Читать книгу Die dao van Daan van der Walt - Lodewyk G. du Plessis - Страница 18

VIER

Оглавление

’n Verlepte sonnetjie loer agter reënwolke uit. Dit bly donker in my sel, moeilik om te skryf. My oë gaan ingee. My sitvlak ook. En dis nie al nie, meester Yang het gister die tempel van die Here geskend. Hy het my gemartel om my yin en my yang te balanseer omdat daar fout is met my qi. “After the treatment the colour of your skin will tell us the state of your qì,” het hy gesê.

“Tell us,” my dierbare hond. Asof ek belangstel in die toestand van my qi. Wat vir ’n ding is qi? Waar aan my lyf sit hy?

Ek moes my jas, my trui, my hemp en my onderhemp uittrek, my onderbroek tot wie weet waar afdruk en in die koue op my maag op die kang gaan lê. Die helfte van my sel se vloeroppervlakte is kang. Bedags sit ek op die ding, snags moet ek daarop slaap. Daar is nie ’n matras op nie. Die monnike slaap so, hard en min. Die eerste twee nagte het ek nie ’n oog toegemaak nie. Dit maak nie saak nie, het meester Yang gesê, want ek mog nie plat lê nie. Ek moes sit sodat die kristalle in my binneoor wat hul balans verloor het, hulle ewewig kon vind. Gisteroggend het ’n monnik vir my ’n bamboesmat gebring vir die kang en dis waarop ek op my maag gaan lê het sodat my meester die kleur van my qi kon sien.

Hy het ’n dosyn bolvormige glase uit ’n swart leertas gehaal en op my skryftafel neergesit, ’n stuk watte tussen twee eetstokkies vasgehou, dit in alkohol gedoop, aan die brand gesteek en die vlam in ’n glas gedruk om die lug daarin te verhit. Die kokend warm glase het hy een vir een soos bloedsuiers langs my ruggraat af tot op my stuitjie geplak. Hy suig die slegte qi uit, het hy gesê. Soos die glase afkoel, voel dit toe of hulle die murg uit my rugstring suig. Meester Yang het probeer glimlag. “Chinese doctors have been cupping their patients since ancient times. It opens the five meridians on your back, allowing the qì to flow. Flow like water.”

As jy nog gelewe het, Kaspaas, het ek jou net daar beveel om hom aan die bobeen te byt.

Laas nag moes ek op my maag slaap met ’n rug so vol bloedkolle soos Josef se kleed. My rug is vanmôre berge en dale soos in die gesangvers, en ek kan nie eers my verwonding behoorlik aanskou nie; hier is nie ’n spieël nie en my nek is te styf om my kop soos ’n slanghals te draai.

Meester Yang het die kleur van die bloedblase op my rug beskou na hy die glase met woep-geluide soos proppe uit ’n wynbottel afgetrek het. “Light to bright red. Just as I thought. Your blood is too hot. Too much yáng, too little yīn.”

Yang is vir manlikheid. Jou heer en meester is te manlik. Ek kon dit vir hom gesê het sonder dat dit nodig was om my op my pyn-kang te martel.

Hy het ’n stink kruiemengsel in die monnike se kombuis gaan stook. Ek moet die konkoksie drie keer per dag sirkelvormig van links na regs om my dantian invryf. My dantian is ’n Chinese ding binne-in my maag, suid van my naeltjie. En net voor hy by my sel uit is, sê hy ek moet aangaan met tai ji.

Ek is oortuig tai ji is ’n soort godsdiens. Waarom anders doen net die kloostermonnike dit? Woordeloos sweef hulle elke oggend voor die tempel soos geeste uit die hiernamaals. Die ander monnike staar die uitverkorenes aan met afguns in hul oë.

Ek is seker jy wil meer hoor van hoe ek gemolesteer is, maar ek wil iets skryf oor die dag toe ek Kaap toe gery het om te gaan kuier. Oor dié dag is ek seker is ’n windmaker vryer soos jy ook nuuskierig.

