Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 4
Hoofstuk 1
ОглавлениеDie voshings steier verwoed op sy agterpote. Sy voorhoewe klief die lug. Hy probeer desperaat om ontslae te raak van die ruiter wat sy wil na hare wil dwing. Die stang byt ’n oomblik lank in sy bek. Sy oë rol wild. Hy runnik rasend. Dan hoor hy die ruiter met hom praat. Haar stemtoon is gerusstellend.
Onverwags gee die ferm jong hand wat die teuels vashou die perd speling. Verward skiet hy vorentoe in ’n dawerende vaart na vryheid, onwetend dat dit reeds buite sy bereik lê.
Deborah von Albein buig laag oor die perd se nek waarop die salpetervlekke nou kollerig begin uitslaan. Sy weet sy het gewen. Sy weet sy het die vurige dier onderwerp aan háár wil. Sy haat die woord “inbreek”. Die stuwing van sy spiere tussen haar bene maak haar onverklaarbaar opgewonde. Haar rinkelende lag klink op bo die gedawer van die voshings se hoewe. Ruiter en perd word een in hulle vaart om en om die perdekamp. Hulle spoed skeur die wind, wat weerwraak neem deur die jong meisie se hare los te ruk sodat dit vlasblond om haar gesig en skouers wolk.
Deborah se mond is na aan die hings se platgetrekte ore.
“Vinniger! Vinniger!” por sy hom aan.
Nog twee maal om die perdekamp. Die jong vrou dryf hom aan met druk van knie en dy. Die dier se breë bors hyg. Hy raak vaagweg bewus van ander stemme wat aanmoediging skreeu. Dan voel hy die ligte pluk van die stang in sy bek, en hy weet verlig sy hellevaart is vir eers oor.
Deborah bring die hings geleidelik tot stilstand. Sy spring af en streel oor die moeë, geboë nek. Sy lig sy kop op en kyk hom vas in sy bloedbelope oë. In dié oomblikke van oogkontak word ’n hegte band gesmee tussen perd en ruiter. Hy laat haar gelate toe om die teuels oor sy kop te swaai. Sy lei hom na die houtreling, waar twee ander mense wag.
April Sardyn, die stalkneg van Sorgenfrei, klouter flink deur die tralies om die nuwe perd te gaan koudlei.
Heinrich von Albein kom orent waar hy langs April teen die hek geleun het. Daar is ’n onmiskenbare uitdrukking van trots op sy gesig. Hy wag vir sy dogter wat nog met hul getroue ou perdeman staan en praat.
Daar is min jong kêrels in die hele kontrei van Graaff-Reinet wat hulle sit só op ’n perd kan sit, en dit boonop op dié vurige voshings! Is dít dalk die rede waarom Deborah so min trek het vir die klompie vryers wat deurentyd rede soek om te kom kuier? Maar dan was sy dogter van meet af aan van ’n ander stoffasie gemaak as hulle.
Heinrich onthou nog die nag van haar geboorte soos gister. ’n Helder ster het dié nag verskiet. Van die bruin mense het dit as ’n voorteken gesien en voorspellings gemaak oor die kind se toekoms. Hy het daaroor gelag.
Heinrich het haar grootgemaak om die grond lief te hê. Sy meisiekind met die vlasblonde hare en donker Von Albein-oë het hom nie teleurgestel nie. Haar liefde vir Sorgenfrei word net deur sy eie geëwenaar.
Deborah was ’n nuuskierige, leergierige kind. Dit het almal wat met haar onderrig belas was plesier verskaf. Haar goewernantes was dit almal roerend eens dat sy verstandelik ’n buitengewoon begaafde meisie is. Heinrich het hulle opdrag gegee om haar nie net Latyn, Frans en Duits te leer nie, maar ook algebra en meetkunde. Hy het haar self later leer boekhou, en was opnuut verras deur die kind se logika en vinnige begripsvermoë.
Deborah het beslis ’n sakebrein. Met haar vernuf sal sy nie vir een van die boere in die kontrei hoef terug te staan wanneer hy die dag nie meer daar is nie.
Heinrich het Alisha se teregwysings dat hy hulle dogter mannetjiesagtig opvoed, tog ter harte geneem. Daarom het hy sy vrou selfs gesteun in haar pogings om die soms onwillige Deborah te skool in etiketreëls en die sosiale verfyndhede wat so eie aan Alisha is.
Alisha is ’n uitmuntende pianis en het Deborah ook klavierlesse gegee, maar tot haar spyt het die kind geen trek gehad vir elegante salonmusiek nie. Die kind se lenige, jong hande wou veel eerder die drif van ’n Beethoven, uiters onvroulik volgens Alisha, verklank. Sy moes later maar kopgee en aanvaar dat Deborah nie haar musieksmaak deel nie.
Heinrich maak die hek oop vir sy dogter. Die wind en opwinding het ’n blos op haar gesig gelaat. Haar donker oë skitter van genot toe haar pa haar styf teen hom vasdruk. Sy lag.
