Читать книгу Die dao van Daan van der Walt - Lodewyk G. du Plessis - Страница 10

EEN

Оглавление

Ingeval die ounooi hier iewers rondswewe, Kaspaas, wil ons haar nie onnodig ontstel nie.

Ek sit en skryf in ’n monniksel skaars drie meter by drie meter; ’n raps kleiner as die polisiesel waarin ek na die moord opgesluit was. Hierdie sel is ten minste skoon. Die enigste ander meubelstukke is ’n staalraam waaraan ek my klere ophang en my bed, ’n kontrepsie wat die Chinese ’n kang noem, ’n platform met ’n skoorsteen. Soos ouma Annie se voetstofie het ’n kang ’n plek vir kole. Die ding is so hard soos die klipbank op die koppie voor die plaashuis waar ek en die ounooi voor ons troue een Sondagmiddag gelê en vry het. Ek maak geen oog toe op die harde blad nie. Dis koud hier. Kole vir die kang se maag om my snags warm te hou, is hier nie.

Vanmôre het ek my ryspap en spinasie geëet en tai ji saam met die monnike gedoen. My skryfboek lê nou oop voor my. Dalk sing die ounooi hierdie keer vir mý soos die muse vir Homerus.

Ja, ek weet ek het toe nie vir haar gesê ek was lief vir haar nie. Gee kans, ek kom daarby.

Intussen kan jy bly wees jy is dood, Kaspaas. Hier vang die mense jou, slag jou af en braai jou oor die kole vir aandete. Hondevleis hou die bloed warm in die winter, sê hulle. In die gees is jy by my, my vriend. Jy is my honde-muse. Hoe anders as met jou hulp – en dalk dié van die ounooi as sy nie kwaad is oor die naskrif in gisteraand se brief nie – kan ek my geskiedenis neerskryf? Ek hoef my net jou vertrouende oë te verbeel en ek kan die taak opneem.

Laas nag het ek gelê en wonder watter taal jý in die doderyk verstaan. Toe jy gelewe het, het ek jou gevoelens met eerbied behandel en Engels met jou gepraat, jy wat nie eers weet wat cave canem beteken nie, maar geweet het hoe ek oor die Engelse voel. In hierdie geskrif praat ek dalk meeste van die tyd Afrikaans met jou.

Na Jan-Willem my in Longshan vertel het hoe hy hom hierdie keer misgaan het, was ek so gekrenk, my maag was skoon onklaar. In sy kleinhuisie – as ’n mens ’n bruingevlekte sloot in ’n sementvloer ’n kleinhuisie kan noem – het ’n duiseligheid my oorval. Alles het begin tuimel. Agter my geslote ooglede het ek iets beleef wat ek die beste met daardie nare woord fantasmagorie kan beskryf, ’n mislike koorsyling. Verwronge beelde het in my kop gerondomtalie. Broek om die enkels, arms om die kop het ek op die vloer neergeval en in die sloot gelê en braak. Daar was geen bo en geen onder nie. Wanneer ek my oë oopmaak, het die aarde gekantel en ek moes vasklou of ek gly af. Soos Gam vir Noag, het Jan-Willem my naaktheid aanskou. Maar kans vir lag was daar nie vir hom nie, hy moes emmers water oor my uitgooi om my skoon te kry. In ’n geleende motor het hy my broekloos na die Tempel van Ewige Vrede toe gebring. Nuweling-monnike het hom gehelp om my uit die kar te kry. Terwyl hy na meester Yang soek, het ek soos ’n fetus inmekaargekrimp op die plek waar hulle my neergelê het. Toe dié man uiteindelik hier aankom, het hy my op die naat van my rug laat lê en my kop stadig van links na regs gedraai, naalde onder my kleintoontjies en in my oorlelle gedruk en alkohol op my bors gebrand. Hy het my omgerol en ’n kruiesigaar op my rug aan die brand gesteek. Toe ek oplaas my oë oopmaak, sien ek ek lê op die blinkgeskuurde blad van een van die kombuistafels, die ou vadoekie oor my skaamte gans te klein vir die doel waarvoor dit daar geplaas is. Daar lê ek soos die dag in die konsistorie voor die starende oë van die susters van die gemeente, ’n spektakel ten aanskoue van ’n klomp monnike, hand voor die mond, verbouereerd aan ’t giggel.

Een woord verder oor die gebeure daardie nag en ek maak my skuldig aan ’n doodsonde.

Ek is reeds skuldig aan een van dié sondes. Ek is in China soos die Psalmdigter in die dieptes, gans verlore. Calvyn vermaan en verplig die mens om ondersoek te doen waarom hy ’n misnoeë in homself het. Selfondersoek is nou aan bod, soos die ounooi en haar meelopers sou sê. My opdrag aan myself hier agter my tafel is, in die gees van die Puriteinse wekroep uit die sestiende eeu: a narrow examination of thy selfe and the course of thy life.

Is daar ’n beter manier om vrede te vind as met ’n belydenis van sonde?

In jou bruin oë, Kaspaas, sien ek die antwoord, hoor ek jou stem: Bely, Oubaas, bely, bely.

Ek sal bely.

Na die belydenis hoop ek kom insig. Na die insig begrip. Soos ’n Rooms-Katoliek in die bieghok gaan ek met pen op papier my sondelas woord vir woord van my gewete afwerp. Wanneer ek alles begryp, wil ek vry wees, so vry soos ’n Kruisvaarder na ’n stywe aflaat.

Jan-Willem was ’n eerstejaarstudent toe die ounooi dood is. Ses jaar later, met ’n graad in die teologie, het hy my soos ’n flenterlap vol ghries en ou olie in die waenhuis se hoek gegooi. Vier jaar lank het ek in stilte my wonde gelek. Toe, sonder vrou en kind, met net jou geselskap, my hond, het ek Hesiodus en Homerus, Virgilius en Ovidius afgestof en saam met Seneca op die kassie voor my bed langs die Vulgaat neergesit, die ounooi se studeerkamer oopgesluit en weer begin lees. Met mening het ek gelees. Dag en nag. Orals. Op die leunstoel voor die eetkamervenster, op ’n lusernbaal in die stoor, op ’n omgekeerde paraffienblik in die kalwerhok, by die kombuistafel, onder die komberse in my kooi. Wat in my kop vasgeskop het, was Yourcenar se Abyss en Eco se The Name of the Rose. Dié twee boeke was soos ’n reis saam met die heilige Brandaan deur die kerk se skrikbewind gedurende daardie tye. Die toestand van die bruid van Christus het my mistroostig gelaat wanneer die water lou geword het in my bad. Memoirs of Hadrian het ek ook gelees en toe weer en toe nog ’n keer. By die herlees van Seneca se geskrifte en Steinbeck se roman To a God Unknown het ek besef die steen wat die bouers ’n plek ontsê het, kan vir my die hoeksteen word.

