Читать книгу Die dao van Daan van der Walt - Lodewyk G. du Plessis - Страница 16

DRIE

Оглавление

Dit reën nog steeds. Wat ’n verkwisting van so ’n seëning! Die Psalmis was reg toe hy oor die voorspoed van die goddelose gekla het.

Pikdonker vanmôre was daar ’n klop aan my deur. ’n Nuweling-monnik het my kom roep. Ek het nie ’n woord verstaan wat hy sê nie en toe maar my kamerjas aangetrek en saam met hom deur die plasse water na die eetsaal toe geloop. Ek het gedink dalk is iemand dood, maar toe sien ek hoe stoot die monnike die tafels eenkant toe en begin in die ysige weer met opwarmingsoefeninge. Ek is terug na my sel om my warm aan te trek. Die eetsaal is net ’n sinkdak oor ’n sementvloer. ’n Muurlose plek om in te verkluim en siek te word. My koeistal het meer beskutting gehad. En soos ek die ounooi laat verstaan het, het ek koue op die blaas.

Jou heer en meester, Kaspaas, moet begin skryf aan sy geskiedenis, maar sy vingers is bevrore. Ek het water in die ketel warm gemaak en my hande daarin gehou, maar dit help nie veel nie. Die rumatiek vreet my op. En die ontsteking in my blaas maak dat ek vrouens wat voortdurend aan die siekte ly, opnuut bejammer.

Ek is bekommerd oor my ou liggaam se welstand. Ek vertrou meester Yang glad nie. Na hy my daardie nag aan die brand gesteek het, voel hy die laaste paar dae net my pols. Hy beweer hy voel 28 verskillende maniere waarop my hart klop. Behalwe vir die vashouery aan my gewrig is daar geen verdere behandeling nie. Vanoggend weer, daar in die eetsaal, het hy my op een van die stoele laat sit, my pols drie minute lank gevoel, in my oë gekyk en my tong bestudeer. Toe het hy sy kop geknik asof hy dink ek is perdfris. Ek is nie perdfris nie; ek vrees ’n terugkeer van die duiseligheid en die naarheid, ek is hardlywig van die rys twee keer per dag, en die oumanskwaal en ontsteking in daardie geweste het my verlede nag ses keer in die reën uitgejaag. ’n Mens kan nie hier agter ’n struik of sommer op die kant van die stoep staan en water afslaan soos op die plaas nie.

Die dokter in Kaapstad wou die ding twee jaar gelede uitsny, die klier, bedoel ek. Ek het gekeer. As ’n dokter met sy mes tussen jou bene inklim en jou skoonskraap, is jy nie meer ’n man nie, Kaspaas. Jy is niks beter as ’n koggelkoei nie: lus, maar jou blus is uit. En die ergste van alles is jy laat nie eers ’n getuienissie agter nie. Niks. Jy is droog. So droog soos ’n os.

Met al die verskillende polsslae wat meester Yang sê hy vasvat, tel hy nie die ses keer snags in die kleinhuisie tussen die spinnekoppe by nie.

Hier is geen vertroosting vir liggaam of gees tussen die heidene nie, my vriend.

Op die plaas, in die goeie ou dae, het my siel Sondagmôrens uitgereik na die verkondiging van die Woord. Die Sondagoggend, na die Donderdag toe ek die Viagra-voorskrif gaan haal het, het ek my lippe afgelek vir ’n middagete na die kerkdiens saam met Sannie Coetsee en die ander ou vriende in die ouetehuis. Ek het haar nommer geskakel met die telefoon teen die gangmuur in die plaashuis.

“Hallo, Sannie Coetsee. Hoe lyk dit? Het jy iets in die oond? Ná kerk skreeu my maag.”

Haar stem was swaar van die slaap: “Daan!”

“Ek sê, hoe lyk dit? Ná die spyse vir die siel, ’n proesel vir die liggaam?”

“Vir jou lyf, Daantjie, altyd. Ek sal met die kombuis reël.”

Ons kerk begin tienuur en net na agt klim ek en Kaspaas in die bakkie. Ons luister na Loof die Here. Die program se naam was altyd Alle volke loof die Here. Na ’94 het die naam getransformeer, maar Fanie Smit, die aanbieder, het darem tot die dag van sy dood sy pos behou.

