Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 9

Hoofstuk 6

Оглавление

John Digby en Flip Lategan staan aangeleun teen die kroegtoonbank. John bestel hierdie rondte. Die geraas om hulle maak gesels moeilik. Hulle soek ’n rustiger hoekie naby die erkervenster wat ’n uitsig oor die hoofstraat bied. Flip merk die bedrukte uitdrukking op John se gesig en lig sy bierbeker.

“So, jy’t ’n bloutjie geloop op Sorgenfrei?” grinnik hy. “Ek het jou gewaarsku, die spulletjie daar dink hulle loop twee duim hoër as die res van ons. Alisha von Albein het haar mos nog altoos beter geag as ons kontrei se mense, sy met haar Kaapse maniertjies. En wat die meisiekind betref …” Flip proe behaaglik aan sy bier. “Regte klein helleveeg, daardie een! Bie nou glo saam met die mans op die dorpsveiling, hoor ek.”

John streel sy gepunte baardjie. Hy kyk Flip Lategan stip aan. “Jy’t gesê jy kan my help, Flip. Jy’t gesê jou niggie Anna is een van die min mense wat mevrou Von Albein wél besoek.”

Flip knik simpatiek. Dié Engelsman se obsessie met Alisha von Albein … Hy het hom gesê dat daar ander weduwees is wat veel meer geneë sal wees. Flip weet ook dat Digby sy vrywerk vinnig sal moet begin aanvoor, want hy het reeds groot uitgawes gehad by die dobbeltafels.

“Sê jou wat, vriend,” sê Flip joviaal en slaan sy arm om John, “oorkant die pas na Bethesda se kant toe is daar ’n goeie proposisie … ’n skatryk weduwee, glo nie meer te jonk nie, maar –”

John bevry hom ferm van die arm om sy skouer. “Ek wil Alisha von Albein hê, en niémand anders nie!”

“Nou goed …” Flip trek sy skouers gelate op. “Ek sal met Anna praat en haar vra om iets te reël. Maar dit sal stigtelik moet wees. Die vrou rou nog.”

John se grys oë blink. “Dis al wat ek vra, net ’n ontmoetslag. Vir die res sal ek self sorg!”

* * *

Deborah kyk na Ma-Fytjie se gesig in die ovaal spieël voor haar. Ma-Fytjie se oë verdwyn soos sy frons, en haar mond is op ’n koddige plooi getrek terwyl sy Deborah se hare borsel. Iets het haar duidelik omgekrap. Deborah hoef nie lank te wag vir ’n verduideliking nie.

“Ja, hy was mos hierso gewees vandag.”

“Wie?” vra Deborah.

“Die uitlander wat aljimmers Sondae vir jou Mamma in die kerk loer!” Ma-Fytjie se wange tril van verontwaardiging. Sy begin die lang hare lossies vleg.

Deborah wag tot sy klaar is en kom dan orent. “Wat is die man se naam? Wat wou hy hê?” vra sy.

“Wat dink jy almiskie, missie? Sy soort is soos ’n brak wat loopsheid loop uitsnuif by elke huis waar daar ’n mooi vroutjie soos jou mamma is!”

“Wat is sy naam?” dring Deborah aan.

“John Digby, sê hy. Ek ken g’n ordentlike mense met so ’n naam nie!”

In die lig van die koperlamp wat Ma-Fytjie nou optel, sien Deborah die onrus in die ou oë. Sy slaan ’n vertroostende arm om Ma-Fytjie se skouers.

“Miskien is dit niks nie … sommer net ’n man,” sê sy met ’n glimlag. “As hy weer kom, steek ek hom onder die sambok. Toe, hou nou op om jou so te bekommer.”

Ma-Fytjie sê niks nie. Sy druk die kooigoed sagkens om Deborah vas soos sy van haar kleindae af gedoen het. Miskien moes sy liewer nie haar bek staan en rek het nie. Wat sal die meisie dan nou ook van sulke goed weet? “Nag, missie,” sê sy beswaard en blaas die lamp dood.