Ek het ’n drang begin ontwikkel om van die pad af te dwaal en langs ’n voetpad ’n blommetjie te pluk.

Snags het ek na die prent van die Breë en die Smal Weg teen my ontslape ouers se kamermuur gaan kyk en gebid: Leer my, Heer, u regte weë, wys die regte pad my aan. Maar ek het geweet: Video meliora proboque, deteriora sequor, soos Ovidius dit so treffend stel: Ek sien die betere en keur dit goed, maar ek volg die slegte.

By uilgeroep wanneer die maan oor die familiekerkhof hang, was die Smal Weg aangewese.

By hanekraai, in die glans van die môrester op die voorstoep, koffiebeker in die hand, ’n kousel anysbeskuit in die kies, het die Breë Weg gelok.

Heen en weer, soos die klepel van ’n klok, het ek geswaai. Breë Weg, Smal Weg. Breë Weg, Smal Weg. Die vurige hoop en die vaste vertroue van die geloof moes my op die Smal Weg hou, die uitverkiesingsleer my tot troos wanneer ek struikel. Die hemel was immers my bestemming. Dis waar die ounooi is by wie ek ’n paar sake moes gaan regmaak. Maar die Smal Weg hemel toe was nie my beskeie deel nie.

Ek het ’n vermoede: die mens wik, maar God … God en Satan sluit weddenskappe oor jou lot.

Pleks dat ek, glas Kaapse Vonkel in die hand, na die ounooi toe opgevaar het met ’n strydwa en vurige perde, bevind ek my een nag ’n jaar of wat gelede tussen die skaapkraal en die koeistal op die riffelrug van die Bokram uit die Weste. Die gedierte tussen my dye bokspring, ek verloor my balans en kom op my rug op die gloeiend warm aarde te lande en daar sien ek ’n gesig. Met hierdie twee oë van my aanskou ek hoe ’n vinger van ’n mensehand teen die dooie miershoop skryf: Daan van der Walt, jou boggel en jou blom is Wellus.

Wellus, Kaspaas.

Sonder verhoor is ek skuldig bevind aan die ergste van die sewe Doppersondes. Was dit maar Vraatsug kon ek dalk op ’n eetstaking gaan, maar dit was Wellus, ons vroeë kerkvaders se Sonde Nommer Een.

Ek het op my knieë voor my bed neergeval en vertroosting gesoek in die gebed van die heilige Augustinus: Da mihi castitatem et continentiam, sed noli modo. Maak my kuis en rein, maar tog nie dadelik nie.

Jy het jare lank in jou bamboesmandjie voor my bed geslaap, my vriend, jy weet ek bid nie in ’n vreemde taal nie. ’n Mens bid immers úit en déúr jou niere in die taal wat jy aan moedersknie geleer het. Maar met die heilige Augustinus se gebed het ek, by wyse van spreke, bokant die ou kerkvader se stuitjie in sy niere nesgeskop. Hy het nie net ’n paar pere uit sy buurman se boord gesteel nie, hy was óók skuldig aan die toe nuut gerekende sonde van concupiscentia, die Roomse Gevaar se naam vir Wellus. Asof dit nie genoeg was dat Augustinus in die bondel – en in bordele – gevry en jare lank in sonde met ’n vrou saamgeleef het nie, het hy ook ’n vriendjie gehad wie se vriendskap, soos hy beken het, hy bevuil het met smerige wellus, en toe die jong man binne ’n jaar die tydelike met die ewige verwissel, het Sy Heiligheid met sy eie hand in sy Confessiones geskrywe dat die verhouding met die jongeling heuningsoet was, soeter as al die ander soetigheid in sy lewe. Die Godsman se hart was gebroke en hy het hom in goeie geselskap bevind toe hy oor dié knaap soos Dawid oor Jónatan, Gilgamesj oor Enkidu en Achilles oor Patroklos ’n tranevloed gestort en ’n klaagsang aangehef het.

Dat ’n man ná hy lyf gekry het so droefgeestig oor die dood van ’n jongeling kan wees, het my diep geroer, Kaspaas. “How human we all are,” het ek gesê toe ek een middag agter die kalwerhok in die skadu van die kareeboom op die ou Fordson-trekker vir jou sy Confessiones voorgelees het. “Of jou naam nou is Augustinus, biskop van Hippo, Noord-Afrika, of Daan van der Walt, boerbokboer van Ystervarkfontein, Suid-Afrika, kom nie daarop aan nie: ’n man is nie ’n klip nie.”

Hoe langer ek snags geworstel het met my woeste wellus, hoe meer het ek besef: eendag sal ek moet bieg oor my bronstigheid en kniebuigings voor die Romeinse gode en die Roomse Gevaar. Maar soos ’n skip sonder stuurman het ek soos ’n kurk op die golwe gedobber en gedans. Nee, laat ek eerlik wees, besluiteloos gestoom soos ’n besope skip.

In die glans van die môrester, koffiebeker in die hand, het ek my besluit geneem: Ek wou nog een maal voordat ek voor die regterstoel verskyn, ’n bietjie vleeslik verkeer. Ook ’n ou soetigheidjie smaak. Ek wou nog ’n slag lepellê, soos koning Dawid met sy jong maagd, die Sunamiet. Ek wou aan die slaap raak langs ’n warm jong lyf, die nag se klam sweetreuk in my neus, ’n hand wat my streel, ’n asem teen my nek.

Daarna sou ek besluit of ek my confessiones ook te boek sal stel. Later daardie selfde dag, sal jy onthou, is ons dokter toe. Dit was ’n Donderdag. Op pad het ons na ’n tema en variasie van Mozart geluister. Op die klavier uitgevoer: “Ah! Vous dirai-je, Maman”. Ek onthou ek het dit nog vir jou vertaal: “Twinkle, Twinkle, Little Star.”