Kaspaas begin ronddraai op die sitplek en kyk met smekende oë na my. Ek trek die bakkie van die pad af en maak die deur aan sy kant oop. Hy spring uit, ruik aan die stowwerige bossies en begin nies. Sommer so onder die hooikoorsaanval hurk hy teen ’n telefoonpaal.

Die “Gloria” uit Mozart se Missa Solemnis vul die kajuit. ’n Ongewone keuse vir Fanie; ek dink nie hy is baie lief vir die Roomse nie. Nogtans ’n goeie keuse vir ’n stil Sondagoggend op pad kerk toe om die Here in die hoogste hemele te loof:

Gloria in excelsis Deo.

Laudamus te …

Ek het nog skaars begin skryf en ek moes al weer my blaas gaan leegmaak. Die behoefte is altyd dringend, maar ek moet vyf minute lank sukkel om van ’n halfkoppie water ontslae te raak.

Ek skeur ’n blad agter uit my skryfboek, vou dit op en druk dit onder my stoel se lam poot in.

Ons het gereeld Sondae na Fanie Smit se program geluister, ek en jy. My liefde vir kerkmusiek gaan ver terug, Kaspaas, na ’n tyd lank voor Jan-Willem met jou op die plaas aangekom het. Een Sondagaand in die skoolvakansie het ek die draadloos se knoppie gesit en draai tussen die stasies, Afrikaans, Engels en Springbokradio. Of het Springbokradio later gekom? In ons huis het my pa ons goed laat verstaan dat ’n Christenmens nie na Springbokradio luister nie. As hy nog geleef het, sou hy RSG ook verban het. My ma het smiddae skelm na So maak mens geluister en ek het dit soms op ’n Sondagaand reggekry om die draadloos stilletjies na my kamer toe te dra om na David Davies se Top Twenty op die LM Hit Parade te luister. Dit was lank voor die bloedbad in Mosambiek toe Frelimo dié radiostasie gekaap het.

Met die knoppie se draaiery een Sondagaand kom ek toe op Roger O’Hogan se program Oh, Come Let Us Sing af. Allegri se Miserere, vertel hy, is ’n toonsetting van Dawid se boetepsalm nadat hy by Batseba ingegaan het. Die profeet Natan het vir Dawid kom sê dat die seun wat hy by haar verwek het, sou sterf. Dié stukkie geskiedenis het begin toe hy haar afgeloer het waar sy besig was om te bad op die dak van haar man, Uría die Hetiet, se huis. Vir sy pa se wellus en die moord op Uría het die Here die seuntjie met die dood gestraf. Dawid het sy klere geskeur toe Natan die oordeel oor die kind uitspreek en het uitgeroep: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid.”

Toe die King’s College Choir begin sing, het my ore gespits soos dié van my perd wanneer ek die staldeur met ’n vars geelwortel in die hand oopmaak. Die singery van die Miserere was baie mooier as ons gemeentesang, selfs met ’n goeie orreliste.

Hier skryf ek oor die Miserere, Kaspaas, en voor my seldeur dreun die sang van die monnike se gebede deur die gewelf van hul tempel. By hierdie lendelam tafel is my probleem hoe ’n mens in taal omgaan met klank. Woorde is skugter as dit by musiek kom. Dis soos die liefde. Of die dood. Of vleeslike omgang. Woorde pik aan dié goed soos die kreupel kwikstertjie lank gelede aan sy weerkaatsing in die wieldoppe van my bakkie onder die kareeboom langs die waenhuis.

Allegri se musiek was ’n ontdekking soos ’n hele bak koeksisters net vir myself. Daar sit ek toe die ene ore, David Davies se Top Twenty vergete, die prente van Audrey Hepburn en Jean Simmons teen my slaapkamermuur bloot prente. Ek luister. Ek hoor. Die manstemme in die Miserere sing-praat eentonig asof hulle bid, die seunstemme smeek tot God.

Een ou kleintjie se stem styg bo die ander uit en sweef en swiep soos ’n blouvalkie onder die koepel van hul katedraal.