“Vanjaar trap ek en dié vosperd almal op die skou uit! Dis darem ’n vurige dier, Pa! April dink ons moet hom met Fleur laat paar.”
“Jy’t voorwaar knap gedoen, my meisiekind!” Hy vee die weerbarstige hare weg uit haar gesig en glimlag tergend. “Ek weet nou nie of jy dit so beplan het nie, Deborah, maar jy’t my al weer omgerokkel …”
“Wat meen Pa?”
“Die hings is joune.”
“Pa! Bedoel Pa dit?”
Hy knik geamuseer. Haar berekende onskuld is tog so bekoorlik. Hy is oortuig dat sy met opset die perd voor hom ingebreek het omdat sy gewéét het haar vertoning sou die deurslag gee. Hy hou egter sy gedagtes vir homself en verlustig hom in sy dogter se reaksie.
Deborah slaan haar arms om sy nek en gee hom ’n klapsoen. “Dankie, liefste Pappa! Ek gaan hom Vlam noem!”
Heinrich haak by sy dogter in. Sy is al amper so lank soos hy.
“As jy só aangaan, neem jy ál my pronkperde af!”
Sy kind se helder lag laat sy hart warm klop.
Hulle begin koers kry met die skaduryke akkerlaan langs na die opstal wat nou met sy gewels rosig gebaai in die laatmiddagson staan. Die reusagtige akkerbome ets fyn kantpatroontjies teen die afgewitte mure wat geslagte gelede deur Heinrich se voorvader gebou is toe hy hom as pionier op Sorgenfrei kom vestig het.
Dis aan daardie versiende eerste Heinrich te danke dat Sorgenfrei, in teenstelling met so baie van die ander plase in die kontrei, selfs in die dorste tye groen bly. Hy het die bergfontein se water laat opdam in die natuurlike holte wat laer af links van die opstal lê. Daardie dam is nou, tagtig jaar later, omring deur reuse-treurwilgers, Deborah se geliefkoosde wegkruipplek.
Op die voorstoep se trappe verskyn Ma-Fytjie, gewigtig, monumentaal. Met Ma-Fytjie se koms negentien jaar gelede, is daar onmiddellik nuwe reëls neergelê in die huis waar die seur straks te lank ’n vrygesel was. Van die eerste oomblik wat Fya Fortuin die leisels oorgeneem het, het al die plaaswerkers – van die oudste tot die jongste – haar met ontsag behandel. Die heilige respek het stellig ook iets te doen gehad met die dik voorarm, wat sy soms saam met haar bytende tong ingespan het.
Pa en dogter merk dat Ma-Fytjie haar hande uiters ontevrede op haar massiewe heupe sit toe sy hulle sien aankom. Deborah grinnik ondeund vir haar pa. “Vanaand gaan ek dit weer hotagter kry omdat ek nie my kappie ophet nie.”
Die ligroos moeselien-middagtabberd met sy hoë hals en kantversierde beffie wat Ma-Fytjie reeds uitgehang het, geval Deborah bitter min. Sy vind die pofmou, volgens haar ma nou uiters modieus, warm en ongemaklik en die boeseltjie agter verspot en hinderlik. Maar vanaand laat sy nie haar afkeer blyk nie. Sy weet sy moet fyn trap wanneer Ma-Fytjie op die oorlogspad is. Sy verduur dus ook maar die tonggeseling met ’n ongewone gelatenheid. Bedees giet sy die laventel-gegeurde waswater uit die porseleinlampetbeker in die waskom en begin was. Ma-Fytjie se breë gesig tril van verontwaardiging toe sy die handdoek gereed hou vir haar grootmaaknooientjie.
“Soos ’n wille filistyn, dié het jy geword!”
Sy begin die meisie afdroog voordat sy haar satyngladde vel besprinkel met ’n mengsel van vollersaarde en koeksoda – enige sweempie sweet se moses. Die ou vrou stoom voort en die poeier waas op voor haar kastydende asem. “Kerjakker nou mos van hoenderkraai op die perde rond!”
“Was net vanmiddag …” probeer Deborah protesteer, maar Ma-Fytjie boender haar op die stoel neer sodat sy die kardoesbroek met sy oormaat valletjies vir Deborah kan aantrek.
“Ek het amper my ou oë uit geskaam toe ons hier van die stoep vir jou sien …” Sy trek Deborah orent en begin die bostuk se reeds ingerygde toutjies vastrek. Wat die ou vrou nooit aan Deborah sal beken nie, is dat sy onbybels trots is op die slanke, grasieuse postuur van haar versie, soos sy Deborah soms noem. Die kind is nou maar eenmaal goed geskape, al is sy so hoog op die bene, dink sy selfvoldaan terwyl sy die lussies vastrek en die belynde kloklynonderrok waaraan die boeseltjie se kussinkie vasgeheg is, optel. Sy glip dit oor Deborah se middel en draai haar om om dit vas te maak.