Ag, Kaspaas, as ons op die plaas was, het ek nou vir jou ’n kerfie biltong gegee. Ek sou op ’n lusernbaal in die waenhuis sit en ons sou saam biltong eet en vanaand sou Ragel vir ons souskluitjies maak. Hoe lekker het regter Ferdinand nie altyd aan haar souskluitjies gesmul nie!

Een aand het Ferdinand en my bure Koos en Elsie by my geëet. Jy het met ’n dooie mossie in die bek die eetkamer ingekom en die voëltjie by my voete neergesit. Ek het van die tafel af opgestaan en hom in die kombuis in die asblik gegooi.

Na ete het ons oor misdaad in die Nuwe Suid-Afrika gesels. Ferdinand het gesê dat hy sy lewe lank teen die doodsvonnis was, maar die laaste tyd het die plaasmoorde so wreedaardig geword dat hy voel die doodstraf is die enigste gepaste vonnis.

Hoe bepaal ’n hof ’n straf wat regverdig is, wou Koos weet.

Een wat die misdadiger na behore straf, maar ook die kenmerk van genade toon, het Ferdinand gesê.

Hy was omgekrap oor die media se gewoonte om ’n ieder en ’n elk en veral die klaer aan die einde van ’n strafsaak te vra of hulle tevrede is met die hof se vonnis. Die klaer is selde tevrede met die vonnis. Niemand sal haar verkwalik as sy aandring op ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand nie. Weerwraak is menslik, maar in sy wese barbaars. Dis waarom daar howe is om strafsake te bereg en waarom die staat die misdadiger vervolg, het hy gesê.

Toe voeg hy by: “Jy sal onthou, Daan, appèlregter Holmes het gesê straf moet nie die beskuldigde soos ’n vierpondhamer agter die kop tref nie. Genade is ’n element by die bepaling van ’n gepaste straf in ’n beskaafde samelewing.”

In my tyd as aanklaer was die voorgeskrewe vonnis vir moord, as daar nie versagtende omstandighede teenwoordig was nie, die doodstraf. Ek onthou hoe naarstiglik advokate vir die verdediging na grashalms gegryp het ter versagting. Dié aand het ek hulle vertel van ’n doodsvonnis in ’n saak waarin ek aangekla het.

Die regter het laat die middag die doodsvonnis uitgespreek: Jy sal hiervandaan na ’n plek van aanhouding geneem word waar jy aan jou nek opgehang sal word totdat jy dood is.

“Ag nee, Daan, is dit nou nodig?” Koos het sy arm om Elsie se skouers gesit.

Ek het my nie van stryk laat bring nie: “Van die ouer regters het ook nog bygevoeg: Mag God jou siel genadig wees.

“Toe my regter sê jy sal aan jou nek opgehang word totdat jy dood is, het dit gevoel of die hofsaal se mure om ons toevou en ons nie kon asem kry nie. ’n Paar oomblikke was dit doodstil in die hof, daar was net die wind in die takke van die twee sipresbome langs die hof. ’n Ou vrou se angswekkende gil het die stilte verbreek. Sy het ’n kombers oor haar kop getrek en begin weeklaag. ’n Jong vrou in ’n lang swart rok het gekerm. Ander toeskouers het hard begin huil. Die veroordeelde se ma het langs die ou vrou met die kombers opgestaan en na die beskuldigdebank toe geloop. Almal se koppe het in haar rigting gedraai en dit het weer stil geword in die hof. Jy kon haar voete hoor sleep. Haar seun, ’n jong man van 22 jaar, was besig om sy klere uit te trek. Die hofordonnans het hom vertel dat waar hy heen gaan, hy nie uitgaanklere nodig het nie. Kaalbolyf het hy daar gestaan. Skraal. Tengerig. Sy ribbes sigbaar onder sy vel. Die lyf van ’n seun. Sy hart het in sy keel se kuiltjie geklop. Hy het ’n kortbroek en T-hemp uit ’n plastieksak langs hom gehaal en aangetrek vir sy reis per trein na die dodesel in Pretoria. Sy ma het sy langmouhemp en langbroek stadig opgevou en dit onder haar arm teen haar bors vasgeknyp, haar oë op haar kind. Sy het nie aan hom geraak nie, net ’n paar woorde in hulle taal sag met hom gepraat. Hy het sy kop laat sak. Wat sy vir hom gesê het, kon ek nie hoor nie.