My sestienjarige gemoed was in beroering. Dat boetedoening ná owerspelige seks so hartroerend en so mooi kan klink, het my in vervoering gehad. Ek het hoendervleis gekry, piepkind wat ek was. Die stemme het my ruggaring soos die fyndraai geriffel.

Dáárdie aand, by kerslig, die gesin se mediumgolf-draadlosie aan ’n karbattery buitekant my venster gekoppel, het my owerspelige liefdesverhouding met die Katolieke en die Engelse se bleek kerkstemme begin. Die ware fyndraai het later gekom; in die jaar toe ek die Latynse woorde geleer het vir “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid”. Miserere mei, Deus, secundum magnam misericordiam tuam, die taal waarin die Miserere gesing word. Die taal van die bonae litterae, die groot letterkunde van die Romeine, soos ek later by die ounooi sou leer. Eens die taal van die Rooms-Katolieke Kerk.

Net mans is toegelaat om die Miserere met Paasfees vir die Pous in Rome te sing en toe ek begin grootword, het ek geleer dat dié wat so hoog sing castrati genoem is. Ek kon dit verstaan, want net ’n man wat dié offer moes bring, kan so weemoedig klink. Nog later het ek meer geleer van kastrasie. Die vroegste van alle kastrasies het ’n kosmiese spektakel tot gevolg gehad. Die Titaan Cronus het sy pa Uranus met ’n sekel van klip kastreer. Uranus het sy greep op Moeder Aarde laat los, van haar af opgespring en die hemelkoepel gevorm. Die kastreerder, Cronus, die kannibalistiese verorberaar van sy eie kroos, is weer deur sy jongste seun Zeus, die god van die bliksemstraal en die donderslag, verban na gitswart Tartaros, ’n plek so ver onder Hades as wat die aarde is onder die hemel. Dis die plek waarin, volgens die apostel Petrus, die rots, die siele van diegene wat Gods Woord verdraai, gedompel en geoordeel word. Soos Pandora se kruik en Eva se slang is die ontmanning van ’n man vanaf die vroegste tye met ons, Kaspaas.

In Rome het die Pous gelas dat enigiemand wat ’n afskrif van die Miserere maak, geëkskommunikeer sou word. Mozart het hom nie aan die dreigement gesteur nie, het Roger O’Hogan daardie Sondagaand vertel. Na een keer se luister het die jong komponis dieselfde aand die Miserere noot vir noot uit sy kop by kerslig genoteer.

As jy dink jy het genoeg hare op jou bors, ekskommunikeer jy hulle wat nie met jou saamstem nie, Kaspaas, jy verwyder hulle uit die gemeenskap van die heiliges. Eers martel jy hulle, dan kastreer jy hulle en dan skop jy hulle uit. Dis hoe die Roomse dinge gedoen het, het ek later uitgevind toe ek by Eco en Yourcenar en Vodolazkin die Roomse Gevaar beter leer ken het. As ’n man hom met ’n ander man misgaan het en ’n bewaker van die goeie sedes verklik hom, het die Pous hom op ’n winderige dag laat verbrand sodat die vlamme langer aan hom kon lek voor hulle hom insluk en verteer.

Ek wil vandag saamslaap en lepellê op ’n enkelbed in my Historia ondersoek. Geen wonder my gedagtes het ontspoor toe ek moes wag omdat jou maag seer geword het op pad kerk toe nie, Kaspaas. Toe jy terugklim in die bakkie was Fanie Smit besig met die “Agnus Dei”. Die Katolieke het in hul mis gesing van die Lam van God wat vir die sondes van die wêreld betaal het en ons vrede gee.

Ons het in ’n stofwolk van die kant van die pad af weggetrek, maar jou maag was nog steeds nie lekker nie en ek het my vensterruit afgedraai.

Vyf voor tien.

Ons hou voor die kerk stil en betree die huis van die Here. Ek gaan sit op my bank op my kussing en druk die ounooi se kussing agter my rug in, jy lê op jou matjie langs my voete. Sannie Coetsee, skuins voor my, kyk om en knipoog. Ek glimlag vir haar voor ek my hoof buig en bid: Ag, Here, help my vanmôre om my dwalende en sondige gedagtes in toom te hou. Hou die speenoud kalwers op hok, die klein jakkalsies uit die wingerd. Amen.

