Читать книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus - Страница 14

Hoofstuk 11

Оглавление

Van die koetsiersbankie bo klink die klap van ’n sweep; die koets ruk en begin beweeg. Die laaste skof, dink Deborah moeg. Dit het die man by Vanwyksvlei se poskoetshalte gesê. Sy kan skaars glo dat die eindelose lang tog van Graaff-Reinet af tot op Kimberley en van Kimberley af tot hier voor vanaand agter die rug sal wees. Dit is amper te goed om waar te wees.

Sy kyk na die gesigte om haar. Die meeste is vreemdelinge – mans van oor die hele wêreld, het sy agtergekom uit die praatjies wat haar stiefpa met hulle aangeknoop het. John Digby, die wêreldkenner, dink sy sinies. Aan die manier waarop hy hom grootdoenerig aan hulle voorgestel het, sou mens dink hy het die hele aarde se kennis in pag van die goudrif aan die Rand.

Gedurende hierdie lang en vermoeiende tog het Deborah ter wille van haar ma haar uiterste bes gedoen om beskaafd op te tree teenoor hom, hoe moeilik dit ook al was. Maar sy kan min doen aan die wrewel teenoor hom wat daagliks in haar opbou.

Deborah probeer om nie verder aan haar stiefvader te dink nie. Sy bepaal haar aandag weer by die res van hul reisgenote. Afgesien van haar ma en Ma-Fytjie, is daar van die koetsstasie in Kimberley af ook nog drie ander vroue onder die passasiers. Twee van hulle is nonne, met hulle spierwit gestyfde wimpels wat hul gesigte soos hartvormige dakkies beskut. Verstommend hoe hulle dit so skoon en wit hou ten spyte van die stofwolke wat onder die koetsperde se hoewe uit opslaan.

Vandat hulle die Vaalrivier oorgesteek het, is die uitgetrapte paaie en die stof erger as ooit tevore. Dit maak die reeds verstikkende lug binne die koets soms byna ondraaglik. Deborah sou veel eerder verkies om, soos sommige ander passasiers, bo-op die dak van die koets te ry. Dis waar April Sardyn sit. Sy weet egter maar te goed dat dit buite die kwessie sou wees. Sy sou nie eens waag om dit selfs net vir Ma-Fytjie te noem nie – die stomme ou vrou sal ’n oorval kry!

Suster Agatha kyk op van die gebedeboek wat sy lees en merk dat Deborah na hulle staar. Sy glimlag vriendelik vir die mooi, jong meisie. Uitgevang, begin Deborah bloos; sy glimlag stram terug en draai haar kop weg.

Buite die vuil koetsvenster rol die landskap verby. Myl ná myl van dowwe bruin grasvlaktes. Is hier dan geen bome of berge nie, wonder sy bedruk. Haar aandag word weer deur die nonne getrek. Hoe sou hulle dit kon verduur om só te leef? Hulle praat nooit juis veel nie en sit maar net en lees, Die meeste van die tyd uit hul gebedeboekies. Of hulle vingers pluk aan ’n string krale met ’n kruisie aan terwyl hulle geluidloos iets prewel – waarskynlik ’n gebed.

Suster Agatha, die een wat pas vir Deborah geglimlag het, het vir haar gesê dat hulle susters van die Heilige Familie-orde is. Hulle is Johannesburg toe gestuur om die Trappiste-monnike daar by te staan met die oprig van ’n hospitaal en ander kerklike opheffingswerk. Dit moet swaar wees om so onselfsugtig en offervaardig te leef!

Die ander vrou in die koets klik met ’n geoefende polsbeweging haar kantwaaier oop en waai freneties daarmee in die hoop om die lugsirkulasie te verbeter. Madame Rose del Claire fassineer Deborah nogal.

Sy is glo ’n wêreldberoemde aktrise wat van plan is om Johannesburg saam met haar man en sy geselskap Thespiërs met ’n paar wêreldklasopvoerings “te vereer”, soos sy dit uitgedruk het. Haar man, die bekende impresario Jean-Paul du Vallet, is glo reeds daar. Madame Rose het die lang, vervelige reis met haar staaltjies, teatrale handgebare en stemnuanses op ’n manier vir Deborah draagliker gemaak.

Deborah se blik kom tot ruste op haar ma waar sy langs Ma-Fytjie sit. Die bleekheid van Alisha se gelaat word beklemtoon deur die donker leerkussings van die bank waarteen sy leun. Dis verstommend dat sy die lang koetsrit so goed deurstaan het, dink Deborah. Sy was wel siek in Kimberley, en dit was so amper-amper of sy het daar ’n miskraam gehad, maar John het dadelik die beste dokter ontbied en dit is gelukkig voorkom.

Deborah se ingewande trek saam toe sy terugdink aan die afskuwelike plek: Kimberley. Dis geleë om ’n reusagtige krater, waarin mense soos mal miere in ’n oopgeskopte miernes rondskarrel. Sou Johannesburg ook só lyk? Sy kry gouer as wat sy verwag het ’n antwoord op daardie vraag, want buite die voortrollende koets klink daar skielik uitroepe van die dak af op.

Een van die koetsbegeleiers verskyn op sy perd langs die koets, sy gesig verrimpel soos hy glimlag. Hy beduie na vore.

“Johannesburg! There is the town!”

Deborah skroef haar oë op teen die fel lig wat oor die droë vlaktes dans. Sy doen haar bes om ’n eerste blik op hulle nuwe tuisdorp te kry, maar sy sien aanvanklik min. Dis eers toe hulle die buitewyke van iets wat lyk soos ’n massiewe laer ossewaens verbysteek dat die eerste huise sigbaar word.

Tot haar verbasing is die huise nogal elegant. Hulle is nuut en lyk heel stewig gebou. Sy dink terug aan die artikel wat sy byna twee jaar gelede in The Herald gelees het. Toe was hier niks behalwe tente en transportwaens nie. Hoe is dit moontlik dat ’n plek so vinnig kan ontwikkel?

Die koetsier stuur die koets behendig om ’n draai. Market Street, lees Deborah op die straatnaambordjie. Dubbelverdiepinggeboue – meestal, soos dit vir haar lyk, winkels, kroeë en hotelle – staan al langs die straat. Al die geboue het verandas wat versier is met smeedysterkrulletjies wat soos kant lyk.

