Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

Die koggelmandermannetjie blaas sy keel sissend op tot ’n persblou ballon, en dan begin hy stert omhoog om die wyfie te sirkel. Deborah, uitgestrek op die rotsplaat, hou die twee bloukopdiertjies se paringsdans geamuseer dop. Hoe kontant is die mannetjie nie! Sy wonder of sy opgeswelde pers wange hom vir die wyfie onweerstaanbaar maak, want dié stomme ding sit nou betower in roerlose afwagting na hom en staar.

Blaas-blaas nader die mannetjie haar. Haar kop begin ritmies knik, op en af, op en af, asof sy haar gewilligheid wil beklemtoon. Die mannetjie blaas nog nader. Dan lig sy haar stert. Die paar koppel met ’n verbete drif.

Terwyl Deborah na hulle kyk, word sy intens bewus van die loom hitte van die warmgebakte rotsplaat teen haar klam lyf. Dis asof haar liggaam deur die gladde warm rots geabsorbeer word, asof sy so deel word van Sorgenfrei se aarde. Sy laat haar kop op haar hande sak en vertroetel die vreemd erotiese gevoel.

Haar liefde vir haar geboortegrond is iets wat sy nie kan verwoord of selfs heeltemal verstaan nie. Dis soos om smôrens vroeg die dag te sien breek oor die skurwe kliprantjies, en om dan met verwondering te besef dat daar tog ’n God moet wees om iets so wonderlik te laat gebeur.

Deborah sou daarvan hou om een te word met hierdie onvernietigbare gesteente, om uit die rots se oeroue molekules die magiese krag en wysheid van ’n miljoen jare te trek. Sy en die aarde sou deur die onsigbare stroming die een uit die ander kan put en eendag, wanneer sy oorneem by haar pa, sal sy hierdie passie wat sy nou ervaar herroep; dit sal haar lei hoe om besluite te maak, hoe om Sorgenfrei te bestuur.

Sy lig haar kop. Die twee koggelmanders spat uitmekaar en skarrel weg.

Deborah glimlag. As Ma-Fytjie darem moet weet waaraan sy dink! Maar sy sal nooit uitvind nie, ook nie van haar kaalswemmery hier by die bergpoel nie. Die meisie draai op haar rug om na die wolke te kyk wat soos reusagtige wit fregatte oor die Lootsberg seil.

Dis te vroeg vir reën, maar die wolke lyk belowend, dink sy half lomerig. Die sonlig op haar slanke, welgeskape liggaam koester die ferm kontoere en laat die enkele waterdruppels wat nog aan haar goue skaamhare kleef, soos diamantjies skitter.

Deborah sluit haar oë. Haar gedagtes verskuif na die toekoms. Haar ma wil haar vir ’n seisoen Kaap toe neem sodat sy die “regte mense” kan ontmoet. Sy is nie juis opgekikker met die idee nie. Dit sal vir haar ’n straf wees om maande lank van die plaas af weg te moet wees, veral nou met die bou van die nuwe dam. Sy wil by wees met elke nuwe ontwikkeling.

Sy bereken die moontlike voordele wat die dam wat haar pa bou, vir Sorgenfrei sal inhou. Nie alleen sal hulle meer lusernlande kan aanlê nie, maar hulle sal ook meer perde kan aankoop, want daar sal genoeg water wees om die bergkampe te ontwikkel. Die berggrond is ideaal vir hulle tipe stoetperde.

Pappa begin belangstel in die Amerikaanse saalperde. Sy self het nie veel ooghare vir bonkige werkersperde nie, maar Pappa is reg: daar is ’n aanvraag vir hulle.

’n Kolkewertjie aan ’n grashalmpie wat in die ligte bries oorbuig trek haar aandag. Sy tik die grassie liggies sodat die insekkie op haar maag beland. Sy lig haar half orent en kyk hoe die kewertjie opwaarts oor haar bolyf kriewel. Sy hou haar hand oor haar ribbes sodat dit sy pad versper en hom dwing om oor haar vingers te klouter.

