Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Die fel middaglig syfer deur die gekleurde glasruitjies van die venster en gooi rooi, geel en blou patrone teen die somber kamer se tammerige muurpapier. Kit kyk af en bepaal weer sy aandag by die knoetserige man in sy geliefkoosde swart leerstoel. Hy merk die hand sonder duim wat tydsaam die stomende warm koffie uit die koppie in die piering oorskink. President Paul Kruger blaas dit eers koud voordat hy dit dan met behaaglike slurpgeluide drink.

Kit ken die ou man se maniere goed genoeg om nie mislei te word nie. Hy weet dat Kruger ’n vlymskerp verstand agter sy boersheid verberg. Die prominente oë bo die vlesige sakkies rus waaksaam op hom. Die president sit die piering uiteindelik neer en tel sy pyp op, wat feitlik onafskeidbaar is van sy verminkte hand.

“Die Bybel die had name vir hulle wat hul gesigte verf en in die stadspoorte van Babilon sit,” sê hy terwyl hy die pyp tydsaam stop.

“Ons praat nie van Babilon nie, President. Ons praat van Johannesburg. Dit val onder u jurisdiksie, of u nou daarvan hou of nie.”

Kruger se bonkige lyf skud soos hy in vreugdelose stilte lag. “Is min dat julle spul uitlanders dit onthou.”

Hy kyk slu na die Ier. Hy het nogal respek vir die man. Malloy was hom in die verlede al ’n hele paar keer van nut, en die kêrel skiet waaragtig so goed soos enige Boer. Daarby is hy ’n uithalerruiter.

Kit onderdruk sy ongeduld met moeite. Hy korrel die ou man stip in die oë. “U het Nellmapius se drankfabriek De Volkshoop gedoop,” sê hy. “Hoeveel geld bring dit in u staatskoffers in?”

Kruger voel ’n iesegrimmigheid in hom opwel. Wat lol die vent dan vandag so met hom? Skeel hom min of die spul heidene in Johannesburg hulle versuip in die vuurwater wat Nellmapius stook. Hulle plek is in ieder geval alreeds klaar bespreek in die hel. Hy trek ’n oomblik aan sy pyp. “Wat probeer jy seg, neef Malloy?”

“Ek was een van die uitlanders wat u in twee-en-tagtig gehelp het teen die Ndebeles. Uiteindelik het ek hulle oorgehaal om te onderhandel. Die vrede hou steeds. Daar was ander kere ook wat ek u bygestaan het. Ek het nooit vergoeding van u verwag nie, want ek glo in die ZAR en ek het respek vir u. Nou wonder ek of ek nie ’n fout gemaak het nie …”

Kruger hys sy massiewe lyf regop. “Seg jy ek is onderduims?” vra hy kwaad, sy stem rammelend in die balie van ’n borskas.

Kit kom ook orent en kyk die ou man ferm in die oë. “Ja. Tensy u optree teen die slawehandel met jong meisies, beskou ek u as ewe skuldig!”

Kruger stik van woede. ’n Donkerrooi gloed styg oor die knoetsige gesig. “Ek’s lus en laat jou deurloop met ’n sambok!”

Kit tel sy tam-o’-shanter op en loop na die deur.

“Julle is algar dieselfde!” bulder Kruger agter hom. “Mammon-aanbidders!”

Kit maak die deur oop, draai om en buig sy kop in ’n formele groet. “Goeiedag, President!” Hy loop verby die verskrikte aide-de-camp wat by die deur inbars.

Kruger wuif die offisier weg. “Uit! Uit!”

Die man gehoorsaam oorhaastig en trek die deur weer toe.

Kruger bly ’n paar oomblikke lank roerloos staan. Net sy harde asemhaling is hoorbaar in die stil vertrek. Van buite klink die geluid van perdepote wat wegdawer. Dis die vergalste Malloy wat wegry op sy uitheemse wit perd, Caesar, besef die ou man nors.

