Читать книгу Die dao van Daan van der Walt - Lodewyk G. du Plessis - Страница 7

Оглавление

Die Tempel van Ewige Vrede,

Longshan,

China.

28 Februarie

Liewe Magrieta,

Ek skryf vir jou ’n brief omdat jy snags met my lol. Dertien jaar al lê jy onder die grond en nou roer jy weer die pot. Verlede nag was dit “Tea and Sympathy” wat ek vir jou moes sing.

Jy het my altyd daardie kyk van jou gegee as jy dink ek is onnodig dwars. Dan het jy jou koffie gesit en roer al was daar nie suiker in die koppie nie. As ek niks sê nie, het jy ’n stukkie melktert op my bordjie gesit, of vir my ’n koeksister gegee, en gevra: “Hoekom praat jy nie as jy iets op die hart het nie, Daan?”

Vanaand het ek baie op die hart, Magrieta. Vanaand praat ek met jou.

Ek weet nie wat jy alles van daar bo af kan sien nie, maar soos jy die laaste tyd te kere gaan, is wat hier onder gebeur dalk vir jou ou nuus. Om misverstand tussen ons uit te skakel vertel ek jou in elk geval van die onheile wat my getref het sedert jou afsterwe.

Almal wat vir my dierbaar was, almal behalwe Jan-Willem en Ragel, is dood: Koos en Elsie, Liefie, regter Ferdinand du Plessis en Kaspaas. Almal dood. Jou Poplap en Fielies ook. Kaspaas het hulle doodgebyt. Die hond was ’n kattehater.

Daar begin jy al weer! Sy naam is Kaspaas, nie Kerberos nie.

Jan-Willem het met hom op die plaas aangekom.

Ek woon nie meer op Ystervarkfontein nie. My blyplek is in ’n ouetehuis tussen ’n klomp Engelse, die Spes Bona Retirement Village. In Kaapstad. Maar tans bevind ek my tussen monnike by ’n afgodstempel in China. Al ’n week lank.

Ek het geweet jou vlerke gaan tril as jy die woord afgodstempel lees, maar jy kan ontspan; die offerrook wat orals hemelwaarts styg, is my nie welgevallig nie. Jan-Willem het my tussen die godloënaars kom aflaai toe ek siek geword het. Ek wil nie daaroor uitwei nie. Ek is kapabel en kapater daai rammetjie. Hy wóón in China. Nie om die evangelie te verkondig soos ek en jy die Here beloof het nie. O, nee! Hy het rooi hakskene staan en kry tussen die kommuniste. Sy kuisheid vir ’n pot noedelsop verruil. En dis nie al nie, na sewe jaar op universiteit werk hy nou in ’n kafee.

Die onmin met Jan-Willem en jou gekarring aan my snags het my laat besluit om met wat jy my skadukant sal noem om te gaan. Ek gaan my geskiedenis naspoor, ’n kritiese ondersoek doen, my Historia skryf.

Hou op lag, Magrieta, dis nie ’n grap nie.

Laat ek jou iets vertel daar in jou wolktoring tussen die engele Gods. Jy het waarskynlik lankal vergeet dat manne van die begin af hulle hand aan geskiedenisse gewaag het. Daar is Herodotus se Historia, ’n boek oor die ondersoek wat hy gedoen het na die Grieke en die barbaroi, en die stories, waar en onwaar, wat aan hom vertel is om dié mense se geskiedenis beter te verstaan; daar is Augustinus wat sy Confessiones neergepen het, ’n geskiedenis so vol van sy skuldgevoelens oor sy sekslewe dat hy die ganse Christendom toe belas het met erfsonde; daar is selfs ’n esel wat met ’n stok geslaan is en teruggepraat het en tot vandag toe vir sy woorde onthou word. Waarom sal Daan van der Walt van Ystervarkfontein swyg?

Jy kan nuttig wees in die hemel, Magrieta. Jy kan my help met die skrywery.

My Historia het vandag in medias res begin, sommerso in die middel. Dit kán tog sekerlik nie. ’n Geskiedkundige ondersoek moet by die begin begin, anders verstaan jy later die gebeure verkeerd. Die vraag is hoe ver moet die skrywer teruggaan? Gaia in Uranus se orgasmiese omhelsing voor die aarde en die hemel van mekaar geskei is, gaan sekerlik te ver terug, al is daar mense wat dink ek het dieselfde probleem as Uranus en ’n paar ander gode.

Moet dit nou nie daar bo uitblaker nie, Magrieta, maar ek oorweeg dit sterk om my Historia te begin by Genesis, in die omgewing van hoofstuk een, by die sondeval, en Adam en Eva se straf en dié van die slang; en dit dan storie ná storie te vertel, want my stories lê wyd en soos Herodotus s’n is hulle geslyp en gevyl deur baie ander stories, stories van die mens, en van die gode wat die mens gedien het, en die onmenslike strawwe waarmee die mens vir sy ongehoorsaamheid gestraf is. Hoe voel jy oor die saak? Sal jy my bystaan, Magrieta? In ’n droom dalk? Tog net nie weer ’n nagmerrie nie.

Dis al vir vanaand.

Jou langslewende eggenoot,

Daan van der Walt

Naskrif: Ingeval jy regtig oor my skouer gaan loer wanneer ek skryf, sê ek vir jou nog ’n ding: Ek het aan die begin van verlede jaar besluit om ’n bietjie te gaan kuier. Dis nie dat ek soos Uranus paarlustig was nie, die eensaamheid op die plaas het my maar net gevang.

Die dao van Daan van der Walt

Подняться наверх