Читать книгу Die dao van Daan van der Walt - Lodewyk G. du Plessis - Страница 11

Оглавление

Die Tempel van Ewige Vrede,

Longshan,

China.

1 Maart

Liewe Magrieta,

Geen siel praat Engels nie behalwe meester Yang, en hy kom net soggens vroeg teen die berg af om ons tai ji te leer, dan verdwyn hy weer bergop. Dis eensaam hier en die nagmerries wat jy my gee, ontstel my. Hoekom kom kuier jy nie liewers in die dag by my nie?

Jy ry deur Longshan in die rigting van die hoë berg met dieselfde naam. Lóng shān, Drakensberg. Die tekentjies bo-op die klinkers gee die toonhoogte aan waarop die woord uitgespreek word. Dit word diakritiese tekens genoem, maar dit weet iemand soos jy seker. Daar is vier van hulle vir elke klinker: ā: hoë toon; á: stygende toon; ă: dalend en stygend; à: dalende toon.

Daar is seker nie Chinese in die hemel nie, daarom verduidelik ek vir jou hoe aardig ’n Christenmens hier voel by die aanhoor van ’n Babelse reeks toonhoogtes in een enkele sin.

Terug by jou kuiertjie. Ry met jou rytuig by die Nan Hai Universiteit verby en dan deur die Poort na Saligheid tot by die Tempel van Ewige Vrede. Parkeer in die skadu van een van die enorme wildevyebome. Kyk bergop deur al die poorte en boë. Ek woon in die ou huis links van die groot tempel. My kamer is die een op die hoek met die buitedeur op die stoep. Ingeval jy ná jou rit behoefte het, sal jy die geboutjie agter die huis moet gebruik soos ons op die plaas in die ou dae. Dit wemel daar van die spinnekoppe. Die monnike mag niks doodmaak nie. Nie eers brommers, bosluise en muskiete nie. Die gemak in dié gemakshuis is ’n ongemaklike gat in die vloer waaroor jy sal moet hurk, as jy met ’n liggaam uit die dood opgestaan het vir die kuier.

Die kombuis en eetsaal is agter die tempel. Die monnike en die nuweling-monnike, die jongetjies wat nog leer hoe om hul begeertes in toom te hou, se woonkwartiere is langs die eetsaal. Hoër op teen die berg, agter die geboue, is terrasse uitgekap vir ons groentetuin. Dié is vol spinasie in lang beddings.

Jy sal van die beeldhouwerk orals hou. My gunsteling is die mosbedekte jong man met die gesig van ’n aap wat wulps op ’n rots naby die koidam voor my sel staan.

Van waar ek hier sit en skryf, kyk ek oor die koidam by die voordeur van die tempel in. Dié is honderde jare oud. Dit het al ’n paar keer afgebrand. Die laaste keer aan die brand gesteek deur die man wat beweer het hy was die Chinese Seun van God. Hy en sy volgelinge het plekke van aanbidding vernietig soos die Israeliete die tempels en beelde vir Baäl en Astarte, ná hulle die heidense nasies volgens God se bevel uitgemoor het. Lees jou Bybel, Magrieta. In die soetste taal staan die verwoesting daar geskrywe: En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.

Nou weet jy meer van my blyplek as ek van joune.

Dis al vir vanaand. Volgende keer wil ek praat oor ons seun wat op my hart trap en die ander saak tussen my en jou wat ek later sal noem en wat op my gewete lê.

Jou langslewende eggenoot,

Daan van der Walt

Naskrif: Ingeval jy dink dis nou weer ’n nuwe ding van my om aan jou te wil skryf, wil ek jou gerusstel. Ek gesels aanhoudend met jou in my gedagtes. Ook wanneer ek sit en skryf. Ek het vandag in ’n gesprek vir jou gesê jy sou die proponent, ’n heel aanvallige jong man, se preke waardeer het. Baie mense skryf aan hulle dooies. Agter in die koerant het ek gelees van ’n ou dogtertjie wat skryf: Mamma, ons mis jou lekker kossies smiddae na skool. Lief Lientjie xxx. Ek kry die idee die koerant word daar bo by julle afgelewer: ’n Vrou stel haar man gerus wat dalk bang is hy word vir korrupsie of iets gevang: Manlief, jy is nou veilig in liewe Jesus se arms.

Ek hoop darem nie jy is saam met ’n klomp mans in Jesus se arms nie, Magrieta. Ons wil nie moleste hê as ek daar aankom nie.

Die dao van Daan van der Walt

Подняться наверх