Net so skielik soos die woedebui hom oorval het, is hy ontdaan en moeg, en hy laat sak sy gewig in die swart leerstoel, wat kraak onder die aanslag. Hy moet teen sy sin erken Malloy se woorde het hom omgekrap. Hy mompel onhoorbaar in sy baard. Hoe durf die bogsnuiter hom hier in sy eie huis kom sê hy is sondig en korrup!

’n Gevoel van ongemak begin egter nesmaak in sy kop. Die Volksraad is immer gereed om klippe na hom te gooi. En daardie verduiwelse Piet Joubert lê al lankal agter sy amp, hy weet dit. Piet is ’n geleerde man. Sê nou net Malloy gaan staan en praat met hom ook? Die blikskaterse Ier is ’n kêrel met ’n onkantstreep. As jy nog dink hy’s aan die hotkant, dan sit hy hoeka hoog en droog aan die haarkant vir jou en lag.

Die president sit bewegingloos. Sy stiksienige oë rus ingedagte op die briewe wat Malloy as bewysstukke saamgebring het. Stadig begin ’n idee posvat, ’n idee wat hom al hoe meer begin aanstaan. ’n Diep geroggel klink op uit sy borskas toe hy keel skoonmaak, en ’n geel tabakstraal tref die spoegbakkie op die porseleinhond se kop, van waar dit stadig begin afsyfer.

Die bonkige gestalte begin ruk. Kruger lag tot die trane oor sy gesig rol. Hy tel sy geliefde pyp op. “Ek sal jou jou eige medisyne laat proe, neef Malloy!” prewel hy.

Die lag sit nog steeds in die growwe stem toe hy bulderend uitroep: “Rensburg!” Hy suig behaaglik aan die koue pyp toe die adjudantjie haastig inkom en salueer. Kruger wuif die eerbetoon goedig weg.

“Gou, kêrel, bring jou pampier en pen. Ons gaan dadelik ’n brief skrywe!”

* * *

Twee dae ná Kit se besoek aan die president lewer ’n koerier die brief vanuit die Pretoriase Residensie by die Red Hussar af. Gladys bring dit na Kit se kwartiere. Hy is pas terug van Ferreira’s Camp, waar hy om ’n stuk grond onderhandel het.

Hoewel sy nie nodig het om te wag nie, talm die rooikopmeisie in die sitkamertjie met sy leerstoele en donkerrooi fluweelgordyne. Dit is syne. Kit Malloy se persoonlikheid straal uit alles in die vertrek. Die geur van ’n man wat baie in die buitelug leef, vul elke duim daarvan. Op sy perd, die vurige Caesar, is Kit vir haar ’n heel ander man, ’n soort prins, ’n sonruiter, soos dié waarvan sy gelees het in meneer Spenser se feëverhale oor Britomart en die towerspieël.

So droom Gladys oor haar weldoener wanneer sy hom soggens agternakyk terwyl hy die groot hings die agterplaas uit stuur op ’n onbekende sending. En wanneer hy uiteindelik terugkom, ruik sy die son en die wind aan hom, gemeng met die geur van sy sweet.

Gladys het uit haar eie die taak op haar geneem om te sorg dat Moses, die Mosambieker wat na die perde omsien, laatmiddag ketels stomende water opdra sodat Kit hom in die sinkbad kan reinig voor hy die aand sy rondtes maak by sy dobbelsalonne.

Die warm glimlag waarmee hy haar die eerste keer bedank het, was ’n ryke beloning. Sy wou sy guns so graag wen, en sy het vuriglik gehoop dat hy haar sou vra om hom te bedien, om die lampetbeker met die stomende water te lig en oor sy soepele, ingeseepte liggaam te stort. Maar hy het haar nooit gevra nie.