In Duitsland noem hulle die kolkewertjie ’n Marienkäfer. Pappa sê dat die liggelowiges glo dat as dié insekkie op jou land, dit vir jou geluk sal bring. Sy glimlag. Dis darem seker ’n bietjie van ’n gedwonge landing wat sy vir hierdie kewertjie bewerkstellig het. Asof die besie haar gedagtes lees, sprei hy sy helder kolvlerkies uit en spiraal die lug in.

Deborah staan teësinnig van die rots af op. Die son trek reeds water. Sy sal haastig moet aantrek en teruggaan huis toe as sy daar wil wees voor haar pa aankom. ’n Oomblik lank kyk sy begerig na die koel, rimpelende water van die poel. Sy sou wat wou gee om ’n laaste maal in te duik en die yskoue water teen haar songebakte lyf te voel, maar dan is haar hare weer nat en sal Ma-Fytjie beslis onraad merk, dink sy terwyl sy langtand haar klere bymekaarmaak en haastig begin aantrek.

Sy het die lussies agter met opset nie losgeknoop nie sodat sy net die boonstes wat sy kan bykom hoef vas te knoop. Haar hare is nog klammerig, maar dit sal op pad droog word. Sy bondel dit behendig saam en lig dit op haar kop. Vanuit haar ryjurk se sak haal sy die kammetjies waarmee sy die weerbarstige krulle probeer vaspen. Die gehate kappie wat sy nou pal op Ma-Fytjie en haar ma se aandrang moet dra, sal darem seker die spulletjie op hulle plek hou.

Vlam runnik sag toe sy meesteres hom nader en die teuels afhaak. Hy skuur sy kop liefderik teen haar aan. Deborah lag saggies en soen hom op die neus voordat sy die leisels oor sy kop swaai en haarself rats in die saal lig.

Die werkers op Sorgenfrei kom nooit hier nie, want hulle weet dis nooientjie Deborah se swemplek en hulle respekteer dit.

Vlam ken die geheime paadjie tussen die rotse en bitteraalwyne deur. Hy trippel nou die steilte af met pronkende hals. Wanneer hulle eers op die vlakte is, gaan hy en sy geliefde ruiter laat ooplê! Die opgekropte energie laat die spiere onder die dier se glimmende vel trillend saambondel.

Skielik spits Vlam sy ore. Hy het iets gehoor! ’n Vreemdeling! Hy steek agterdogtig vas.

“Wat is dit, Vlam?” Deborah streel oor die satyngladde nek. Vlam proes saggies en begin onrustig rondtrap. Dan runnik hy skielik en draai sy kop.

Deborah vind die perd se gedrag vreemd. Sy beskut haar oë teen die fel sonlig en soek in die rigting wat Vlam kyk. Dan sien sy vir Hankies, Hans-Kaap se middelkind, deur die lusernland aangestorm kom. Hy moes haar en Vlam gesien het, want hy waai wild met die arms.

’n Skielike onrus pak Deborah beet. Sy por Vlam aan met haar dye om die seun tegemoet te ry. Met bedrewe hande stuur sy die hings teen die hoogte af.

Haar ma was vanoggend ongesteld. Ma-Fytjie het daarop aangedring dat Alisha in die bed bly. Deborah voel skuldig. Miskien moes sy naby haar ma gebly het! Haar pa sou dit van haar verwag het om na sy geliefde Alisha om te sien, want hy is van ligdag tot laat besig by die damwal.

Die hings bereik die vlakte en skeur deur die aalwyne in die rigting van die lusernkamp. Met dy en knie gee Deborah saggies bevel. Met volmaakte ritmiese eenheid seil hulle oor die kamp se houtheining. Die kappie wat haar hare op hul plek moes hou, word deur die wind afgeruk.

Hankies tree net betyds uit die pad van die naderstormende Vlam wat Deborah enkele treë van hom af tot stilstand bring. Sy besef onmiddellik dat daar groot fout is.

Hankies storm nader en kry die hings aan die stang beet. Die woorde bars stotterend oor sy lippe. “Ag Heretjie, nooientjie, jy moet jaag nuwe dam toe! Is seur Heinrich!”

Deborah buig af en kry die opgeskote seun aan die skouer beet.

“Wat van hom?”

