Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 3
Proloog
ОглавлениеHeinrich von Albein help om sy spogmerino’s uit die bergkamp te keer. Sy blik rus kort-kort op die swaar, donker wolke wat soos onrustige geeste oor die hange van die Lootsberg rol – wolke wat kwaai koue en sneeu voorspel.
Heinrich se familie is al geslagte lank hier op Sorgenfrei gevestig. Hy is in murg en been ’n man van die aarde. Hy ken die verraderlike weersomstandighede wat ’n man al sy skape oornag kan laat verloor. Hier moet ’n mens voortdurend voorsorg tref vir die onverwagse. Die onvoorspelbare Karoo is beslis geen plek vir hereboertjies nie.
“Is die laastes, seur!” roep Hans-Kaap, sy gerespekteerde voorman, bo die tierende wind uit.
Heinrich knik tevrede. Die ooie met die nuwe lammertjies sal in die groot skeerskuur onderdak hê tot die ergste koue verby is. Die res sal in die laer en meer beskutte kampe aangehou word.
“Julle het knap gewerk, Hans. Sê vir die manne daar is vanaand ekstra rantsoene. As ek so na daardie wolke kyk, reken ek ons kan insneeu vir ’n dag of wat.”
Hans glimlag breed. So ’n vooruitsig bied ’n welkome ruskans. Afgesien daarvan dat die diere op stal versorg moet word, kan ’n winterinsneeu ’n snoesige tyd wees – veral as jy ’n mollige vrou het om jou warm te hou! Die laaste keer het vir hom en sy vrou, Toefie, ’n vyfde baba besorg … vyf kinders waarvan Saartjie die oudste is.
“Seur … seur Heinrich …!” kras ’n stem van ver af bo die wind uit.
Die mans se aandag was ten volle gerig op die skape wat nou in die paadjie na die bergkamp laer af gedwing word, daarom sien hulle nou eers vir April wat soos ’n besetene in die laagte onderkant hulle oor die aalwynvlakte aangejaag kom.
Heinrich se binneste trek saam. Daar kan net een rede wees waarom April een van Sorgenfrei se perde só dryf! Daar moet fout wees by die huis. Alisha! Sy lieflingsmeisie, met wie hy skaars meer as ’n jaar getroud is.
Heinrich stuur die steierende perd teen die berghang af tussen die malende skape deur. Sy hart klop in sy keel. Alisha is swanger. Hulle het beplan om haar vir die bevalling Kaap toe te neem, waar sy vandaan kom, maar die dorpsdokter het hulle daarteen gewaarsku. Alisha is delikaat en die geskommel van die koets oor ’n lang afstand kan haar die baba laat verloor. Vir Heinrich is Alisha se welsyn van primêre belang, maar hy weet ook hoe bitter graag sy ’n kindjie wil hê.
Hy bereik die gelykte en jaag April tegemoet. Dis soos hy verwag het. Oorstelp stotter Sorgenfrei se bekwame stalkneg die boodskap uit. “Ma-Fytjie het gesê seur Heinie moet jaag! Seur moet die seur dokter loop haal! Dinge is nie reg met nooientjie Lisha nie!”
Heinrich laat nie op hom wag nie. Met knie en dy por hy die massiewe hings aan en lê oop na die opstal toe.
Uit respek vir sy fynopgevoede vrou het Heinrich nog nooit in sy werksklere voor haar verskyn nie, maar dié keer storm hy net soos hy is die trap op en maak hulle kamerdeur vervaard oop. Ma-Fytjie, wat langs haar geliefde nooientjie Lisha waak, kom orent en beduie dat Heinrich nie ’n geraas moet maak nie. Hy knik en kyk na sy slapende vrou.
Alisha se wimpers lê swart op haar wasbleek gelaat. Haar donker, gevlegte hare laat haar weerloos jonk lyk, soos ’n kind met ’n ongewone groot buik.
Ma-Fytjie roep Heinrich buitentoe. Hy gehoorsaam, skielik pynlik bewus van sy hulpeloosheid as man in dié situasie.