Kit glimlag vir Gladys. Haar koel, wêreldwyse oë laat haar ouer lyk as wat sy werklik is. Die toegewydheid waarmee sy haar werk doen en haar vlugheid van begrip by die roulette het hom beïndruk. Jonk soos sy is, dwing sy beslis meer respek af by hulle klandisie as enige van die ander meisies. Hy het dit nog nie met Mac bespreek nie, maar Kit is oortuig daarvan dat Gladys met ’n bietjie meer ondervinding ’n suksesvolle bestuurderes by een van sy salonne sou kon word.

“Sal ek Moses sê om die water te bring?” vra sy, die Cockney-aksent onmiskenbaar.

“Dankie. Jy begin jouself onmisbaar maak, Gladys.” Kit lê sy hand ’n oomblik teen haar wang.

Gladys voel hoe die hitte na haar gesig styg. Onthuts draai sy weg. “Wel, jy wil die salon seker nie vol stof en perdesweet binnekom nie!” sê sy.

“Dis maar hoe die meeste van ons kliënte ruik,” lag Kit. “Maar ek waardeer die bad saans … sê dus vir Moses hy kan maar begin opdra.”

Sy knik, draai woordeloos om en kies koers.

Kit hou haar dop toe sy die trap afgaan. Sy het ’n natuurlike grasie, en ’n mooi figuur. Die groen-en-swart tafsyrok met sy kantboesel staan haar goed. Hy wonder geamuseer hoe lank hy haar dienste sal kan behou. In ’n dorp soos dié is mooi jong meisies soos Gladys skaarser as goeie maniere.

Hy sug en kyk dan na die brief wat sy hom gegee het. Die koevert dra die amptelike seël van die president. So, dan het hy die ou man tog uit sy traagheid wakker geskud, dink hy terwyl hy die seël breek. Hy vou die dokument oop en bekyk vlugtig die inhoud van die brief wat in die hoekige skrif van die jong aide-de-camp gepen is. Hy grinnik.

Die sluwe ou blikskottel wil duidelik nie sy hande vuilmaak met mense soos die Bowry-broers, Zeits en hul bordeelmeisies nie, en dié brief stel vir hom, Kit Malloy, persoonlik ’n strik, dink hy, en vou dit weer toe.

Buite hoor hy hoe ’n luidrugtige Moses en Goliat die trap opkom met die swaar bekers stomende waswater.

Vanaand nog, sodra hy sy rondtes gedoen het, sal hy ’n draai gooi by Mac. Hulle sal die saak moet bepraat. Hy is oortuig daarvan dat, indien hulle dit reg hanteer, hulle ’n slag kan slaan uit die hele ongure spulletjie.

Half ongelowig kyk Mac op nadat hy Kruger se brief gelees het.

“Genugtig! Verstaan ek reg wat ek lees?”

Kit knik. “Ek het half en half dieselfde gevoel by die eerste oogopslag,” glimlag hy.

Mac skud sy kop onthuts. “Dit kan ’n klein oorloggie uitlok tussen die kroeë. Kruger gee vir ons, vir my en vir jou, volmag om vir ses maande lank na goeddunke die dranklisensies uit te reik en terug te trek!”

“Juis. En soos die brief ook sê, het die ou man ’n soortgelyke skrywe aan Von Brandis gerig.”

Mac vou die dokument ingedagte op en druk dit weer in die koevert. Hy voel warm om sy ore. Ses maande … volmag oor die dranklisensies! Vir ses volle maande! Dit is asof Kit sy gedagtes lees.

“Ek en jy gaan die ses maande wat kom óf die mees gehate óf die mees gewilde manne aan die Rand word. Kruger het ’n geniale talent om mense soos ons bloot te stel aan die versoeking. Omkopery. Hy stel vir my ’n strik, Mac.”

“Hoekom sê jy dit? Die ses maande gaan ons tog ook kans gee om op te tree teen die Bowry-uitvaagsels en hulle trawante.”