Die Royal Hotel! Dis die hotel waar hulle volgens haar stiefpa inbespreek is.

Die sweep klap oor die uitgeputte perde. Deborah sien dat die koets nou op ’n soort markplein afstuur; dit is seker die eindhalte vir die poskoets, dink sy.

Die koets hou uiteindelik oorkant ’n rooibaksteengebou met koepeltorinkies stil. Dit moet seker een of ander amptelike gebou wees, besluit Deborah, want ’n vlag wapper aan een van die vlagpale. Sy klouter verlig uit die koets uit.

Ma-Fytjie gee vir Deborah haar kosbare handtas aan waarin haar kruiemedisyne gepak is. Skielik is sy omring deur ’n horde bedelaartjies, kinders met pleitende, verhongerde gesiggies, wat om haar kerm. Hulle hou hul bakhandjies hoopvol na haar toe uit.

“Skoert, julle verdomde spul lieplappertjies!” bulder die koetsier agter haar. “Weg is julle!” Hy klap die sweep in die kinders se rigting en hulle spat links en regs weg soos verwilderde brakkies.

Deborah swaai om, haar oë blitsend gerig op die man. “Hoe durf jy! Hulle is blote kinders!”

“Bedelaars!” grom die koetsier toe hy van die bankie af spring. “Klein bedelaartjies, groot bedelaars – wat maak dit saak? Hier is te veel van hulle hier!”

“Deborah?” Haar ma se moeë stem laat Deborah omdraai.

Ten spyte daarvan dat sy duidelik uitgeput is, kry Alisha dit reg om statig en kalm te lyk in haar donkerbruin reiskostuum met die lapelle wat omsoom is met roomkleurige Brusselse kant.

“Die Royal Hotel is net daar oorkant …”

“Ja, ek het gesien,” sê Deborah.

“Ek het gedink ons kan maar soontoe loop, maar John het aangedring dat ons in ’n kales daar moet aankom. Hy het gou een gaan huur.”

Deborah knik. Sy begin gewoond raak aan Digby se pretensies. Miskien is dit tog goed dat hy ’n rytuig gaan haal het, want haar brose ma lyk asof die wind haar enige oomblik kan omwaai ná die moordende twee maande wat hulle op pad was. Buitendien, met die hoop bagasie waaroor April nou wagstaan, sal hulle skaars te voet kan regkom.

Dis nou Johannesburg, dink sy, en vir die eerste keer bekyk sy die markplein goed. Sy sien die malende harlaboerla van mense van omtrent oral oor die wêreld af wat hier kom saamdrom.

Sy sien ’n Oosterse man in ’n lang wit toga, met ’n rooi fes op sy kop. Hy balanseer ’n staaf oor sy skouers waaraan twee swaar wateremmers hang. Hy moet fyn trap tussen die hope mis en verrotte vrugte wat oral rondlê.

’n Uitgelate klomp kinders jaag jillend ’n brak met ’n klaterende blik aan sy stert; waarskynlik het hulle dit self daaraan gebind. Die man met die fes moet vinnig padgee en mors sodoende van sy kosbare water. Dit ontlok by hom ’n stroom kwaai woorde in sy taal.

Die gillende kinders steur hulle min aan hom. Die hond pyl op ’n transportwa af waarop beteuterde hoenders in draadhokke wag vir die byl. Hierdie nuwe vierbeengevaarte wat nou op hulle afpyl, laat hulle krysend kla.

Die boer slaan geen ag op die histeriese gekekkel nie. Hy lig ’n byl omhoog, die gespierde arm bring dit sekuur neer op die kapblok, en ’n haan verloor sy kop.

Vere en bloed spat oor die uitbundige kwajongens toe hulle agter die hond, wat onder die wa skuiling wil soek, aan duik. Die hoenderhok se stellasies begin kantel en dit tuimel. Hokke breek oop. Jubelende hoenderhenne skarrel kekkelend weg.

Byl in die hand storm die verwoede boer op die kinders af. Hulle laat spat en verdwyn blitsvinnig tussen die malende massas op die markplein. Die boer moet maar gedweë sy hoenders, wat nou ook tussen die mense skuiling gevind het, gaan soek.

Deborah hou dit alles gefassineer dop tot sy deur Ma-Fytjie aangekeer word. “Kom, missie, ons moet gaan. Daar is die huurkar wat seur Digby drywe.”

Deborah sien inderdaad ’n spoggerige donkergroen rytuig met groot rooi wiele aankom. Gehoorsaam volg sy Ma-Fytjie en haar ma.

April val langs haar in met van die bagasie. Sy oë staan stokstyf in sy beangste gesig. Hy leun benoud na haar toe oor.

“Nooientjie Deborah … watter plek is dié dan?” vra hy, en hy beduie oor sy skouer na die malende markplein. “Is mos kompleet soos die oordeelsdag … soos daai prentjie in die groot Bybel van seur Heinrich! Hoe sal onse Christenmense dan nou ooit in so ’n plek kan wortelskiet?”

’n Vlaag wind jaag skielik rooi-geel stofduiwels op en hulle moet hulle oë daarteen opskroef.

“Hulle sê hier is goud, April, sommerso vlak onder die strate. As dit so is, dan wil ek my deel hê!”

April krap sy kop onder sy hoed. “Hoi, nooientjiegoed, om mee te wat? Wat wil jy met dié maak?”

Sy kyk hom vas in die oë. “Geld is mag, April. As ons geld gehad het, sou ons nou nog op Sorgenfrei gewees het. Ek wil geld hê. Báie geld! En Johannesburg gaan dit vir my gee!”

En Deborah stap vasbeslote na die wagtende kales toe.

* * *

Sam vou die wit sykrawat om Karl Mannheim se nek en takseer die jong heer ’n oomblik krities. Geen rafel op die donker pak mag Karl se voorkoms bederf nie.

Uiteindelik is Sam tevrede. Hy tree terug, tel die swart sypluiskeil en die silwerbeslaande wandelstok op en oorhandig hulle aan Karl.

