Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 5
Hoofstuk 2
ОглавлениеKurt Gottfried Mannheim se leeuekop buig oor die brief uit die dekaanskantoor van die universiteit van Oxford wat hy pas ontvang en gelees het. Met misnoeë op sy gesig soek hy na die datumstempel. 30 Junie 1887. Dit het meer as vier maande geneem om Johannesburg te bereik.
Die enkele vel deel Kurt beleef mee dat sy seun, Karl Mannheim, versoek is om die universiteit vanweë onbetaamlike gedrag te verlaat.
Geskors! Vernedering en woede brand in Kurt se bors. Hoeveel keer in die verlede moes hy nie al sy seun se kastaiings uit die vuur krap nie?
Hy kom orent agter die olmhoutlessenaar wat onvanpas lyk in die byna Spartaans gemeubileerde sinkkantoortjie van Mannheim Enterprises. Sy skouers is geboë. Ingedagte kies hy koers na die deur wat uitloop op ’n smal veranda.
Met oë wat weinig waarneem, betrag hy die myners wat ’n swaar ertstrollie op die blinkende ysterspoor nader sleep. Die span Zoeloes wat hy twee maande gelede in Natal gaan werf het, sing ’n eentonige beurtsang wat hy nie verstaan nie. Die sweet blink op die donker, gespierde lywe wat krom beur aan die swaar massa van die vrag gouderts.
Goud. Sy goud.
Hy het grond opgekoop lank voor die spul rowe snuf in die neus gekry het omtrent die ryk rif van die Witwatersrand.
Hy onthou die gevoel van onrus destyds. Het hy moontlik ’n oordeelsfout begaan met sy spekulasies? Was hy ’n gek om die stories te glo van die Duitse prospekteerder, Carl Lausch, wat hy in Kimberley raakgeloop het?
Drie jaar lank het die gerugte dag vir dag gewissel van blote versinsels oor towergoud tot legendes oor onontginde rykdomme wat net wag om blootgelê te word.
Kurt het ná sy gesprek met Lausch die risiko geneem en plase begin aankoop. Eers was dit Langlaagte en Rietfontein, daarna het vier ander gevolg. Grond was in daardie dae betreklik goedkoop.
Toe begin die gewag.
Die plase het gaandeweg verwaarloos. Onkruid het deur die misvloere van die verlate opstalle opgekom en saadgeskiet. Kurt se ongemak het toegeneem, nie soseer oor die geld wat hy moontlik kon verloor nie, maar omdat hy nie die moontlikheid kon verduur dat hy dalk ’n oordeelsfout begaan het nie.
Kort voor Desember het hy in sy kantoor in Kimberley gehoor van ’n suksesvolle nuwe jong geoloog, George Harris. Hy het Harris dadelik laat opspoor en hom oorgehaal om op die Mannheim-grond te kom prospekteer.
Skaars ’n maand later kom Harris opgewonde by Kurt aan met bonkige mineraalmonsters, ruimskoots gestreep met die edelerts. Lausch se teorie is bevestig! Die gouderts op Kurt se plaas, Langlaagte, was van ’n ongeëwenaarde ryk gehalte. Die geheime rykdom van die Witwatersrand is ontdek.
Kurt was tevrede. Sy Midas-instink het hom vir die soveelste keer nie in die steek gelaat nie. Van jongs af het hy in die ruwe skool van oorlewing waarin hy gebore is, geleer dat oordeelsfoute ’n luukse is wat hy hom nie kan veroorloof nie. Daarom is hy wat hy vandag is: ’n baie ryk man.
Afgesien van sy belang in sy goudmyne, is daar die Mannheim Enterprises-aandele in die Krupp-wapenfabriek in Duitsland, wat tans deur die Bank van Berlyn vir hom behartig word. En verder is daar die florerende klerefabriek in Aachen.
Kurt frons. Hy oorweeg dit in hierdie stadium sterk om die fabriek te verkoop. Kort gelede het hy juis ’n goeie aanbod daarvoor ontvang. Aachen is ’n gedeelte van sy verlede wat hy wil toesluit soos mens ’n grafkelder toesluit ná jy iemand daarin weggelê het. Dit was daar waar hy sy eerste fortuin gemaak het.