Kit knik instemmend. Hy gee Mac haastig ’n oorsig van sy gesprek met Kruger. Mac merk die vonkel in sy vriend se oë. Uit ervaring weet hy maar te goed dat Malloy die uitdaging volstoom gaan aanvaar.

“Verstaan jy nou, Mac?”

Mac knik huiwerig. Sy sproeterige hand vee oor sy ylwordende gemmer hare.

“Hy wil kyk of ons, jy en ek, ons invloed sal misbruik.” Kit tel sy elegante swart pluiskeil op; saans neem dit die plek in van sy tam-o’-shanter. “Dis nogal ’n magtige versoeking, my maat! Daarby dink ek ons het die kans van ’n leeftyd … dit wil sê as ons ons kaarte reg speel!”

* * *

Kit kyk na die rooi Victoriaanse baksteengebou met die broekielace-gietysterwerk om die balkon. Dit laat hom altyd aan ’n oorversierde bruidskoek dink. Die Petite Parisienne is in een van die dorp se min stewige en professioneel ontwerpte geboue gehuisves. Dat die Bowry-broers en Zeits, hul vennoot, geld het, is nie te betwyfel nie.

Karig geklede meisies, een met ’n vereboa wat haar soos ’n wulpse harige wurm omhels, leun oor die balustrade van die balkon. Kit weet hy is die onderwerp van die meisies se giggelende gesprek. Die blondine met die vereboa maak ’n uitlokkende tuitmondjie met haar geverfde lippe en wink hom skalks nader.

Kit glimlag, lig sy hoed en buig formeel vir die dames op die balkon. Dit het geil gilletjies en guitige aanmerkings tot gevolg, wat nog meer meisies na buite lok.

’n Oomblik lank versper ’n transportwa Kit se pad, maar dan steek hy die straat oor. Op die balkon van die Petite Parisienne blom hoop en verwagting oop.

Solomon Zeits verkleur van donkerrooi tot perkamentgeel terwyl hy die brief bestudeer. Dit is bo alle twyfel bekragtig deur die handtekening van die Johannesburgse hooflanddros, kaptein Carl von Brandis.

Zeits kyk onthuts op na Malloy oorkant sy lessenaar. “Wat de hel beteken dit, Malloy?” probeer hy tyd wen.

“Presies wat in daardie brief staan; dat ek volmag het om jou dranklisensie in te trek en dat ek daardie reg gaan uitoefen.”

“Jy kan dit nie doen nie! Verdomp, Malloy, wees redelik!”

Die Ier beantwoord sy uitbarsting met ’n ysige stilte wat Zeits des te meer ontsenu. Hy poog driftig om sy waardigheid te behou.

“Jy soek moeilikheid, Malloy. Die Bowry-broers het ook aandele in die plek. Hulle sal jou lewer vir jou uitruk as ek –”

“Dit betwyfel ek. Jy sien, hulle is gisteraand gearresteer by Norvalspont toe hulle die ZAR met ’n nuwe koetsvrag meisies binnegekom het.”

Zeits se gesig verbleek tot ’n sieklike krytwit. Hy soek na woorde, maar dis asof alles in sy kop vasslaan.

“Al drie van hulle: James, Jim en Dick Bowry,” sê Kit sag maar nadruklik. “Hulle sal in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehuisves word tot hulle verhoor word. Jy is gelukkig, Zeits, dat jy jouself nie tussen hulle bevind nie, want soos jy weet, het hulle meer as slawehandelary op hul kerfstok. Ek is oortuig dat minstens twee van hulle gaan swaai. Ek sou my dus nie op hulle hulp beroep as ek jy was nie.”

Zeits weet met ’n skielike koue sekerheid dat hy die einde van die pad bereik het in Johannesburg. Hy twyfel nie dat die Ier die waarheid praat nie, want hy weet dat die broers op pad was van die Kaap af. Norvalspont, waar die koetse gewoonlik op die pont gelaai word om oor die rivier getrek te word, sou juis die plek wees om hulle in te wag sodra hulle voet aan wal sit op Transvaalse grondgebied. Hy soek desperaat na ’n uitweg en begin dan pleit.