’n Kreun ontsnap die seun se lippe. Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy oë asof hy die aakligheid van die boodskap wat hy moet verhaal kan wegvee.

“Dis die damwal, nooi – die’t ingeval saam met onse seur!”

Deborah huiwer nie ’n oomblik nie. Sy pluk die stang en Vlam steier orent. Sy meesteres gooi haar vorentoe op sy nek.

“Hardloop, Vlam!” beveel sy hees, haar gesig wasbleek.

Die perd skiet vorentoe, verby die akkerrylaan, verby die ou plaasdam. In die ritmiese dawering van die hings se hoewe voel Deborah haar eie tamboerende polsslag. Pa! Haar groot, sterk pa! Niks kan met hom gebeur nie! Niks dúrf met hom gebeur nie!

Perd en ruiter nael verby die perdekampe, verby die skaapkampe waar die ooie in die winter aangehou word, maar Deborah is nouliks bewus van enigiets anders as die paniek en vrees wat soos ’n ontwakende reptiel in haar oopkrul.

In die verte sien sy die donkerbruin damwal. Sy sien die holte waar die grond moes ingetuimel het. Desperaat probeer sy bid, maar die woorde word ’n sinnelose geprewel wat die wind van haar lippe wegswiep in haar dolle vaart.

Sy herken vir Hans-Kaap, April en Karools op ’n afstand, waar hulle met koorsagtige haas die grond met skopgrawe wegwerk. Vanuit ’n ander rigting sien sy van die jonger manne met pikstele nader storm. Die natgeswete hings bereik die damwal. Deborah oorhandig woordeloos die teuels aan een van die verskrikte kinders wat rondstaan en hardloop oor na Hans-Kaap toe.

“Wat het gebeur?” Sy moet skreeu om haarself hoorbaar te maak teen die tierende wind wat skielik opgesteek het.

April, wat openlik huil, is die een wat eerste antwoord.

“Ai, mooinooi, onse seur het oor die rand geloop, wou seker maak of dit sterk genoegsaam was vir die klippe om gepak te word …” April bedek sy verrimpelde gesig met sy hande.

Die grysgeskrikte Hans-Kaap staan nader. “Ons moet vir hom probeer uitkry, nooi Deborah!” sê hy. “Ons moet hom –”

Hy kom nie verder nie. Deborah storm af op die plek waar die ander steeds met onvermoeide ywer skopgraaf ná skopgraaf grond wegskiet. Sy gryp ’n graaf uit een van die jong seuns se hande.

“Hardloop!” skree sy. “Gaan sê Ma-Fytjie moet kom met haar medisynesak.”

Die kind wil wegspring, maar sy keer hom. “Jy sê nie ’n woord vir miss Alisha nie, verstaan!”

Hy knik en skarrel weg.

Ten spyte van Hans-Kaap en April se protes, begin Deborah soos ’n besetene sy aan sy met die grawers te spit. In haar gedagtes maal ’n hulpkreet na bo. Laat hy nie dood wees nie … asseblief … asseblief, Here!

Toe die son rooi begin sak oor die voetheuwels van die Lootsbergpas sien hulle uiteindelik ’n stuk van Heinrich se baadjie uitsteek. Deborah, besmeer met grond en sweet, roep halt. Hulle sal hom verder met die hande moet uitgrawe.

Ma-Fytjie het eenkant gestaan en waghou. Haar geweeklaag val op dowe ore, want haar versie is soos ’n jong tierwyfie soos sy verwoed die grond wegwerk van haar pa af.

Uiteindelik bevry hulle Heinrich von Albein se liggaam.

Ma-Fytjie se medisynesak is duidelik nie meer nodig nie. Bloed het ’n swart, gekoekte slang gevorm van sy mondhoek tot by sy keel. Die gewig van die grond het die sterk borskas vergruis.

In afgryse kyk Deborah na die oop, starende oë waaraan grond en miere kleef. Sy kniel by hom en vee die grond van sy gesig af.

Die groep werksmense wat om pa en dogter saamdrom, kyk in bevange stilte toe hoe die jong meisie Heinrich von Albein se kop op haar skoot lig, hoe haar kragtige jong arms sy liggaam krampagtig omsluit asof sy die lewe uit haarself uit in hom wil indwing.