Die orrel hef die lofpsalm aan:

Die mossie vind ’n huis, o Heer

Die swaeltjies lê in nessies neer

En ek vind rus by u altare.

Dis warm. Stofdeeltjies hang in die lug. Tortelduiwe koer in die gereepte witstam-bloekombome. Drie vrybriewe en die brief aan Boerseun is in my kerkbaadjie se binnesak, die Viagra-voorskrif in my Bybel en ek luister na die Wet van die Here; die moets en die moenies vir mans wat God op die berg Sinai met sy eie vinger op twee kliptafels geskryf het terwyl sy volk met koorsange en onder tamboeryngeklank om die goue kalf dans. Saam met die kerk van alle eeue bely ek my geloof. Ons verootmoedig ons voor God in gebed. Die broeders staan eerbiedig. Die susters sit. Terwyl Dominee, soos hy nog al die jare doen, vir die regering bid om leiding van Bo en vir die weduwees en wese in hul eensaamheid hier onder, draai oom Hans Langoor en sy seun Skeel Piet om om te gluip na die spleet tussen die borste van die suster met ’n laehals- rok op die bank agter hulle.

“Amen,” sê Dominee. Die gemeente hoes en skuif reg vir die Skriflesing en die verkondiging van die Woord. Jy begin opstaan. “Down!” sê ek. Die volstruisveer in Sannie Coetsee se hoed bewe. Die teksvers is II Konings 5 vers 27: Daarom sal die melaatsheid van Naäman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe.

Ek voel aan my bas hier kom weer ’n preek oor apartheid en die skuld wat ons en ons nageslag vir ewig gaan aankleef, maar ek is verkeerd. Dominee gooi sy net vanmôre wyer as dié skandvlek op ons gewete. Na aanleiding van Gehasi se korrupsie preek Dominee oor al ons sonde in die algemeen en ons liefdeloosheid en die straf daarvoor in die besonder.

Ons gemeente het agter in die ry gestaan toe die Lam van God vir ons sondes aan die kruishout betaal het. Daardie betaling waarvan die Roomse in hul mis sing, het by ons gemeente verbygegaan soos ’n windgeritsel vroegaand in ’n terpentynboom in die dal van Josafat.

God se profeet Elisa was Gehasi se baas, en hy het wonderwerke verrig, Kaspaas. Hy het Naäman se melaatsheid genees en die geskenke wat Naäman hom uit erkentlikheid aangebied het, van die hand gewys. Gehasi het gaan konkel, die geskenke onder valse voorwendsels verkry en by sy huis weggesteek.

Toe hy voor die profeet verskyn, glimlag hy breed en maak of hy van g’n toet of blaas weet nie.

“Van waar, Gehasi?”

“Van g’n nêrens af nie, my heer.” Voor Gehasi ’n vinger kon lig om ’n vlieg seer te maak, kom die profeet Elisa hom summier met ’n vierpondhamer by: “Die melaatsheid van Naäman sal jou en jou nageslag vir ewig aanklewe.” Die Bybel sê toe Gehasi van Elisa af weggaan, was hy reeds melaats en, sê die Bybel verder, sy melaatsheid was soos sneeu.

Onthou jy hoe warm dit daardie oggend in die kerk was, Kaspaas?

Ons kerk het sentrale lugverkoeling én waaiers teen die dak gehad; kruisbande én ’n gordel om te verseker dat die kerk, die bruid van Christus, se onderkleed nie afsak en die gemeente naak voor die kansel staan nie, kan ’n mens maar sê.