In die dorp aangekom het ons eers ’n skaapboud by die pastorie aan Anna, die huishulp, gegee en toe twee slagskape by die ouetehuis afgelaai. By die koöperasie het ek buurvrou Elsie Steyn se notisie in die man agter die toonbank se hand gestop. Na hy haar goedjies bymekaargekry het, het ek mieliemeel en suiker, malvalekkers, twee pakkies Lemon Creams en ’n rolletjie pepermente gekoop. Van die koöperasie af het ons hotel toe geloop, ’n plek waar ek in geen jare was nie. Vir wat nies jy weer, Kaspaas? Dis die waarheid en jy weet dit.

“Waar is die sitkamer?”

Die vrou met die taaigespuite paradysvoël-haredos by Reception kyk nie van haar Huisgenoot af op nie. “Same place. No dogs allowed,” sê sy.

“Jaag jý hom dan uit,” sê ek.

Ek gaan sit by ’n tafeltjie, Kaspaas aan my voete. Die sitkamer, ’n vertrek met toiletgroen mure en ’n grys mat vol vlekke, is verlate. Na ek die knoppie teen die muur drie keer gedruk het, kom die kelner te voorskyn. Ek bestel vodka en gemmerbier.

“Wat in die naam van ons liewe Vader doen jy hier, Daan? Jy kan mos pastorie toe gekom het vir ’n koppie tee.” Dominee staan in die deur en vryf sy voorkop met ’n sakdoek droog.

“Anna het gesê julle is nie tuis nie.” Die kelner skuur by hom verby met my drank. “Dominee ook ietsie drink?”

Met ’n aartsengel-Gabriël-uitdrukking op sy gesig beskou my predikant die glas vodka op die tafel voor my asof dit die appel aan die boom van kennis van goed en van kwaad is.

“Ek soek na ’n nuwe lidmaat wat hier bly tot hy ordentlike verblyf kry.”

“In ons jong dae was die plek ordentlik.”

“Nou is nou.”

“Gemmerbiertjie, Dominee?”

Sonder om te groet, draai hy om en loop weg.

Die skynheilige slodderkous! Ek proe aan my vodka en bestel ’n hamburger en tjips.

So het ek oordele oor myself gebring, Kaspaas. As jy die gesalfde van die Here ’n slodderkous noem, word jy sewentig maal sewe keer gestraf.

Ek en Dominee ken mekaar al van kort na die sondvloed af. Hy het ook my ontblote liggaam eenkeer aanskou; nie op ’n kombuistafel onder ’n vadoek nie, maar in ’n koshuiskamer. Op ’n manier het ek en Dominee, toe ons nog jonk was, amper ’n sak sout saam opgeëet, kan ek maar sê.

Moet ’n mens tot blosenswordens eerlik wees in sy confessiones, Kaspaas? Ek dink nie so nie. Nie vandag nie. Kom ek vertel jou liewer ’n ander storie van my en Dominee.

Die ounooi was reeds dood en jy ’n jaar op die plaas, toe ek en hy vir kerksake Kaapstad toe is en met die terugkomslag ’n proponent saamgebring het om sy prakties in ons gemeente te kom doen. Ons was in Dominee se kar op pad terug. Ek, hy en die jong man. Jy het tuis gebly.

Die proponent, sommer nog een van laas jaar se kalwers, beskou die landskap deur die kar se venster. “Lyk die wêreld daar by julle ook so … so …?”

“Hoe bedoel jy, só …?” vra Dominee. Hy kyk na die proponent op die agtersitplek in plaas daarvan om sy oë soos ’n verantwoordelike motorbestuurder op die pad te hou.

“Só,” sê die jong man. “Só … soos …” en hy wys met sy hand, ’n vae sweefbeweging, in die rigting van die hittegolwe wat die landskap soos ’n nat waterverfskildery smeer.

“Soos ’n hert in dorre streke skreeuend dors na die genot van die helder waterbeke,” help ek die stamelende jong teoloog.

“Oom Daan sal jou van ons dorre streke vertel. Hy het hier grootgeword,” sê Dominee. “Op sy dag was oom Daan ’n advokaat. ’n Moedswillige kêrel en dwars. Vol draadwerk. Hy gee net voor hy weet min en verstaan niks. Op skool was sy bynaam Slim Daantjie. Hy lees nie die Bybel in Afrikaans nie. Nee, hy weet weer beter, hy lees die Vulgaat om sy Latyn by te hou.”

“Dis donkiejare gelede dat ek ’n advokaat was,” onderbreek ek my leraar se twyfelagtige pryslied. Vir die proponent sê ek: “My pa is dood aan die einde van my eerste jaar in die praktyk as advokaat. Ek moes terugkom plaas toe om te boer. Jy kan maar sê die laaste 37 jaar op die plaas was vir my soos die Israeliete se veertig jaar in die woestyn. Maar ek het vrede daar gevind, geseënd ook gewees tussen die klipkoppe, volstruise en boerbokke.” Dominee sug en begin met die radio vroetel. Ek druk sy hand weg. “Tot heden vandag toe geen televisie op die plaas, geen internet, geen selfoon tussen die sandduine nie. Kyk na my, jong man.” Ek wys met my vinger na my gesig: “Kyk mooi. Wat sien jy?”

“Hoe bedoel Oom?” Hy maak of hy nie verstaan nie, maar hy kyk behoorlik. Ek het sy volle aandag, soos Kaspaas s’n wanneer ek vir hom ’n murgbeen gee om sy hare blink te hou.

“Soos jy my hier sien, is ek ’n moer in burg en meen.”

Die proponent knik instemmend.

“Jy bedoel ’n boer in murg en been, Daan,” sê Dominee.

“Dis wat ek gesê het.” Vir die proponent sê ek: “Ver van die beskawing moes ek keer dat ek nie in die groewe van die plaaslewe vasroes soos ’n moer aan sy bout in ’n eenskaarploeg langs die wenakker nie. Vergete en toegegroei onder die onkruid.”

Die proponent knik weer.