Uiteindelik besef sy dit is sinneloos. Sy lig haar kop en kyk met onsiende oë na die rante wat nou deur die laaste lig aangeraak word.

Hy is dood. Haar pa is dood.

Die kreet wat uit Deborah se liggaam skeur, galm oor die wye uitgestrektheid van die Karoo-landskap. Die wind dra haar smart van kloof tot krans en verder …

Sorgenfrei sal nooit weer dieselfde wees nie.

* * *

Sweet tap die koster af terwyl hy herhaaldelik die dik kloktou pluk. Ten spyte van die koel donkerte van die kerktoring slaan die November-hitte fel neer. Hy kyk op. Die massiewe klepel van die klok dawer teen die koperwand soos dit ’n requiem vir die gestorwene uitbeier. Die geluid weergalm teen die kaiingbruin kliprantjies wat Graaff-Reinet omring.

Die kontrei en dorpsmense het die klok se oproep gehoorsaam. In die stampvol kerk is alle oë gerig op die Von Albeins se twee familiebanke. Agter die twee vroue in rou sit die plaasmense van Sorgenfrei.

April kan die trane wat oor sy wange rol ten spyte van die waarskuwende kyke wat Ma-Fytjie hom telkens gee, nie terugdwing nie. Heinrich was vir April meer as ’n werkgewer; hy het hom beskou as ’n soort vader.

April se familie werk al geslagte lank op Sorgenfrei. Net soos hy, was sy pa en dié se pa voor hom ook perdemanne wat vir seur Heinrich se voorsate gewerk het, maar Heinrich en April het in hul gesamentlike liefde vir Sorgenfrei se stoetperde oor die jare heen ’n hegter band as hul voorgangers gesmee.

En toe kom nooientjie Deborah. Tot sy en Heinrich se vreugde was dit asof die kind op ’n perd gebore is, só ’n wafferse ruiter was sy! Sowat is daar in die ganse kontrei nie te vind nie, en hy en seur Heinrich het groot planne gemaak vir Sorgenfrei se perde en vir Sorgenfrei se uithalerruiter.

Maar nou … nou is seur Heinrich dood. Hy vee die trane met die agterkant van sy hand weg. Ergerlik druk Ma-Fytjie ’n sakdoek in die ou perdeman se vereelte hand. Maar sy berispe hom darem nie onderlangs soos wat hy verwag het nie.

Ma-Fytjie se ou siel is ook bitterlik ontstem. Dat seur Heinrich só moes omkom was swaar genoeg, maar wat dit aan haar geliefde nooi Lishatjie gaan doen, daaraan wil sy nie eens dink nie. Nooi Lisha was mos van meet af aan maar so tenger soos ’n katjiepieringblommetjie.

Ma-Fytjie se oë flits deurentyd van die lanfer-versluierde Alisha na Deborah; haar grootmaakkind is onnatuurlik kalm. Sy kyk na die waswit gesig waarin die meisie se donker oë soos brandende kole gloei. Ná daardie een verskriklike gil van haar, die gil wat algar se bloed laat ys het in die are, het die kind nie weer gepraat of gehuil oor haar pa nie. Onrustige gedagtes bly in Ma-Fytjie se kop maal. Dis mos nou half vir haar of die kind wil staan baklei met die Groot Baas Heretjie se eie wil.

Deborah is vaagweg bewus van Oudominee se stem wat in Hooghollands voortdreun, maar sy woorde dring nie tot haar deur nie. Haar blik rus strak op die swart rooshoutkis voor die kansel, swaar belaai met blomme uit Sorgenfrei se tuin. In haar gedagtes bly een beeld vassteek: haar pa se grondbesmeerde gesig … haar pa wat nie wou praat nie … haar pa wat nie meer asemgehaal het nie.

Die klok … Hoekom lui die klok al weer? As die ellendige kerkklok net wil ophou!