Karl tik hom goedig op die skouer. “Welgedaan, Sam. Moenie vanaand vir my wag nie. Ek sal waarskynlik eers teen hoenderkraai by die huis kom.” Hy knipoog vir sy getroue ou bondgenoot. “Terwyl my pa weg is, moet ek minstens probeer om die beste te maak van my vryheid!”

Sam knik. Teëpraat sal nie help nie, dit weet hy.

“Waar gaan seurtjie Karl vanaand wees?” vra hy so ongeërg as moontlik. Hy het wel ’n deeglike vermoede, want daar is vroeër ’n nota vir Karl afgelewer van Barney Barnato se suite in die Palace Towers af – een van die dorp se nuutste en mees sensasionele geboue. Sam hou nie van Barney nie. Nog minder vertrou hy die wilde partytjies wat dié glo nag ná nag in sy kamers hou.

Karl lig sy mantel van die kapstok af. Hy word nie geflous deur Sam se oënskynlike gebrek aan belangstelling nie.

“Ag, sommer hier en daar en oral,” antwoord hy ontwykend. “Daar is min genoeg ordentlike plekke in hierdie hool.” Hy swaai die mantel om sy skouers, plaas sy keil op sy kop en glimlag slinks vir Sam. “Toe nou, Sam, maak oop die deur en hou op om soos ’n vroedvrou om my te kloek!”

Sam gehoorsaam sonder om teë te praat. Die spaider wat voor die deur wag is reeds ingespan en gereed vir Karl se vertrek.

Karl is seker reg, dink Sam toe hy die deur toemaak. Miskien meng hy hom te veel in. Maar hy ken Karl se onvoorspelbaarheid en hy kan nie anders as om bekommerd te wees oor hom nie. Moeilikheid loop sy seurtjie altyd agterna, veral as hy in die verkeerde geselskap beland – en Barney Barnato is volgens Sam verkeerde geselskap, die tipe van wie hy Karl liefs sou wou weghou.

Vandat Karl ingeskakel het by die “Barnato-kliek”, soos die klomp mans alombekend staan, is dit ’n eindelose gebrassery, aand ná aand. Karl kan dit skaars bekostig, want Kurt Mannheim hou hom met opset kort aan kontant.

Sam vermoed egter dat Barnato vir Karl verder in die sloot in help deur hom geld te leen. Vermoedelik het hulle ’n reëling dat Karl hom sal terugbetaal wanneer hy in besit kom van sy erfporsie.

Dis nie meer lank voor sy een-en-twintigste verjaarsdag nie, en ongetwyfeld ook nie meer lank voor die rusie van alle rusies losbars nie, iets wat nou al ’n geruime tyd dreig om tussen vader en seun plaas te vind.

Oor die laaste paar weke het Sam met toenemende benoudheid gemerk dat ’n uitval soos ’n dreigende donderstorm aan die broei is. Hy glo dat Karl se nagtelike fuifpartytjies – wat hom al hoe meer onverantwoordelik maak met sy werk – een van die groot redes hiervoor is.

Hoewel die ouseur hom verbasend goed in toom gehou het, weet Sam hoe gevaarlik dit kan wees as hy sy humeur verloor. Wat Sam die meeste vrees is dat so ’n botsing vader en seun vir goed van mekaar sal vervreem. Maar dit sal hom min help om daaroor te tob; al wat hy as huiskneg kan doen, is om te probeer om vir Karl die pad te wys wanneer hy die spoor byster raak. Sam sug en hy kry koers na sy kwartiere.

Daar is nie ’n koets in Johannesburg wat kan kers vashou by sy grys-en-donkerrooi rytuig nie, dink Barney Barnato trots. Hy hou sy spoggerige appelblou skimmels deur die koetsvenster dop. Ses livreiknegte, almal geklee in uniforms in dieselfde grys en donkerrooi, vergesel altyd die koets. Selfs die prins van Wallis kan waaragtig nie ’n spoggeriger rytuig hê as hy nie!

Hy, klein Barney Barnato, die snuiter van Whitechapel, het as jong man met net ’n doos sigare wat sy suster hom as afskeidsgeskenk gegee het, sy fortuin kom soek in hierdie nuwe land waarvan sy neef hom so geesdriftig vertel het.

Barnato se sukses in Kimberley het Louis se mening bevestig dat enigeen met genoeg intelligensie en durf in Afrika ’n fortuin kon maak. Barney het sy doos sigare onmiddellik omgesit in kontant en daarmee sy eerste aandele in Kimberley gekoop. Dit was veral sy wakkerheid van gees wat hom na sukses gelei het. Die harde krotbuurt waaruit hy gekom het, waar niemand – kind of volwassene – kon oorleef as hy nie sy kop gebruik nie, het hom van meet af deeglik gebrei en geleer om op homself aangewese te bly en om elke geleentheid wat hom voordoen, aan te gryp.

Geleenthede … Sou hy, Barney, eendag voor die regstroon van God staan, sou daar ten minste één argument wees waarmee hy sy bestaan op aarde sou kon regverdig: hy het die geleenthede wat hom gebied is, almal benut. Hy glimlag half treurig oor sy moeilike jeugjare. Maar hy het nooit ’n kans, selfs nie eens die geringste kans, laat verbygaan nie. Daardie oomblik wanneer die noodlot jou die geleentheid bied om ’n handvol geluk te gryp, kom meestal net een maal by ’n man verby, en wanneer dit gebeur moet jy wakker wees en genoeg waagmoed hê om dit uit te buit.

Hy wat Barney Barnato is, wás, en hy hét, dink hy tevrede. Dis waarom hy vanaand in so ’n spoggerige koets kan ry. Dis waarom hy kort voor lank die rykste man in die stad gaan wees!

Maar Barney se goeie bui is aan iets anders ook te danke: hy het ’n heel aangename middag met “high tea” deurgebring in die geselskap van die allerspitsvondigste brunet, ’n jong komediante van die Theatre Royal. Die juffroutjie met haar gewaagde stoutighede was Barney se gas in sy “snoesige nessie”, soos sy dit gedoop het.