“Asseblief, Malloy, wees redelik. Magtig, man. Al my kapitaal sit in hierdie plek! Sonder drank is ’n salon niks werd nie!”

Kit knik sy kop in stille instemming.

Miskien is daar ’n kans, dink Zeits. Elke man in dié godverlate gehuggie het tog seker ’n prys. Hy leun vorentoe en fluister skor terwyl hy sy duim en voorvinger teen mekaar vryf.

“Geld? Hoeveel wil jy hê? Ek en jy kan sekerlik tot ’n vergelyk kom. Miskien wil jy aandele hê in die Parisienne? Goeie besigheid, dié sê ek jou!”

Die koue minagting op Malloy se gesig verpletter Zeits se oorblywende hoop. Woede wel in hom op. “Jou skynheilige vuilgoed! Jy’t self meisies in jou huise!”

“Ja, ek het,” sê Kit. “Maar hulle is nie teen hulle sin daar nie. Dit staan hulle vry om te bly of te gaan soos hulle wil. En ons misbruik ook nie kinders soos jy nie.”

Zeits begin begryp. Dis die verduiwelse twee meisietjies wat Malloy ’n maand terug by hom uitgekoop het; dís waarom die Ier wraak soek.

Die klavier onder in die salon begin skielik koggelend te klingel en versplinter die stilte tussen die twee mans.

“Soos jy self gesê het, is die Petite Parisienne nou waardeloos,” sê Kit en staan stadig op. “Ek is nietemin bereid om jou tweehonderd pond kontant daarvoor te gee. Ek praat nou van ’n oorname, Zeits, voetstoots.”

Zeits maak sy mond oop om te protesteer, maar Kit spring hom voor.

“Wag! Dis nie al nie. Tweehonderd pond sodra die koopbriewe geteken is, en ’n verdere honderd-en-vyftig pond as jy die dorp binne agt-en-veertig uur verlaat.”

Kit haal ’n koevert uit sy baadjiesak. “Jou plek is reeds bespreek op ’n poskoets van Hay’s Coaching Services.”

Hy gooi die koevert op die lessenaar neer, tel sy hoed op en buig formeel in die rigting van die asbleek Zeits wat hom so verwoed aanstaar.

“My aanbod is geldig tot vanmiddag twaalfuur.”

Met sy gesig reeds ingeseep, kyk Kit in die spieël hoe die praatsieke barbier sy skeermes oor die slypgordel trek. Die lem weerkaats flitsend die lig van die oorhangende Tiffany-lamp.

“Gaan jy die hele dorp opkoop, mister Malloy? Mense sê jy’t Solomon Zeits uit die dorp laat boender, maar jy’t hom glo ’n fortuin gegee. Is dit so?”

Toe hy nie ’n antwoord kry nie, gaan hy lustig voort.

“Drie ander van die bordele se dranklisensies is ook ingetrek. Hulle sê my die een duskant Marshall Street se eienaar wou homself ophang, maar een van die ladies wat vir hom werk het glo gekeer. Sê jou, die hele dorp praat, meneer Malloy!”

“Ja, hulle praat te veel, Dobson. Jy ook! Kry nou klaar en skeer my, ek is haastig. Daar is baie wat nog gedoen moet word!”

Cockney Liz stap by die trappe van die Petite Parisienne af in die fel lig van die vroeë somerson in. Haar vervalle gesig herinner aan ’n voosgedrukte vrug.

Sy kyk met misnoeë na Zeits se twee kajuitkoffers wat teen die balustrade op mekaar gestapel staan. Haar lewe lank was dit nog altyd die man wat die beste daarvan afkom in enige saak. Die man bevredig homself, dan trek hy sy broek op en draai sy rug op die vrou wat hy oomblikke tevore gebruik het.