“Ek woon in dié deel van ons land waar jy, as jy die wêreld nie ken nie, kan dink dis woes en leeg soos aan die begin nadat God skeiding gemaak het tussen die waters en die waters …”

“… en ons op die droë grond agtergelaat is,” voltooi Dominee my sin. Hy wil hê ek moet die praatwerk doen en dan maak hy so.

“In dié woesteny,” gaan ek voort, “het doodslag ’n eie betekenis: die moordenaar maak nie net dood nie, hy maak mórsdood. As hy terugstaan en die werk van sy hande aanskou, sê hy: Jy is góéd dood. En dit is so.”

Ek vou my hande voor my bors in ’n Dürer-gebed: “In die jare tagtig het ’n klomp mans ’n polisieman flou gejaag en hom met messe en skroewedraaiers gesteek. Sy uniform was aan flarde, sy lyf vol gate. Die rondgaande hof het vir weke op ons dorp gesit. Die hofsaal was te klein.” Ek bly ’n oomblik stil. “Wat dink jy het Dominee gedoen?” Ek staar stip na die proponent. “Dominee het ons kerksaal beskikbaar gestel vir die verhoor. Vir weke daarna was die saal gepak. Dit het gelyk of die susters voortdurend verkoping hou.”

’n Rukwind skud die kar. “Is die lugverkoeling nie te koud nie?” vra Dominee.

Ek en die proponent voel nóg hitte, nóg koue. Ek klop op die jong man se been en fluister: “In die laat jare negentig het matriekseuns ná ’n partytjie ’n boemelaar met ’n bofbalkolf doodgeslaan.”

“As die wind so aanhou waai, kan die boere vergeet van reën,” sê Dominee.

Ek sien die punte van die proponent se voortande tussen sy bo- en onderlip. Deurskynend wit soos een van Magrieta se porseleinpotte. ’n Effense spoegie daarop. Op sy tande. My gees raak onrustig in my: “Ons bly op die plek van wonde. Ontelbare wonde,” fluister ek en maak my oë toe.

“Tyd om water af te slaan,” sê Dominee, trek van die pad af, klim uit.

Ek maak my oë oop en priem in die jong man se oë soos ’n reënmaker ’n slang begogel. “My plaas, Ystervarkfontein, is ’n oase in die woestyn. Daar is ’n bron met water, water vir ’n hele dorp selfs wanneer al drie die susterkerke en die sektes dieselfde naweek nagmaal hou. Jy moet kom kuier. In die grot vol wilde varings en mos groen op die klippe waar die fontein uitborrel, sal jou hart soos ’n jong hert opspring in jou binneste.” Die proponent sluk hard, sy gorrel wielie-walie, sy oë knip-knip. “En daar is ’n gronddam met eende op die water en vinkneste in die wilgers en ’n bankie op die wal waar jy kan sit en kyk hoe die volmaan oor die rante opkom.”

Ek maak die kardeur stadig oop, klim uit en gaan staan langs my predikant in die wind en die warm son.

Die warm son het my spoggerige woorde doodgebrand terwyl ek my oumansdruppels langs Dominee drup en vergeefs probeer keer dat die wind hulle teen my broekspype waai. Ek het nie weer my mond oopgemaak op daardie rit nie.

Laat ek jou iets vertel wat jy nie weet nie, Kaspaas. ’n Proponent is ’n afgestudeerde teologiestudent wat as predikant beroepbaar is. Jan-Willem was ’n proponent toe hy die hasepad gekies het, ’n jaar voor die rit tussen Kaapstad en ons dorp waaroor ek nou net geskryf het. Jy was toe al ’n goeie ses jaar by my op die plaas.

Omdat jy nog sukkel om Afrikaans en Latyn te verstaan, sal ek vir jou verduidelik: die werkwoord proponere beteken om iets voor te lê; om ten toon te stel. Die proponent het daardie dag in Dominee se kar niks voorgelê nie, Kaspaas, dit was ek wat myself ten aanskoue van die jong man en my predikant ten toon gestel het, selfs my hand op die proponent se knie gesit het. Dis ek wat sonder stertvere gepronk het.

En daar vertel Dominee ook nog vir die jong man ek lees die Bybel in Latyn. Nou dink hy dalk ek het Roomse neigings. Ons het ’n plig om dié mooi taal aan die lewe te hou, Kaspaas. Gaan lees die profeet Sefanja in Latyn. Dis taal op sy aangrypendste. Met Engels en jou bietjie Afrikaans sal die krag en skoonheid van die sterwende ou taal, as jy dit aanhoor, jou blaf vleuels gee. Ons moet dankbaar wees dat, na barbare die Romeinse Ryk oorval het, taalbulle dié taal in kloosters vertroetel en bewaar het.

Na die aankoms van die proponent het ons Sondag vir Sondag na die verkondiging van die Woord gaan luister. Die jong man se preke was vir my vertroostend ná Dominee se vuur-en-swawel-boodskappe. Dié ou vriend van my is tog so teen die sonde.

’n Paar maande na hy weg is, het ek een aand toe ons op die stoep na die Suiderkruis sit en kyk, vir jou gesê: “You know, Kaspaas, when I think back to the conversation with the proponent, I am slain. Overcome with shame and sorrow. Sorrow, yes. Wat kyk jy my so? I’m acquainted with grief. Anyway, you just listen: the conversation with that young man went wrong. So terribly wrong. Ek het al my appels op een slag uit die krat gegooi.” Jy het op die gevlegte grasmat langs my voete gelê, jou een oog toegemaak en met die ander na die stukkie biltong in my hand gekorrel. “He never came to visit us, did he?” het ek gesê. “He never did. Not even once.” Ek het die biltong in my mond gesteek en dit gekou sonder om dit te proe. “Not even once.” Jy het jou lippe afgelek.

Maar toe ek vir jou sê: “Die probleem, Kaspaas, is dat ek bang was ’n man kan dalk oud raak as hy wag tot die Vaalrivier se water eendag helder word,” het jy eers met jou een poot en toe met die ander al langs jou neus af gevryf, kompleet soos Maria dos Prazeres se hond wanneer hy sy trane afgevee het. Toe het jy drie keer genies. En ek het drie keer bless you gesê en die seningrige stukkie biltong uit my mond gehaal en vir jou gegee.

Die stoel waarop ek sit en skryf se een poot is korter as die ander een. Hoe sou die ounooi geweet het skrywers sit op gebreklike stoele? Ek probeer vir die soveelste maal nesskrop en sien die visse in die koidam voor my seldeur se wriemelende lywe skitter in die son.