Barney hou daarvan om met sy indrukwekkende suite in die nuutste en hoogste gebou in Johannesburg te spog. Dit beïndruk mense. En Maisie wás beslis beïndruk, dit het sy duidelik aan hom bewys!

Met haar gevatte bekkigheid en sy eie kwinkslae het hulle tussen tafel, bed en klavier ’n hoogs vermaaklike middag deurgebring. Maisie is sy soort meisie, dink hy: selfstandig, los en pretbelus. Hulle sal goed oor die weg kom.

Die Arms and the Soul, wat glo twee jaar gelede die Petite Parisienne geheet het, staan nou helder verlig in al sy gerestoureerde glorie. Barnato se koets word voor die ingang tot stilstand gebring. Die knap Skot MacIntyre en sy vrou het wondere verrig met die plek, dink hy. Dit is dan ook die enigste ordentlike plek waar bymekaargekom kan word en waar here in vrede kan dobbel en daarna ’n gourmetmaal in Megan MacIntyre se elegante eetkamer kan geniet.

Barney lag stilweg. Hy beplan groot pret vir die aand. ’n Week of wat gelede het hy ’n bloutjie geloop met die strenge Meg MacIntyre toe sy hom nie wou toelaat om ’n boksgeveg in die Arms se eetkamer te reël nie, en vanaand gaan hy die preutse Skotse dame in ’n lokval lei. Hy kan nie wág om te hoor of Karl Mannheim sy bevele uitgevoer het nie.

Die koets se deur word deur Barney se livreikneg oopgemaak en die hooflakei help hom uit. Die res van sy livreiknegte val aan weerskante van die koetsdeur in gelid in, sodat meneer Barnato tussen hulle deur kan stap.

Maar dié keer wuif Barney hulle argeloos weg, want met die uitklimslag het hy die jong Mannheim gesien wat reeds op hom wag voor die imposante ingang.

Soos Karl, lig Barnato ook sy keil om te groet. Hulle loop mekaar tegemoet en skud entoesiasties hand.

“Ek het gedink dat ék laat is, Barnato, maar jy wen loshande! Sy moes besonder stimulerende eienskappe gehad het,” sê Karl met sy kenmerkende Oxford-aksent.

Die lampligte van die Arms se veranda glim op sy blonde hare. Barnato merk weer hoe opvallend aantreklik – nee, in Karl se geval is “mooi” ’n pasliker woord – hoe opvallend mooi sy hedonistiese jong vriend is. Hy knipoog en glimlag goedig.

“Hóé stimulerend, my liewe Karl, gaan ek nie sê nie … veral nie vir jóú nie! Jy hou jou hande van Maisie af, verstaan! Daar is genoeg – eintlik te véél – dames wat om jou draai!”

Karl lag.

Barney verander sy stemtoon en fluister soos ’n samesweerder. “Het jy toe die Spanjaard omgekoop?”

Karl knik. “Hy en die vier draers wag in die kleedkamer. Alles is gereed. Was nogal ’n ding om die kajuitkoffer, die bokser en die vier draers in te smokkel sonder dat Megan MacIntyre lont ruik!”

Die twee mans loop laggend die trappe op.

Die Arms se portier buig verwelkomend en maak die deur vir hulle oop. Hy staan ook gereed om die twee here se mantels en pluiskeile te neem. Die opgewonde Barnato steur hom min aan die nougesette portier.

“Ek het ’n voorgevoel, Mannheim, dat ons die aand van ons lewe gaan hê,” fluister hy. “Ons gaan hierdie saaie hool opwinding besorg soos nog nooit tevore nie!”

Karl glimlag en beduie met sy kop in die rigting van die kleedkamers. “Komaan! Laat ons van vere gaan verwissel. Die ander wag al vir ons.”

Geklee in sy gebruiklike deftige aandpak waarin sy korpulente figuur ten beste vertoon, staan Mac MacIntyre met sy hande agter sy rug sy gaste in die salon en dophou – deur en deur ’n suksesvolle saloneienaar.

Maar vanaand voel hy op ’n snaakse manier onrustig. Hy kan nie sy vinger daarop lê nie, maar hy is al van vroegaand af bewus van ’n vreemde soort geladenheid in die lug, ’n soort afwagting wat onder die gaste heers. Miskien het dit iets te make met die feit dat die salon so ongewoon vol is. Maar waarom is dit vanaand dan so vol? Daar is skaars plek vir ’n muis, en steeds stroom deftig geklede here by die deure in.

Sy oë flits takserend oor sy gaste. Hulle is almal hier: Julius Wernher, George Albu; Hermann Eckstein het pas aangekom met J.B. Robinson kort op sy hakke.

Die Kimberleyse diamantbaronne is nou byna voltallig, met die uitsondering van Barney Barnato. Dié skitter in sy afwesigheid. Mac frons. Dis eienaardig om Barney nie vanaand in hulle geledere te sien nie.

Dit het Barnato ’n week se mooipraat en daarby bosse en bosse blomme gekos om Meg sover te kry om haar hart weer teenoor hom te versag nadat hy haar salon amper in ’n bokskryt omskep het. Sy het hom die plek verbied.

Sy verbanning is egter sedert verlede Vrydag opgehef. Daarom is dit uiters vreemd om hom nie hier tussen die lede van die berugte Barnato-kliek op te merk nie.

Simmer – van Simmer & Jack – stap by die deur in. Mac kyk hoe hy geesdriftig vir David Marshall op die skouer klop. Marshall, ’n lid van die Barnato-kliek, draai om by die faro-tafel waar hy pas ’n weddenskap aangegaan het. Die twee mans praat haastig onderlangs, dan bars Marshall hard uit van die lag.

Mac merk dat hulle grappie van tafel tot tafel oorvertel word. Hy frons. Die opgewonde gelag word nou van oral af gehoor. Die stemming bereik ’n byna frenetiese intensiteit, en steeds kan Mac nie begryp wat aan die gang is nie.

Hoe wens hy nie dat Kit Malloy terug was nie! Verdomp! Die kêrel is nou al ’n hele paar maande weg op sy geheimsinnige sending na die Oos-Kaap. Dit is hoog tyd dat hy moet terugkom. Kit sou dadelik sy vinger op die aand se pols kon geplaas het. Mac sug en betrag die crème de la crème van die nuwe Johannesburgse sakelui met al hoe meer agterdog.

