Читать книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach - Страница 14

11

Оглавление

Die volgende oggend moet Lucinda douvoordag kliniek toe gaan en terwyl sy onder die bome deurstap, kyk sy of sy nie vir Werner aangedraf sien kom nie. Maar tot haar teleurstelling sien sy hom nêrens.

Sy is regtig kwaad vir Edwin. Hy kom van ver af, verwaarloos sy kind en eis haar wat Lucinda is op asof hy die reg daartoe het. Hy het altyd sy sin gekry. Sy vermoed hy lei ’n losbandige lewe in die glanswêreld van renjaers, maar hy vloek sy oorlede vrou omdat sy vigs gehad het.

Sy is ook ontsteld oor Nanette en Charles, wat nie hier sou beland het as hulle nie baie siek was nie, maar ook nie as hulle ouers gehad het wat gesorg het dat hulle by die huis verpleeg word nie.

Werner het gisteraand so simpatiek na haar geluister. Sy dink daaraan dat hy ’n aandeel in die kliniek gekoop het en dat hy beweer het hy doen dit om haar onthalwe. As hy bereid is om so ver te gaan om betrokke te raak, moet sy haar werklik so ontstel oor Edwin se gedrag en aansprake wat ’n kinkel in hulle jong en kwesbare verhouding gebring het?

Die oggend is sy weer eens baie besig en toe Lucinda tydens haar rondte by Erik uitkom, is Werner nie daar nie.

“Hallo, jong,” groet sy die kind, wat vir haar glimlag. “Jy lyk aansienlik beter vanoggend. Ek kan jou al amper uit die kliniek ontslaan. Waar is Pappa vandag?”

Sy vee sy hare van sy voorkop af, en tot haar verbasing neem hy haar hand en hou dit vas.

“Pappa het gaan reël dat Mamma vir Rover stuur.”

“O, dis lekker. Jou hond sal seker eers in kwarantyn moet bly voordat jy hom kry. Weet jy wat dit is?”

“Pappa het gesê dis wanneer hy eers in die hospitaal moet bly, soos ek, en dan later kan hy huis toe kom.”

“Dis reg. Hulle maak net seker dat Rover nie ’n siekte van Engeland af Suid-Afrika toe bring nie.”

“Ek het ’n siekte gebring.”

Sy druk sy hand en lag. “Ja, maar dis nie aansteeklik nie. Jy kan dit nie vir iemand anders gee nie. ’n Muskiet het dit vir jou gegee en daardie muskiet is nog in Zambië.”

“Ek gaan ook eendag ’n dokter word soos tannie.”

“Regtig? Dis wonderlik. Dis die beste ding wat jy kan word, behalwe om soos Pappa te wees wat mense help om paaie te bou, anders sukkel hulle deur die bos.”

“Mamma het nie gedink hy doen ’n goeie ding nie.”

Is dit nou die negatiewe indruk oor sy pa wat daardie feeks by haar kind gelaat het? dink Lucinda vies. Sy skud haar kop. “Nee, hy doen baie goeie werk. Baie goeie werk om mense se lewens beter te maak.”

Sy druk weer sy hand en maak hare saggies los. “Die verpleegsters moet nou met jou werk, en ek moet die ander kinders gaan sien. Raak jy verveeld?”

“Ja, tannie.”

“Ek sal tant Mymie stuur om vir jou te lees. Ek sal vir haar my boek Jock of the Bushveld gee. Jy behoort dit te geniet.”

“Dankie, tannie.”

Lucinda kom etenstyd by die huis aan en Edwin wag haar in.

“Haai, Lucy, hoe’s dinge?” vra hy vrolik asof hy hom nie die vorige aand soos ’n buffel gedra het nie.

“Goed. Onder beheer. Nanette is egter nie lekker nie. Jy moet haar gaan sien. Jy kuier gans te min by haar.”