Dit is ook daar waar Kurt, gebore Kurt Gottfried Götz, sy vrou, die aristokratiese Jutta Mannheim, ontmoet het en die naam Mannheim aangeneem het nadat hulle getroud is.
Vir Jutta se verarmde vader was die voortbestaan van die familienaam baie belangrik en hy het Kurt versoek om die naam aan te neem aangesien hy self geen seuns gehad het nie. Vir Kurt was dit eintlik om ’t ewe. Wat het die naam Götz in elk geval met hom te make? Dis aan hom gegee deur die priester wat hom as vondelingseuntjie op die kerktrappe gevind het. Maar finansieel gesproke het die naam Mannheim vir hom geluk gebring. Dit het deure oopgemaak.
Sy privaat lewe, daarenteen, het ’n nagmerrie geword. Die hooghartige Jutta het hom nooit laat vergeet dat sy benede haar stand getrou het nie, en dit boonop met ’n parvenu wat sy geld gebruik het om vir hom ’n naam te koop. Hy is bolangs aanvaar in die Mannheims se sosiale kringe, maar Kurt het geweet daar word agter sy rug met hom die spot gedryf.
Hy het al hoe meer afgesonder geraak, en hom daarom met hernude dryfkrag beywer vir die familieonderneming, die klerefabriek. Die fabriek in Aachen het spoedig dividende begin afwerp en Kurt het die omset drievoudig vermeerder. Sy eie fortuin wat hy daarin belê het, het verdubbel. Ten spyte van sy finansiële welvaart het die ongelukkige Kurt gedurende daardie jare gevoel asof hy die eensaamste mens op aarde is.
In ’n doelbewuste poging om te ontsnap aan die pynlike gedagtes aan die verlede, haal hy sy goue sakhorlosie uit die sysak van sy grys onderbaadjie. Die nagskofwerkers sal aanstons begin aantou uit die sinkkampongs wat hy laer af vir hulle opgerig het.
Maar Kurt slaag nie daarin om hom van sy gedagtes aan die verlede te bevry nie. Die gesig van Jutta met haar vlasblonde hare en gesonke, donkerblou oë brand vir ’n kort oomblik agter sy ooglede. Hy het haar tog op sy eie manier liefgehad. Dit was sy ondergang.
Of sy ooit ’n greintjie van ’n soortgelyke gevoel vir hom gekoester het, is te betwyfel. Hy glo dat hy vir haar bloot as ’n soort verskaffer aanvaarbaar was, die een wat haar in weelde moes hou om te vergoed vir die vernedering wat sy moes verduur deur haar bed met iemand so ver benede haar stand te moet deel.
Niks uit sy vroeëre ongelukkige huweliksjare het egter opgeweeg teen die hel wat op hom gewag het ná hul dogtertjie, Lizel, se dood nie. Jutta het hóm daarvoor blameer, en hy is deur sy eie selfverwyt verteer. Die toiingrige oorblyfsels van hul reeds voddige huwelik het toe finaal uitmekaargerafel.
Kurt het dit oorweeg om Jutta te verlaat, maar hy het nie. Sy was toe reeds ’n baie siek vrou. Later, toe sy vir Karl ’n gevaar geword het, het haar dokters hom selfs aangeraai om haar permanent in ’n inrigting te laat opneem. Vir Kurt was dit egter nie moontlik nie. Hy het Karl weggestuur na sy grootmoeder en tantes, en Jutta met die hulp van hul getroue bediendes bygestaan en verduur tot die dag van haar dood.
Waarom dink hy vandag so baie aan haar, verwyt hy homself. Dan besef hy dit gaan om sy huidige kwelling: hul seun, Karl.
Ja, Karl … Karl was van die begin af Jutta se kind, dink hy, nie net in voorkoms nie, maar ook wat sy wispelturige geaardheid betref.
Vrees omklem Kurt se hart by die gedagte aan Jutta kort voor haar dood – dit was afstootlik! Hy onderdruk die folterende herinnering.