’n Ruk lank lê Deborah in die donker, dan staan sy op en skuif die vensterraam op. Sy het ook al die man gesien van wie Ma-Fytjie gepraat het, maar sy het haar nie veel aan hom gesteur nie. Vir Alisha kan daar tog altyd net één man wees, en dit was haar pa. Tog, Ma-Fytjie is buitengewoon omgekrap …

Met opgetrekte bene sit Deborah in die vensterraam na die nag buite en kyk. Sy bly lank so sit voor sy uiteindelik weer die koperstaanlamp aansteek. Sy dra dit na die spieëlkas en kyk na haar eie beeld in die spieël. Hoe, wonder sy, sou sy vir ander mense lyk? Sy is beslis langer as enige ander meisie in die kontrei – en volgens Ma-Fytjie veels te maer.

Sy knoop die boonste knopies van die fyn wit linnenagrok oop. Haar nek is lank … nog ’n knopie, nog laer, nog ’n knopie. Die lamplig gloei om die boonste rondings van haar borsies. Sy laat die nagjurk sak tot dit net die puntjies toemaak. Sy voel skielik ’n onverklaarbare onvervuldheid.

Sy het al tevore gewonder hoe dit sou voel om by ’n man te wees. Regtig saam met hom te wees. Sy weet al van kleintyd af hoe sulke dinge gebeur. As jy op ’n plaas grootword, weet jy mos. Maar tussen ’n man en vrou? Dit moet tog bietjie anders wees … sy weet nie mooi hoe nie, maar … beter?

Sal sy ooit eendag trou? Seker. Sy sal seker moet. Sorgenfrei moet tog ’n erfgenaam kry. Maar dan moet haar man iemand soos haar pa wees. Sy weeg die hubare mans van die kontrei teen die beeld van Heinrich von Albein op en verwerp hulle een vir een.

Sy trek die nagrok weer oor haar skouers, tel die lamp op en loop terug na die skryfburo, waar sy gaan sit. Sy haal haar dagboek uit ’n laaitjie en slaan dit oop. Haar bruingebrande hand doop die pen in die inkpotjie en vul die datum boaan die bladsy in: 3 Februarie 1887. Haar ma was jare al van plan om haar Kaap toe te stuur vir die balseisoen Daar sal nou geen bal vir haar wees nie, maar dit skeel haar min. Solank dinge net kan bly soos dit is. Selfs Mamma sal weer leer om te lag. Sy sal Alisha Baai toe neem.

Die slanke hand rus ’n oomblik ingedagte op die boek, dan skryf sy: Ma-Fytjie sê Mamma het ’n besoeker gehad – ’n man, ene John Digby.

* * *

Die werf van Malanshof staan vol koetse en landauers getrek. April gooi ’n spoggerige S met die Von Albein-koets. Hy bring dit voor die krultrap tot stilstand en klouter haastig af, maak die deur vir Alisha en Deborah oop en trek die trapleertjie vir hulle uit.

Alisha pluk senuweeagtig aan haar swart kantmoffies. Miskien moes hulle liewer nie die uitnodiging van Anna Malan aanvaar het nie, nie nou al nie. Hulle is tog nog swaar in die rou …

Deborah lees die huiwering op haar ma se gesig en haak by haar in. “Komaan! Dis net ’n musiekaand, Mamma, en dit sal Mamma goed doen.”

Alisha glimlag onseker. Die laatmiddagson blink op die ruitjiesvensters van die imposante opstal. Vaagweg kan hulle mense binne sien rondbeweeg soos hulle die sierlike trap oploop.

John Digby, wat by die venster van Anna Malan se onthaalkamer gestaan en wag het, sien die twee vroue in swart die trap opkom, en hy hou hulle met bonsende hart dop. Dit sal sy enigste kans wees dié om homself onder Alisha von Albein se aandag te bring; hy durf dit nie verspeel nie! So ongemerk moontlik beweeg hy na die deur by die ingang en probeer onopsigtelik meng met die gaste wat deur Anna en haar man, landdros Malan, verwelkom word.

Anna plaas haar hande op Alisha se skouers en piksoen haar op al twee wange. “Ek is só bly julle kon kom! Deborah! Goeiste, waar groei die kind dan heen? Jy word by die dag langer!”