Terwyl Dominee ons kasty met God se strawwe vir ons sondes, raak die lugverkoeling se gesuis stil en die waaiers teen die dak draai al stadiger en kom tot stilstand. ’n Kragonderbreking. ’n Paar vlieë sirkel lusteloos om die waaiers. Sweetdampe en laventelwalms kom swaar op ons lê. Ek is bekommerd oor jou, dat jy ’n hooikoorsaanval sal kry, met jou maag en al in die kerk. Jou kop lê op jou pote en jy hou my dop. Ek buk af en vryf jou ore. Toe sit ek agteroor en begin om II Konings 4 te lees, ’n hoofstuk wat ek myself lank gelede beloof het ek nooit weer sou lees nie.

Die profeet Elísa het af en toe by ’n naamlose ryk Sunamitiese vrou en haar bejaarde man ingewoon. Die egpaar was kinderloos. Die laaste keer het hy by sy vertrek vir die vrou gesê: Jy gaan ’n kind kry. Nie lank daarna nie kom sy agter sy is swanger en gee geboorte aan ’n seunskind. Hy was net mooi groot toe hy eendag saam met sy pa op die lande besig was om die oes in te samel. Skielik skree die seun: My kop, my kop, en val neer. Sy pa sê vir een van die werkers: Dra hom na sy moeder toe. Die vrou het haar seun op haar skoot vasgehou tot hy later die middag gesterf het. Sy het hom in Elísa se kamer op sy bed gaan neerlê en van Sunem af vertrek na die berg Karmel om die man van God te gaan roep. Hy is saam met haar na haar huis toe waar hy by sy kamer ingegaan, die deur agter hom gesluit en bo-op die seun gaan lê het, sy mond op die seun se mond, sy oë op die seun se oë en sy hande op die seun se hande. Vir ’n lang tyd het hy op die seun gelê, sodat die seun se vlees warm geword het. Elísa het toe van die liggaam afgeklim en, het ek in vers 35 gelees, één keer heen en weer deur die huis geloop en toe wéér op die seun geklim en oor hom gebuig. Die seun het sewe keer genies en sy oë oopgemaak en gelewe.

Ek het my Bybel toegemaak en die sweet met my sakdoek van my voorkop afgevee. ’n Rooigesig-kransduif het lawaaierig op die vensterbank gepronk en sy wyfie getrap.

“Amen,” sê Dominee aan die einde van die seëngroet en onder die klanke van die orrel loop ons die kerk uit.

Sannie Coetsee vang my oog en tik met haar vinger op haar polshorlosie.

“Sien jou nou-nou,” sê ek, en ek en jy loop na my bakkie toe.

By die supermark hou ek stil. Dis nie meer sonde om ’n koerant op ’n Sondag te koop nie. Die Rapport is uitverkoop. Ek vat toe maar ’n Sunday Times. Daar is genoeg tyd om die koerant deur te blaai. Op bladsy 11 vang my oog die opskrif When the other woman is a man. Ek lees: Getroude vrouens dink hulle mans loop agter ander vrouens aan, maar hulle is dikwels verkeerd. Navorsing het gevind dat een uit tien getroude mans owerspel pleeg met ’n ander man.

Ek gooi die koerant langs jou neer op die sitplek. “Julle Engelse sal ook enigiets skryf om julle koerante te verkoop.” Ek skakel die bakkie aan en ry ouetehuis toe vir middagete.

Ek is laat en gaan sit langs Sannie Coetsee aan die gesamentlike etenstafel. Sy het die pampoenbak in haar hand. Op my bord lê ’n varktjop, ’n skeppie klonterige kapokaartappels en ’n handjie vol voosgekookte ertjies. Donderdag nog het ek vir dié mense twee hele skape gebring, en ek kry ’n varktjop en waterige boerpampoen. Ek beloer die mans in die eetkamer. Ou mans, geklee in wit hemde, dasse en baadjies. Twintig van hulle. Watter twee spook met ’n varktjop op die bord en ’n doodsonde in die hart?

“Nog ’n skeppie pampoen, Daantjie?” vra Sannie Coetsee.

Die monnike se gebede het stil geword. My arm is lam van die skrywery, maar ek gaan deurdruk. Nee, Kaspaas, ek het nie owerspel of moord gepleeg nie. My sonde is dié van ’n yd’le jonkheidslewe op ’n enkelbed.