Weet jy wat sien ek nog, my vriend? Ek sien ’n ou man op ’n onvas stoel wat ’n jakkalsdraai met sy storie loop en nou moet sorg dat hy terugkeer na die hedelyn as hy nie wil hê sy oorlede vrou moet vannag weer kom kla dat hy nie vir haar sing nie.

Ek sien ook dieselfde ou man aan ’t suipe in die Royal Hotel, omdat die moed hom ontbreek om vir sy dokter te sê hy wil sy batterye laai met ’n Viagra-pil.

Na Dominee daar uit is sonder om te groet, het die Royal Hotel se vetterige slaptjips in my krop vasgesteek en ek het die laastes vir jou op ’n klein papierservetjie op die vuil mat uitgekrap. Toe het ons in die hitte teruggeloop na die koöperasie, in die bakkie geklim en na die dokter se spreekkamer in ’n ou woonhuis in die voordorp gery. Jy het op die stoep in die skaduwee gaan lê.

Die ontvangsdame het gevra of ek ’n afspraak het. Ek maak nie afsprake nie; ons ken mekaar, ek en die geneesheer. Hy was my dokter se jonger vennoot. Hy het nog kortbroek gedra, toe was ou dokter Mes al my geneesheer en my vriend. Hy is dood aan prostaatkanker. “Ek het nie die ding genoeg oefening gegee nie,” het hy gespot die laaste keer dat ek hom in die hospitaal besoek het. Die keer daarop het ek sy ou liggaam help graf toe dra.

“Dokter sê hy sal oom Daan ná die volgende pasiënt sien,” sê die ontvangsdame en plaas die gehoorstuk terug na sy die dokter van my teenwoordigheid vertel het. Die vrouens in die wagkamer loer nuuskierig na my om te sien wie is die man wat voorkeurbehandeling kry. Die dokter weet ek het nie tyd om te mors nie en dalk reken hy ek het vir hom ’n slagdingetjie gebring.

Ek vat een van die vrouetydskrifte op die deurmekaar tafeltjie in die middel van die wagkamer. Mans gaan dood voor hulle by die dokter uitkom; hier is nie ’n enkele Landbouweekblad op die tafel nie. Ek blaai deur ’n Sarie. My oog val op ’n brief.

Beste Dokter,

Ses maande gelede het ek ’n aanvallige weduwee ontmoet. Ek is ’n wewenaar, 78 jaar oud. Sy 68. Ons het gereeld begin uitgaan. Soos vriende. Die gewone goed gedoen: fliek, daguitstappies. Na ons gisteraand gaan uiteet het, het ek by haar woonstel gaan koffie drink soos dit my gewoonte geword het. Ek is na haar badkamer toe en toe ek terugkom in die sitkamer, sit sy op haar groot, gerieflike rusbank sonder ’n draad klere aan. Ek het nét daar my baadjie gevat en geloop. Wat is met haar verkeerd?

Voor ek die raad wat die tydskrif se troostante aan die ou oom gegee het kon lees, roep die verpleegster my. Ek sit die Sarie terug op die tafeltjie en terwyl ek opstaan, haal ek die pepermentjie uit my mond en knoop dit toe in my sakdoek se hoek.

“Ek kry hartkloppings, Dokter,” sê ek en gaan sit voor sy lessenaar vol boksies pille.

Ek kan nie met die intrapslag vir hom sê ek het kruit in my pan nodig nie, en die hartkloppings is die reine waarheid. Diep in die nag wanneer ek oor Viagra lê en nadink, gaan my hart aan die klop kompleet soos ’n ou diesel-kragopwekker met los boute.

Die dokter staan op en wys na die ondersoektafel.

Ek trek my hemp uit en gaan lê, hoes en haal diep in-en-uit asem terwyl die dokter my bors en rug met sy lang ore beluister.

“Jy kan aantrek,” sê hy nadat hy my strottehoof ook bevoel het. Hy gaan sit agter sy lessenaar, druk die interkom se knoppie en begin skryf in my lêer. Na ’n kloppie aan die deur kom die verpleegster binne. Ek bedek my kaal bolyf. Dis nie dat ek skaam is nie, maar ’n ou man se lyf is nie vir my mooi nie. Met klere aan is ek ’n man met ’n lyf wat nie ongemerk by vroue verbygaan nie.

“Ek is bekommerd oor jou hart, oom Daan. Jy moet leer om te ontspan. Jy word nie jonger nie.” Voor ek met sy laaste opmerking kan saamstem, sê hy vir die verpleegster: “Reël dat oom Daan gou gaan vir ’n EKG by die hospitaal. Hy moet ook ’n endokrinoloog in die stad gaan sien.” Hy draai na my toe: “Jou hartkloppings kan probleme met jou skildklier wees.” Vir die verpleegster sê hy: “Onthou om bloedmonsters te neem wanneer oom Daan terugkom ná die EKG.”

Probleme met die skildklier? Nee, Dokter, nee. Die probleem lê laer af. Ek hoor myself asemhaal en die dokter se pen krap waar hy skryf. My hart begin klop of daar meer as net ’n paar boute los is.

Die dokter kyk op.

“Die EKG, Dokter, en die bloedtoetse … Kan ons die ondersoekery en goed dalk volgende week doen?” Ek hoes, vee my mond af met my sakdoek, steek my hand in my broeksak, krul my middelvinger oor my wysvinger en sê: “Siek bokooie, sien. Ek moet dringend plaas toe met die medisyne wat ek by die koöperasie gekoop het. Vanmiddag nog, anders vrek hulle vannag.”

Die dokter hou op skryf en kyk na my. “Jy moet nie met jou gesondheid speel nie, oom Daan. Jy onthou vir Klein Gielie Malan?”

Ek onthou. Die dokter wou dié buurman dringend hospitaal toe stuur en Klein Gielie wou nie hoor nie. Hy is by die spreekkamer uit en toe hy sy bakkie se deur wil oopsluit, slaat hy net daar op die teerpad neer. So dood soos ’n mossie. Hartaanval. Maar Klein Gielie was oorgewig. Ek trek my maag in.

“Goed,” sê die dokter, “kan jy môre terugkom?”

