Читать книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach - Страница 12

9

Оглавление

Lucinda sit aan die etenstafel saam met die twee mans en voel die spanning aan. Almal is oordrewe hoflik met mekaar.

Edwin het wyn gebring, rooi en wit, en dring aan dat dit gedrink moet word. “Ek eet nooit sonder om wyn te drink nie. Wit of rooi?” Hy kyk na haar.

“Wit, dankie.”

Hy kyk na Werner sonder enige geneentheid op sy gesig. “En jy?”

“Rooi, dankie.”

Lucinda teug aan die wyn. Daar is ’n voelbare stilte wat sy moet verbreek. Sy probeer dink waaroor sy kan praat.

“Werner is ’n ingenieur wat paaie en brûe bou en hy is tans met ’n projek in Zambië besig,” vertel sy.

Edwin sluk taamlik vinnig aan sy wyn. “O? Afrika het seker baie hulp nodig. Orals is daar mos altyd probleme en alles stort in duie. Dis waarom ek liewer in Europa bly.”

“Waarom het jy dan jou kind na ’n kliniek in Suid-Afrika gestuur?” vra Werner, sy wenkbroue gelig.

Edwin lyk omgekrap en antwoord sommer dwars: “Ek het my redes.”

Lucinda is ook ongemaklik toe Werner frons en vies na Edwin kyk.

“Jy mag ’n swerwer wees, maar jou wortels is in Suid-Afrika,” probeer sy olie op die water gooi.

“Ja, dis seker so,” gee Edwin toe. Hy maak sy glas leeg en skink vir hom nog wyn.

Anna kom met die bakke kos in.

“Dankie, Anna,” sê Lucinda. “Mense, dis selfhelp vanaand. Kry vir julle, dan stuur julle aan.”

Werner bied vir haar die slaai aan. “Kry jy eerste.”

“Dankie.”

Sy skep op en hou hulle skelm dop. Werner het ’n gesonde eetlus, want hy is ’n groot man, maar hy gaan nie oorboord nie. Edwin is egter glad nie skaam nie en pak sy bord baie vol.

Skielik kry sy hom jammer. Hy het nou aardse rykdom in oorvloed, maar in die weeshuis was die hoeveelheid kos wat hulle kon eet altyd beperk. Hulle het wel nie honger gely nie, maar hulle was soms nie vol nie. Edwin het altyd gesê dat hy eendag net soveel gaan eet soos waarvoor hy lus het.

“Wanneer kan ek vir Erik uit die kliniek neem?” vra Werner.

Lucinda vermoed dadelik dat hy dalk voel three is a crowd en dat hy moet wegkom, en sy is spyt daaroor. Die laaste ding wat sy wil hê, is dat Edwin die nuwe en nog brose verhouding wat tussen haar en Werner ontstaan het, moet verongeluk.

“Erik kan nog nie ontslaan word nie. Ek sal hom eers ontslaan as ek seker is dis heeltemal veilig.”

Edwin eet met konsentrasie sonder om te praat en hy drink vinnig. Lucinda bly by haar een glas en weier meer.

“Nee, dankie, dis ’n weeksaand en ek word dalk geroep. Ek behoort glad nie te drink nie.”

Sy sien Werner raak skaars aan sy wyn, en op sy gesig is ’n uitdrukking wat sy herken as blote uithou sonder lekker.

“Ek moes lankal met jou kontak gemaak het, maar ek was so blerrie besig om motors en vroumense te jaag,” raak Edwin meteens geselserig. Hy lag asof hy dink hy het iets gevats kwytgeraak.

“Jy het getrou en ’n kind gekry,” herinner sy hom.

“Ja, fok. Iets wat ek nooit moes gedoen het nie. Maar môre is nog ’n dag.”

Dié uitdrukking het hy ook baie gebruik toe hulle jonk was: Môre is nog ’n dag. Daarmee het hy homself, haar en ander getroos.

Sy bord is leeg, sien sy. “Help jouself, Edwin.”

“Thanks.” Hy skep en mors op die tafeldoek, maar skynbaar pla dit hom nie. “By the way, hoekom noem jy my Edwin? Jy het my altyd Eddie genoem.”

“Ag, seker oor jy nou mooi grootgeword het,” skerts sy liggies.