Sannie Coetsee se skeppie pampoen het my sooibrand gegee die oomblik dat ons in die bakkie geklim het vir die reis plaas toe, ’n sooibrand wat my nie laat los het nie. Ek het nie daardie aand geëet nie. Jy was olik en het vroeg in jou mandjie geklim. Toe ek gaan slaap, het jy gelê en snork.

Op die bedkassie was ’n amper leë pakkie teensuurtablette, my beker water, die Vulgaat, my flitslig, lipsalf en die botteltjie trane vir my droë oë. My vyf kussings het reg gelê: twee onder my kop, een agter my rug vir warmte, een voor my bors vir omhelsing en die blou kussinkie tussen my benerige kniekoppe. Ek het die mussie wat Elsie vir my gehekel het op my kop gesit, ’n slukkie water geneem en die lampie voor my bed afgeskakel.

My oë was skaars gewoond aan die donker toe ek van hom bewus word: my Spook. Soos ’n aardmannetjie het hy by my op die bed geklim.

Hy kom van ver af, hierdie spook van my. Ek het nie eers met jou oor hom gepraat nie, Kaspaas. ’n Halwe eeu gelede het ek sy nek omgedraai en hom begrawe, maar wanneer ek hom die minste naby my wil hê, vergeet hy dat hy dood is en versteur hy my ewewig. Soos ’n wafferse gees het hy sy grafsteen weer weggestoot, nakend herrys en met sy boepens en uitpeul-naeltjie op my katel geklim. Ek moes keer of hy het met sy klam voete, vuil toonnaels en harige bene by my onder die komberse ingekruip.

Met sy mosterd-en-ystervylsel-asem het hy in my oor gefluister: Ek het kom seker maak jy het nie dalk die goeie ou dae vergeet nie.

Terwyl jy in jou mandjie lê en fyn geluidjies maak, het my spook my teruggeneem na ’n aand in my prille jeug, ’n aand in my koshuiskamer op die PUK, soos ons die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys genoem het. Dit was aan die einde van my eerste jaar daar. Ek was saam met my kamermaat, Ferdinand du Plessis. Hy het nes ek ’n advokaat geword. Hy later ’n regter en ek ’n bout in sy moer vasgeroes in ’n gebreekte eenskaarploeg. Ek, die plaasjapie wat sy vrou probeer oortuig het dat die Sestigers die leser vervreem het met hul pogings om soos die Franse onverstaanbaar te klink met hul boeke vol fieterjasies, tierlantyntjies en gulsige poenskoppe. Ek en Ferdinand en Flip Kruger, later my predikant, die man met wie se preek ek hierbo foutgevind het, was saam eerstejaars. Vroeër dié dag het ons ons laaste vraestel geskryf: Beginsel- en Metodeleer, ’n verpligte vak. Die Bybel gee die mens ’n ekstern kosmiese visie op die werklikheid, het die professor ons klomp eerstejaars vroeër daardie jaar in die Totiussaal onderrig.

Ek en Ferdinand en Flip was van graad een af saam in die klas. In ons eerste jaar was ons in dieselfde koshuis. Flip het gestoei met Grieks en Hebreeus vir ’n graad in die teologie, ek en Ferdinand het Engels en Romeins-Hollandse reg die stryd aangesê. Ons was al drie saam in die Afrikaans- en Latynklas.

Latyn was my gunstelingvak.

Ja, Kaspaas, ex Africa semper aliquid novi.

Ek het na my tweede jaar Latyn gelos. Net genoeg kennis van die taal gehad om baie sinne verkeerd te vertaal.

Ek en Ferdinand was daardie aand besig om die las van die akademiese juk van ons skofte te lig met ’n paar biere. Daar was ’n klop aan ons kamerdeur. Die bierblikke is vinnig in die hangkas toegemaak. Ons mag nie gedrink, gedans of in die koshuiskamers gevry het nie. Ek en Ferdinand was skuldig aan die mindere van die drie PUK-sondes.

“Wie’s daar?”

“Flip.”

Ferdinand maak die deur oop. Kaalbolyf, met ’n handdoek om sy onderlyf en sy hare nog nat van die stort, kom Flip die kamer binne. Snoet in die lug soos ’n hond snuif hy. “Ek ruik bier, manne!”