Deborah glimlag koel. “Dankie, tante Anna …”

“Ons is nie meer gewoond aan uitgaan nie,” sê Alisha met ’n blekerige laggie. “Dit was vriendelik van jou om ons te … te …” Sy kom nie verder nie. Die man met die grys oë staan agter Anna! Sy voel hoe die bloed na haar gesig opstoot.

John Digby tree haastig vorentoe en raak aan Anna se arm. “Mag ek voorgestel word?”

“Natuurlik! My liewe Alisha, ontmoet meneer John Digby. Hy is uit Engeland afkomstig – Peter-’m, Petersborough, nie waar nie, meneer Digby?”

“Ja, Peterborough,” knik hy met ’n glimlag. “Oorspronklik. Dit is waar die familielandgoed is.” Hy buig galant oor Alisha se hand en soen dit. Hy kyk op, sy oë koesterend op haar. “U naam ken ek reeds – dit is op my hart gegraveer, mevrou!” Hy bied haar sy arm aan. “Mag ek die eer hê om u na die verversingstafel te vergesel?”

Soos in ’n droom laat Alisha toe dat hy haar weglei.

Deborah word bewus van ’n koue onrus in haar binneste. Sy onthou skielik Ma-Fytjie se woorde. Tussen die gaste deur sien sy Alisha en die man nou by die klavier staan, elk met ’n glasie wyn in die hand. Haar ma lyk jonk, ten spyte van haar rouklere, en daar is onmiskenbaar ’n blos op haar wange. Dis hy, die man langs haar ma, dis Digby, die een van wie Ma-Fytjie gepraat het. Sy weet nie hoekom nie, maar sy hou nie van hom nie. ’n Benouende onheil begin in haar hart broei.

* * *

Teen die hoogte hou Deborah vir Vlam in en kyk af op die gruispad wat dorp toe lei. Sy sien ’n stofwolk agter ’n landauer aan tol en frons. Die afgelope twee weke gebeur dit daagliks dat Digby haar ma kom uitneem. Eers was dit net kerk toe, maar nou begin die uitstappies al hoe meer raak. Sy weet ook dat die dorpenaars praat, dat mense van agter hulle groengeverfde luike uitloer wanneer Alisha en John verbyry. Sy voel die oë op hulle wanneer sy, haar ma en Digby saam in die familiebank in die kerk sit. Die skinderbekke van die kontrei praat deesdae oor niks anders as die trotse Alisha von Albein wat met die nuweling flankeer nie – en dit terwyl sy nog in die rou is!

Met ’n bitter trek om haar mond gee Deborah Vlam se teuels skiet. Sy sal met Alisha móét praat … vanaand nog!

Die borduurnaald word ergerlik in en uit, in en uit gesteek, maar Alisha se wange brand. Sy wil nie opkyk na haar dogter nie.

“Mamma, luister, asseblief! Ek praat met Ma! Die hele dorp gons oor Mamma en meneer Digby.”

Alisha sit haar borduurwerk opsy en kom orent. Daar is iets vorsteliks in die fyn gestalte. Sy kyk haar dogter reguit aan. “Meneer Digby is ’n beskaafde heer. Hy kom uit ’n goeie agtergrond en hy is ’n vriend. Hy is hoflik en verfynd en hy deel my smaak in musiek. Hy het my gehelp om … om … my …” Haar oë skiet vol trane en dwing haar om weg te draai na die klavier, waar haar hand ’n sagte akkoord soek, “… om jou vader se dood te verwerk.”

Die melancholiese klank uit die klavier klink beskuldigend.

“Gun die dorp my dit nie?” Sy draai om na Deborah. Wanneer Alisha haar trane as wapen gebruik, is Deborah net so hulpeloos soos haar pa altyd was. Sy draai gefrustreer om en loop uit. Sy weet sy het teen John Digby verloor.

* * *

Herfs het die rylaan se akkerbome goud gekleur. Die skape in die bergkamp is reeds afgebring, want kort voor lank sal die reëns kom, gevolg deur die koue en die sneeu wat wit sal lê op die Lootsberg.