Die kroegeienaar van die Victoria Hotel sit ’n skuimende beker bier neer voor John Digby, ’n vreemdeling wat skaars ’n week gelede hier op Graaff-Reinet aangekom het. Digby haal ’n muntstuk uit sy onderbaadjiesak en oorhandig dit aan die kroegman.

’n Baldadige gelag kom vanaf die dobbeltafel waar George Smith saam met Flip Lategan en die ander steentjies gooi. Die kroegman, Sam Green, bedank Digby met sy swaar Joodse aksent.

Die galmende gelui van die doodsklok dring die kroeg binne.

“Vir wie lui hulle die klok?” vra Digby vir Sam.

“Is mister Heinrich von Albein …” Sam skud sy kop spytig. “Terrible accident … En hy was ’n goeie man, mister Digby … goeie boer ook. Sorgenfrei is die beste plaas in die kontrei.”

Sam begin die afgestorwene se voortreflikhede verder te besing, maar hy word luidkeels deur die dobbelaars gebied om nog keelnatmakertjies te bring. Hy glimlag verskonend vir John en haas hom weg om die manne te bedien.

John proe ingedagte aan sy bier en haal dan sy sakhorlosie uit; halftwaalf. Hy sit die horlosie terug en kyk rond. George Smith nooi hom luidrugtig om saam te kom speel, maar hy glimlag en skud sy kop. Hy staan op en loop na die fluweel- en kantbehangde erkervenster van waar hy ’n direkte uitsig op die straat onderkant die kroeg sal kry. Hy sal die begrafnisstoet van Heinrich von Albein hiervandaan kan dophou …

Die landauer waarin Alisha en Deborah sit, volg die lykswa teen ’n stadige pas. Die stikwarm middaguur hang dik en tameletjietaai oor die somber stoet. Nie eens die geringste bries bring verligting nie, tog dein die swart en pers volstruisvere liggies op die koppe van die swart perde wat die lykswa straataf trek.

Agter die Von Albeins volg ’n stroom van die kontrei se perdekarre, landauers, kapkarre en selfs die burgemeesterskoets. Op die sypaadjies tou swart en wit dorpenaars in eerbiedige stilte agter die stoet aan. Heinrich von Albein was bemind onder die dorpsmense. Hy was ’n man na wie jy kon gaan as jy in die nood is. Hy sou jou nooit met leë hande wegstuur nie, en uit Sorgenfrei se oorvloed is daar gereeld stilletjies kosmandjies afgelewer by behoewende gesinne.

Alisha voel duiselig. Die versengende hitte en die bedompigheid onder die digte lanfersluier laat haar voel of sy gaan flou word. Sy raak aan Deborah se arm en vra haar floutjies vir die flessie vlugsout wat Ma-Fytjie haar as voorsorg gegee het. Deborah bring die flessie vinnig te voorskyn. “Lig Mamma se sluier,” sê sy.

Alisha gehoorsaam gedweë. Deborah lig die proppie van die flessie uit en hou die botteltjie onder haar ma se neus. Die sterk reuk laat Alisha dadelik na haar asem snak. Dit het die regte uitwerking. Stadig keer die bloed weer na haar gesig terug.

“Dankie, my kind,” sê sy saggies. “As ons net deur hierdie dag kan kom …”

John Digby se fynversorgde hand laat sak die kantgordyn. Die landauer is nou buite sig, maar wat die fortuinsoeker in die kort oomblik gesien het toe die weduwee haar sluier gelig het, het sy bloed vinniger laat bruis. Hy het gesien dat die weduwee Von Albein ’n uitsonderlike mooi vrou is.

John het pas ná sy aankoms ’n paar dae gelede die doodsberig in die dorpskoerant gelees. ’n Paar frases het in sy kop bly vassteek: ’n Man van aansien … spogplaas van die kontrei … weduwee en dogter agtergelaat …

Die kerkklok begin weer te beier. Die lykswa het waarskynlik die laaste rusplek van Heinrich von Albein bereik. John glimlag effens en draai terug na die dobbeltafel. Hy voel dit aan hom dat Fortuna nou in sy rigting begin glimlag.

