Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 12
Hoofstuk 9
ОглавлениеMet die aanvang van die herfs word Sorgenfrei se lewende hawe opgeveil. Die kleiner meubelstukke, waaraan kaartjies geheg is, is op die voorstoep uitgedra en die porselein, die kosbare silwerware en die huisornamente is op tafels onder die akkerbome uitgestal. Die vendusie-bedrywighede is al sedert die eerste daglig aan die gang, en dit raak elkeen op Sorgenfrei anders.
Vir April Sardyn wat sy pronkperde na die opslaankamp by die huis moet uitkeer, is dit asof die oordeelsdag aangebreek het. Van waar hy staan kan hy sien hoe Saar, tweede in bevel naas Ma-Fytjie, tee aandra na die dorpenaars wat peuter met al nooi Lisha se mooi goeters wat uitgestal is. Links van hom ginnegaap Toefie met twee van die vendusiehelpers; April verlustig hom in die wete dat Hans-Kaap haar vanaand goed sal bykom daaroor.
Hans-Kaap en Toefie is bereid om aan te bly, bereid om te werk vir die uitlandse man met sy kaalkop wat nou daar oorkant praat met seur John. Hy wat April is, sal nie vir hom werk nie. Nooit ooit nie. Hy en Ma-Fytjie sal saamgaan Johannesburg toe – waar die duiwelse plek ook al is.
Klein-Toefie staan haar lintgetooide varkstertjies en spieël in die silwer weerkaatsing van die koffiepot. Ma-Fytjie klop haar op die kop.
“Sie jy ophou, meisiekind! Ydelheid is die ou duiwel se neusring!” sis sy. “Weg is jy!” en sy gee die kind ’n stampie. “Loop sê tant Saar moet nog toebrode bring. Hier is meer mense as met die dorpsnagmaal! Ongeleerde goed!”
Fya sien die afslaer en sy assistente op die stoep verskyn. Die vendusie sal aanstons begin, dink sy met ’n seer hart. Haar ou oë soek tussen die mense na haar geliefde nooientjie Lisha. Sy sien haar nie, maar wel vir Deborah wat bleek en uitdrukkingloos eenkant staan en kyk na die dorpenaars wat hulle erfstukke betas en dit luidkeels onder mekaar bespreek.
Ma-Fytjie stoomroller vir haar ’n pad na Deborah toe oop. “Jy moet jou mammie hier wegkry. Sy sal sweerlik doodgaan van die seer,” sê sy onderlangs.
Ek ook, dink Deborah. Of miskien is ek al klaar dood. Wat bly oor nadat hierdie spul hiënas Sorgenfrei gestroop het van alles? Maar sy noem dit nie aan Ma-Fytjie nie; sy knik net en draai weg om haar ma te gaan soek.
Sy vind Alisha in die roostuin, van waar sy die malende vendusiegangers wat oral saamdrom om haar besittings dophou. Deborah haak haar arm deur dié van haar ma.
“Kom, Mamma,” sê sy saggies. “Kom saam met my.”
Maar Alisha bly vasgenael staan. Toe sy praat, is dit asof haar lippe skaars roer. “Alles wat ons het … Kyk hoe is dit oopgevlek voor almal …”
“Laat ons hulle nie boonop die voorreg gee om hulle te verlustig in ons seerkry nie, Ma. Komaan!”
Beslis draai sy haar ma om, maar nie voordat die vendusieklok se skel klank van die stoep af opklink nie. Deborah voel ’n rukbeweging in haar moeder se lyf, maar Alisha draai nie om nie. Sy kyk ook nie weer terug nie, selfs nie eens toe hulle die afslaer ver weg die kristalbak wat Alisha as trougeskenk van die Kaapse goewerneur ontvang het, vir die omstanders hoor aanprys nie.