“Lucy, Lucy, lig van –” begin hy met ’n vol mond.

“Ag nee, moenie weer vir my daardie rympie sing nie.”

Al het sy steeds deernis vir hom, verwonder sy haar oor sy onvolwassenheid.

Hy sluk sy kos en kyk na Werner, wat rustig sy mes en vurk op sy leë bord neersit.

“Lucy se naam beteken lig, weet jy? Ons Latyn-onnie het ons vertel. Ek het Latyn gehaat, maar Lucy was mal daaroor. Nou kan sy seker al die Latynse name van die siektes en medisyne verstaan.” Hy lag. “En haar liggie het helder geskyn in die Huis van Lig, die Mara Bosman-tehuis vir kinders met die leuse Lux in tenebris lucet. Weet jy wat dit beteken?”

“Iets met lig te doen?” Werner se stem is koel en bedaard.

“Jip: ’n lig skyn in die donker. Lucy was al lig wat daar was. Sy het vir almal gesorg. Dis snaaks, want kinders wat mishandel was, boelie eintlik ander, maar sy het die teenoorge… teenoor… gesjtelde gedoen. Jy moesj gesjien het hoe lyk sjy toe hulle haar inbri… bring.” Hy hik.

Lucinda hoor dat sy tong begin sleep en sy kry skaam om haar verlede so opgerakel te hoor voor ’n man wat sy skaars ken en vir wie sy meer as blote vriendskap voel.

“Ag, kom ons praat liewers oor iets anders, Eddie. Die weeshuis is tog nie ’n verkwiklike onderwerp nie.”

“Maar onsj het in jare nie gepraat van die weesjhuisj nie. Noudat ek jou sjien, begin dit terugkom.” Hy spat van sy rooiwyn op die tafel. “Eksjkuusj.”

“Ons kan môre praat. Ek dink jy is moeg, Eddie, en ek dink jy moet nou ophou drink.”

Hy sit die glas hard neer. “Niemand sjê vir my ek moet ophou drink nie …” Maar toe gee hy haar ’n dronkmansglimlag. “Net jy kan, Loesjie.”

Sy kyk vlugtig na Werner en sien dat hy haar stip aankyk. Wat dink hy?

Anna kom gelukkig in en begin die borde opruim.

“Ek help jou met die nagereg,” sê Lucinda, staan op en neem die een bak.

Tot haar verbasing staan Werner ook op en neem twee bakke. “Ek help sommer gou.”

In die kombuis kyk sy na hom. “Ek is bevrees my ou vriend het te veel gedrink.”

Werner glimlag. “Ek sien so. Dalk sal ons hom in die bed moet sit.”

Sy byt op haar lip. “Genade, ek hoop dit sal nie nodig wees nie.”

Hy gee haar ’n vinnige drukkie en sy glimlag waarderend vir hom. Sy wens eintlik hulle kon ’n alleenaandjie gehad het. Dat hy haar weer so heerlik kon gesoen het …

Anna het die nagereg op ’n skinkbord gesit en Werner neem dit binnetoe.

Hulle tref Edwin weer met ’n vol glas aan, maar hy drink dit vinnig. “Poeding,” merk hy op.

Lucinda kyk na sy deurmekaar blonde kuif en wasige blou oë en vermoed hy maak ’n gewoonte van baie drink.

“Ja, Anna het gebakte poeding en vla gemaak,” sê sy en sit ’n bakkie voor hom neer.

Hy val weg en eet dit in drie happe op, maar sy en Werner het nog skaars begin. Toe is hy weer met die wyn doenig.

“Om te dink ek sjien jou weer,” mompel hy en kyk oordrewe liefderik na haar. “Jy’sj blerrie mooi, wee’ jy? Jy wasj altyd sjo mooi … maar ek het die anner ounsj gesjê jy’sj myne …”

Lucinda bloos vuurrooi van verleentheid en durf nie na Werner kyk nie.

“Ek wou nie kom nie … maar vir jou … het ek … vir wat moesj my kind nou vigsj kry … my vrou isj dood … maar sy het rondgeloop … die teef …”

Sy duidelike dronkverdriet, tranerige stem en vulgariteit ontstel haar en sy kyk hulpeloos na Werner, wat sy wenkbroue lig en effens knik, asof hy te kenne wil gee dat hy verstaan.