Sy gereelde klandisie bestaan uit manne van oor die hele wêreld, manne wat, ná die berigte oor hoe George Harrison se ryk vonds die Ou Wêreld aan die brand gesteek het, hier kom nesskop het in die hoop om ’n fortuin te maak.

Hoewel sommige van hulle, soos Hermann Eckstein, die Albu’s en Kurt Mannheim met ou geld uit Europa op die Rand geland het, hopende om hulle fortuine hier te verdubbel (wat die meeste van hulle waarskynlik nou al tien keer oor gedoen het), het die meerderheid van die Rand se nuwe elite hier aangekom met bitter min van hul eie. Sommige van hulle het nie die mas opgekom nie, ander het.

Die groep wat wel suksesvol was, is almal vanaand hier vergader – geharde manne, bereid om die pioniersdorp se uitdagings te trotseer. Hulle is wakker en geslepe entrepreneurs wat die kat goed uit die boom kan kyk, en daarbenewens beskik elkeen van hulle oor eindelose deursettingsvermoë, waarskynlik die belangrikste vereiste vir sukses in hierdie harde milieu.

Op ’n manier reken hy hom en Kit ook onder dié garde; hulle was nou wel nooit myners nie, maar hulle het hul winste gemaak uit die goud wat die delwers boontoe gebring het. So was dit in hul Oos-Transvaalse dae destyds, en hier aan die Rand staan sake nie veel anders nie.

Die gelag word nou te veel vir Mac; iets is beslis nie lekker nie. Hy kry doelgerig koers kroeg se kant toe om by die kroegman, meneer Benny, te gaan hoor of hy weet wat vanaand aan die gang is.

By die tafel van die Barnato-kliek word daar vir oulaas flink in die geheim gewed. Die hele salon weet natuurlik wat aan die kom is.

“Is Barnato al hier?” fluister J.B. Robinson.

John Hays Hammond knik. “Ek het die portier nou-nou gevra. Hy en jong Mannheim het tien minute gelede opgedaag. Die Spanjaard is al lankal hier.”

“Ach, warum warten wir dann?” vra Eckstein geïrriteerd.

“Megan MacIntyre. Die dame het nog nie haar opwagting gemaak nie. Niks kan gebeur sonder haar nie!”

Asof sy die mans in die salon afgeluister het, maak die deftig geklede eienares van die Arms haar statige verskyning op die bopunt van die trap. Blonde Meg, groot van gestalte, herinner onwillekeurig aan die Vikingvroue van weleer wat langs hul mans geveg het.

Mac, wat nie sy vrou sien binnekom het nie, draai agterdogtig om omdat die salon skielik aansienlik stiller word, maar merk dan sy geliefde Meg boaan die trap op, van waar sy die gaste by hulle tafels waarneem.

Toe sy die trappe afkom is Meg self verbaas om die salon so stampvol te sien. ’n Mens kan gewoonlik ná ’n groot perderesies of ander uitsonderlike gebeurtenis ’n vol salon verwag, maar vanaand …? Dis tog maar ’n doodgewone Vrydagaand.

Skielik kom daar van die deur se kant af ’n trompetgeskal. Die dame van die Arms draai om – en haar mond val oop van verbasing.

Twee heroute in Elizabethaanse kostuums blaas ’n triomfantlike fanfare ter aankondiging van die vreemdste prosessie denkbaar.

Vier massiewe, halfnaakte swart mans, soos Romeinse soldate geklee, marsjeer nader met twee enorme kajuitkoffers. Kort op hul hakke volg die jong Karl Mannheim, geklee soos ’n Romeinse orator, ’n papirusrol in sy hand. Links van hom stap Barney Barnato. In sy manjifieke Shakespereaanse kostuum lyk Barnato presies soos ’n edelman uit die Renaissance.

Barnato! Meg se oë trek op skrefies. Die ventjie is natuurlik weer besig met die een of ander gekkerny! Sy voel die bloed opstoot na haar wange en herwin haar stem. “Menere! Mag ek vra met watter soort sirkusoptog julle nou hier besig is?”

Niemand antwoord nie.

Die enorme swart Romeine sit hul swaar vrag neer. Op ’n teken van jong Mannheim kniel almal – van herout tot soldaat tot Barnato. Hulle strek hulle hande in ’n teatrale, pleitende gebaar uit na Meg.

Karl Mannheim rol sy papirusdokument oop. Sy gesig word rooi soos hy sukkel om sy lag te onderdruk. Dan begin hy dramaties deklameer:

“O, Megan MacIntyre! Skone dame van die huis,

hier in jou Arms voel elke heer hom tuis!

Hier heers Fortuna, koningswyn en die ambrosia

van goeie spy-”

“Dis nou heeltemal genoeg twak, meneer Mannheim,” roep Meg streng uit.

“Madame! My skone madame!” kom dit van Barnato, wat met uitgestrekte hande op sy knieë nader aan haar kruip. “Asseblief, genadige dame! Gee my jong vriend Karl, wat spesiaal ’n spel geskryf het wat aan u opgedra is, net een kans om te vergoed vir my vulgêre voorstel ’n week of wat gelede, toe ek ’n boksgeveg in u heiligdom, die Arms, wou reël!”

Meg maak haar mond oop om te protesteer, maar Barnato spring op en gee haar nie ’n kans nie.

“Skone en mees geliefde dame, dat ek so ’n dwaas kon wees! The Arms and the Soul – dis tog wat die naam juis beduie – is ’n plek vir skoonheid, vir die eteriese, waar die siel, net soos die liggaam, gevoed moet word. Hier in hierdie halle van u koninkryk moet alleenlik hoge kultuur beoefen word, nie waar nie, here?”

Hy kyk tersluiks na die gehoor, wat nou om Meg en die vreemdsoortige teatergroep saamdrom, en die uitgelese versameling Johannesburgse here beaam sy stelling heelhartig en luidkeels.

“In ’n spel wat spesiaal vir ons eie skone dame, Meg, geskryf is, wil ek boete doen!” Barney slaan teatraal met sy vuis teen sy bors. “Ek wil hier in die openbaar bely hoe ek in my dwaasheid die naam van die Arms geskaad het.”