* * *

Twaalfuur. Die kerktoring kondig die uur aan. Deborah is op ’n eienaardige manier bewus van die felle kontras tussen lig en skadu op die wit grafstene wat die gapende reghoekige holte in die aarde in die familie-akker omring. Haar pa se graf. Vir die eerste keer besef sy die finaliteit daarvan.

Pyn klop traag met elke hartslag. Sy wonder of mens nie miskien genadiglik sal kan doodgaan van so ’n felle pyn nie.

“In Uwe Handen beveel ik zijn geest …”

Oudominee se stem dring vaagweg tot haar deur. Wie gee hóm die reg om haar pa se gees te beveel! Die opstandige gedagte flits deur haar terwyl sy kyk hoe die met silwer beslaande kis stadig neergelaat word in die graf.

Die voorsinger, Dollie Baardt, hef trekkerig die graflied aan. “Nader, mijn God, bij U …”

Dan val die res ook in. Dis asof die lied in die hitte méér tameletjie word as gewoonlik, en dis net die gehuil en snuifgeluide van die dorp se selfaangestelde roubeklaers wat die eindelose treurmare afwissel.

Deborah neem die weeklaende roubeklaers uitdrukkingloos waar: swartgeklede ou kraaie wat ruik na motballetjies, laventel en peperment … dorpstantes wat, soos hulle begrafnisklere, net lewendig word wanneer dit begrafnistyd is. Vandag is daar minstens twintig van hulle. Ja, Heinrich was ’n gesiene burger en lid van die dorpsraad. Die dominee se vrou moes hulle georganiseer het. Deborah wens sy het nie. Wat het hulle met haar pa te make?

Die weduwee Von Albein tree nader. Haar wit hand fladder soos ’n sidderende duif toe sy die roosblare oor die kis van haar man strooi. Ma-Fytjie stamp aan Deborah en hou die mandjie na haar kant toe uit.

Deborah neem meganies ’n hand vol blare, tree vorentoe en strooi hulle in die graf. Sy bly op die rand van die graf staan, haar oë vasgenael op die rou grondwande wat die kis omring. Hulle sal haar pa netnou vir altyd inkerker … grond, wat hom wéér gevange sal hou, soos toe hy gesterf het … Dit moenie so wees nie … Sy’t hom dan met haar eie hande uitgegrawe …

Alisha word weggelei deur Oudominee en sy vrou. Die ander begrafnisgangers volg hulle, dankbaar om uit die hitte te kom en gretig om weg te lê aan die begrafnisfees wat sekerlik net die beste kos en drank gaan bied.

Ma-Fytjie kyk na haar grootmaakversie, en haar vet ou gesig tril onrustig. Die kind se onnatuurlike kalmte ontstel haar. Sy loop nader en slaan haar dik arm om die meisie se dun middeltjie.

“Kom, my nooientjie. Ons moet nog deur die etery en drinkery kom, en ons sal nie laat jou mamma op ons staan en wag nie.”

Deborah knik verwese en val dan in pas in langs Ma-Fytjie. Net een maal steek sy weer vas en kyk om. Sy sien die dorp se grafgrawer met sy swart hoëbolkeil tussen die grafte te voorskyn kom. Sy weet dat die eerste kluite op die silwer-en-swart kis sal land voor sy en Ma-Fytjie die begraafplaashekkie by die sipreslaning bereik.

* * *

Die onverwagse dood van haar man het Alisha geestelik en fisiek ontredderd gelaat. Ná die lang en uitgerekte begrafnisfees op Sorgenfrei het sy ineengestort. Die dorpsdokter was uiters besorg en het beveel dat sy baie stil gehou moes word. Ma-Fytjie het onderneem om toe te sien dat die dorpsarts se bevele tot op die laaste letter uitgevoer word.

Alisha het willoos toegelaat dat Ma-Fytjie haar verpleeg. Gedurende die vier weke wat sy in die bed deurgebring het, was sy net soms vaagweg bewus van haar kommer oor Deborah, wie se strak, bleek gesig haar eie gemis en lyding weerspieël het. Deborah en haar pa was baie na aan mekaar. Sielsgenote, veral wanneer dit gekom het by hulle liefde vir Sorgenfrei.