“Ja,” sê ek. “Ja, seker.” Ek bedoel nie die seker waarvan ons in die Heidelbergse Kategismus oor ons geloof lees nie, maar die onseker of ons verstand nog helder gaan wees na vyf en sewentig, of so.

“Suster, maak die afsprake vir môre en vind uit wanneer oom Daan Kaap toe moet gaan. Sy dokters is daar.”

Sy knik en trek die deur agter haar toe. Ek bly sit.

“Nog iets, Oom?”

Ek huiwer. Daan van der Walt, vra ek myself vir die soveelste keer, is jy bereid om in stryd met die aanwysing van die Psalmdigter op Viagra, ’n prins onder pille, te vertrou, dáár jou heil te soek, en jou hoop daarop te bou? Ja, antwoord ek, van ganser harte, ja … net hierdie een keer. As my “Opsitkers”-planne uitwerk, het ek die pille kort voor lank nodig. In die tussentyd moet ek ’n bietjie oefen ook. ’n Man gaan nie jag voor hy ’n paar proefskote met nuwe ammunisie afgetrek het nie.

“Nog iets, oom Daan?” vra die dokter weer.

“Ek dag nou so, Dokter, ’n man is mos ’n man. ’n Man is darem nie ’n klip nie.”

Die dokter kyk na my en hy draai sy pen om en om tussen sy wit vingers asof hy nadink oor mans en klippe. Hy begin glimlag.

Ek skep moed. Nou is die oomblik om die dokter met ’n eselskakebeen te oorrompel. “Ek is nie vandag se kind nie, Dokter. My tydjie is nie meer lank nie, en ’n man moet darem, hoe sal ek sê, gereed wees as die groot oomblik aanbreek.”

Die dokter se glimlag word breër. Ek sien wat hy dink: die ou karnallie hier voor hom het ses druppels Wonderessens op suiker nodig vir ’n wonderwerk en ’n lepel Jamaikagemmer in sy emmer net vir ingeval. Hy trek die voorskrifblok nader en begin daarop skryf. “Ek kan ’n klein dosis voorskryf vir daaglikse gebruik,” sê hy, “of ’n groot dosis vir wanneer nodig.”

“Ek verstaan nie mooi nie, Dokter.”

“As jy elke dag ’n klein dosis neem, is jy altyd gereed. Die groot dosis is vir af en toe.”

“Die groot dosis, vir die groot oomblik?”

Die dokter knik.

“Ek sal hom vat.”

Die dokter skryf.

“Gee maar ’n ou paar klein pilletjies vir daaglikse gebruik ook,” sê ek.

Die dokter skryf klaar, skeur die velletjie van die blok af en gee dit vir my. Ek vou die voorskrif op en knoop dit in my hempsak toe.

“Sien jou dan môre, oom Daan.”

In diepe bepeinsing loop ek direk van die dokter af na die apteek toe. Agter die toonbank is ’n meisie met ’n vrolike lag. “Môre, oom Daan. Ek het Oom lanklaas gesien. My ma soek ’n slagskaap. Sy vra Oom moet haar bel.”

Verskrompeld waar die dou van Hermon nuwe lewe moes bring, loop ek by die apteek uit.

“Onthou die slagskaap, Oom,” roep die vrolike stem my agterna.

By die CNA koop ek ’n Landbouweekblad, ’n verdere blokkie in my legkaart.

Ek loop terug na die apteek. Die meisie is nog agter die toonbank.

Met die voorskrif in my hempsak en die Landbouweekblad onder my arm klim ek saam met Kaspaas in die bakkie vir die rit plaas toe deur my wêreld se bruin op bruin gestapelde klippe en sand.

In die middel van die monniksel hang die enigste bron van lig aan ’n kaal draad, ’n 40 watt-gloeilamp. Jan-Willem het vir my ’n blik teeblare gebring en ’n keteltjie wat hy aan dié draad gekoppel het. Ek het ’n paar blare in ’n beker kookwater gegooi. You Mei, ’n Chinese suster van Pandora wat ek in die ouetehuis ontmoet het, het my geleer om hulle tee te drink. Sy, met haar voorvadergeesaanbidding, is die oorsaak dat ek my hier in ’n goddelose land bevind. Die storie van dié vrou kom nog, gee kans. Onthou maar haar naam, Kaspaas: You Mei van der Merwe.

Terwyl ek hier agter my tafel sit en skryf en aan die groen watertjie in my beker teug, kom die woorde van die Prediker weer by my op: God sal met jou in gerig tree as jy wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë.

Ek was erg bekommerd oor dié profesie van die Prediker in my bakkie op pad plaas toe ná die vrolike meisie my Viagra-plan gefnuik het. Wat as ek dood neerslaan soos Klein Gielie Malan na ek die bulpil gedrink het? Die are rek en al die bloed pomp net op een plek in … Wat as daar nie genoeg bloed oor is vir die hartare nie? Wat as die hartspier kramp en ek sak inmekaar as die groot oomblik aanbreek, of sommer langs die kombuistafel, my gesig in die bord ontbytpap, en ek in Blommetjie se bies versmoor?

Jy onthou die dag, Kaspaas, by die skaapooi wat obseen stywe bene in die lug gelê het, blou in die bek, tong geswel, wurms wat uit die neus val, toe ek vir jou gesê het: “Dis hoe ’n mens lyk as daar met hom in gerig getree word.”

Ek kyk van my skryfwerk af op: ’n koivis spring in die lug, plons terug en verdwyn in die water.

Die dood, daardie verposing in die reis waarvan ek vroeër gepraat het, bly vir my ’n probleem. Tota vita discendum est mori. Seneca die Stoïsyn, ’n banneling soos Ovidius, onderrig ons dat die mens gedurende sy ganse lewe geleer moet word om te sterf. En toe, Kaspaas, maak hy ’n gemors van sy eie dood. Nero het laat weet hy moet homself om die lewe bring. Seneca reël ’n sterwenspartytjie soos Sokrates. Ten aanskoue van sy vriende sny hy sy polsare af. Maar die dood wil nie kom nie. Toe sny hy die are op sy enkels deur. Maar die dood bly weg. Soos sy held drink hy die gifbeker. Tevergeefs, die dood lag vir hom. Die arme Seneca, wat sy lewe lank aan asma ly, klim in die bad en daar versmoor hy in die stoom en die dood neem hom weg.