“I stand corrected,” sê hy vroom. “Jy kom seker middagete eet? Ek join jou. Het jy lus vir ’n bier? Ek het gekoop en ek gaan een drink.”

“Nee, dankie, Eddie. Ek werk met pasiënte. Ek kan nie in die middel van die dag drink en dan met ’n drankasem by die kliniek aankom nie.”

“O, oukei. Ek gaan haal vir my bier uit die yskas. Ek sal sommer vir jou ou ennie sê sy moet die ete bedien.”

Lucinda vererg haar dat haar gesig sommer warm word. “Vir wie noem jy ’n ‘ou ennie’?” vra sy kwaad. “Tog nie vir Anna nie? Sy is my regterhand, wat dit vir my moontlik maak om lang ure te werk en dan gevoed te word met lekker kos, en om in ’n skoon huis te bly. Vir jou maak sy dit soos ’n hotel.”

Hy lyk afgehaal. “Jy raas al weer met my. Lyk my jou werk stres jou uit.”

“Ek raas nie oor ek stres het nie. Ek raas oor jou houding: dat jy maar kan maak of breek en op ander neersien. Moenie hier kom windmakerig wees nie. Dit werk dalk tussen renjaers en hulle aanhangers, maar nie hiér nie.”

Hy kyk haar vir ’n oomblik gebelg aan, maar toe gaan haal hy sy bier.

“Skuus, man,” mompel hy toe hy by haar aan tafel kom sit.

Anna kom in met die kos. “Hallo, dokter. Hoe gaan dit met meneer se ou kleintjie?”

“Siekerig, maar sy hou,” antwoord Lucinda. “Sjym, arme ou dingetjie.”

Edwin knik net en teug aan sy bier.

Toe Anna uit is, kyk Lucinda streng na hom. “Sy gee om hoe dit met jou kind gaan, maar ek is seker jy het nog nie vir haar gevra hoe dit met haar gaan nie, of dankie gesê vir wat sy vir jou doen.”

Hy lyk skaam. “Ek sal haar vergoed, moenie worry nie.”

Dit gaan nie net oor geld nie, wil Lucinda sê, maar sy hou haar in. Dis onaangenaam om te sit en baklei. Hy lyk in elk geval afgehaal, en haar ou deernis vir hom sit steeds in haar hart al gedra hy hom soos ’n stout kind.

“Kom jy vanmiddag vir Nanette sien?” vra sy sonder om na hom te kyk.

“Ja, ek sal vir ’n rukkie kom. Jy raas dan met my oor ek haar afskeep.”

Sy kyk op van haar bord. “Moenie dikbek wees nie, Eddie. Jy behoort haar te wíl sien. Is jy nie lief vir haar nie?”

Hy frons. “Ek is seker. ’n Mens is mos maar lief vir hulle, of jy hulle wou gehad het of nie.”

Lucinda kyk geskok na hom. “Sê jy nou jy wou haar nie gehad het nie?”

“Kyk, Chantelle het nie vir my gesê sy is ver heen met MIV nie, en toe kry sy vir Nanette, en die kind is besmet. Dink jy regtig ek sou toegelaat het dat Chantelle ’n kind kry as sy vigs het? Dis mos nie reg nie. Die kind is van geboorte af siek, en ek weet anti-retrovirale terapie werk nie vir kinders nie. Ons probeer onsself net bluf – die siekte is ongeneeslik.”

Weer kry Lucinda die vreeslike vermoede dat hy ook MIV-positief is, maar dat hy dit met medikasie onder beheer hou. As hy by sy vrou ’n kind verwek het, móés hy aangesteek het.

“Ek verstaan jou redenasie,” gee sy toe, en hulle eet verder in stilte.

“Ek kom saam met jou kliniek toe,” sê hy ná ete.

“Goed, gee my ’n paar minute. Ek wil ’n boek vir Erik Huber kry.”