Buite die deur beduie die formidabele Fya Fortuin haastig. Haar nooi Lisha het met ’n koors opgestaan en daar is ’n afskeiding … Ma-Fytjie, wat allerweë gerespekteer word vir haar kennis van kruie, se gesig skyn soos gepoetste koper. Sy is duidelik baie bekommerd.
“Dit kan een van drie dinge beteken, seur Heinrich, maar ek kan dit g’n met die seur bespreek nie. Dit sal nie stigtelik wees nie. Maar gaan sê dit vir die dokter. Hy sal weet wat ek bedoel. Ek het my nooientjie nou kalm … die harmansdrup en wynruit die sal vir haar laat slaap vir ’n kort tydjie. Maar ons móét die dokter hier kry, seur Heinie, anders weet ek nie!”
Nog nooit is die Von Albeins se kapkar vinniger ingespan nie. Heinrich swaai sy mantel met die skaapvelvoering oor sy skouers terwyl hy op die kar klouter en die leisels met ’n skerp klapgeluid lig. Die span pronkperde skiet vorentoe en draf in die eikelaning af, verby die dam wat die kaal wilgers en populiere ysig weerkaats. Heinrich por sy perde met byna genadelose drif aan. Hy bid dat hy die dokter op die dorp sal vind.
Graaff-Reinet het tot ses maande gelede twee dokters gehad. Ongelukkig is ou dokter Theron toe oorlede. Sy jonger vennoot, dokter Janse – ’n kêrel uit Holland – is nou die enigste dokter, en hy moet lelik bontstaan in die groot kontrei. Heinrich se grootste bekommernis is dat hy oorkant die pas kan wees, want sy praktyk strek tot verby Bethesda, anderkant die Lootsberg.
Heinrich klap die peits om die perde te laat versnel. Hy ondersoek die lug vol kommer, want hy weet voor sy siel dit gaan voor vannag begin sneeu en die pas sal onbegaanbaar raak.
Selfverwyt vreet aan hom. Hoekom was hy so ’n idioot? Met sy ooie en lammertjies tref hy altyd die grootste voorsorg. Maar vir Alisha, om wie sy hele bestaan wentel, het hy nie genoeg voorsorg getref nie. Verduiwels! Hy moes ’n dokter gehuur het – ’n hele span, as dit daarop sou aankom – om in hierdie maande voor haar bevalling hier op Sorgenfrei in te trek. Hy is ’n ryk man, waarom het hy nie? Verdomp!
Sy keel trek saam van vrees. Heinrich onthou die aand toe hy die eerste keer oor die hand van die pragtige Alisha Beaumont gebuig het. Dit was tydens die goewerneur se jaarlikse Nuwejaarsbal. ’n Oomblik lank was hy sprakeloos, stomgeslaan deur die skoonheid van die vlinder voor hom. Haar wasige wit hoepelrok van sy-organdie het haar lelieblank skouers ontbloot, en silwer, geweefde kant het in ’n val om hulle geskuim. Daar was wit katjiepierings in haar hare. Sy het skalks oor haar waaier vir hom geglimlag, en toe hy in haar oë kyk, het hy gewéét sy hart het weerklank gevind in hare.
Met ’n trotse kopknik het Alisha die dans aan hom toegesê; ’n onvergeetlike pavane waarin niemand anders in die balsaal bestaan het behalwe hy en sy feëprinsessie nie.
Alisha Beaumont, die “Roos van die Kaap”, kon kies en keur onder die room van die Kaap se jong mans, maar sy het hóm gekies: Heinrich von Albein, die eienaar van Sorgenfrei.
Daar was struikelblokke en besware. Hy was ’n goeie sewe jaar ouer as sy. Haar ouers was onwillig om hul lieflingskind so ver van hulle af te laat weggaan na wat hulle beskou het as ’n onbeskaafde hinterland. Alisha was egter onwrikbaar. Sy het haar hart aan die man uit Graaff-Reinet se kontrei gegee.
Op 14 April 1868, slegs veertien maande gelede, het hy haar voor die ou Groote Kerk se gekerfde houtkansel ingewag. Op dié goue, loom herfsdag het die dominee sy prinses wettiglik syne gemaak.