Waarom kon die Here nie in sy skeppingsplan, ten minste vir ons Protestante, voorsiening gemaak het vir ’n waardige genadedood en daarna behoorlike vervoer hemel toe nie? Jy besluit self wanneer jou tyd daar is, groet jou familie en vriende oor ’n koppie koffie en beskuit, gaan slaap op ’n Klaasvakiematras in jou rietdak-nagmaalshuisie langs jou kerk vir die oorvaart, en word in die Paradys wakker. Geen ontydige gehyg en gesnak na asem nie, geen doodsgeroggel as jy aan ’n pot lensiesop of ’n paar kreefsterte smul nie. Ná jy ontslaap het geen draaiende groen brommers om jou dooie liggaam nie. Geen muntstukke wat van jou oë afrol as jy wil loer wie jou begrafnis bywoon nie. Geen kopersmaak op jou tong as jy skelm aan die begrafniskerrie en gestoofde perskes wil proe voor jy, attestaat de morte in die een hand en jou doopseel in die ander, die hemelse ontvangsaal binnevaar nie.

Eintlik, Kaspaas, wou ek vertel hoe ek op pad huis toe van die apteek af by Witklippieskraal aangery het, en hier sit ek en kritiseer die Here omdat hy nie beter voorsiening maak om ons te karwei oor die waters van daardie stroom, diep en donker, wat ons so kwel nie.

Elsie, my buurvrou by wie ek op Witklippieskraal langs gery het, en die ounooi was kamermaats op universiteit en het saam by die hoërskool op ons dorp begin skoolhou. Elsie het huishoudkunde gegee en die ounooi Engels en Latyn. Koos, my buurman wat op Witklippieskraal geboer het, het na Elsie gevry. Sy het my aan die ounooi voorgestel. Ses maande na die twee jong onderwyseresse begin skoolhou het, is Koos en Elsie getroud. Drie jaar later het my en die ounooi se gebooie geloop. Voor ons troue het ek eenkeer in ’n vrybrief aan haar geskryf dat ek haar uit die diepte van my hart liefhet: Te amo ab imo pectore. Sy het in Latyn teruggeskryf. Het ek gesukkel om haar antwoord vertaal te kry! Catullus kon by haar gaan leer het hoe om liefdesgedigte te skryf. Laat ek dit maar erken, Kaspaas: die ounooi was slimmer as ek. En meer geleerd. Ek het nie verstaan wat sy bedoel het nie toe sy jare later na ’n argument vir my gesê het: “Jy verkies Eros van Thespiae eerder as Afrodite van Knidos, Daantjie.” By dié woorde het sy nie na my gekyk nie. Net haar bitter tee gesit en roer. Toe sê sy: “En ek het gedink die fout lê by my.”

Ek en die ounooi het vieruur smiddae op die voorstoep koffie gedrink en koek geëet. Die ounooi was nie ’n wafferse kok nie, maar Sannie Coetsee, ’n ou vriendin van my, het haar leer melktert bak. My vrou het daardie laaste jaar voor die kanker haar oorwin het, probeer om haar doktorsgraad in die Engelse letterkunde klaar te maak en was steeds besig om my literatuur- en kunsgewys te probeer beskaaf. Ek moes gereeld deurloop onder die aanslag van woorde soos diskoers (haar woord vir ’n geklets), metafiksie (’n storie waar die skrywer sy naeltjie losskroef) en intertekstualiteit (waar skrywers met hul maatjies se naeltjies peuter).

Die alomteenwoordige metafoor, die ewige cliché verskuiwing van grense en die aanstellerige in gesprek tree met skrywers en digters, om nie eers van die grootdoenerige aan bod kom te praat nie, het die riffels in my harsings platgetrek.

Die kuns is ernstig, het my vrou my vermaan wanneer ek met haar die draak steek. Letterkunde lag nie, het ek geleer, dit kraak en splinter af as dit net probeer glimlag. Selfs in die Ou Testament is daar meer grappe as in die literatuur, en ons weet Bybelkarakters lag slegs as hulle lag tot eer van die Here. En dit was nie altyd moontlik nie.

Een Saterdagmiddag het ek van die voorstoep af die hoenders dopgehou wat langs die huis in die sand lê en skrop het. “Kyk hier, Daan,” het die ounooi gesê, haar wysvinger op ’n kleurfoto in ’n duur boek wat sy per pos bestel het, “hoe tekenend van Rubens se oeuvre.” Ek het vinnig geloer na die lywige tannie, nakend uitgestrek op ’n klipbank, ’n klomp kaalstert seuntjies met vlerkies swewend om haar. Aan haar vet boud raak ek nie, het ek gedink.

Rubens se aangrypende portret van Seneca se dood was ’n ander storie, en natuurlik so ook Michelangelo se prente van die vroulike liggaam. Liefie het een Sondagmiddag vir Ragel bygestaan om die koffie en eetgoed stoep toe te bring toe hy sien ek en die ounooi kyk na dié vrouens.

Hy loer toe oor my skouer. “Hoe’s daai fris mannetjies dan gepram, Klei’baas?” het hy sy onbegrip verwoord.

Liefie was bietjie van ’n rouriem. Ragel het hom ’n stamp in die ribbes gegee. “Toe jy! Loop bring die Hertzoggies uit die spens.” Daardie tyd het ons nog van Hertzoggies gepraat, lank voor dit nodig was om hulle te transformeer tot klapperkoekies om skrifgeleerde Sadduseërs te behaag.

Liefie se opmerking oor die vrouens het my laat lag, maar ek het die frons tussen my eggenote se oë gesien toe sy die melktert sny.

Ons het saam grootgeword, ek en Levi de Wee. Na Levi se pa dood is, het hy my voorman op die plaas geword en met Rachel, ’n meisie uit ’n ander kontrei, getrou. Vir die plaasmense was hy nie Levi nie, hy was onse Liefie. En Rachel het vinnig Ragel geword. Baie Sondae na die ounooi se dood het ek en jy middagete by hulle aan huis geniet. Ragel het gesorg dat daar altyd ’n been vir jou was, Kaspaas.