’n Onderdrukte gegiggel word oral rond gehoor.

Meg ruik lont. Die vent met sy aapagtige gevreetjie is waaragtig besig om haar vir die gek te hou voor hierdie spul onderlangs proesende mans! Haar imposante borste rys dramaties soos sy haar asem diep intrek en haar oprig tot haar volle, rysige hoogte.

“Hierdie plek is geen teater nie, meneer Barnato, net so min soos dit ’n verbrande boksarena is! Jy en jou trawante kan –”

“Madame, madame! Gee ons net ’n kans! ’n Spel tot lering en stigting. Dis tog wat hierdie Sodom en Gomorra-stadjie nodig het. Sal u so wreed kan wees om hierdie here, wat u as hulle beskermengel beskou, iets só belangriks te ontsê: om ’n stuk wat aan u opgedra is, vir u voor te dra?”

Meg voel in ’n hoek gedryf. ’n Klein bietjie stigtelike vermaak kan seker nie die Arms kwaad aandoen nie? Wat hulle wel as saloneienaars skade kán berokken, is die indruk dat hulle twee suurknol-Skotte sonder ’n sin vir humor is …

Meg huiwer – en Barney kom met sy troefkaart. Hy weet hoe ingestel op wins die Skotse dame is.

“Ons moet sjampanje hê, madame! Ons sal die spel begin met ’n honderd flesse van meneer MacIntyre se heel beste ingevoerde sjampanje! U kan dit op my rekening plaas, madame.”

’n Fortuin! Meg se kop werk oortyd om te bereken wat só ’n transaksie hulle in die sak kan bring. Sy kyk vraend na Mac, wat vinnig sy kop knik.

“Wel …” sê Meg stadig in ’n poging om nie oorgretig te klink nie, “… ek is nie so seker nie … Nou ja, goed. Maar ek waarsku jou, as daar enige skade aangerig word, sal dit ook vir jou rekening wees, meneer Barnato!”

Barnato buig in diepe erkentlikheid. “Dit aanvaar ek, o skone dame. Alle skade sal ek persoonlik vergoed!”

Om hulle bars daar ’n spontane applous en gejuig los. “Hoera! Hoera vir die mooie Meg! Meg is manjifiek!”

Meg frons, maar sy is tog gevlei. Sy het wel die regte besluit geneem, dink sy.

“Sjampanje, meneer Mac! Sjampanje om die muse nader te lok en ons in die regte stemming te plaas!” roep Barnato uit.

Kelners skarrel heen en weer met gelaaide skinkborde. Sjampanjeproppe klap knallend soos bottel ná bottel oopgemaak word.

Die swart Romeine maak die twee kajuitkoffers oop, en voor Meg se verbaasde oë stort daar ’n bont massa kostuums op die vloer uit.

Soos ’n spul baldadige skoolseuns sak die sogenaamde elite van Johannesburg op die inhoud van die kajuitkoffers toe, en in ’n ommesientjie het haar deftig geklede klandisie ’n totale metamorfose ondergaan en in ’n baldadige bontspul verander. Pierrot kniebuig voor koning Lodewyk die Sestiende en seerowers spring met swaaiende sabels op die tafels rond. Narre staan en lag vir Middeleeuse priesters se dolle kaperjolle!

Barney Barnato, wat die tikkie twyfel op Meg se gesig bemerk, begelei haar na ’n stoel wat hy soos ’n troon net bo die trappies na die hoër vlak, geplaas het.

“Almal wat teenwoordig is, neem deel aan ons spel! U vertolk natuurlik die hoofrol – die rol van die liewe koningin Bess, oftewel Elizabeth die Eerste van Engeland.” Hy oorhandig ’n lourierkransie aan haar. “En u sal die wenner bekroon!”

“Wenner?” vra sy versigtig.

“Elke spel het tog ’n wenner,” sê Barney en knipoog ondeund. “In hierdie geval die beste akteur, madame.”

Sy moet maar vir lief neem daarmee, want die energieke Barnato storm weg en beveel dat die verhooginkleding uitgevoer moet word. Meg sien onthuts hoe tafels en stoele haastig uit die pad gestoot word om ’n vierkant te vorm wat met wynrooi en silwer linte afgespan word.

Barnato se kleure! dink sy benoud.

Karl merk haar onrus. “Elke spel het mos ’n verhoog nodig, mevrou MacIntyre!”

Sy knik styf, dié keer glad nie gerusgestel deur die jong pierewaaier se verduideliking nie.

“Ons kort nog ons een speler, kêrels!” roep Barney van die kitsverhoog, soos Karl dit genoem het, af. “Gaan haal dadelik vir Enrico!”

Een van die monnike en Hammond in sy Pierrot-kostuum haas hulle weg om hom te gehoorsaam.

“Mannheim, verduidelik solank jou spel aan die gehoor,” beveel Barnato.

Karl maak teatraal ’n diep buiging voor Meg. “Madame, ons spel is niks minder nie as die lewe self! Die lewe is die spel! Dit is waaroor hierdie stuk handel.”

Meg frons. Sy verstaan nie mooi wat hy bedoel nie, maar sy kry die ongemaklike gevoel dat die jong man met sy silwer tong besig is om haar in ’n lokval in te lei.

Karl gee haar nie kans om verder beswaard te raak nie. “Laat my toe, U Hoogheid, om ons ander karakters aan u voor te stel.”

Uit die hoek van haar oog sien Meg hoe ’n massiewe wese geklee soos ’n Spaanse kommodoor vanuit die foyer verskyn. Die man het die langste arms wat sy nog óóit aan ’n mens gesien het. Sy merk ook dat hy dié soort knopneus het wat net een ding kan beteken: die vent is ’n bakleier!

“Laat my toe om die gedugte, die wrede en vulgêre Spanjaard wat Brittanje se eer aangetas het deur hul geliefde koningin te beledig, aan u voor te stel.”

Die man met die lang arms gluur agterdogtig onder breë oogbanke uit na Meg. “Woz zat leetle baztard … letz bege-e-en!” brul hy.