Deborah probeer weer om haar drif te verwerk deur haar toe te spits op die boerdery, maar haar knaende vrees en haar woede teenoor John Digby neem by die dag toe. Terwyl sy so deur die akkerrylaan stap, laat ’n skielike rukwind die gekleurde blare na onder dwarrel. Hoe lank nog voor die man haar ma gaan ompraat?

Deborah sien die spaider voor die opstal staan en haar gesig verstar onmiddellik. Dis nie eens syne nie. Dit behoort aan Flip Lategan, daardie kroegvlieg wat sy plaas in die dorpshotel uitsuip. Sy glo min van Digby se praatjies oor sy sogenaamde beleggings oorsee, oor die kamstige landgoed iewers in Engeland wat hy gaan erf ná sy oom se dood. Wat soek hy dan hier? As mens ’n stuk aarde iewers het waarna jy eendag sal moet omsien, of dit nou hier of in Sjina is, dan is dít mos waar jy hoort!

Nes Ma-Fytjie het Deborah al daaroor met Alisha gepraat, maar bedroë daarvan afgekom. Wat John Digby betref, is haar ma doof en blind.

Klein-Toefie kom die rylaan afgewiel met ’n hoepel. Deborah keer haar voor.

“Is Ma-hulle in die voorhuis?”

“Sy en seur John maak musiek saam, missie,” deel die kind Deborah ernstig mee.

Deborah kies koers agter om die huis na die agterdeur. Klein-Toefie kyk die skraal figuur agterna. Sy weet, soos haar ma en die ander bruin mense ook weet, dat missie Deborah niks van seur Digby hou nie. Maar sy hou nogal van hom, want dit was hy wat vir haar die linte present gegee het. Sy begin weer die hoepel in die rylaan af tol. Klein-Toefie hou baie van valletjies en linte. Eendag gaan sy nóg mooier aantrek as missie Lisha toe dié nog nie in die rou was nie. En sy wat Klein-Toefie is, gaan g’n kombuisvrou word soos haar ma nie, daarvan is sy baie seker.

* * *

Die landskap is toe onder ’n grys reëngordyn. Deborah staan by die venster en kyk na die glimmende kaal takke van die akkerbome wat buite teen die opstal skuur. Agter haar lag Alisha welluidend.

“Laat ons weer probeer, John!” Alisha begin op die klavier speel. Die huilgeluid van ’n viool vul haar begeleiding aan.

Deborah draai om en kyk na die twee mense voor die klavier. In hul betrokkenheid by mekaar en die musiek is hulle onbewus van haar teenwoordigheid.

Vandag is die eerste dag wat Alisha nie swart dra nie. Die ligpers fluweeltabberd met sy gestreepte swart-en-wit boeseltjie drapeer elegant oor die klavierstoeltjie. Sy lyk jonk en gelukkig. Deborah weet by monde van Ma-Fytjie dat dit John Digby is wat Alisha oorreed het om haar rouklere weg te pak nog voordat die jaar van rou verby is.

* * *

Alisha tol die wit kantsambreeltjie vrolik terwyl hulle sy aan sy deur die boord loop. Die appelbome staan vol in die blom. Die soet geur van die bloeisels, dié van die aarde, en die hartseer geur van pasgesnyde gras raak byna oorweldigend. Alisha voel asof sy saam met die kwetterende vinkies wat oral nes bou ’n loflied kan aanhef oor die diep geluk wat sy voel. Sy kyk op na John en merk dat sy gesig buitengewoon somber is.

“Wat skort, John?” vra sy saggies.

Hy gaan staan en draai haar na hom toe. Hy kyk diep in haar oë met ’n teerheid wat haar week laat voel. “Ek het net skielik besef hoe onwaardig ek is teenoor jou, my liefste Alisha!”

“Hoe kan jy so iets sê!” maak sy driftig beswaar.

Hy lê sy vingers sag teen haar lippe voordat hy antwoord.

“Ek kan jou op die oomblik so min bied. Al my geld is vas belê volgens die ellendige bepalings van my vader se testament, en my oom behandel my soos ’n rondlopersigeuner.” Hy sug beswaard. “Alisha, ek glo dis tyd dat ek moet vort. Ek kan my gevoelens nie langer vir jou wegsteek nie!”