“Die ordonnans het gesê hulle moet klaarkry, dit was laat. Hy het begin om die boeie om die jong moordenaar se gewrigte te klamp. Dié het vinnig opgekyk na sy ma, net een keer, en toe het hy omgedraai en saam met die ordonnans en die adjunkbalju by die hof se sydeur uitgeloop.

“Die ma, haar kind se hemp en broek onder haar arm, het net gestaan. Haar oë droog. Sy het gestaar na die leë deur waar haar kind uit is.”

Koos se pyp was dood. Elsie het haar trane afgevee en haar kleinduimpiehand in syne ingevroetel. Ferdinand het met die teelepel in die kaneelsuikerpot gespeel.

Die “Opsitkers”-briewe is gepos. Nie die Sondag ná die van-waar-Gehasi-preek nie, nie die Maandag nie, nie die Dinsdag of die Woensdag nie. Na vier skuldbesmette nagte het ek die Donderdagoggend op ’n lusernbaal in die waenhuis gesit en biltong eet, jy aan my voete, en besluit die gedraal moet end kry. Net daar het ons in die bakkie gespring en die 150 kilometer dorp toe gery en die briewe gepos. Toe het die gewag begin. Uiteindelik het ek een antwoord op my vier briewe gekry. Liefie en Ragel se enigste oorlewende kind, Michael, het die brief van die dorp af vir my gebring.

Michael is so oud soos Jan-Willem. Jy en Michael kon mekaar nie verdra nie. Wanneer hy naby jou kom, het jy ’n hooikoorsaanval gekry. Julle honde is slim. Slimmer as wat ons dink.

Michael is die oudste van Ragel en Liefie se drie kinders. Die ander tweetjies is albei jonk dood: die babadogtertjie sommer so vanself, haar asempie het net een somermiddag weggewaai; die seuntjie het op die plaasdam se wal gespeel, ingeval en verdrink.

Michael se gees was boos. Hy was ’n rebel, ’n daggaroker met rastalokke, ’n drinker en ’n luiaard. Hy was kwaad vir my, vir sy pa en vir die ANC. Dié mense het hom belowe hy sou my plaas na die 1994-verkiesing kry. Toe hy by die party se kantoor op die dorp gaan vra wanneer hy die plaas kry, het hulle vir hom gelag, gesê hy is ’n mamparra en hom weggejaag. Sy saamleefvrou woon op die dorp. Hulle het ’n seuntjie, Cheslyn, en ’n dogtertjie, Mary-Subrette. Wanneer hy nie op die dorp was nie, het Michael soos ’n bloukopklipsalmander voor Liefie se huis in die son gesit. Soms het hy los werkies in en om die huis gedoen of het ek hom met die ou geel Datsunbakkie dorp toe gestuur om te gaan pos haal.

Toe ek my baadjie aantrek, die oggend toe ek Kaap toe is om my penmaat te ontmoet, sien ek twee gate op die rugpant wat Ragel netjies toegewerk het.

“Ragel!” roep ek.

Sy kom uitasem die slaapkamer binne.

“En dié?” Ek druk die baadjie in haar gesig.

“Netjiese naaiwerk,” sê sy maar kyk nie op nie.

“Ragel! Kyk na my.”

“Jy weet ek lieg nie. Moenie dit vir my moeilik maak nie.”