Deborah sien haar eie beeld in die spieël van die ornate Victoriaanse rooshouthangkas. Sy lyk vir haar soos ’n veerpoothoender in dié onderrok met die valletjies-kardoesbroek wat onder uitsteek. Sy glimlag en trek vlugtig vir haarself skewebek in die spieël. Ma-Fytjie lig die tabberd van die klereskouertjie af en sien dit gelukkig nie raak nie. Haar bekwame hande begin die rye lussies en knopies flink vasmaak. Hulle wedywer met Ma-Fytjie se mond wat nog nie ontslae is van al die opgekropte stoom nie.
“Maar my hande wou ek saamslaan in skandigheid toe jy nou weer soos ’n regte poerakind wydsbeen op die perd sit – en dit voor die werkers! Geen gedagtetjie aan jou-se-mamma nie! Vir wat kan jy nie meer soos nooientjie Lishatjie wees nie?”
Sy druk Deborah op die boudoir-stoeltjie voor die spieëlkas neer en begin haar hare met lang hale borsel. Dan swiep sy dit behendig op en heg dit met kammetjies vas. Sy borsel die haremassa wat los van die kroontjie af hang tot dit soos silwer sy glim in die lig van die koperlamp. Uiteindelik is sy tevrede met haar handewerk. Haar versie is getooi vir aandete.
In die lig van die blink lamp skyn die meisie se oë soos twee donker sterre. Die sagte, vol mond lyk weerloos jonk. Ma-Fytjie vermurwe. Dis háár mooinooi! Weliswaar ’n wille vulletjie, dit kan g’n mens ontken nie, maar dis seker maar die Von Albein-bloed wat so deurslaan. Sy’s altevol net soos meester Heinrich. Maar laat dit wees soos dit wil, Deborah is en bly die vetkant van Fya Fortuin se hart.
Alisha von Albein se slanke hande lê ’n oomblik ledig op haar borduurwerk. Sy kyk peinsend na haar man en dogter. Hulle koppe is na aan mekaar gebuig waar hulle konsentreer op hulle skaakspel.
Alisha het van Ma-Fytjie verneem dat Heinrich Deborah weer toegelaat het om ’n hings in te breek. ’n Effense frons ontsier haar gladde voorkop. Lief soos sy haar kind het, is sy raadop met haar ontembare geesdrif. Daar sal ’n plan gemaak moet word om die kind te verfyn. Miskien ’n afrondingskool in Europa? Sy self was ’n jaar in Switserland saam met haar moeder, kort voor sy Heinrich agtien jaar gelede ontmoet het. Maar sy laat dié idee met ’n sug vaar. Heinrich sal sy lieflingskind nooit so lank van hom af laat weggaan nie. Miskien moet sy maar weer met Heinrich mooipraat.
Heinrich kyk op. Sy gesig verteder. In die lig van die koperkandelare lyk Alisha in haar liggeel organdierok nie veel ouer as die dag toe hy haar hierheen gebring het nie.
“Ons verwaarloos vir Mamma!” Hy kom orent en loop oudergewoonte oor na die okkerneuthoutbuffet waarop die kristalkraffie met Alisha se geliefkoosde port staan. Hy skink vir hul albei ’n glasie en sit die glasies op die tafeltjie langs haar neer. Sy glimlag vir hom. Hy buig en lig haar hand na sy mond toe op. Sy lippe streel oor haar vingertoppe.
Deborah is gewoond aan die liefdesgebaartjies tussen haar ouers en slaan min ag daarop. Sy gaan sit in haar pa se leunstoel en tel die Herald op wat sy vroeër gelees het. Haar oë glip vinnig oor die hoofopskrif:
FERREIRA’S CAMP TO BE NAMED JOHANNESBURG
GOLD RUSH TO WITWATERSRAND
Terwyl sy lees, oorreed Heinrich sy vrou om vir hulle klavier te speel. Alisha gaan sit by die instrument, en sagte, weemoedige klanke klink op uit die vleuelklavier wat hy vir haar uit Duitsland laat kom het.
Deborah is skaars bewus van die musiek wat die kamer vul. Die berig in die koerant fassineer haar. Mense stroom in hul tienduisende na die nuwe goudvelde … goudvelde veel ryker as dié wat in die Oos-Transvaal ontdek is. President Kruger het ’n dorp laat proklameer … sy wonder na watter Johannes dit vernoem is.
Sy lees voort en wonder waarom mense agter goud aanstroom na ’n onherbergsame gehuggie waar daar glo skaars enige water is.
Later die aand, ná Ma-Fytjie haar vir die nag geskik het, lê Deborah nog na die flikkerende kerspit en kyk. Half aan die slaap dink sy weer aan die plek met die naam Johannesburg. Sy probeer haar dit inbeeld: ’n dorpie tussen kliprantjies met te veel mense. ’n Barre vlakte waarop wit tente oral paddastoel.
Maar uiteindelik is dit Vlam wat haar gedagtes oorheers. Net môre sal sy die belangrike gebeurtenis in haar dagboek aanteken: Op die 16de September 1886 het Pa vir my Vlam present gegee … Sy raak aan die slaap met ’n glimlag om haar mooi, jong mond.