Deborah lei haar ma oor die welige kweek na haar eie wegkruipplek by die ou dam, verskuil onder die takke van die kaalwordende wilgerbome. Daar laat sy haar op een van die omgevalle boomstompe sit. Die stilte hang swaar tussen moeder en dogter. Ná die dag toe Deborah op die dorp by Willemse en Waleski was – ’n besoek waarvan Alisha nooit sal weet nie – het hulle maar min met mekaar gepraat.
Noudat sy na die verwese maar tog nog trotse gesig van haar ma kyk en die hartseer spore opmerk wat die afgelope maande nagelaat het, voel sy skuldig. Sou haar pa nie van haar verwag het om ten spyte van wat haar ma in haar swakheid toegelaat het, meer vergewensgesind te wees nie, meer beskermend teenoor die mens wat hy so liefgehad het? Die wrokkigheid knoop weer saam toe sy aan hom dink. As haar pa nog geleef het, sou dit wat vandag plaasvind, nooit gebeur het nie. Sy onderdruk haar gedagtes en probeer ongemaklik ’n gesprek aanknoop met haar ma.
“Ma … ek is jammer. Ek bedoel, ek was oorstuur die laaste ruk.”
Alisha sit lank in stilte voor sy praat. “Jy het rede daartoe gehad.” Sy dwing haar trane met moeite terug en probeer die gesprek verander. “Johannesburg is so ver, maar miskien, as ons eers daar is … John sê hy het reeds goeie kennisse daar … die vooruitsigte, sê hy, is glo baie goed.”
Deborah wil nie meer hoor nie. Sy staan op, loop ’n entjie weg en tel ’n klip op wat sy driftig in die dam slinger. Sy kyk hoe die rimpelinge wyer en wyer uitkring op die oppervlakte.
Alisha besef dadelik dat sy ’n fout gemaak deur John se naam te noem. Sy roep saggies na Deborah, maar kry geen antwoord nie.
Alisha gaan staan langs haar dogter. Al twee se oë rus op die silwer oppervlakte van die dam. Net die kwetterende voëls in die wilgers onderbreek die stilte. Uiteindelik is dit Alisha wat eerste praat.
“As jy nie wil nie, hoef jy nie saam te gaan nie.” Sy kies haar woorde nou versigtiger. “Ek het met Oudominee gepraat. Hy sal vir jou losies reël op die dorp. Die skool het glo iemand soos jy nodig …”
Al wat op haar woorde volg is ’n bot stilte. Dit maak haar nog senuweeagtiger. Sy probeer verduidelik.
“Jy hou nie van John nie en niemand kan jou seker verkwalik nie. Jy hou ook nie van die idee om Johannesburg toe te gaan nie. Daarom het ek gedink –”
“Hou Má van die idee van daardie godverlate plek!”
Alisha antwoord nie, want sy het geen antwoord nie. Sy draai weg en kyk na die bleshoendertjies wat rustig in V-formasie op die watervlak seil.
“Ma, laat ons op die dorp agterbly. Ek sal vir ons sorg.”
Alisha se blik bly steeds gerig op die bleshoendertjies. Hoe sal sy haar kind antwoord? Hoe verduidelik sy iets wat sy self nie eens kan verstaan nie? Hierdie totale verslaafdheid van een mens aan ’n ander? Buitendien, sy en John is nou deur die nuwe lewe in haar skoot onafskeidbaar aan mekaar gebonde.
In die gestroopte voorkamer staan Klein-Toefie, vinger in die mond, en kyk na die vreemde bruin mense van die dorp wat die staanhorlosie van oorle-seur Von Albein, seur Heinrich se grootoupa, begin uitdra.
Die kind gaan loer by die venster deur die kantgordyne. Sy sien die afslaer wat met sy rug na haar gekeer staan. Hy praat so vinnig soos ’n woer-woer-orreltjie. “Toegeslaan op meneer O’Brian. ’n Uitstekende kopie, as ek so mag sê …”
Sy sien hoe hy die twee manne met die horlosie nader wink. “Ja, bring nader! Versigtig!”
Die manne sit die horlosie langs hom neer.