Haar mooi oë raak wasig. “John, wat sê jy!”

Hy soen haar saggies op die mond. Dis die eerste keer wat hy dit doen. Dan lei hy haar oor na die gietysterbankie onder die boom en hulle gaan sit. Sy sien hoe hy met homself stoei, en plaas haar hand oor syne.

“John …” Haar stem is sag. “As jy weggaan, sal die groot eensaamheid weer kom. Ek weet nie of ek dit nog ’n keer sal kan verduur nie!”

Hy kyk stadig na haar. Sy merk dat die lang, donker wimpers vogtig is van trane. “Ek het jou lief, Alisha. Ek kan dit nie meer verdra om in jou lieflike teenwoordigheid te wees en jou nie te mag besit nie, nie myne te maak nie … wettiglik myne!” Hy kreun sag en bedek sy gesig. “Daarom moet ek weggaan!”

Alisha draai sy gesig na haar toe. Sy glimlag en raak aan sy netjiese baard. “My liefste John, glo my, daar is niks wat ek meer sal begeer as om jou vrou te word nie.”

John het geen verdere uitnodiging nodig nie. Triomfantlik trek hy haar op teen sy bors en bedek haar gesig en hals met passievolle soene.

Alisha voel lighoofdig van die ekstase wat deur haar liggaam stu, ’n gevoel wat sy geglo het nooit weer vir haar beskore sou wees nie. Sy weet dat sy van nou af niks vir hierdie man sal kan weier nie.

* * *

Deborah durf driftig die laaste steilte na die fontein hoog in die bergkloof aan. Die Februarie-son skroei witwarm op haar neer. Die hitte van die dag wedywer met haar eie woede. Hopelik sal die yskoue water van die bergfontein haar afkoel.

Terwyl sy boontoe klim, maal die gebeure van die afgelope drie maande deur haar kop. Alisha en John is in November getroud, slegs enkele weke ná die eerste herdenking van haar pa se dood. Waarskynlik het net sy en die plaasmense vir Heinrich von Albein onthou.

John het aangedring op ’n wittebrood in die Kaap, wat uit Sorgenfrei se kwynende fondse geborg moes word. Sorgenfrei het ook betaal vir die koffers vol klere wat hy vir hom en Alisha gekoop het.

Sedert hulle terugkeer het John hom by die kontrei se mense probeer ingrawe met sy nuutverworwe status as landheer, soos hy homself dikwels beskryf.

Die een swierige onthaal ná die ander word nou op Sorgenfrei gehou; weekliks onttrek hy aansienlike bedrae geld. Dit weet Deborah maar te goed, omdat sy steeds die boekhouding behartig. Sy het geweier om die boeke aan hom te oorhandig. Die onaangenaamheid wat dit tot gevolg gehad het, het weke lank voortgeduur.

Moontlik was dit weerwraak wat hom al hoe meer geld op onnodighede laat verkwis het. En Deborah is magteloos om dit stop te sit. Haar ma is soos klei in die man se hande. Haar inskrywings toon dat die nuwe egpaar in die afgelope drie maande reeds meer as vyfhonderd pond uitgegee het.

Deborah stap die ruigte wat die poel omring binne. Die bitterheid oor die oggend se gebeure lê soos ’n klip in haar ingewande. Sy stroop die ryjurk, bloes en onderklere van haar af en gooi dit oor die bos se takke. Dan draai sy om en kyk siende blind na die donker, koel water van die poel.

Die ontsteltenis dryf die trane tot vlak agter haar ooglede. Sy het vanoggend net betyds teruggekom van die perde in die bergkamp af om te sien hoe April hulle pronkmerino’s uitkeer. Hy het ontsteld beduie dat dit op John se bevele was. Bitsig – té bitsig – het sy hom gebied om die skape terug te jaag.

Deborah het Alisha alleen by die opstal gekry en haar gekonfronteer. Haar woede het tot uitbarsting gekom en haar ma moes al die maande se opgekropte drif verduur. Hoe durf Alisha haar toestemming gee! Sorgenfrei se teeldiere was die lewensbloed van die plaas – hoe kón sy John toelaat om hulle te verkoop?