“Daai fokken vrou …” begin Edwin, en Lucinda sit hom snaarstyf en aankyk.

Toe val hy vooroor op sy hande. Werner gryp net betyds die wynbottel voor hom weg.

“Uit soos ’n kers,” sê hy. “Ek sal hom na sy kamer dra.”

Lucinda staan op. “Verskoon tog asseblief dié performance.”

“Ag, die man het pyn wat diep gebêre is. Dit kom uit as hy dronk word.”

Hy trek Edwin uit die stoel op.

“Losj my …” prewel Edwin, maar Werner trek sy arm om sy skouers en sleep-dra hom kamer toe.

Lucinda stap agterna en kyk handewringend hoe Werner die slap lyf op die bed laat sak.

“Laat hom sy roes afslaap. Môre gaan hy babelaas wees, maar ek vermoed hy drink al vandat hy uit Frankryk weg is.”

Lucinda haal ’n kombers uit die kas en gooi Edwin toe. “Hy hét diep pyn, daarom verdra ek hom.”

“Julle deel baie.”

Sy kyk op in Werner se oë en dink sy sien deernis daar, maar iets anders ook. Moenie jou nou van my onttrek nie, wil sy vra, maar sy kan nie.

Hy neem haar darem in sy arms en soen haar, maar liggies, troostend, nie soos ’n passievolle minnaar nie.

Toe los hy haar en verdwyn in die rigting van sy kamer, en laat haar gekwel en bekommerd agter.

Edwin slaap nog die volgende oggend toe Lucinda na die kliniek gaan. Sy stap onder die bome deur toe sy skielik vir Werner gewaar, in drafklere, op pad terug huis toe. Sy gaan staan en wuif vir hom, en hy draf na haar toe.

Sy neem die gespierde bene en arms en breë bors in ’n frokkie in, en dit maak haar heeltemal week.

“Haai, ek het nie geweet jy gaan draf in die oggende nie,” lag sy, en hoop hy sien nie die blos raak wat hy na haar wange bring nie.

“Ek draf elke oggend minstens vyf kilometer. Ek begin as dit nog donker is,” sê hy kortasem. “Die ding met Erik het my ’n bietjie uit die oefening gehou, maar nou begin ek weer. Hoe gaan dit met jou ander gas?”

“Hy het nog geslaap toe ek daar weg is.”

“Ek gaan gou vir Anna pla vir ontbyt, dan meld ek weer by die kliniek aan.”

Hy draf weg en sy kyk hom agterna. Hulle onverwagte ontmoeting het sommer die dag vir haar meer opwindend gemaak. Vol moontlikhede.

Die vooruitsig om hom binnekort weer te sien, inspireer haar. Hy raak al meer vir haar soos ’n middel waaraan sy verslaaf is.

Die dag begin geweldig besig en toe Lucinda uiteindelik saam met verpleegster Jenny en suster Martie by Erik uitkom, is Werner tot haar teleurstelling nie daar nie.

Sy buk oor die kind, wat baie moeg lyk. “Hallo, Erik,” sê sy. “As jy mooi herstel, kom jy een van die dae uit.”

Hy glimlag floutjies.

“Jy gaan by jou pa bly en ek is seker dit gaan lekker wees,” probeer sy troos.

“Ja, dit sal lekker wees, maar Pappa moet my hond laat kom.”

“Ek is seker hy sal. Ons moet nou weer bloed trek en dit laat toets, sodat ons kan sien hoe vorder die behandeling.”

Terwyl hulle met Erik werk, hoop Lucinda Werner kom in. Dalk het hy net ’n draai geloop. Maar hulle is klaar en hy kom nog nie. Sy moet wegsteek dat sy afgehaal is.

Sy tref vir dokter Ras Wannenburg en Jens by Nanette aan.

“Hoe gaan dit hier?” vra sy, en hou nie van die manier waarop dokter Wannenburg sy kop liggies skud nie.

“Ons kind is ’n bietjie vaal vandag,” sê Jens en sit sy hand op Nanette se voorkop.

“Pappa gaan later kom kuier,” probeer Lucinda haar opbeur.

Sy sien ’n flikkering in die ogies en haar hart loop oor. As Edwin nie gou genoeg hier uitkom nie, gaan sy hom saamsleep nadat sy middagete by die huis geëet het.

