklike geluide te kou.

Kurt kyk met die uiterste misnoeë na sy seun. Is dít die eindproduk van die beste en duurste privaatskole? Is dít wat Oxford opgelewer het – hierdie ongeërgde lummel wat vir niémand, selfs nie eens God, respek het nie!

Hoe bitterlik het hy nie gefaal met sy seun nie! Hy kan dit nie meer aan homself ontken nie: Karl is onregeerbaar. Selfs die paar kere wat hy hom te lyf gegaan het om hom tot sy sinne te probeer dwing, was net ’n mors van energie. Dit rol soos water van ’n eend se rug af.

Kurt veg teen die moegheid en moedeloosheid wat hom wil oorval. Dit beklemtoon sy growwe Duitse aksent des te meer. “Jou studentekwinkslae is nie hier van pas nie, Karl,” sê hy afgemete. “Dit beïndruk niemand nie, allermins vir my. Spaar dus jou asem en laat my toe om my kos in vrede te eet.”

Gemaak gedweë begin Karl aan sy kos peusel. Op ’n manier is die ou man tog reg. Hoe minder gepraat word, hoe gouer is die pynlike ete agter die rug, en hoe gouer is hy vry om die talente van die nuwe danseresse te gaan inspekteer.

Ná ’n paar minute onderbreek Kurt Mannheim die bedrukkende stilte. “Môre neem ek jou saam na die Ophirmyn toe. Jy sal vir die volgende paar weke daar werk,” sê hy kortaf.

“Hoekom?”

“Omdat ek so sê!” bulder Kurt ergerlik. Hy probeer onmiddellik sy woede beheer. “Rheed sê jy weet genoeg van Jutta’s Rand om aan te skuif na ons ander myne,” verduidelik hy so kalm as wat hy kan. “Jy sal ’n begrip kan kry van die omvang en die daaglikse bestuur daarvan.”

“Maar Jutta’s Rand is myne. Dit was op Mamma se naam en ek stel nie belang om –”

“Jy is nog nie mondig nie, Karl,” sê Kurt gevaarlik sag. “Die myn, soos die res van jou erfporsie, behoort nog nie aan jou nie.” Die donker oë onder hul swaar ooglede rus koud op die jong man.

Karl wonder half onrustig of daar ’n verskuilde dreigement agter die woorde steek. Sy pa is ’n man met baie mag. Sou dit moontlik wees dat hy hom kan benadeel?

“Wat bedoel Pa?” vra hy so ongeërg as moontlik.

“Presies wat ek sê. Tot die dag wat jy wettiglik die myn op jou naam het, is jy van my afhanklik, en tot dan sal jy maak soos ek sê. Dis hoe eenvoudig dit is.”

Kurt staan op en smyt sy servet langs die feitlik onaangeraakte bord kos neer. “Jy het soos gewoonlik my eetlus bederf!” Hy wend hom tot Sam. “Bring my koffie en konjak na die studeerkamer, Sam!”

“Ek maak so, ouseur,” sê Sam en haas hom uit om te gehoorsaam.

Kurt talm nog ’n kort oomblik. Hy kyk in ’n ysige stilte na sy seun. “Jy beter vanaand tuisbly en nie weer fuif tot die vroeëmôre-ure soos wat jy gewoonlik doen nie,” sê hy. “Ek wil voor dagbreek daar wees. Ons vertrek om vyfuur. Sorg dat jy gereed is!”

Die fortuinsoekers

Подняться наверх