Ná die wittebroodsreis in Europa het hy haar en Ma-Fytjie plaas toe gebring en haar die meesteres van sy aarde gemaak. Die herinnering aan die afgelope jaar se geluk pols pynlik in sy binneste. As hy Alisha moet verloor, verloor hy die lewe self …
Die buitewyke van die dorpie doem in die verte op, gehul in ’n grys mistigheid. Heinrich weet dat dit die voorloper is van sneeu. “Here,” bid hy met al sy mag, “laat my tog vir Janse kry, en gou ook! Spaar my liefste Alisha!” Die kapkar jaag die dorp binne, verby die kerk, verby die markplein, verby die begraafplaas …
Verligting spoel oor hom toe hy die geparkeerde rytuie voor die dokter se spreekkamer sien. Die man is daar! Nou moet hy hom net oorhaal om so gou as moontlik die terugtog na Sorgenfrei saam met hom aan te pak!
’n Kil en dodelike sneeuwind van die Lootsberg af kerm om die ou opstal se dik mure. Ondanks die vuur in die kaggel, die sagte bulsak en donsdekens, oorval ’n koue vrees vir Alisha. Dit laat die sweet opnuut op haar voorkop pêrel. Sy wil huil, maar het nie die krag daarvoor nie. Die vorige sametrekkings het haar duiselig en uitasem gelaat.
Fya vee haar voorkop af. Haar gesig is strak van kommer. Nooientjie Lisha is so smal van heup en klein van bou soos ’n duikertjie. Hoe sal sy ’n kind die wêreld kan instoot? Die kind wat gaan kom gaan groot wees, te groot vir haar geliefde nooientjie se skoot. Sy wéét.
In hierdie krisisuur verlang Fya vuriglik om terug te wees by seur en madame Beaumont, Alisha se ouers, daar in hulle groot huis teen die berg waar die verfyndheid van ’n ou Europese beskawing nog geheers het. In die Kaap sou daar nou minstens drie dokters om nooientjie Lisha se kooi saamgedrom het om haar met die bevalling van haar eersteling te help. Nou is dit net sy self en hopelik netnou die dokter, en hy is tog maar net ’n dorpsdokter.
Oomblikke later hoor sy verlig die geluid van die perdepote en wiele van die kapkar wat die dokter op die dorp moes gaan haal.
Alisha maak haar grys oë oop. Die oë is nou donker van die pyn, donker soos die stormwolke wat in die winter oor die Lootsberg rol.
“Ma-Fytjie …”
Ma-Fytjie streel liefderik oor die natgeswete gesig.
“Hulle is hier, nooientjie. Seur Heinrich het die doktertjie gebring!”
Die deur gaan oop en Heinrich kom die kamer binne. Agter hom herken Ma-Fytjie die swartgeklede dokter met sy ruitmanteltjie en bolkeil.
“Hoe gaan dit, Ma-Fytjie?” vra Heinrich bekommerd. Hy kniel langs die koperkatel en lig Alisha se fyn wit hand na sy lippe.
Alisha sien die angs in sy donker oë. Sy raak aan sy gesig en probeer praat, probeer hom gerusstel, maar haar woorde word ’n kreet toe ’n spasma opnuut deur haar buik skeur.
Die dokter sit sy hand op Heinrich se skouer en maak apologeties keel skoon. “Mijnheer von Albein …”
Heinrich kom orent. Sy gevoel van magteloosheid maak hom tegelyk verbouereerd en driftig. “Ek bly, dokter Janse! Ek wil by Alisha wees as –”
“Dit sal g’n deug nie, meester Heinrich!” Fya kom geskok orent. “Dis nie vir mansmense se oë nie. My nooientjie Lisha is ’n fyn mensie. Sy sal g’n wil hê jy moet bly nie! Loop!”
“Asseblief, Heinrich,” fluister Alisha floutjies.