Namate die weke verbykruip, het Alisha gemerk dat die warm Desemberson ’n goue kleur aan haar kind se gelaat gee. Ma-Fytjie het telkens waarskuwend gemor dat Deborah begin handuit ruk; dat sy sy aan sy met die plaaswerkers staan om die damwal klaar te bou; dat die kind van vroeg tot laat uit is tussen die skape. En tot Ma-Fytjie se grootste ontsteltenis het sy ook verneem dat Deborah soos ’n wafferse mannetjiesvrou op die dorp gaan staan en kibbel het tussen die mans toe sy van hulle stoetgoed verkoop het.

Alisha het alles wat Ma-Fytjie oor die weke heen gesê het, gelate aangehoor. Sy self was nie sterk genoeg om druk op Deborah uit te oefen nie; sy was nou op ’n manier afhanklik van haar eie kind. Deborah was sterk, net soos haar pa, en Alisha was dankbaar dat die meisie doelbewus die boerdery se probleme van haar af weggehou het.

Saans, wanneer Deborah se kop oor die plaas se boekhouding gebuig was en Alisha haar hartseer en eensaamheid uitgestort het in Chopin se melodieë, het ma en dogter deur hulle herinneringe aan Heinrich nader as gewoonlik aan mekaar gekom.

Waar sy nou met haar boduurwerk op die bank onder die akkerboom sit, flits die gedagtes oor hulle lewe gedurende die laaste maande soos vlietende mis en sonstrale deur Alisha se kop. Hulle word plotseling verdryf deur ’n ander beeld wat sy tevergeefs probeer onderdruk – dié van ’n man met ruie swart hare en grys oë en ’n spits kenbaardjie soos dié van prins Albert …

Tot vanoggend het sy nog nie geweet wat sy naam is nie. Haar hande verstil op die delikate petit point-borduurwerk en daar is ’n fladdering in haar binneste toe sy die eerste keer wat sy hom gesien het onthou.

Oudominee was besig om die Tien Gebooie te lees. Sy hét probeer konsentreer, maar was bewus van iemand se blik op haar. Sy het haar kop gedraai en vasgekyk in twee grys oë, omring deur digte swart wimpers. Die man se oë en die glimlag om sy mondhoeke het haar vasgevang, verlam. Sy het die bloed voel opstoot na haar wange, haar kop weggedraai en probeer luister, maar sy was tergend bewus van die man met die uitsonderlike oë.

Sy het nie weer na hom gekyk nie, maar toe hulle by die kerk uitstap, het sy hom onder die peperboom sien staan. Hy het sy hoed hoflik vir haar gelig.

Ma-Fytjie langs haar het haar opgepof van verontwaardiging oor dié voorbarigheid. Hoe durf ’n vreemdeling sy hoed vir missie Alisha lig!

Alisha het niks gesê nie, maar daardie nag in die eensaamheid van haar groot hemelbed het sy telkens aan die man gedink. Dit was asof ’n lou warmte van haar liggaam af na haar hart toe gekruip het. Sy het met skaamte die gevoel probeer onderdruk deur uit die Bybel te lees, of selfs te bid, maar daardie nag het dit telkemale teruggekeer, en sy was magteloos daarteen.

Sy begin weer borduur, maar merk dat haar hande effens bewe. Die naald gly vlytig in en uit om ’n roospatroon te vorm. Daar is ’n blos op Alisha se wange. Onder die wyerandhoed lyk haar gesig veel jonger as sewe-en-dertig jaar.

Sy voel die onstuimige geklop van haar hart. Hy was vanoggend hier! Sy was in die voorkamer en kon die gesprek tussen hom en Ma-Fytjie hoor toe dié vir hom die deur oopmaak. Hy het homself as John Digby voorgestel – ’n nuweling in die kontrei wat gehoor het van hulle verlies, en sy simpatie wou kom betoon. As gebaar sou hy graag ’n ruiker aan mevrou Von Albein wou aanbied.