Alisha het huilerig en verward geraak en uiteindelik erken dat sy ’n week gelede wél skriftelike toestemming gegee het vir die transaksie. Een van hulle bure het geld aan John voorgeskiet in ruil vir Sorgenfrei se stoetskape.

’n Verslae en vernederde Deborah was verplig om terug te gaan na April toe en hom te sê om maar weer die skape uit te jaag.

Die water van die poel weerkaats haar liggaam, maar die beeld versplinter toe sy in die yskoue bergwater induik. Sy swem met kragtige hale terwyl sy desperaat na ’n uitweg soek.

Die inkomste van verlede jaar se velle is reeds daarmee heen en die wol sal sy nie kan baal tot ná die winter nie. Dis waarom Digby nou begin om hul skape te verkoop. Die perde is seker volgende aan die beurt! Nee! Dit mag nie gebeur nie!

Moeg en uitgespook steier sy uit die poel en strek haar uit op die warmgebakte klipplaat. Sy laat haar kop op haar hande rus. Trane brand weer agter haar oë. Hoe sy ook al Sorgenfrei se geldelike nood probeer bekamp, is dit vir haar duidelik dat dinge nou buite beheer raak.

Sy roep haar pa se beeld op. As hy darem moes geweet het! Hy sou van haar verwag het om Sorgenfrei te red – maar hoe?

Alisha is willoos teen John se sjarme. Wat hy van haar vra, kry hy. Hy bring deesdae al hoe meer tyd op die dorp deur en bly soms selfs drie of vier dae daar oor. Deborah wéét hy dobbel, haar ma seker ook. Sy is tog nie onnosel nie. Maar Alisha wil geen kritiek op John hoor nie. Hoe is dit moontlik dat ’n vrou wat aan iemand soos haar pa behoort het, soos klei kan raak in ’n man se hande, en dit boonop iemand soos John Digby!

* * *

Larry Waleski se sigaar hang tussen sy lippe. Hy kyk belangstellend na die man voor hom. Larry het al gehoor van John Digby, ook van die oorhaastige huwelik wat die dorp aan die praat gehad het. Heimlik het Larry hom daarin verlustig.

Jare gelede, nie te lank ná sy aankoms op die dorp nie, het Heinrich von Albein hom van Sorgenfrei af weggejaag. Dit was oor ’n onbenulligheid. Larry het trek gehad vir een van die plaaswerkers se jong dogtertjies, en toe hy haar uiteindelik alleen gekry het, het hy die kind geld aangebied en gereël dat sy die aand na sy kamer moet kom.

Hoe dit uitgelek het, weet hy nie, maar Von Albein was briesend. Hy het hom onmiddellik aangesê om die plaas te verlaat en om nooit weer sy voet daar te sit nie. Waleski het dié vernedering nooit vergeet nie.

Hy kyk bespiegelend na die man oorkant hom. Digby is hier omdat hy geld nodig het. As geldskieter ontwikkel mens ’n soort sesde sintuig. Swetende hande en onsekere oë verklap mense se geheime nog voordat hulle hul monde oopmaak.

Waleski haal die sigaar tussen sy lippe uit en glimlag vir Digby. “Aaa …? En u wil die plaas in die mark sit?”

John knik. Hy voel ongemaklik. Die man voor hom het geen klas nie ten spyte van sy duur snyerspak, die goudvulsels in sy tande en die swaar horlosieketting. Maar Larry Waleski met sy pankop en swaar Oos-Europese aksent is die enigste wat bereid sal wees om hom te help, en hy hét die geld nodig!

Waleski kyk ondersoekend na John. “Maar is die plaas dan nie in mevrou Von Al-” Hy korrigeer homself vinnig. “Ek bedoel natuurlik, in u vrou se naam nie?”

“Ja, maar ons is in gemeenskap van goedere getroud.”

“Natuurlik, natuurlik …” Larry se glimlag ontbloot vergulde rykdomme. “Wise, if I may say so, very wise!” Hy leun vorentoe op sy lessenaar. “Hoeveel wil u vir die plaas hê, mister Digby?”