“Dames en here, u sal toegee dat wat u vandag hier sien, nie aldag in ons distrik onder die hamer kom nie. Hier het ons ’n pragstuk uit Duitsland, reeds ’n eeu en ’n half in die familie se besit. Let op die delikate houtsneewerk van die figuurtjies om die gesig van die horlosie. En dit is suiwer vier-en-twintig karaat goud wat u hier sien in die inlegwerk, ’n meesterstuk, voorwaar goed genoeg vir ’n prins! Aha, ja, daar sien ek ’n hand! Weer meneer Waleski. Gee my ’n bod vir hierdie pronkstuk …”
“Waar is mevrou, Klein-Toefie?” Klein-Toefie wip van skrik toe John skielik agter haar praat. Hy lag vir die oorlamse kind. Maar Klein-Toefie laat nie op haar wag nie; sy beloon hom dadelik met ’n hupse buiginkie.
“Nie hier nie, seur John. Sy en nooientjie Deborah het afgeloop dam toe.”
John knyp die kind se ronde wangetjie speels, en tot haar vreugde stop hy ’n muntstuk in haar hand. “Gaan roep hulle vir my, kleinding!”
Deborah kyk onbegrypend na haar ma. Alisha se vreemde dubbelsinnighede in die pas afgelope gesprek maak vir haar min sin. Bokant hulle in die wilgerboom begin ’n bronstige bosduif ’n paringslied koer.
“Ek verstaan nie mooi wat Ma probeer sê nie.”
’n Stadige blos versprei oor Alisha se bleek wange. Sy slaan haar oë neer en trek haar asem in voor sy uiteindelik weer probeer. “Dis ’n geval van …”
“Wát?”
Die bosduif se gekoer weergalm in Deborah se ore. Of is dit die bloed wat deur haar brein stu wat sy hoor? Alisha kyk stadig na haar en knik dan haar kop. “Ek is swanger. Ek verwag ’n baba – my en John se kindjie.”
Die skok verlam Deborah en dreineer alle kleur uit haar gesig. Dis asof iemand ’n emmer koue water in haar gesig gegooi het. Sy is vaagweg bewus dat die ellendige duif sy gekoer gestaak het. Hy het seker sy sin gekry met die wyfie. Stadig herwin sy haar sinne, en sy kry dit reg om te praat.
“Pa – Pa het eenkeer lank terug gesê Ma mag nooit weer kinders hê nie. Onthou Ma nie? Hy’t gesê dat dit Ma se dood sal beteken.”
“Liefste Heinrich was altyd oorbesorg oor my, Deborah.” Alisha sug. “Ek sou graag nog kinders wou hê.”
“Pa het omgegee vir Ma! Dis nie soos hierdie …” Sy byt die woorde net betyds terug. “Hoe ver is Ma? Mens kan nog niks sien nie.”
“Vyf maande,” antwoord Alisha stil. “Net Ma-Fytjie weet. En nou … ook jy.”
Deborah kyk haar ongelowig aan. “Ma bedoel Ma het hóm nog nie gesê nie! Is Ma gek? Besef Ma wat ons sal moet deurgaan op die tog Johannesburg toe?”
“Die geleentheid was nog nie daar nie. Ek sal hom sê wanneer vandag eers verby is …”
Klein-Toefie se yl stemmetjie klink ver soos sy by die damwal af hardloop. Sy kom uitasem by hulle aan.
“Seur John soek vir nooi Lisha …” Haar bruin albasterogies blink van opwinding. “Hulle is nou ampertjies klaar. Seur Waleski het ook mister Heinie se oorle grootoupa se horlosie gekoop, en ook nog die –”
Deborah haal die venynige pyn wat sy deurmaak op die kind uit en gee een van die varkstertjies ’n geniepsige pluk. “Hou jou groot mond!”
Klein-Toefie se lippies bewe en sy maak gereed vir ’n tjanksessie, maar Alisha tree tussenbeide en druk die dogtertjie se kop teen haar bors.
“Toemaar, toemaar, Klein-Toefie. Ons is maar net almal gespanne.” Sy streel oor die koppie en glimlag. “Gaan sê vir meneer John ek kom dadelik.”