Karl is sý seun ook! Hy, Kurt Götz, nou Mannheim, is waarskynlik die kind van ’n hawewerker en ’n dokhoer, maar in sy are vloei daar sterk, gesonde bloed. Op daardie bloedband het Karl ook aanspraak. Wat met Jutta gebeur het, sal nie noodwendig Karl se lot wees nie. Sy was swak en geestelik ongebalanseerd ná Lizel se dood. Hy sal sorg dat dit nooit met Karl gebeur nie. As hy net die jong man se pierewaaierstreke uit hom uit kan moker … Hy sal vinnig ’n plan moet maak om sy seun tot sy sinne te dwing; om van hom ’n man te maak! Maar hoe dring ’n mens deur tot ’n jong man met wie jy nooit enige aanknopingspunte gehad het nie? Hy en Karl is net sulke vreemdelinge vir mekaar as wat hy en Jutta was.
Die felheid van die laatmiddagson laat Kurt sy oë op skrefies trek. Sy prominente wenkbroue bondel soos donker ruspes saam. Hy sien die lig glim op die water van die myndam wat hy ses maande gelede laat bou het. In die skadu van die massiewe damwal staan ’n vervalle hartbeeshuisie. Dit was die oorspronklike plaasopstal, maar nou het dit ’n vesting vir rot en vlermuis geword. Hy sal dit seker die een of ander tyd moet laat sloop. Maar die rif loop oos, dus is dit nou nog nie ’n noodsaaklikheid nie. Die meeste van sy myne brei na die suide toe uit.
Hy draai om en keer terug na die donker kantoor. ’n Dinamietontploffing laat die vensterrame ratel. Kurt glimlag stroef. Nuwe gange; plofstof wat die aardkors se skoot oopruk sodat sy haar ryk erts kan blootlê vir sy myners. Dis asof die bekende donderende klapslag sy somber gedagtegang verhelder, asof sy denke weer koers kry.
Toe hy weer agter sy lessenaar inskuif, het Kurt sy plan van aksie agtermekaar. Hy sal Karl laat terugkom. Hy sal van hom ’n myner maak, ’n gragarbeider, as dit daarop aankom! Hy sal hom inbreek en van hom ’n waardige erfgenaam maak, iemand wat eendag die leisels by hom kan oorneem.
’n Klop aan die deur onderbreek Kurt se gemymer. Sy sekretaris, Henry Rheed, kom op sy bevel die vertrek binne. Rheed, in sy gewone swart-en-wit geruite pak, lig sy bolhoedjie en buig beleef.
“Ek was weer by Malloy, meneer Mannheim. Ek het my bes gedoen om hom om te praat, maar dit spyt my, hy wil steeds nie die grond naby Onderkopjes verkoop nie.”
“Selfs nie ná ek my aanbod verhoog het nie?”
Rheed knik. “Hy sê u het genoeg grond, hy sal hou wat syne is en basta met u omkopery.” Die sekretaris trap ongemaklik van een voet na die ander. “Dit was sy presiese woorde, meneer Mannheim,” voeg hy verskonend by.
Kurt se gesig, bedrieglik uitdrukkingloos, verraai nie sy ergerlikheid nie. Wie de duiwel dink die vent is hy? ’n Ierse turftrapper van nêrens! Weliswaar eienaar van ’n paar drinkershole waar los vroue rondhang, maar ’n nikswerd opdrifsel wat hom wil dwarsboom. Hoe durf hy kragte meet met hom, Kurt Mannheim! Hy kyk Rheed koel aan.
“So, die Ier probeer ’n kans vat,” sê hy. “Dink jy hy’t hoop om op dié manier nog meer geld vir die stuk grond in te palm?”
Rheed skud sy kop ongemaklik. Die Ier, Kit Malloy, met wie hy vanmiddag probeer onderhandel het, is die soort man wat mens selde op die delwerye raakloop. Daar doen baie gerugte oor hom die ronde, onder meer dat dié geheimsinnige kêrel glo in Indië die rang van kaptein in die Britse leër beklee het, maar dat ’n skandaal sy loopbaan verongeluk het. Wat Rheed stellig weet is dat Malloy as sakeman met rasse skrede vooruitgaan.
“Ek is jammer, maar ek twyfel of dit om geld gaan, meneer Mannheim. Hy het my uitdruklik versoek om aan u te sê dat dit die derde keer is dat u hom om sy grond vra, en sy antwoord is vir die derde en finale keer nee.”
Kurt sit ’n rukkie ingedagte voordat hy orent kom. “Ons sal sien,” sê hy en loop na die kapstok waar hy sy hoed afhaal. Die ruie wenkbroue is weer in ’n onweersfrons saamgetrek. “Sy tipe het altyd ’n prys.”