Destyds, in Eldorado en Barberton, was dit anders. Sý kon die reëls maak. Maar toe was sy wulps en mooi.

Waarnatoe nou? Miskien een van die ander huise?

Maar sy het gehoor dat Malloy ook daar besoek afgelê en begin skoonmaak het. Vervloekte Ier! Dis deur hom wat sy nou hier staan en nie herwaarts of derwaarts weet nie. Al wat oorbly is die diggers-kamp in Ferreira’s Dorp. Sy sal waarskynlik ’n sinkhut kan opslaan. Die delwers daar is nie té kieskeurig nie. Maar sy sal moet drank bedien, en ’n lisensie daarvoor sal sy nooit uit Kit Malloy kry nie. Niemand hoef haar te sê dat die man haar verag nie.

’n Roggelende hoesbui skeur uit haar bors en dwing haar hand na haar mond toe. Toe sy die hand wegneem, kyk sy met afgryse na die bloedvlekkies wat rooi en skuimerig daaraan kleef. Hoe lank het sy nog voor sy nie meer kán werk nie? As dit moet uitlek dat sy tering het, sal niemand, selfs nie eens die grootste vullis, by haar wil lê nie.

Paniek en selfbejammering laat trane opwel in die eens opvallende mooi oë. Dit verblind haar sodat sy nie die man sien aankom wat die straat oorsteek na waar sy staan nie.

Mac MacIntyre se bryerige Skotse aksent ruk haar uit haar droewe gedagtegang.

“Liz? Cockney Liz …?” Mac besef dat hy nie eens die vroumens se regte naam ken nie, maar waarskynlik is daar niemand wat dit ken nie. Hy maak ongemaklik keel skoon. Haar trane takel die rooigemaakte wange nog meer af en laat haar soos ’n patetiese nar lyk. Mac kyk verleë weg en sien die opgestapelde kajuitkoffers. Zeits sal enige oomblik die trap afkom, en dan moet hy die saak met Cockney Liz klaar uitgesorteer hê.

“Wat wil jy hê, Skotsman? Julle het mos gekry wat julle gesoek het.” Die bitterheid in haar stem sny deur die stilte voor die verlate Parisienne se fasade.

“Ek het gekom om met jou te praat.”

Sy vee haar gesig met die agterkant van haar hand af. Mac merk dat haar hande uitgeteer is, die kloue van ’n voël. Kit was reg: die vroumens is siek. Hy tree ongemaklik nader en hou dan ’n koevert na haar toe uit. Sy gluur agterdogtig na die koevert en dan na hom, maar vat dit nie.

“Dis vir jou, Liz. Neem dit. Asseblief.”

“Hoekom? Wat is dit?”

“Geld. Honderd-en-vyftig pond.”

Liz kyk hom takserend aan. Honderd-en-vyftig pond! Daarmee kan sy baie doen!

“Jy kan iets daarmee uitrig as jy spaarsamig werk.”

Kan die Skot haar gedagtes lees? Stadig steek sy haar hand uit na hom toe, maar huiwer dan. “Hoekom?” dring sy weer aan.

Mac soek ’n oomblik na woorde. Hoe verduidelik hy dat sy vennoot, wat verantwoordelik was vir die Parisienne se ondergang, ’n sagte kol in sy kop het wanneer dit kom by vroue. Enige vrou, selfs iemand soos Liz.

Kit het reëlings getref vir die ander meisies. Van dié wat wou bly het hy, tot groot ergernis van Mac, by van hulle eie dobbelsalonne ingeneem. Vir die ander het hy gereël dat hulle kan terugkeer na die plek van hul herkoms.

Cockney Liz is die laaste een, maar niemand sien meer kans vir haar nie. Die verleë Mac druk die koevert ongemaklik in haar hande.

