Читать книгу Die dao van Daan van der Walt - Lodewyk G. du Plessis - Страница 15
ОглавлениеDie Tempel van Ewige Vrede,
Longshan,
China.
3 Maart
Liewe Magrieta,
Gisteraand het ek genoem dat ek die skepping van die vrou in Genesis 2 oordink het. Daar peuter jy toe die hele nag by my asof dit my skuld is dat die Here ons voorvader Adam se eensaamheid ernstig opgeneem en vir hom ’n hulp uit sy ribbebeen gemaak het wat toe vlees van sy vlees was en tot die verleiding van alle vlees gelei het.
Ek moes geweet het jy gaan tussen die reëls lees en dat jou beendere gaan ratel. Julle vrouens bly maar besitlik.
Het dit jou ontgaan dat ’n man se begeertes ingebed is in mites en godsdienste en argetipes en sulke goed?
Om dinge te verstaan, Magrieta, moet ’n mens begin by die begin van alle dinge. Dit weet jy tog.
Toe die onwelriekende rook uit die koperketel vol wierookstokkies vanmôre oor my waai, dink ek daaraan dat die Here ten minste die reuk van braaivleis in sy neus gehad het toe Abel die vet van sy eersgebore lammers geoffer het. Die gode wat die Here ons in die eerste gebod verbied het om te aanbid, het almal die reuk van braaivleis geniet. Gode leef van nektar en ambrosia, maar aanbidding en die rook wat uit braaivleis opstyg, behaag hulle meer as enigiets anders.
Ek is seker jy onthou dat die gode in die goue era saam met die mense feesgevier het en daar vrede in die hemel en op die aarde was, en die mens onsterflik. Maar toe begin die mense so raas en gaan so te kere dat die gode hulle met ’n groot vloed wou uitwis. Voor die reën begin uitsak, het die gode hulle aan die mensdom onttrek.
Die aardbewoners raak toe skrikkerig en hou ’n groot vleisbraai. Die gode kry die reuk van varkbeer en karnaatjie, pyl af aarde toe en koek soos brommers saam om die vure. Die mense bring brandoffers en prys die gode met tamboeryne, koordanse en lofgesang, en die balans tussen god en mens is herstel.
Van daardie dag af het braaivleis Sondae ná kerk ’n gewoonte geword, tot vandag toe. Dit weet jy baie goed.
Kort na die groot fees het Prometheus, die een wat vooruit dink, een Sondag die offerbul wat die hoofgod, Zeus, vir hom gegee het, geslag en vir die mense en die gode vleis gebraai, maar vir Zeus net bot en pees op die rooster gesit.
Zeus was daardie tyd meer knorrig as gewoonlik. Die vader van die gode was in ’n argument gewikkel met Catamitus se pa, Tros, die man na wie Troje vernoem is. Hy moes vergoeding aan Tros betaal: twee onsterflike perde.
Jy onthou mos die storie, Magrieta. Zeus het op Tros se mooi seun, Catamitus, verlief geraak. So groot was sy begeerte dat hy die jongeling ontvoer het om die gode se wynskinker te word. Zeus het nie net met ’n omgekrapte Tros onderhandel nie, hy moes ook sy vrou Hera se jaloesie verduur omdat Catamitus, die klein karnallie, hom snags tot hulp gekom het.
Een kyk na die knokke en senings wat Prometheus die moedswillige vir hom op die kole het, en Zeus was so boos soos dit ’n god in sulke omstandighede betaam om te wees. Kyk maar net hoe omgekrap was God oor Eli se deugniet-seuns, Hofni en Pínehas, toe hulle vir hulself die beste offervleis uitgesoek het. Nooit weer hou die mensdom braaivleis nie, het Zeus gesê en al wat vuur was op aarde met donderbuie en bliksemstrale geblus. Prometheus die verlosser het ’n vuurvonk by Hephaestus op Olimpus gaan steel en aan die mense terugbesorg. Die vader van die gode het Prometheus die goduitdager summier gegryp, aan ’n rots vasgeketting en ’n krombek-arend op hom losgelaat om elke dag die lewer uit sy buik te skeur.
Die ongure Zeus straf toe, soos gode maar maak, sommer die mensdom ook. Daardie tyd is daar nie onderskei tussen die manlike en vroulike geslag nie. Nakend was hulle, Magrieta, maar nie skaam vir mekaar nie. Soos Adam en Eva ook, tot die skille van hul oë afgeval het ná die petalje met die slang. Om die mensdom te straf het Zeus Pandora met haar kruik vol onheile onder hulle losgelaat, die grootste waarvan natuurlik concupiscentia, ’n wellustige drang, was. Haar onheile was in ’n kruik, Magrieta, nie ’n dosie nie, al dink baie mense so.
Sedert Pandora die kruik se deksel gelig het, het mans die begeerte om ’n vrou of ’n wynskinker tot hulp te hê.
By ons in die Paradys het dit nie beter gegaan as op Olimpus nie. Die goue era was daarmee heen toe die listige slang sy kop voor Eva opgelig het. Adam en Eva se oë het oopgegaan. Hulle het gesien hulle is poedelnakend en toe raak hulle so nuuskierig en Adam brand so van begeerte, dat hulle kort voor lank weet wat hulle nie moes weet nie. Slang en al is hulle uit die Paradys geboender. Waar Adam en Eva eers vir ewig kon leeglê en van die vrugte van die Paradys eet, ontneem die verleidelike slang hulle dié luukse en moes hulle in die sweet van hul aanskyn distels en duwweltjies uitskoffel tussen die groente wat hulle self moes nat dra. En snags moes hulle lepellê en tande kners van die koue in die buitenste duisternis.
Dié nuuskierigheid in die Paradys na die Here die vrou geskape het, het ons met die dood en begeerte besmet en dit is die kat in die sak waarmee ons vandag moet saamleef, want ’n hulp sal ons mansmense begeer tot ons dood toe. Ons is nie klippe nie.
Wat Augustinus se erfsonde weens dié nuuskierigheid aanbetref, Magrieta, moet ek vir jou sê: ek maak ten sterkste beswaar daarteen. Dié man het nie kousaliteit en die Romeinsregtelike skuldvereiste dolus eventualis verstaan nie. Hy het vierpoot vasgesteek by concupiscentia. Gaan lees maar wat hy geskryf het in Die Stad van God. Dié boek sal daar by julle in die biblioteek wees.
Begryp jy nou, ou vrou? Ons is in die Paradys geprogrammeer om nuuskierig te wees en dis nuuskierigheid wat begeerte sy kop laat lig. En begeerte, het die wyse Sokrates gesê, is nie iets waarvan ’n man ooit genees word nie.
Met jou kennis van die dood, en nou waarom ons mans van begeerte brand, pleit ek by jou: as jy my nie tot hulp wil wees by die skryf van my Historia nie, vou dan liewer saans jou vlerke toe, my lief, en laat ons al twee rustig slaap.
Jou langslewende eggenoot,
Daan van der Walt
Naskrif: Ek skryf sulke lang briewe aan jou. Ek het vergeet jy het nie jou leesbril saamgeneem nie. Probeer êrens een leen, Magrieta, want dit is belangrik dat jy hierdie brief noukeurig lees as jy my Historia wil verstaan.