“Michael het verlede week my kamer uitgeverf. Dis sy hand wat my baadjie met ’n mes gesteek het.”

Sy begin weemoedig huil.

Ek het ’n ander baadjie aangetrek en Kaap toe gery om Boerseun te ontmoet.

Die tafel is vanmôre so lendelam dat my skrif lyk of ’n afkop hoender met inkpote oor my skryfboek geloop het. Ek stoot die stuk plank dat hy vas teen die deurkosyn staan. Ter wille van ’n bietjie lig is my seldeur oop en verkluim ek op die horrelpootstoel. Sal ek die probleme wat ek met die koffiedrinkende verkeerspolisie onder die skaduboom anderkant Citrusdal gehad het, beskryf? As die ounooi tog net wil raad gee. Wat moet in en wat moet liewer uit die geskrif bly?

Sy het dit ook maar swaar gehad saam met my, dié vrou. G’n wonder sy kry my nou terug nie.

Haar lyding en dood het die huis, die werf, die plaas in lanfer toegespin en die fondament onder my voete laat verkrummel. Die week na die begrafnis het Ragel die laaste boeke wat nog rondgelê het, bymekaargemaak en in die ounooi se studeerkamer weggesluit en die sleutel op die bedkassie voor my bed neergesit. Ek het in die veld rondgedwaal.

Die laaste paar maande voor haar dood het haar skrifgeleerde Sadduseër-vriende wat op die plaas geboer het terwyl sy besig was met haar studie, verdwyn; skoon vergeet hoe hulle weke lank in die rondawelhuis langs die boord gebly en soggens mieliepap met karringmelk en spek en eiers en saans borde vol braairibbetjies en varkwors verorber het. Die bokswyn, wat ek skelm vir hulle in Hermanuspietersfontein- en Het Vlock Casteel-bottels oorgetap het, tongklappend geprys en oor Derrida cum suis geargumenteer tot die son soggens opkom en dan op ordentlike matrasse met lakens en komberse daaroor gaan slaap. Vreeslik slim en vér heen.

Met my het hulle skaars gepraat. Ek het “Klap julle handjies, al die bobbejaantjies” gesit en neurie terwyl dié skepsels hulle dik eet aan die kos op my tafel. Wanneer ek en Magrieta boekevat, het hulle buite gaan staan en die plaaslug besoedel met stink sigarette, daardie Alistair-vent, haar professor, ook. Alistair! Wat vir ’n naam is dit vir ’n man, Kaspaas? En die ounooi was vreeslik danig met hom.

Een van Alistair se kopdoekdraende kanoeters het my aan my eie tafel ’n galaanval gegee toe hy in sy hoogdrawende jargon iets soos die volgende met ’n frons bokant sy geelsug-oë gesê het: “Jy weet, Magrieta, met deeglike skrutinering en oorweging partisipeer jy in die diskoers oor die fenomenologie van die eksistensiële trauma van die 21ste eeu se postmoderne antropologie om die grand narratives – vergelyk Foucault – van die heersende epog te dekonstrueer.”

Excuse my French, Kaspaas. Ek het net daar die vent se glas rooi wyn omgestamp. Wat nies jy nou weer? Dit was per ongeluk. Die klein gorrelpyp het sy stoel agtertoe gestoot, opgespring, byna daaroor geval, en verbaas na die nat kol by sy gulp gestaar. Dis toe dat ek vir hom sê: “Jy bloei, hartjie.”

’n Turksvyblom bloei ook, Kaspaas, maar nie oor Foucault nie.

Later die aand, in die slaapkamer, wou ek van die ounooi weet: “Wat soek die spul hier, Magrieta?”

“My vriende stel belang in my studie, Daan.”

“Is daai Alistair-poephol met sy krimpvarkiebaard net ’n vriend, Magrieta?”

Sy het my nie geantwoord nie. Net na my gekyk met daardie blou oë van haar.