John huiwer. Sy hande raak weer glibberig van die sweet. Hy móét die transaksie beklink, nie alleen om sy dobbelskuld te betaal wat by die dag ophoop by die Victoria nie, maar ook vir die dobbelskuld wat hy in die Kaap gemaak het toe hy en Alisha op hul wittebrood was. En dan was daar ook nog die keer toe hy in die geheim Baai toe is in die hoop dat sy geluk mag draai.

Dit was juis daar wat hy vir die eerste keer in maande gevoel het dat Fortuna nou weer na sy kant toe begin draai. In die hotel in Port Elizabeth waar hy tuisgegaan het, het hy Solomon Zeits ontmoet. Zeits het kort tevore in die hawestad aangekom vanuit Johannesburg. Hy het John vertel van die ongekende rykdomme van die Witwatersrand, hoe mense soos die Ecksteins, Phillipse en Robertse skielik mense van aansien geword het. Daar was vir elke man wat sy kop reg gebruik glo ’n fortuin te make.

John en Zeits het twee nagte om gepraat. Zeits se kennis van die goudvelde het hom beïndruk. Hy was verbaas toe Zeits hom bereid verklaar om hom as ’n vennoot in te neem. Zeits het geweet te vertel dat hy self reeds ’n gerespekteerde en gevestigde Johannesburger is. Om ’n vennootskap met hom te sluit, is die soort geleentheid waaroor mens maar net droom.

Die bedrag wat John moet betaal om homself in die vennootskap in te koop is ’n kleinigheid in vergelyking met die fantastiese profyte wat op hom wag. Buitendien, die plattelandse lewe, en veral Sorgenfrei, het hom lankal begin verveel; dit is so ver van lewe en opwinding af! Hy is nou maar deur en deur ’n stedeling.

“How much, mister Digby?” herhaal Waleski sy vraag.

John kyk hom strak aan. “Tweeduisend pond. Dit sluit nie die lewende hawe en die meubels in nie, en ook nie die koets nie. Dié sal ek self nodig hê.”

Waleski fluit gemaak geskok. “Two thousand pounds! That’s a lot of money … a lot, mister Digby!”

“Dis die pronkplaas van die distrik. Maar as jy nie belangstel nie …” John mik om op te staan. Hy bid dat sy charade die regte uitwerking sal hê op die geldskieter. Dit hét ook. Waleski keer hom haastig. Verlig leun hy weer in sy stoel terug. Die man met die pankop sál koop, dit weet hy skielik. Gretig aanvaar hy nou ’n sigaar uit die sigaarhouer wat Waleski na hom uithou.

Dit is eers ná vier die middag toe hy by Larry Waleski se kantoordeur uitloop en die straat oorsteek na die Victoria.

Flip Lategan, wat vir hom die afspraak gereël het, wag op hom. John voel hoe die opwinding in hom groei. Die transaksie is beklink. Die opstel van die kaart en transport is net nog blote formaliteite. Sy gewete kwel hom toe hy aan Alisha dink, maar hy onderdruk dit gou. Dis vir haar eie beswil.

In die noorde sal hy vir hulle ’n nuwe lewe opbou. Sy sal alles hê wat haar hart begeer. Met die opstandige meisiekind, Deborah – die enigste doring in sy vlees – sal hulle wel ’n plan maak. Hy weet Alisha kwel haar soms oor Deborah se onvroulikheid. Hy sal aan haar voorstel dat hulle die dogter Switserland toe moet stuur na ’n afrondingskool. Dit behoort Alisha tevrede te stel! So redeneer John toe hy die verandatrappe van die Victoria Hotel oploop.

Sy grys oë gloei opgewonde terwyl hy aan sy en Alisha se toekoms in die noorde dink. Hy sal vanaand vrygewig wees en ’n rondte vir die manne koop. Ná sy suksesvolle onderhandeling met Waleski kan hy dit bekostig! Môre, net môre sal hy vir Alisha sê! Maar vanaand – vanaand behoort beslis aan hom en die manne van die Victoria-kroeg!

Die fortuinsoekers

Подняться наверх