Daardie aand is Lucinda en Edwin alleen, want Werner het nie teruggekeer nie. Edwin haal weer wyn te voorskyn vir die ete.

“Ek kan nie elke dag drink soos jy nie,” vermaan sy.

“Ag, een ou glasie sal jou laat ontspan.”

Hulle sit eers buite met glase koue witwyn, want die aand is soel.

Sy glimlag vir hom. “Ek is bly jy was heelmiddag by Nanette.”

Sy weet dat hy lank met Bets en die verpleegsters gesels het, veral met verpleegster Jenny, maar sy gaan hom nie daaroor verwyt nie.

“My vaderlike plig is gedoen,” spot hy. “Terloops, wanneer gaan jy daardie maatskaplike werker kontak?”

“Ek moet dit vandag of môre doen, maar ek is bang vir wat ek kan hoor.”

“Ek was ook, maar dit pla mens mos tot jy iets daaraan doen.”

Toe haar wyn op is, sit sy die glas neer. “Weet jy wat? Met hierdie wyn se Dutch courage gaan ek daardie maatskaplike werker nóú bel.”

“Oukei. Ek wag vir jou.”

In die privaatheid van haar kamer skakel sy die nommer op haar selfoon. Die vrou wat antwoord, klink ouerig.

“Mevrou Suzette van der Merwe?”

“Ja, wie praat?”

“Dis Lucinda O’Neill hier. Ek was in die Mara Bosman-weeshuis in Bellville. U het my destyds daarheen geneem.”

“My genade! Die ou dogtertjie met die Ierse naam en die groot blou oë. Wat het van jou geword?”

“Ek het medies gaan studeer en is nou ’n pediater by die Wynland-kliniek buite Stellenbosch.”

“Maar my! Jy was toe slim en hardwerkend. Geluk!”

“Dankie, mevrou. Ek … die rede waarom ek bel, is dat ek nie veel weet van my eie ouers en pleegouers nie. Ek en Edwin van Reenen, wat ook in die weeshuis was, het vir matrone Van der Walt gaan kuier en sy het my na u verwys.”

“Wel, dit was lank gelede. Die rekords is nie altyd toeganklik nie. Hoe oud is jy nou?”

“Nege-en-twintig.”

“En jy was so vier toe ek jou na die weeshuis geneem het?”

“Dis omtrent reg.”

Sy hoor die vrou sug. “Mense wil ook maar weet van hulle herkoms. Dis normaal. Ek kry julle ook altyd so jammer. Ek sê jou wat, kom kuier oor ’n dag of wat. My susterskind werk nou by maatskaplike dienste. Sy kan ons help om jou goeters op te spoor.”

“Ek kan u nie genoeg bedank nie.”

“Ag wat, my ou hart is maar klein. Het jy die adres?”

Lucinda lees dit vir haar.

“Dis reg. Gee my eers ’n luitjie, sodat ek nie weg is by die winkels of by die buurvrou nie.”

“Ek maak so. Baie dankie weer eens, mevrou Van der Merwe.”

“Goed, my … e … dokter. Tot siens dan.”

Lucinda gaan vertel vir Edwin, wat intussen weer vir hulle wyn ingegooi het. “Ek het haar gekry en sy gaan my help.” Sy gaan sit oorkant hom en skuif die wynglas op die tafeltjie na sy kant toe. “Drink jy maar dié. Ek kan nie.”

“Wil jy hê ek moet saamkom?”

“As jy nog hier is, sal ek dit waardeer.” Sy dink eers na. “Nee, weet jy, on second thoughts. Miskien moet ek alleen gaan, as jy nie omgee nie?”

“Oukei, maar jy voel dalk moer sleg oor wat jy hoor.”

“Ek moet dit maar net hanteer – my punishment vat, soos jy altyd gesê het as jy pak gekry het oor jy so stout was.”

Hy grinnik, drink sy wyn klaar en neem haar glas. “’n Mens mors nie goeie goed nie.”