Hulle lyk mos almal eners, haar mansvriende: grys kortbaarde soos die een of ander Siberiese hondspesie, en blow job-haarstyle. Eenvormig in hul voorkoms was hulle soos die draers van ’n Mao-uniform. O, ek het dit geniet om na hul lewers te hap wanneer hulle in my dooswyn versuip.

By wie kon ek oor dié deel van my lewe kla, Kaspaas? Dit was voor jou tyd. In die melkstal, by die vriend uit my kinderjare, het ek my hart oopgemaak. “Bottelbabas, die lot …” het ek my sin begin.

“… nooit ’n nat, warm pram se tepel in die smoel gehad nie,” het Liefie my sin klaargemaak en gelag. Hy het hom verkyk aan die klere van die geleerde here wat op my plaas rondparadeer. “Na ’n dag op die trekker lyk my overall orraaiter as die pass downs van jou mêrrempie se tjommies,” het hy gesê en die punt van Witlies se stert tussen die spantou en haar been ingedruk.

“Hulle oefen om so te lyk,” het ek gesê. “Dié menere trim hul balhare. Hulle perm die kroesies en blaas hul holle droog met warm lug.” Liefie het so gelag, hy het nie gesien hoe Witlies haar stert losruk nie. Sy het hom soos ’n brommer deur die gesig geklap.

Ek het oorgeleun na sy kant toe vir die speensalf. Die pienk vaselien moes aan bod kom, voor ek met Blommetjie se taai spene in gesprek kon tree vir die metaforiese kragtoer om melk in die emmer tussen my bene te kry.

In die huis het dit stiller geword. Ek en Magrieta het ál minder gehad om vir mekaar te sê. Wat ons moes sê, het ongesê gebly. Ek bedoel, wat ék moes sê, wat ék moes probeer regmaak tussen ons, het soos ’n Afrikaneros op my tong gelê.

Na haar dood het haar pille en leesbril vir weke op die kassie voor haar bed bly lê langs die oop digbundel waaruit sy die nag voor haar einde vir my voorgelees het. Ek sal vir die res van my lewe dié sin onthou. Die mooiste sin in Afrikaans, het die ounooi gesê: Die skraal poplier langs die tuinhek ril in die wyndun lug van laat-April. Snags het ek kerkhof toe geloop om met haar te praat, maar kon nie ’n woord uitkry nie.

Nou kan ek haar nie uit my gedagtes kry nie en spook sy by my wanneer ek wil slaap.

Ek het besluit om nie die rit Kaapstad toe en my onderonsie met die koffiedrinkende verkeerskonstabels langs die pad en die laspos-parkeerplekaanwysers en ruitwassers by die winkelsentrum te beskryf nie. Moenie soos Herodotus en Homerus afdwaal nie, het die ounooi altyd vir my gesê. ’n Lid van die literati, die vrou van my, en sy het nie die meesters van kringkomposisie se tegniek verstaan nie.

Laat ek tog maar liewer begin waar ek Boerseun, soos afgespreek, om agt namiddag voor ’n restaurant in die stad ontmoet het. My vaste voorneme was om die jong man met woord en daad te oorrompel, hom ’n aand te laat beleef wat hy nooit sou vergeet nie. Ek was netjies uitgevat in ’n donker pak klere, wit hemp, rooi strepiesdas en blinkgepoleerde swart skoene. Ek het my hare die middag in die hotel se unisex-haarsalon laat kap teen ’n stoetbokram se prys.

Ons skud hand. Sy handdruk is stewig, maar dis ek wat skielik sy blik ontwyk. As Dominee my nou hier sien. Of Mevrou!

“Kom ons gaan in,” sê Boerseun. “Ek is honger.”