“Jis, ek het soos ’n dooie ding die oggend omgeslaap,” is die woorde waarmee Edwin Lucinda in die portaal begroet toe sy by haar voordeur inkom. Hy is skoon, in jeans en ’n T-hemp aangetrek, sy blonde hare vars gewas, en hy sou vir haar asemrowend gelyk het as sy oë nie rooi en steeds dik was nie.

“Hallo, Eddie. Jy het gister bloot te veel gedrink.”

Hy plaas sy hande op haar skouers, trek haar nader en soen haar op die lippe. Sy proe tandepasta. “Ek was blerrie gesuip. Jammer as ek jou in die skande gesteek het voor jou ander gas. Wat is in elk geval aan die gang tussen jou en dié ou? Ek hou nie van die manier waarop hy na jou kyk as jy nie sien nie.”

“Hoe kyk hy na my?” vra sy koel.

“Ag, asof jy nie weet nie! Ek hoop nie jy het vir hom gaan staan en val nie, want ek is nou hier en ek gaan nie toelaat dat hy sy innings kry nie.”

“Jy is verspot, Eddie.”

Dit klink regtig vir haar asof hy die verhouding tussen haar en Werner wil vertroebel, maar sy gaan dit nie toelaat nie.

“Ek is hier vir middagete. Jy eet seker saam?”

“Ja, dankie. Ek het ontbyt gemis. My ore hang, maar ek sal gou regkom. Ek drink ou lewerpilletjies, sien, dan herstel ek in no time.”

“Gaan sit solank aan die eetkamertafel, dan bring ek die kos.”

In die kombuis kyk Anna haar verontwaardig aan. “Dokter, darie man het die hele oggend geslaap. Ek kon nie sy kamer regmaak nie. Hy was seker lekker getarrie gisteraand.”

Lucinda kan nie help om te grinnik nie. “Wel, hy hét baie gedrink en nog ver gevlieg ook. Die kombinasie is dodelik. Maak maar vanmiddag sy kamer aan die kant as ek hom kliniek toe neem om sy kind te sien. Kom meneer Huber ook vanmiddag eet?”

“O nee, hy het gesê hy eet in die kafeteria by die kliniek.”

Lucinda steek weg dat sy afgehaal is. Werner hou hom eenkant oor Edwin, vermoed sy. Sy help gou vir Anna om die kos eetkamer toe te dra.

“Thanks, dit sal lekker wees,” sê Edwin.

Lucinda sien dat hy vir Anna sy sjarmante glimlag gee en dat sy sommer ontdooi. Hy het nog altyd ’n slag met almal gehad en is nog altyd maklik vir sy oortredings vergewe, dink sy wrang. Hy kon omtrent met moord wegkom en al die meisies het hom aangehang.

“Daar is iets wat ek ook kom doen het, behalwe kuier,” sê hy terwyl hulle eet.

“Wat is dit?” vra sy versigtig en hoop dit het niks met haar te doen nie.

“Ek wil uitvind waar ek vandaan kom en watse ander familie daar is, al is dit verlangs. Om Nanette se onthalwe. Daar is niemand wat na haar omsien behalwe die kliniek se personeel nie, en natuurlik kom niemand kuier nie. My vrou se familie sit in Frankryk, en hulle het Chantelle in elk geval verwerp toe sy vigs kry.”

“Dis tragies …”

“Kom ons gaan albei. Ons gaan praat met ou matrone Van der Walt en wie ook al ons destyds geken het. Jy kan met die maatskaplike werker gaan praat wat jou ingebring het na die weeshuis. Jy behoort baie te wete te kom.”

Lucinda voel asof die kos in haar mond dik word en sy sluk dit met moeite af. “Ek was nog altyd bang om op my bloedspoor terug te gaan.”

“Ja, ’n mens is, maar daar kom ’n tyd dat jy dit seker moet doen. Ek het nou by daardie punt gekom.” Hy kyk na haar, sy gesig somber. “Gaan jy my ondersteun, of nie?”

Sy sug hoorbaar en kyk eers af na haar bord kos. Werner het ook geskimp dat sy haar verlede moet konfronteer en haar familie in Ierland moet gaan soek.

“Goed, ek sal saamgaan,” stem sy in.

Hartklop Omnibus 3

Подняться наверх