Terwyl hulle eet, verlang sy eintlik heeltyd na Werner. Kom hy ooit vanaand nog terug? Of probeer hy om Edwin te vermy?

Toe hulle klaar is en Anna die nageregbakkies verwyder het, wil Lucinda opstaan, maar Edwin keer haar. “Ek het iets baie belangrik om jou te vra.”

“’n Guns?” grap sy, maar sy is ongemaklik.

Hy lyk ernstig en neem haar hand. “Jy weet, ek en jy ken mekaar al vandat ons tjokkers was.”

“Ja?”

“Eintlik ken ons mekaar baie goed, al het ons mekaar jare lank nie gesien nie.”

Sy raak al ongemakliker, maar sy probeer dit wegsteek. “Ons lewens het op verskillende bane beland, Eddie. Ek kan net raai watter soort lewe jy lei. Jy weet darem van myne, want jy is hier en jy sien my werk, maar eintlik is ons vreemd vir mekaar.”

“Jy is nie vir my vreemd nie. Ek dink ek ken jou deur en deur. Jy is altyd eerlik. ’n Mens weet presies waar jy met jou staan.”

“Wat probeer jy sê?”

Hy soen haar hand voordat sy kan keer. “Trou met my, Lucy.”

Sy kry ’n sinkende gevoel in haar maag. “Wat? Maar hoe kan ons …”

“Ons pas by mekaar en ek was nog altyd mal oor jou. Jy is mooi en slim en jy sal ’n goeie ma vir Nanette wees.”

Sy trek haar hand uit syne en kyk hom vas in die oë. “Soek jy my as jou vrou, of as ’n dokter vir Nanette?” En dalk vir jou ook? kan sy nie help om te dink nie.

Hy lyk seergemaak, maar sy vermoed hy plak dit aan.

“Natuurlik nie. Ek het besef toe ek jou weer sien dat jy die soort vrou is met wie ek moes getrou het. Nie iemand soos Chantelle of … die ander vroumense wat ek al in my lewe gehad het nie.” Hy klink kastig gebelg en verontwaardig, maar sy ken hom te goed en sien deur sy toneelspel.

Lucinda vryf haar voorkop moedeloos. “Ons pas nie by mekaar nie, Eddie. Ek wil nie die vrou van ’n renjaer wees wat heeltyd moet wonder of haar man veilig uit elke wedren gaan kom nie. My plek is hier waar ek werk, in Suid-Afrika, nie op die circuits van die wêreld nie. Ek pas nie in daardie soort lewe nie. My beroep is vir my heilig. En beoog jy om Nanette saam te neem waar ons ook al gaan, as jy dink ek kan haar versorg?”

Hy sit dikbek, asof hy te afgehaal is om te praat.

“Wel? Antwoord my, Eddie.”

“Ek hét jou lief, Lucy. Jy wil net hard to get speel.”

Sy lag ongelowig. “Hard to get? Moenie verspot wees nie. Ek is realisties. Die lewe het my geleer om met my voete plat op die aarde te loop. Ek kan nie met jou trou nie.”

“Kan jy nie vir my en Nanette lief wees nie?” dring hy aan.

“Ek ís lief vir julle albei, maar my verstand sê vir my dat ’n huwelik tussen ons twee ’n ramp sal wees. Ek is nie onderdanig nie en jy is veeleisend. Ek word ook nie op sleeptou geneem nie. Ek sal wil weet waar jy is as jy die aand nie huis toe kom nie, en ek sal jou probeer keer om soveel te drink.”

Hy staar haar aan. “Jy breek my hart.”

“Liewer nou as later, my liewe vriend.”

Hy sug diep. “Ek gaan jou kans gee om na te dink, dan vra ek weer.”

“Dit sal nie help nie.”

“Is jy nou mal oor daardie ander ou, Werner?”

“Ons pas beter by mekaar.”