Ons haal die bier uit die kas. Flip sluit die deur, knak ’n blik en sê: “Prosit.”

“Pro-sim, pro-sis, pro-sit,” sê ek.

“Fok u, Daantjie!” sê die toekomstige bedienaar van die Woord.

“Subjunktief, Flippie,” help ek hom reg.

Gedurende die drinkery raak sy handdoek los en laat hom in ’n staat van onkuishuid. Ferdinand stamp aan my: “Daai ding van hom is so klein, hy het ’n vergrootglas nodig om te pie.”

“Hy’s die regte grootte, wanneer dit saak maak,” sê Flip.

“Wanneer maak dit saak vir ’n predikant-in-wording?” vra ek.

“Wanneer ek hare in my handpalm kweek,” sê Flip en knoop weer die handdoek om sy onderlyf.

“Gaudeamus igitur! Juvenes dum sumus,” sê ek. Ons was jonk en baie slim.

Ferdinand wed Flip syne is langer as Flip s’n.

“Hoe sal ons weet?” vra Flip.

“Ons sal meet,” sê Ferdinand, “dan sal ons weet,” en hy gee Flip ’n liniaal. “Toe, meet jou tinktinkie.”

Flip neem die liniaal en meet homself.

“Nee, man,” sê Ferdinand, “jy kan nou mos nie van jou poephol af wil meet nie. Ek sal jou meet.”

Ferdinand meet Flip. Hy draai na my toe. “Ek is jou kamermaat,” sê hy. “’n Kamermaat moet weet,” en hy meet my. Vir Flip sê hy: “Vanaand doop jy die kampioen hier tussen ons drie met bierskuim.”

Ek meet Ferdinand. En ek meet Flip om seker te maak dat Ferdinand nie verkeerd gemeet het nie. “Want,” sê ek, “hoe kon Ferdinand behoorlik meet met ’n hand wat so bewe?”

“Jou gat,” sê Ferdinand.

Flip betwis die mate en hy meet my en hy meet Ferdinand. En ons stry en ons meet mekaar oor en weer ter wille van sekerheid. Grootte is belangrik vir ’n universiteitstudent.

Toe sê Flip: “Kom ons kyk wie kan die verste skiet, dan weet ons meer,” en net daar begin hy.

Maar die ding wil nie werk nie.

Toe sê Flip, die predikant-in-wording, en neem nog ’n slukkie bier: “Laat ons aan mekaar bystand verleen, broeders.” En hy staan my en Ferdinand by. En ons staan mekaar by en onderskraag mekaar. En dit werk. En ons is seker nou weet ons.

Ons het nie gesterwe ná ons van die verbode vrug geëet het nie, Kaspaas, nie toe nie. Die dood kom, maar hy kom later, sou ons met die verloop van jare ál meer besef. Ferdinand het in sy bed geklim en gesê hy is vaak. Ek het ook ingekruip en Flip het by my op die bed kom sit en gesê: “Ek kan nie in hierdie toestand na my kamer toe loop nie. Daai tokkelok-kamermaat van my …”

Ek het muur se kant toe geskuif op my smal koshuisbed en Flip het so half skuins teen my kopkussing aangeleun.

In die nag het ek wakker geword. Flip was kaal langs my onder die laken, sy tong in my mond. Ek het geproe hoe smaak sy asem en sy liggaam geruik. Later die nag was daar ’n vreemde smaak op my tong en toe ek my kop oplig, sê Flip met ’n sug, ná sy asem tot bedaring gekom het, twee woorde: “Jis, Daantjie.” Net dié twee woorde. Ek onthou hulle. Dit was sy laaste woorde aan my op universiteit. Vir ses jaar het hy nie weer met my gepraat nie.

Toe ek die volgende oggend wakker word, was Flip nie meer in die kamer nie. Terwyl Ferdinand sy broek aantrek, knipoog hy vir my en sê: “Dit tel nie, my china. Ons was dronk,” en hy trek sy ritssluiter op.