Na Liefie sy mening oor Michelangelo se kuns uitgespreek het, is hy en Ragel terug kombuis toe. Die ounooi het deur die kunsboek geblaai en toe sy later kookmelk uit die pêrelwit bekertjie in haar koffie gooi, sê sy: “Jy en die kat van Saffraan, ou man, weet ewe veel van die estetika.”

Jare later het ek nog die woorde onthou en terwyl ek met my skoensool oor jou pens vryf vir jou gesê: “My late wife, Kaspaas, compared me to a cat from Saffraan.” Jy, wat net Engels verstaan het, het opgestaan van jou grasmatjie voor my stoel en my hand gelek.

Wat ’n vriend het mens in ’n hond, sê ek altyd.

My gedagtes draal by ander dinge vandag, Kaspaas. Ek sal nou skryf hoe ek op pad plaas toe by Koos en Elsie Steyn aangery het om hul inkopies af te lewer. Onthou jy hoe jy my vertrap het om uit die bakkie te kom wanneer ons daar stilhou en jy met ’n bewende, stokstyf, regop stert tussen Witklippieskraal se honde vassteek en jou oorgee aan die plesiere van jou reukorgaan? Die laaste spuit teen die bakkie se wiele was jou verpligting. Hierdie trofee het jou vriend, Generaal, die grootste hond op die werf, jou probeer ontneem tot jul water opdroog.

Elsie kom by die voordeur uit, ’n blou doek om haar grys hare, haar hande vol meel. “Caruso is in 1921 dood aan bloedvergiftiging.”

“Hoe weet jy dit?”

“Ek bak soetkoekies en luister radio. Kom drink ’n glas gemmerbier, ou vriend.”

“Ek weet nie hoe jy dit nog regkry om radio te luister nie. Ek is binne vyf minute so omgekrap dat ek die ding afskakel.”

“Jy is nes Magrieta oor taal.”

“Sy spook by die SABC as sy hoor hoe hulle die lug besoedel. ’n Mens sou dink goeie Afrikaans is die slang se kop agter jou hakskeen.” Sy lag. Ek loop met haar sak kruideniersware agter haar aan kombuis toe. “Daar was nie vir julle pos nie.”

Dit is koel in die ou huis met sy hoë patroontjieplafonne en deurleefde meubels. Die gordyne, waaraan die reuk van Koos se Rum and Maple-tabak hang, is toe om die hitte buite te hou.

Gangaf ruik ek al die soetkoekies.

Elsie was haar hande onder die kraan, droog hulle aan ’n handdoekie af en hang haar voorskoot agter die kombuisdeur op. Die tweede lit van haar linkerduim abba ’n klein duimpie. Sy haal ’n bruin gemmerbierbottel uit die yskas, draai die prop versigtig van die blasende bottel af en skink twee glase. Ons gaan sit by die punt van die kombuistafel langs die skottel soetkoekiedeeg.

“Môre bring ek vir jou ’n blik vol.” Haar linkerhand is op haar skoot. Sy steek altyd die klein duimpie weg.

“Ek ruil jou ’n karnaatjie vir ’n blik soetkoekies. Gister skaap geslag.” Ek leun oor na die skottel, lig die vadoek en breek ’n stukkie deeg af. Die suiker het nog nie gesmelt nie en kraak tussen my tande. “Ek het probeer om Magrieta se yskaskoek te maak,” sê ek. “Die een met die suurlemoen en tennisbeskuitjies, maar dit het nie soos hare gesmaak nie.”

“’n Blik kondensmelk gemeng met suurlemoensap.”

“Ja, en dit laat staan om dik te word.”

“Twee koppies melk waarvan jy vla maak.”

“Ek het die vla vergeet. G’n wonder my …”

“Jy moes gebel het, dan het ek vir jou die tert gebring. Koos is ook lief daarvoor. Julle mans kan nie sonder julle soetgoed nie, en dan rook Koos ook nog sy pyp saans na ete.”

Ek rook nie en kan die reuk van rook nie verdra nie, maar ek dink soms daar is ’n huislike warmte aan sy pyprook wat daar nooit in Ystervarkfontein se plaashuis met sy baie boeke was nie. “Waar is Koos?”

“Veld toe. Te perd, natuurlik.” Gasborreltjies klou aan ’n rosyntjie in haar glas gemmerbier. Die rosyntjie styg. Die borreltjies ontplof. Die rosyntjie sak af. “Hy wil nie hoor nie. Dink hy kan soos ’n jong man perdry. Hy is daarby deesdae so vergeetagtig. Glad sy perd in die veld gelos verlede week en huis toe gestap.”

Na my seun Andries se dood hou ek nie perde op my plaas aan nie. Koos is drie jaar ouer as ek. “Oudword is nie maklik nie,” sê ek.

Koos boer nog voluit. Ek het lankal begin afskaal. Vroeër jare het ons vir ons nageslag geboer. Vir wie sal ek boer met ’n seun wat nie sy voete op die plaas sit nie? Ek sluk die laaste van my gemmerbier af.

“Iets gehoor van Jan-Willem?” vra sy.

“Ek moet my ry kry.” Ek staan van die tafel af op.

“Die volgende baksel moet uit die oond. Ons gesels môre wanneer ek jou koekies bring.” Sy trek haar voorskoot aan en ek gaan by die kombuisdeur uit.

Toe ek flussies die woord soetkoekie skryf, het my mond gewater soos jou bek oor ’n murgbeen kwyl, Kaspaas.

Ek het so weggeraak in my skryfwerk vandag dat ek vergeet het om by een van die smouse buite die Poort na Saligheid iets te ete te koop vir vanaand. Die monnike eet net twee maal per dag. Soggens vroeg na ons tai ji gedoen het en weer twaalfuur. Vanaand gaan ek honger slaap met die herinnering aan ’n krummelrige, bros soetkoekie op my tong en hoe ek Elsie se vraag oor Jan-Willem ontduik het. Moes ek haar vertel het hoeveel nagte ek nie kan slaap nie van kommer oor my kind?

Ek is ook onrustig oor die brief wat ek gisteraand vir die ounooi geskryf het. Ek was dalk ’n bietjie kwaai met haar. ’n Man moet nie sy ontslape vrou ontstel nie. ’n Mens weet nooit waartoe ’n afgestorwene se gees in staat is nie.

Die dao van Daan van der Walt

Подняться наверх