Hy lyk skielik kwaad. “Komaan! In watter opsig?”

“Die meeste, skat ek. Maar ek moet met jou eerlik wees, Eddie. Daar is iets omtrent jou wat my baie pla.”

“Jy bedoel behalwe my drinkery en die feit dat ek ’n slegte pa is?”

“Daar is nie ’n maklike manier om te sê wat ek gaan sê nie, daarom gaan ek reguit wees. Pynlik reguit en eerlik. Ek is ’n dokter en ek werk al jare lank met aansteeklike siektes. Daarom weet ek meer van vigs as die mense op straat.”

Sy sien hoe hy op die verdediging kom en sy skouers krom asof hy ’n aanslag wil afweer. Sy kry hom jammer, maar sy moet doen wat sy nou doen.

“Daarom weet ek dat as jy jou vrou swanger gemaak het, jy ook MIV-positief moet wees. Dit kan nie anders nie. Jy ontken dit, maar dit help nie.”

Hy is kennelik ontsteld en sy blik is skerp, maar hy sê niks.

“Ek vermoed jy is op anti-retrovirale terapie wat vir jou werk. Is ek reg?”

’n Spiertjie spring in sy wang, maar hy knik uiteindelik.

“En jy was bereid om met my te trou en my ook aan te steek?”

Hy laat sy kop sak sodat sy nie in sy oë kan kyk nie. “Daar is mos iets soos kondome,” sê hy skor. “Ek hoef jou mos nie aan te steek nie.”

“Maar oor ’n ruk verpleeg ek vir Nanette én vir jou?”

Hy kyk op en sy oë is half hartseer en tog uitdagend. Dié uitdrukking het dit altyd reggekry om mense te vermurwe, maar sy is bestand daarteen.

“Ek is ryk, Lucy. Ek kan jou alles gee wat jy wil hê, en dan erf jy boonop ’n moerse klomp geld, ’n woonstel in Londen en ’n huis in Switserland.”

Lucinda skud net haar kop. Hy kán nie verstaan nie, of hy weier bloot, steeks soos ’n muil.

“Ek wil nie jou besittings erf nie, Eddie,” sê sy sag. “Ek wil nie met jou trou nie.”

Skielik staan hy op van die tafel en sonder om iets verder te sê, gaan hy by die voordeur uit. Binne sekondes hoor sy die BMW se enjin buite brul.

Nee, hy moenie in dié toestand, ontsteld en vol wyn, gaan ry nie! Sy hardloop uit, in Werner vas.

“Hallo, wat gaan hier aan?” vra hy verbaas. “Die man het my amper uit die aarde gehardloop, en nou doen jy dit ook?”

“Hy moenie ry nie! Hy het gedrink.”

“Dis niks nuuts nie, of hoe? Hy kan seker nog goed funksioneer met drank in sy lyf. Hy is mos gewoond daaraan.”

Sy bars in trane uit en hy hou haar vas. “Toemaar, hy sal seker niks oorkom nie,” troos hy. “Die man is mos goed agter ’n stuurwiel.”

“Jy verstaan nie,” snik sy. Sy wil hom vertel van die vigs en die huweliksaanbod, maar hy sus haar net en lei haar binnetoe.

“Gaan was jou gesig en ontspan.”

“Het … het jy aandete gehad?” kry sy dit uit.

“Ja, dankie. Ek het niks nodig nie. Toe, gaan kamer toe en kom tot bedaring.”

Toe sy weer sien, los hy haar. ’n Paar oomblikke later hoor sy hoe sy kamerdeur toegaan.

Wat dink hy nou? Dat sy en Edwin soos twee verliefdes stry gekry het en dat hulle weer gaan opmaak? Dat dit is waarom sy so histeries agter hom aangestorm het?

Moedeloos gaan sy kamer toe. Môre sal sy Werner die volle waarheid vertel.

Hartklop Omnibus 3

Подняться наверх