Читать книгу Die dao van Daan van der Walt - Lodewyk G. du Plessis - Страница 13

Оглавление

Die Tempel van Ewige Vrede,

Longshan,

China.

2 Maart

Liewe Magrieta,

Dit reën al amper heeldag, ’n sagte, deurdringende reën. Sou die rysboere tevrede wees?

In my geskiedskrywing het ek vandag besin oor die Bybelse aanwysing dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie.

Ons sukkel so om in die hemel te kom en soms wonder ek of die gespook en gespartel die moeite werd is. Kon die Here nie maar in sy raadsplan voorsiening gemaak het dat Johannes ’n beter droom gehad het nie? Wat is ’n openbaring werd wat nie eers vir jou vertel of daar bome langs die goue strate in die Nuwe Jerusalem is nie? En voëltjies wat mens vroeg soggens wakker sing nie? En paddas wat snags kwaak?

Reën dit in die hemel, Magrieta? Is daar ’n rukwind wat gaan lê net voor ’n storm losbars? Slaan die reuk van nat aarde op na ’n boer se neus ná ’n donderstorm? Is daar darem ’n stroompie water waarin ’n sonstraal weerkaats? En die maan?

Die son het hier laat vanmiddag ’n rukkie geskyn. Ek het gaan stap en op smouse buite die suidelike Poort na Hemelse Vreugde afgekom. Daar is meer stalletjies as by die Poort na Saligheid of die Poort na Ewige Vrede en ’n groter verskeidenheid kos. Vir aandete het ek katoor-noedels in ’n kartonbakkie gekoop en aan Poplap en Fielies gedink. Onthou jy hoe jy die katte se ore gekielie het wanneer hulle op ons bed lê en slaap? En nou eet ek katoor-noedels hier in die verderf.

Ek het koue op my blaas. Ek moes vandag kort-kort ’n draai loop en moet al weer uit in die nattigheid.

Jou langslewende eggenoot,

Daan van der Walt

Die dao van Daan van der Walt

Подняться наверх