Van die omstanders begin opnuut onderlangs lag, maar Karl se waarskuwende blik laat hulle summier ophou.

“Vriende en landgenote,” sê hy, “daar het julle dit self gehoor! Hierdie vermetele vent uiter dreigemente teen ons deurlugtige dame!” En dan bulder hy skielik: “Gaan ons as goeie en trotse onderdane van Haar Majesteit hierdie nuwe vernedering sluk?”

“Nee! Nee!” weerklink dit uit elke manlike keel in die kamer.

“Vir koningin en vaderland!” roep Robinson uit, maar vernietig totaal sy waardigheid met ’n kwalik onderdrukte proeslag.

“Vir koningin en vaderland!” kom dit van die ander, en hulle lig hul glasies.

Karl buig weer diep voor Meg. “U Hoogheid, eenstemmigheid is bereik. Die dapper heer hier links van my, sir Walter Raleigh, wat natuurlik gespeel word deur die beroemde Barney Barnato, sal as verdediger van u eer optree!”

Barnato maak ’n swierige buiging voor Meg.

Iewers lui daar ’n klok – en in ’n oogwink is die Spanjaard en sir Walter Raleigh bostukloos. Die skare juig en lag, want beide mans lyk nou heel koddig in hul pofbroeke uit die Elizabethaanse periode.

Meg kan haar eie oë en ore nie glo nie. Haar woede begin stadig smeul. ’n Boksgeveg! Hulle gaan sowaar tóg ’n boksgeveg in haar heiligdom hou! Daardie agterbakse Barnato met sy aapogies! Waarom was sy so stiksienig, so naïef om die man te vertrou? Sy moes geweet het dat die skarminkel haar gaan inloop!

Die geveg begin volstoom. Die Spanjaard se lang linkerhand skiet uit in die rigting van Barnato se kop, maar die kleiner, stewig geboude Barnato dans ligvoets uit die pad uit. Dan storm hy nader, tussen die lang Spaanse arms in, en plant ’n venynige regter in sy opponent se solar plexus.

Die spanning laai op. Die elegante klandisie van die Arms and the Soul raak verruk. Baie geld is wedersyds op die twee boksers verwed.

Die Spanjaard, wat uit een van die plakkerskampe geruk is, het ’n formidabele reputasie as ’n straatvegter. Daarby het hy, met sy armreikwydte, beslis ’n aansienlike voordeel bo Barnato.

Die lojale Barnato-ondersteuners, wat hulle man al in Kimberley in aksie gesien het, is nie hierdeur beïndruk nie. Volgens hulle is die vegtertjie uit Whitechapel onoorwinlik. Luidkeels moedig hulle hom aan.

“Pasop vir sy hotklou, Barney!” gil die andersins besadigde ingenieur John Hays Hammond. Dié waarskuwing kom net te laat, want Enrico se groot poot tref Barney teen die kop en laat hom steier.

’n Kreun styg uit die helfte van die salon op.

Barnato herwin blitsvinnig sy ewewig. Hy dans weer vernuftig uit die pad van die verwoestende lang arm uit. Hy tart nou sy opponent met ’n skelm regter, maar Enrico weer dit suksesvol af.

En dan kom Enrico tot sy spyt agter hoeveel krag daar agter Barnato se linkerhou lê, want skielik ontplof dit teen sy wang.

Hy brul en storm op Barnato af, maar dié maak hom weer met ’n netjiese systap uit die voete en plant ’n stewige hou teen die Spanjaard se ribbes.

Barnato kom egter nie skotvry daarvan af nie. ’n Opstopper van Enrico tref hom wel en bloed uit sy neus spat oor die salon se blinkgevryfde eikehoutvloer.

Meg sluit haar oë. Om haar gaan die spul mans soos oorgroeide skoolseuns te kere.

“Schweinerei! Barnato, hou op mit tanzen und baklei toch!” hoor sy Eckstein met sy swaar aksent skreeu.

“Vreet hom, Enrico. Vreet Barnato!”

Barnato verstyf merkbaar. Hy swaai om en vang vir Julius Wernher uit wat nog met sy hande bak om sy mond staan. Vir daardie breukdeel van ’n sekonde wat sy aandag nie by die geveg is nie, word hy deeglik gestraf. ’n Magtige hou tref hom en gooi hom vir ’n tweede keer van balans af. Dit stuur hom vloer toe.

Enrico se aanhangers raak buite hulleself van vreugde.

Effens duiselig, is Barnato nietemin gou weer op die been. Dis nou duidelik dat hy ná Wernher se beledigende aanmerking met hernude ywer baklei. Hy lok die Spaanse reus met vinnige voetwerk kruis en dwars in die kryt rond. Die man begin wild en woes te slaan na die kleiner vegter, maar dié ontwyk hom voortdurend.

Toe Enrico dit die minste verwag, storm Barnato nader en plant ’n magtige regter in sy midderif. Die langer man vou inmekaar, en voor hy kans het om te herstel, tref Barnato se linkervuis die massiewe kinnebak met soveel geweld dat die naaste omstanders, ten spyte van die geraas, ’n klapgeluid hoor soos die Spanjaard se kakebeen breek.

Enrico brul van pyn, maar Barnato ken nou geen genade nie. ’n Tweede regter tref sy opponent volskoot op die lelike, breë neus; bloed spuit soos ’n fontein.

Die Spanjaard se bene vou onder hom. Soos ’n afgekapte boom slaan die man neer, en die gehoor rondom Meg raak waansinnig van opwinding.

Sy merk verontwaardig dat haar Mac net so opgewonde is soos die ander spul barbare om hom. Hy juig nou ook luidkeels en klap hande vir Barnato wat grynslaggend sweet en bloed van sy gesig staan en afvee. Mans is almal eenders, besluit Meg bitter. Blote diere!

Sy kyk na die donkergroen kunsblare van die lourierkrans wat steeds in haar skoot lê. ’n Idee begin by haar posvat.

Tussen die rooi en silwer gespande linte van die kryt lig Karl Mannheim triomfantlik die laggende Barnato se hand as die oorwinnaar omhoog. Dan buig hy spottend in Meg se rigting.

“Geëerde dame en here, die oorwinnaar vanaand is Barney Barn-, ag, ek bedoel, sir Walter Raleigh!”