Hy het die eetplek gekies en die bespreking gedoen: wit tafeldoeke, lapservette, goeie messegoed. Ek gaan weer betaal dat ek hoes. Ek het vergeet hoe duur dit is om te vry en vanaand moet ek indruk maak. Ons word na ons tafel geneem en gaan sit. Ek beskou die jong man onderlangs: nie so manlik soos ek gehoop het nie. ’n Puisierige nalatenskap lê soos vroegryp oor sy gelaat. ’n Donkerbril sit bokant sy voorkop op sy skouerlengte blonde hare. Hy dra ’n swarterige T-hemp wat die een of ander band se konsert adverteer, ’n klinknaelbroek wat styf om sy kuite sit, styf om sy boude ook het ek gesien toe ons instap, en aan sy voete het hy ’n paar gloeiende groen tekkies.

’n Kelner druk die spyskaart in my hand. Ek bestudeer die Engelstalige dokument vol uitlanderwoorde. “Kosbeskrywings word ál meer blaaskakerig,” sê ek. “Ek wil nie ’n voorgereg hê nie.”

Boerseun kyk skeef na my. “Ek sal settle vir kreef. Sommer twee as jy nie omgee nie. Grotes.”

Eina, dink ek, maar gee my liewer oor aan my lus vir ’n biefstuk, halfgaar met ’n groenpeper-roomsous en bros uieringe. Dis nie op die spyskaart nie en ek bestel seared Noorweegse salm met patats en wedges en die een of ander coulis. Laas toe ek en Magrieta, en later nog ek en Dominee, in Kaapstad geëet het, was rou vis en coulis nog nie mode nie en het lywige slaptjips nog nie getransformeer tot wedges nie. Ek verduidelik in Engels aan die kelner dat die vis gaar moet wees. “Dodelike bakterieë skuil in rou restaurantvis,” sê ek vir Boerseun, wat besig is om die nageregte te bestudeer.

Die wyn is vier maal die dorp se prys. Die kelner bring die bottel en wys die etiket. Ek knik my kop. Hy maak die bottel oop en skink ’n knertsie. Ek skommel en ruik. Ek proe. Ek sluk. “Gesëend is die man wat wandel in die gees van die wingerd,” sê ek.

Boerseun kyk na my. Hy sê niks.

“Wynmakers is omtrent almal Boere, maar dit word by die dag moeiliker om ’n bottel met Afrikaans op die etiket te kry,” sê ek.

Boerseun swyg.

“Mense,” gaan ek voort, “veral, met permissie gesê, piepiejollers, donsdosies en skrifgeleerde Sadduseërs, is so haastig om ’n ander mens in ’n blik te druk met ’n etiket op die deksel: dirty old man, taalbul, rympiesmaker, rassis.” Ek knik my kop. “Veral rassis. En taalbul. Dink maar net wat die polities korrektes, hul handlekkers en pluimstrykers doen aan die stryders vir ons hanslam-moedertaal:

“Dis net Engels wat jy siin en hoor!

Op skool en universiteit,

word ons moedertaal fermoor.

Iemand wat vir Afrikaans opkom,

word geskolde en gesmaad;

hy is ouderwets en dom.

’n Taalbul, noem hul hom.

Soos die digter ons vertel,

hy word ferag, gefloek, gelaster,

en beswadder fan di hel.”

Boerseun se oë rek groter en groter. Terwyl ek my gedig voordra, loer hy links oor sy skouer. En dan regs. Dan sak sy kop. Voor ek hom kan vertel van die taalbulle met wie ek in my gedig in gesprek getree het, land die kos voor my op die tafel; op my bord, so groot soos ’n Fordson-trekker se voorwiel, is daar ’n verpiepte torinkie in die middel: aartappelwiggies soos koelkamerstene op die vis gestapel, die vis op ’n plas soetpatats en blertse rooi coulis.

“Ek hou van kos,” sê ek. “’n Bord kos. ’n Bord vol kos soos ’n boek vol storie, gesout en gepeper. ’n Slaphakskeentjieboek wat die leser soos die geur in asynsoet uitjies op ’n kruistog neem na vreemde wêrelde en smaakgenot. Om te eet is soos ’n pelgrimsreis saam met die heilige Brandaan, die man wat ’n boek vol kettery verbrand het. Terwyl die vet uit die speenvark op die kole drup en ek lippe aflek vir die sagte liesvleis, wil ek luister na die heilige man se gesprek met die kop van ’n onthoofde reus.”