Ma-Fytjie was formidabel in haar verontwaardiging. Haar missie Alisha was g’n “at home” vir vreemdelinge nie! As hy ook van beterder geweet het, sou hy wis dat blomme g’n welkom in ’n rouhuis is nie! Die voordeur is met mening in sy gesig toegeklap. Alisha kon die drang nie weerstaan om net een keer deur die kantgordyne na hom te loer toe hy die stoeptrappies afloop nie. Maar toe moes sy haar terughaas na haar borduurraam en haar so kalm moontlik voordoen terwyl Ma-Fytjie ’n siedende tirade loslaat oor uitlanders wat niks van niks af weet nie.

Alisha kyk na die roospatroon met sy delikate kleure. Daar is ’n soet verrukking in haar binneste, want skielik weet sy met sekerheid dat dit voorbestem is dat haar pad en dié van die vreemdeling weer sal kruis.

Met haar elmboë op die kraalmuur staan Deborah met genoegdoening na die moddervet merinoskape en kyk. Dit was ’n goeie reënjaar en die wolpryse is sedert November op. As daar nie skade kom nie, sal sy ’n stywe bedrag kan maak.

En dan is daar ook nog die velle. Haar pa het oor die jare met Piet Conradie op die dorp onderhandel, maar dié is verlede maand dood. Nou is daar nog net daardie ander vent, Larry Waleski. Sy weet haar pa het ’n hekel aan die man gekry; miskien moet sy die velle self Baai toe neem.

Die gedagte staan haar aan. Hoekom nie? Sy sal haar ma saamneem. Dit sal Alisha goed doen om bietjie weg te kom. Sonder dat Deborah dit ooit aan haarself erken, ontstem haar ma se melancholiese houding haar.

Aanvanklik het sy nie gedink sy sou haar pa se dood ooit kon verwerk nie, maar sy het dit tog reggekry deur haarself hart en siel in die boerdery in te werp. Dis asof sy in haar versorging van mens en dier wat aan haar toevertrou is, die teenwoordigheid van haar pa aanvoel. Op dié manier hou sy haar herinneringe lewend.

April en Hans-Kaap keer die laaste van die nuwe bergkamp se skape in en maak die hek stewig toe voordat hulle tussen die blêrende kudde deur stap tot waar Deborah op hulle wag.

April glimlag van oor tot oor. “Hoi, mooinooi, nooit was onse hameltjies beter gewees as dié jaar s’n nie.”

“Ja, ek het nou self daaraan staan en dink,” glimlag sy terwyl hulle deur die houtrelings klouter.

Hans-Kaap kom staan langs haar. “Ons sal maar vroegoggend begin behandel, nè, nooigoed?”

“Ja. Julle moet maar aanstoot, want ek moet eers dorp toe. Ek behoort teen die middag terug te wees.”

Die son se laat strale huiwer teen Patryskop toe die drie koers inslaan opstal toe, al geselsende oor die wol, die teelperde, Vlam wat saam met Fleur geloop het – Fleur sal sekerlik voor die winter vul, en Nicholaas Prinsloo van Towerwater wil glo ’n hings koop …

Hulle loop en planne maak en tydberamings uitwerk. Die lusern moet voor die herfs kom, gebaal word vir wintervoer …

Noudat die nuwe damwal met klippe gepak is, sal hulle wag vir die winterreëns en die sneeu van die Lootsberg om die dam vol te maak. Sorgenfrei sal groener en mooier wees as ooit vantevore.

Die wind wat opstoot vanuit die vlei waar die ou dam lê, dra die reuk van aandblomme na hulle toe. Deborah raak bewus van ’n stuwende gevoel van geluk. ’n Helder laggie borrel oor haar lippe. Dit laat die twee mans ’n oomblik lank verbaas na haar kyk, maar Deborah verduidelik nie – hoe kan sy? Hoe kan sy aan hulle verduidelik dat die geheimsinnige magnetiese krag wat sy uit haar geboortegrond put, haar siel weer heelgemaak het?

Dit maak in elk geval nie saak nie. Hulle verstaan op hul eie manier – of is hulle maar net te dankbaar oor haar skielike vreugde ná die somberheid van die afgelope maande? En nog voordat hulle die akkerrylaan bereik, het April se gie-gie-laggie ook vir Hans-Kaap aangesteek.

Die fortuinsoekers

Подняться наверх