“Beskou dit as ’n geskenk van ’n weldoener. Dis onwaarskynlik dat Solomon Zeits jou ’n bloue duit sal gee van wat hy uitgekry het.”

Wat die Skot sê is waar. Hoewel Zeits haar oor die jare af en toe uit die geldlaai gehelp het, het sy bloedweinig oor, en hy het haar nie ’n pennie gegee van die fortuin wat Malloy hom betaal het nie.

Malloy! Malloy is haar weldoener, besef Liz skielik. Sy weet dat die geld nie van hierdie skigtige Skot, wat met moeite sy grillerigheid vir haar versteek, af kom nie.

Sy skeur die koevert oop. Dit is daar! ’n Betaalstrokie vir honderd-en-vyftig pond. Sy kyk gefassineer daarna.

“Dis genoeg om terug te gaan na waar jy ook al vandaan kom, Liz, en miskien oor te begin,” sê Mac sag.

Sy kyk op en lag hees. “Ek kom van nêrens af nie en ek gaan nêrens heen nie … daar is nie tyd daarvoor nie, Mac MacIntyre!” Vinnig druk sy die koevert met sy inhoud by haar laaggesnyde bostuk in.

“Ek het nooit geleer dankie sê nie. Dit was nog nooit nodig nie. Maar sê jy vir Malloy dat hy ’n vrypas het by my.” ’n Skuurpapierlaggie skeur uit haar keel. “Ek weet dat ek te lank in die tand is om sy kliere te prikkel, maar daar is ander maniere … ek weet van almal. En ek weet hy is nuuskierig. Sê dit vir hom!”

’n Hoesbui oorval haar en laat haar wegdraai. Sy kyk nie weer om nie, loop net stadig die trappe van die Parisienne op, uitgeteer en afgeleef.

Eenmaal, nie so lank gelede nie, was sy die koors in die bloed van al die delwers van Pelgrimsrus, dink Mac. Daar word gesê sy is een aand uitgeloot vir die ongelooflike som van tweeduisend pond. Mac weet nie of dit waar is nie, maar terwyl hy haar agternakyk, vorm daar ’n ongemaklike knop in sy keel.

Voor die poskoets van Hay’s Coaching Services staan die perde gedweë in die stowwerige hitte wat oor die markplein hang. Die berg possakke op trollies word flink gelaai, want die posdiens tussen Johannesburg en Kimberley kry voorkeur bo die passasiers se bagasie.

Elke reisiger word hoogstens veertig pond bagasie toegelaat, maar Solomon Zeits bekommer hom nie oor sy bagasie nie. ’n Stywe omkoopfooi het daarvoor gesorg dat sy trommels net soos die possakke omhul is in kakiebruin seilsakke, onopvallend tussen die res. Die omkoopgeld het ook gesorg vir twee van die beste sitplekke in die koets.

“Solomon Zeits!”

Hy draai om. Op ’n afstand herken hy Kit Malloy se vennoot. Zeits voel half verlig. Hy was Malloy te wagte. Sy wrewel teenoor die Ier ken skaars perke. Malloy se aanbod vir die Parisienne word dalk deur ander as ruim beskou, maar Zeits sal die vernedering nooit vergeet nie.

Mac kom nader en hou ’n trommel na die Litauer uit. “Kontant …” sê hy. “Honderd-en-vyftig, soos afgespreek. Maar verstaan mooi, Zeits, Malloy was dié keer genadig. As jy ooit weer jou gesig op die dorp wys, sal hy jou trap, en hy sal trap om dood te trap!”

Zeits vat die trommel, maak dit oop om homself te vergewis van die inhoud en sluit dit weer toe. Hy knik formeel en draai dan weg om sy plek in die koets in te neem.

Geelrooi stof, verpoeier deur baie voete en wawiele, hang swaar oor die markplein. Die reuk van konkavure en vleis vol maaiers van die swetterjoel brommers en die hitte hang swaar in die lug.