Die mans lag uitbundig. Applous en uitroepe klink dawerend op.

Barnato, gesoute akteur en bokser, aanvaar hierdie lofuitinge soos ’n ware kampioen. “Sjampanje asseblief, meneer MacIntyre. Die spel is verby!” roep hy uit.

Meg staan stadig op.

Mac sien dit. Hy merk ook benoud aan die ysige uitdrukking op haar gesig en aan haar houding die omvang van haar toorn. Sy Meggie is die liefde vanself, maar as sy die dag kwaad is, dan is die hel ’n koel plek teenoor die inferno van haar woede!

“Sjampanje! Sjampanje!” kom dit van alle kante af. “Bring nog sjampanje! Laat ons op die oorwinnaar drink!”

“Stilte!” Meg se stem weergalm soos ’n waarskuwende sirene oor die rumoer. Die manne merk nou eers haar dreigende gestalte wat bo menige van die mans om haar uittoring.

“Die spel is nóg nie verby nie, menere!”

Die Spanjaard, wat dronkerig regop sit, skud sy kop verdrietig. Hy streel oor sy seer kakebeen. “Over … it eez! Overz, pleeze!”

Die manne begin opnuut lag, maar hulle lag verdwyn baie vinnig toe Meg se stem weer die vertrek deurklief.

“Ek móés teen wil en dank die rol van liewe koningin Bess vertolk! Die hóófrol, as ek u mag herinner! As koningin Bess, eis ek my reg op om die oorwinnaar te kroon met hierdie lourierkrans!”

Sy kyk Barnato stip in die oë. Hy versit nie ’n voet nie.

“Of is die dapper sir Walter Raleigh, ons held, nou skielik bang vir sy liewe koningin Bess?” vra Meg snedig.

Die spottende gelag wat nou opklink, laat Barnato geen ander uitweg as om die siedende Meg te nader nie. Sy staan soos ’n standbeeld daar met die lourierkrans in haar hand, gereed om dit op sy hoof te plaas.

Barnato grinnik verleë en stap traag nader. Dit laat hom nog meer na ’n apie lyk, dink Meg venynig. Nee, hierdie apie sal sy regsien; sy sal hom ’n les leer wat hy nie maklik sal vergeet nie!

Barney steek ’n entjie van haar af vas en buig oordrewe. “Die eer vir u nederige dienskneg is te groot om uit u fraaie hand –”

“Ek wág, meneer Barnato!” sê koningin Bess afgemete. “Kom nader! Soos u seker kan sien, is ek nie geseënd met arms soos die Spanjaard s’n nie!”

“Komaan, Barney!” moedig ’n omstander hom aan.

“Die sjampanje word warm!” skreeu ’n ander.

Barnato tree nader, naby genoeg vir Meg om die lourierkroon met haar linkerhand op sy kop neer te plak.

“Ek slaan u tot ridder, my heer!” bulder Meg. En tegelykertyd skiet haar regtervuis uit en tref Barney vol onder die ken. Sy ogies kyk haar ’n oomblik lank in stomme verbasing aan, dan trek beide oë skeel na binne en hy slaan voor Meg se voete reg agteroor. Uitgeslaan! Meg MacIntyre het vir Barney Barnato uitgeslaan!

’n Geskokte stilte daal oor die salon neer. Dan weergalm Meg se stem soos ’n mishoring, onmiskenbaar ’n laaste waarskuwing. “Dit, menere, was die lááste spel, en die állerlaaste boksgeveg, wat óóit in die Arms and the Soul sal plaasvind!”

Meg tree koel oor die gevalle sir Walter Raleigh en wink die deurwagte nader. Sy beduie na die Spanjaard, wat nog steeds kop onderstebo sit, en die onkapabele Barnato aan haar voete.

“Neem die twee here asseblief na buite. Ek glo die vars lug sal albei van hulle ná dese goed doen.”

Die drie groot deurwagters gehoorsaam dadelik. In ’n ommesientjie is die personae non grata verwyder. Met die slinksheid van ’n oeroue Eva verras sy haar nou ongemaklike kliënte met haar mees stralende glimlag.

“Menere, ek is vas oortuig dat meneer Barnato nie sou wou hê dat enige van u honger of dors moet wees op so ’n opwindende aand nie.” Soos ’n oorlogsfregat in volle vaart, pyl sy op die eetkamerdeure af en gooi hulle oop. Sy buig verwelkomend vir die gaste.

“Eet en drink soveel as wat u kán, menere, want dié banket sal óók vir meneer Barnato se rekening wees! Hy het my vertroue beskaam, en u het self gehoor dat hy hom voor die … ’m … die spél bereid verklaar het om alle skade te vergoed!” Sy draai na die kroegman. “Sjampanje, meneer Benny! Nóg tweehonderd ingevoerde flesse uit meneer MacIntyre se uitsoekrakke in die kelder,” beveel sy.

“Meggie, och, lassie-o’-mine –” protesteer Mac. Een kyk van sy vrou is genoeg om hom sy protes summier te laat staak.

Meneer Benny skarrel weg om Meg se bevel te gehoorsaam.

Heelwat later, in die eetkamer waar die stomende bakke warm kos en die sjampanje wat vloei die oorstelpte gemoedere reeds suksesvol gelaaf het, waag Mac dit vir die eerste keer om witvoetjie te soek by sy formidabele vrou. Half versigtig bied hy haar ’n glas van hulle beste vonkelwyn aan.

“Och, Meggie, ek weet wat jy dink,” probeer hy saggies verduidelik. “Mans is nou maar eenmaal mans …”

“Mans is nou maar eenmaal barbare!” antwoord Meg hom lakonies.

Maar Mac merk verlig die ou glinstering in sy Meggie se oë.

“Dit sluit jou ook in, meneer MacIntyre! Ek het jou dopgehou!”

Mac lag saggies. “Ek pleit skuldig, mevrou MacIntyre! Wat is my vonnis? Is daar enige manier waarop ek kan vergoed?”

Meg glimlag skalks. “Ons sal later vanaand daaroor gesels, meneer MacIntyre!”

Die fortuinsoekers

Подняться наверх