Getroos knik die kind en hardloop weg, damwal op.
Deborah kyk haar ma kwaad aan. Hoe gedweë kan ’n vrou nie wees nie, nes ’n willose skaap. As dít is wat die liefde aan ’n mens doen, dan verwerp sy dit.
Alisha herken die smeulende, rebelse uitdrukking op haar dogter se gesig. Sy sug innerlik, draai om en loop na die boomstomp waar sy die wyerandhoed gelos het. Sy tel dit op en bind dit vas onder haar ken. “Kom jy saam?”
Deborah skud haar kop. Sy kyk die porseleinfyn figuur van haar ma agterna. Alisha se bekentenis skrei deur haar brein. Haar ma verwag ’n kind – ’n kind van ’n vuilgoed soos John Digby!
Eers teen vieruur die middag vertrek die laaste waens volgelaai met winskopies uit Sorgenfrei se opstal. Alisha sit stil en luister na die klank van die wegrollende wawiele. Die kamer is skemerdonker, want sy het die luike toegetrek sodat sy nie hoef te sien hoe haar meubels weggery word nie. Dié kamer se meubels is feitlik nog almal hier, want Waleski het dit gekoop, ook die hemelbed met sy gordyne van Brusselse kant waarop Deborah destyds ontvang en gebore is.
’n Gevoel van onherroeplike verlies oorweldig Alisha. Op ’n manier is haar lewe uit sy wentelbaan geruk ná Heinrich se dood. Was dit nie daarvoor nie, sou sy nie – Nee! sy onderdruk die gedagtes van verraad teenoor John ferm. Sy sal hom bystaan; sy sal hom help om ’n nuwe lewe te bou in die vreemde.
Eers ná die laaste mense weg is, kom John die vertrek binne met twee glasies sjerrie vir hulle. Die brose gestalte van sy vrou teen die kwynende lig deur die luike maak hom week. Hy sit die glasies neer en gaan kniel in vertedering by haar en probeer haar moed inpraat.
“Dis verby. Die ergste is nou verby, dit kan ek jou belowe. Wat nou voorlê is ’n wonderlike avontuur, ’n nuwe lewe vir jou en my, my skat …”
Sy antwoord nie; hy probeer maar weer.
“Die vendusie het ons ’n mooi bedrag in die sak gebring. Ek gaan dit opsy sit vir jou. Wanneer ons in Johannesburg kom, koop ek vir jou splinternuwe meubels. Net die beste en modernste.”
Alisha swyg steeds. Hoe sal sy verduidelik wat die verlies van haar antieke erfstukke vir haar beteken? Die patina wat die verloop van tyd daarop nagelaat het – juis dít is wat dit vir haar so kosbaar maak.
John streel oor die hande wat lusteloos in haar skoot lê. Hy vou hulle oop en druk hulle byna kinderlik teen sy gesig. Hy liefkoos hulle met sy lippe.
“Ek het jou lief, Alisha. Asseblief, moenie meer vir my kwaad wees nie.”
In die halflig lyk sy gesig jonk, soos dié van ’n boetvaardige seun. Haar hart trek saam van deernis. John is voortvarend, maar hy is so liefdevol. Sy kan tog nie vir ewig dít wat gebeur het teen hom hou nie. Sy lig haar hand en lê dit teen sy slaap.
“Dis soos jy gesê het, John; dis verby. Ons sal nou in geloof net vorentoe moet kyk,” sê sy saggies. En die slanke vingers streel dan vertroostend oor John Digby se ruie, donker hare.
Deborah se hand is in die grond ingegrawe asof sy haar daarmee wil vasanker in haar geboortegrond. Met haar gesig teen die aarde van Sorgenfrei gedruk, raak sy geleidelik bewus van die soelheid van die laatmiddag wat oor die landskap begin kruip. Verdwaas begin sy orent sukkel. Haar gesig is besmeer met trane en stof, maar sy is onbewus daarvan.