“No shit,” sê Boerseun en takel die wit kreefvleis in die stekelrige pienkrooi dop.

“Lees jy boeke?”

“Net my iPhone.”

Woordeloos gee ek my aandag aan die Meccano-konstruksie op die patatmoeras op die Fordson-trekkerwiel op die tafel voor my en vra: “Hoe benader ’n mens die toring van Babel? Een blaas op die ramshoring en hy stort ineen en jy kan begin eet. Maar ’n horing het ek nie.”

“O fok, wat’s fout met jou?” vra Boerseun.

“My ma het my hoeka geleer dis nie goeie maniere om aan tafel soos ’n broeis hen in jou kos te skrop nie.”

“Wie’s daai heilige dude van wie jy netnou gepraat het?”

“Die heilige Brandaan of die …”

“Whatever.”

“Die heilige Brandaan was ’n ab.”

“Ab wat?”

Ek moet keer dat hierdie gesprek nie skeefloop soos die een met die proponent nie. “’n Ab is die hoof van ’n abdy.”

Boerseun staar my aan met ’n oop kreefmond.

“’n Abdy is ’n plek soos ’n klooster. ’n Plek vol monnike. ’n Plek vol mans.”

“Dit kan sexy wees. No shit. Sommer baie sexy.”

“As jy ’n boek aan die brand steek, straf God jou. Brandaan is vir nege jaar uit sy abdy verban. Dit was sy vonnis. Nege jaar lank moes hy op die see vaar om die vreemde wonders van God se openbaringe te aanskou.”

“Tough shit.”

Ek besef ek het weer die pad byster geraak. Laat ek terugkeer na kos voor ek in die mis trap. Ek glimlag vir die jong man en sê: “Ek kan ’n skaapboud met roosmaryn en marmelade bak dat jy weke nadat jy dit geëet het, kwyl as jy aan my boud dink. Jy word in die hiernamaals vergewe wanneer jy terugverlang na die nasmaak van die souterige sous in jou mond.” Ek neem ’n slukkie wyn. “Flentertjies knoffel speel wegkruipertjie onder die bruingebakte kors. Bitter roosmarynblare en bittersoet marmelade kielie my boud dat hy skaterlag. Sousboontjies, ’n bietjie meer soet as suur, en vars groenertjies uit die tuin met ’n kruisementblaartjie of twee, net skrikgemaak in kookwater, maak ogies vir my boud.”

Hy sê niks. Ek probeer weer: “Jy weet, ek is oortuig skaapboud en knoffel is dieselfde dag geskape, nog voor Adam en Eva begin rok dra het.”

Koponderstebo karring hy met sy vurk in een van die krewe se borsholte.

My eerste hap vis laat die torinkie op my bord wankel, die tweede laat hom skeef staan en met die derde slaat hy neer in die plas patats soos ’n koei wat gif gevreet het. Die salm is lekker, al wriemel die bakterieë in die middel van die moot. “Die geheim van vis gaarmaak is om hom voor te sit as hy net-net gaar is,” sê ek.

Wat sal ek kla? Die gestyfde tafeldoek, die wyn, die blondekopman, die sagte musiek, die dowwe lig, die roering onderlangs waar daar jare laas ’n krieweling was … alles … hoe sal ek sê …?

“Awesome,” sê Boerseun en stoot sy bord weg.

Terwyl ek my gedagtes agtermekaar kry vir ’n Latynse spreuk, sê Boerseun: “Stunning.”

“Ek is bly.”