Hy huiwer nog ’n oomblik lank. Dan buk hy af en soen die klam voorkop. Sy stem klink skor in die stil kamer. “Ek sal net hier buite wees …” Hy sluk swaar. Die trane prikkel vlak agter sy ooglede. “Alisha, ek het jou lief!” Hy kom orent en strompel die kamer uit.
Dokter Janse spring aan die werk. “Ons moet kookwater hê, genoeg daarvan.”
Ma-Fytjie knik. “Staan klaar en borrel op die stoof, meester dokter. Ek sal laat Hanna en die Toefiegoed dit begin aandra!” En sy haas haar deur toe.
Agter haar begin die dokter met sy voorbereidings. Dit gaan beslis nie ’n maklike bevalling wees nie.
Heinrich staar nikssiende in die vuur, wat laag brand in die kaggel. Sy wangbene en ken is donker van die baardstoppels. Dit kan hom nou min skeel. Alisha se pyne het begin, en daar is nie tyd vir verklee of skeer nie. Uit die voorhuis klink die uurslae van die ou staanhorlosie wat sy voorvader nog uit Duitsland saamgebring het dofweg op. Nege-uur! Hy kom ongedurig orent. Hoekom vat dit dan so lank?
Hy was seker al ’n dosyn of meer kere met daardie trap op, om net maar weer te staan te kom voor die toe deur, ’n onverbiddelike skeiding tussen hom en sy vrou se lyding en die wonder van sy kind. Hy draai terug na die vuur en staar weer na die gloeiende kole. Dis asof hulle gloed in sy siel inbrand, asof hy dáár die verskriklike pyn voel wat Alisha verduur. Hy moes versigtiger gewees het, verwyt hy homself. Sy is te tenger om kinders in die wêreld te bring.
Heinrich swaai vinnig om toe hy ’n geluid bo van die trap af hoor. Die deur staan op ’n skrefie oop. Hy hoor dit weer: die huilgeluid van ’n kind … ’n baba! Dit is sy kind! Vervaard storm hy die trap op. Niemand sal hom uit daardie kamer uithou nie!
Alisha lyk broser as ooit, gestut teen die sneeuwit kantversierde kussings. Toe sy opkyk van die toegedraaide bondeltjie in haar arms af, merk hy in haar silwergrys oë ’n warm lig, ’n lig wat iewers in haar siel sy oorsprong moes gehad het.
Oorweldig deur ’n gevoel van nederigheid kniel Heinrich langs haar, onbewus van die trane wat oor sy gesig stroom. Die skoonheid van sy vrou met die mensie wat uit hulle gebore is in haar arms, maak die fluistering van haar naam ’n gebed. “Alisha, ek sal hierdie nag nooit vergeet nie! Ek het jou nog nooit so lief gehad soos juis nou nie.”
“Dis ’n dogtertjie, Heinrich …” Sy lig die babadeken van die gesiggie af weg om hom te laat sien.
Die wesentjie maak haar ogies oop en staar uitdrukkingloos na hom, onbewus daarvan dat haar pa se hart in daardie oogwink vir ewig met hare versnoer raak. Vol verwondering en dankbaarheid lig Heinrich die bondeltjie mens in sy arms op.
“Ons sal maar weer moet probeer om vir jou ’n erfgenaam vir Sorgenfrei te gee,” sê Alisha sag.
Heinrich kan niks sê nie. Sy gemoed is oorvol. Hy dra sy dogter na die venster toe en kyk na die sneeubedekte velde van Sorgenfrei, bleek in die lig van die maan en die sterre.
Uiteindelik het hy genoeg vertroue om te praat. “Nee, Alisha,” sy stem is sag. “Die erfgenaam van Sorgenfrei, my dogter, hou ek nou hier in my arms vas.”
Heinrich draai terug na Alisha toe. Die trots en liefde op die groot, sterk man se gesig ontroer haar. Sy voel lomerig gelukkig.
“Hoe sal ons haar noem?” vra sy slaperig.
Heinrich huiwer nie. “Deborah … Deborah von Albein. Sy sal ’n rigter onder die mense word.”
Buite verskiet ’n ster met ’n vlammende heerlikheid, blink en groot in die kristalkoue nag.