Sy kruip onder die wilgertakke uit om vir ’n laaste keer te kyk na dít wat sy voorheen so sorgeloos as haar geboortereg beskou het; die skoonheid daarvan is nou vir haar so ontroerend dat dit ’n knop in haar keel bring. Sy kyk weer na die Lootsberg in die verte, na die kranse wat nou in ’n rosige gloed gebaai is.
Die verkleurende wilgers, sommige reeds byna kaal, wieg soos wasige geeste oor hul weerkaatsing in die dam. Paniek oorval haar. Hoe sal sy ooit sonder hierdie stuk aarde wat sy so hartstogtelik liefhet klaarkom?
Lank staan sy daar, totdat die son agter Patryskop verdwyn en haar figuur swart teen die gloeiende landskap afgeëts is. Met die sterfte van die dag voel dit vir haar asof die kind in haar wat hier so onbesorg en gelukkig grootgeword het, saam met die laaste lig ingesluk word deur die duisternis wat nou begin toesak.
In die skemer lê Deborah von Albein ’n plegtige eed af dat sy eendag sal terugkom, dat sy eendag genoeg geld sal hê om Sorgenfrei terug te vat van die man met die vlesige rooi mond. Haar erfgrond sal sy weer haar eie maak, soos dit hoort, en niemand sal dit dan ooit weer van haar af wegneem nie!
Wanneer die donkerte die landskap finaal in eenvormigheid oorstroom, begin Deborah doelloos koers kry. Sy het nog nie die moed of die lus om terug te gaan opstal toe waar Alisha en John is nie. Alisha … met die ongebore kind van haar stiefpa in haar skoot. Sy ril. Nee, sy sal wag tot hulle in die kamer is voor sy teruggaan.
Verby die woonplekke van die werksmense lei haar voete haar. Buite die ligkring van die vure staan sy ’n rukkie na hulle en kyk. Sy sien Hans-Kaap wat op sy bekfluitjie sit en speel. Toefie wikkel haar agterstewe en tel haar rok hoog op sodat mens haar bene kan sien wat ’n jolige riel uittrap.
Hulle verloor nie vir Sorgenfrei soos sy nie. Hulle kry net ’n nuwe meester, dink sy suf. Net Ma-Fytjie en April kon nie oorreed word om aan te bly nie. Dié twee is vasbeslote om saam met die familie na Johannesburg te trek. Hoe haat sy daardie naam – Johannesburg!
Dis stikdonker toe Deborah vir oulaas stalle toe gaan om afskeid te neem van Vlam. Henk Prinsloo het hom gekoop. Sy is dankbaar dat dit hy is. Sy weet hy sal goed wees vir die dier, wat hy môre sal laat haal.
Die perd runnik sag toe hy haar eien. Sy druk haar gesig teen sy nek en soen die fluweelsagte neus. Toe sy in die groot bruin oë kyk, sien sy haar eie beeld in hulle. Sy groet hom woordeloos, want die seerkryknop in haar keel is te groot …
Die elegante voorkamer is nou leeg, behalwe vir die klavier en die staanhorlosie wat Waleski gekoop het. Daar is ook die opgestapelde koffers en kajuittrommels waarin die laaste van die Von Albein-besittings gepak is.
Deborah kyk verward in die vertrek rond. Sy sien die donker kolle teen die muurpapier waar bekende meubelstukke vir so lank as wat sy kan onthou gestaan het en die ligte vierkant op die geelhoutvloer waar die tapyt soveel jare lank gelê het.
Die nag is koud en donker buite die vensters, nou gestroop van hul gordyne. Die staanhorlosie begin hol en galmend slaan; dit laat Deborah sidder. In die oorbekende slae se eggo hoor sy nou ’n vreemde klaaglied, ’n beskuldiging vanuit haar grootvader se horlosie wat teen die opgestapelde koffers weerklink – die koffers wat juis môre op die waens gelaai sal word vir die eindelose lang tog na die noorde – die tog Johannesburg toe.