“Sien jy die dude by daardie tafel?” Terwyl hy sy mond met die servet afvee, wys hy met sy oë na ’n man met woeste hare, ’n baard en donker borskrulle wat by sy oopgeknoopte swart hemp uitrank. “Hy is my sielkundeprofessor. Hy doen research oor male prostitutes by ’n boy brothel in Camps Bay. Tagtig persent van die laaities se clients is getroude mans. Makes you think, hey.”

Ek verstik aan ’n druppel coulis.

“Try ’n bietjie wyn.” Boerseun stoot die glas nader.

Die vrug van die wingerdstok laat my hoes bedaar. “Wat is SL?” vra ek vir hom.

“SL wat?”

“Jy het gesê jy is SL.”

“SL?”

“In Desember verlede jaar, man.”

“You got me, dude. Waar het jy dit gehoor?”

“Nie gehoor nie, gelees. In die Landbouweekblad.”

Hy knip sy oë ’n paar keer en trek die donkerbril af op sy neus.

Ek sit my mes en vurk netjies langs mekaar op die bord neer. “In jou advertensie in die Landbouweekblad het jy gesê, jy is SA, SL.”

Hy stoot sy bril terug op sy kop.

“’n Suid-Afrikaanse SL,” verduidelik ek.

“O, my profile. Hoekom sê jy nie so nie? SA, SL, GSOH, LTR.”

“LTR? Wat’s dit?”

“Long-term relationship. Gewoonlik sit ek dit nie in nie. LTR is nie vir my nie.”

“Wat beteken SL?

“Wil jy vir my sê jy weet nie waarvoor dié letters in ’n gay profile staan nie?”

“Nee,” sê ek.

“Fuck me dead.”

My vingers verstyf om die wynglas se steel.

“O, my hel,” sug hy. “SA, SL en GSOH staan vir straight acting, straight looking en good sense of humour.”

“Gesondheid,” sê ek en neem ’n sluk.

“Cheers. En nou vir dessert?”

Ek het klaar geëet, maar Boerseun het nog plek vir sjokolademousse. Twee bakkies, as ek nie omgee nie, “combined met ice cream.”

Hy het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword, vertel hy terwyl ons wag vir sy nagereg, en is besig met ’n graad in die sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad. “Nee,” sê hy, “ek verlang nie terug plaas toe nie. Ek dig die stad.”

Hy wil weet hoeveel plase ek het.

Sy hande is sag en wit, mooi hande met lang vingers, al is hulle nie sterk genoeg om Blommetjie se taai spene te trek nie. Maar ons kuier lekker, sê ek vir myself. Hy het ’n goeie sin vir humor. Hy is nie vet nie. Nie materiaal vir ’n eerste rugbyspan nie, maar durf ek kieskeurig wees op my ouderdom?

“Ek het een plaas. ’n Groot plaas. Vyfduisend hektaar.”

“Wow! Jy’s ryk.” Hy lek sy poedinglepel vir oulaas af, sit dit terug in die bakkie en vryf oor sy bedelaarsmaag. “Koffie by jou hotel?”

Toe ek niks sê nie, sê hy: “Dan wys ek jou wat w/e beteken.”

“Alea iacta est,” sê ek. Die lot is gewerp. In die Skrif staan daar geskrywe: Ragab was ’n hoer en haar lewe is gespaar. Sal ek op my ouderdom met die Heilige Skrif stry? Voor die mure van Jérigo kan intuimel, roep ’n stem my op die naam.

“Daan! Daantjie! Wat maak jý hier?”

Ek vou my servet stadig op, sien die kers op ons tafel flikker en hoor my stoel kraak toe ek versigtig omdraai in die rigting van waar die stem tot my roep.

Getooi in ’n asblou aandrok, blou soos haar gekrulde hare, staan Sannie Coetsee en ’n man in ’n aandpak breed agter my en Boerseun. Haar tong lek oor haar rooi lippe en haar oë verorber die jong man langs my wat stadig opstaan en hulle beleefd groet.

Die dao van Daan van der Walt

Подняться наверх