Naby die pasgeboude poskantoor drom mense saam om die vrugte- en groentesmouse se waens. Sommige van die boere wat hulle ware een maal per week na die dorp bring, is besig om ’n fortuin te maak.

Kit stap skoongeskeer uit die barbierswinkel. Hy kyk op sy sakhorlosie: byna tyd vir die poskoets om te vertrek. Hy is dankbaar dat Mac bereid was om die geldsaak namens hom te verrig, want sy begeerte om die onsmaaklike Zeits se gesig vir hom te herrangskik, is byna onweerstaanbaar.

Johannesburg het oorgenoeg rampokkerbaronne. Von Brandis het reeds sy hande vol. Niemand sal dit regkry om die dorp ooit heeltemal skoon te maak nie, maar met Zeits en die Bowry-broers uit die weg, het hulle darem vordering gemaak.

’n Oorgretige skoenpoetsertjie neul knaend om Kit se ore. Kit glimlag goedig en lig sy voet op die seepkissie wat die maer swart kind haastig nader sleep. Hy kyk ’n paar oomblikke lank hoe die seun met vlytige hande vinnig die ergste stof van die gepunte skoene afvee voordat hy daarop spoeg en die leer begin poleer.

Oorkant die markplein en net skuins regs van Becket & Sons se Gentleman’s Emporium hang Hay’s Coaching Services se uithangbord. Die voorste koets is duidelik gereed om te vertrek. Die koetsier laat die sweep klap, en die perde reageer onmiddellik. Die skommelende rytuig rol vorentoe. Die koets moet om die markplein ry, vlak verby die plek waar die seun nou Kit se skoene poleer. Zeits sal in daardie koets wees. Kit het geen begeerte om die vent se gesig vir oulaas weer te sien nie.

Deur die stofwalms wat oor die plein hang, sien Kit vir Mac aangeloop kom. Hy klop die poetser op sy kop, haal sy voet van die kissie af en stop ’n muntstuk in die seun se hand. Die kind se gesig verhelder in ’n breë glimlag wat hom soos ’n uitbundige hondjie laat lyk. Van mister Malloy ontvang hy altyd meer as wat hy in ’n week van al die ander verdien!

Kit lag en stap Mac tegemoet.

Mac lyk bedruk. Dit was nodig, maar ook vir hom was die ontmoeting met Zeits nie ’n aangename taak nie. Hy sug. “Dis nie die laaste wat ons van hom gaan sien nie. Zeits gaan terugkom, Kit, daarvan kan jy seker wees.”

“Skeel my min!” glimlag Kit. Hy slaan ’n vertroostende arm om Mac se skouers. “Tot dan is hy uit die pad uit. Dink aan die nuwe salon. Jy en Meg sal ’n groot aandeel besit. Wat stel jy voor noem ons dit?”

Mac se sproetgesig verhelder. Hoewel dit Kit se geld is wat Zeits uitgekoop het, het hy aangedring dat die salon aan hul al drie behoort, en dat Mac en Meg dit ook moet bestuur.

Mac en sy vrou het reeds ’n hele paar aande en nagte lank opgewonde begin herkou aan die veranderinge wat hulle wil aanbring. Die gebou is stewig, en met die goeie smaak van sy Meg kan hulle dit omskep in een van die dorp se deftigste plekke, en sodoende die stigma wat daaraan kleef vir goed verwyder.

Daar is ’n nuwe waardigheid in Mac se kort, ronde gestalte te bespeur. “Die naam? Ja wel, ek en Meg het gereken ‘The Arms and the Soul’ sal nie onvanpas wees nie.”

Kit skater van die lag. “Soos in die goeie ou dae op Pelgrims!” Hy reik Mac die hand. “Puik, my vriend. Dis per slot van sake waar ons vriendskap finaal sy beslag gekry het. Kom! Kom ons gaan drink daarop!”

Die fortuinsoekers

Подняться наверх