Ek en Ferdinand het nooit weer oor die voorval in ons koshuiskamer gepraat nie en ek het hom nie van Flip-in-die-nag vertel nie. Ek en Ferdinand het vriende gebly tot sy dood onlangs. Na hy jare lank as advokaat in die stad gepraktiseer het, later as senior advokaat, is hy hier in ons wêreld as regter aangestel. Hy wou terugkom na sy mense toe. Tot ek van Ystervarkfontein af weg is, het hy naweke by my op die plaas kom bly wanneer die rondgaande hof moord- en gewapenderoof- en verkragtingsake op ons dorp verhoor het.

Ons het om die braaivleisvuur, glas rooi wyn in die hand, gesit en gesels oor mense in die regsberoep en probleme in die regstelsel in die Nuwe Suid-Afrika. Ons het ons koppe in verbystering geskud oor politici wat dink die baie wette wat hulle maak en die swaar vonnisse wat hulle vir die howe voorskryf om op te lê, sal misdaad bekamp. Laataand wanneer die as wit geword het oor die gloeiende kole, het ons Doc en Mack en die boys in Cannery Row en Sweet Thursday onthou en oor die Amerikaners se intieme kennis van die Model T-Ford se vergasser gelag. Hy het my op hoogte gehou van sy drie seuns se doen en late. Al drie regsgeleerdes en oor die aarde verstrooi. Na hy geskei is, het hy my vertel van die nuwe vrouens in sy lewe.

Wat maak ’n vrou mooi? het hy dikwels gevra en dan self geantwoord: “Haar liggaamshouding, hoe sy loop, kop omhoog asof die wêreld aan haar behoort, hoe sy gaan sit en haar bene kruis, hoe haar hare blink en om haar gesig en tot in haar nek hang.

“Ek kon my verkyk aan Magrieta. Hoe sy ’n koppie tee drink,” het hy dan gesê. “Magrieta was ’n mooi vrou. ’n Goeie vrou ook. Jy, Daan, was ’n gelukkige man met ’n vrou soos Magrieta,” het hy gesê en uit sy maag gelag. Ek het stilgebly. My dierbare ou vriend het geweet, maar ook nie geweet nie. As hy geweet het, het hy nie gesê nie. Hý kon wanneer die nag koud word en ’n man diep onder die komberse lê, na sy musiek luister en droom hoe hy, soos Doc, van goeie meisies slegte meisies maak.

Nou is Ferdinand ook nie meer daar nie. Kort na hy getuienis afgelê het in my aansoek om borgtog is prostaatkanker, reeds ver heen, by hom gediagnoseer. Hy het ’n verskriklike lyding gehad. Die kanker het na sy beendere versprei. Kon vir geen oomblik stilsit nie. En die dokters vertel ons ons hoef nie bang te wees vir prostaatkanker nie. Dis ’n stadig ontwikkelende, langdurige siekte. ’n Ander kwaal sal jou doodmaak lank voor prostaatkanker die kans kry om dit te doen, het ou dokter Mes se jong vennoot my gerusgestel toe ek bekommerd was oor my prostaat.

Was dit Ferdinand wat veroorsaak het dat ek hulp gesoek het by die “Opsitkers”? Hy het voorgestel dat ons saam gaan vakansie hou op Plettenbergbaai. “Ons kry vir ons twee mooi jong vrouens,” het hy laggend gesê, “dan steek ons Plet aan die brand.”

Tot aan die einde van my vyfde jaar toe ek met ’n LLB-graad van die universiteit af weg is, het Flip my vermy. Asof hy wou sê: wyk, Satan. Ek het na die heel agterste bank in die Latynklas geskuif. Van daar het ek hom dopgehou. Flip was vir my soos die jong koning Dawid, mooi van aanskyn. In my Bybel het ek gelees: Dawid het voor koning Saul gestaan, en dié het hom baie liefgekry. Jónatan het hom ook liefgehad. Na sy dood sou Dawid oor daardie liefde skryf.

Die eerste keer dat Flip weer met my gepraat het, was die dag op ons dorp toe hy my predikant geword het en vir my gesê het ek moet hom nie Flip noem nie, maar Dominee, want, het hy gesê, hy is die gesalfde van die Here.

Die dao van Daan van der Walt

Подняться наверх