Читать книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach - Страница 16
13
ОглавлениеLucinda se hart gee ’n sprongetjie toe sy by die huis kom en Werner haar inwag.
“Waar was jy in jou civvies?” terg hy en soen haar.
“Kaapstad toe, vir … e … besigheid. Hoe gaan dit met jou?”
“Goed, dankie. Jens sê Erik kan ontslaan word.”
Haar moed sak in haar skoene. Erik en sy pa gaan weg en sy moet maak asof sy om hulle onthalwe bly is.
“Ja, ek het ook so begin vermoed.”
“Wil jy vanaand saam met my gaan eet op Stellenbosch? Ek teer nog heeltyd hier op jou goedhartigheid en gasvryheid. Ek voel so in die skuld.”
“Jy hoef nie, dit was ’n plesier. Kan ek my eers gaan verfris en opdollie?”
“Natuurlik, ek wil met jou spog. Van watter soort kos hou jy die meeste?”
“Oosterse kos.”
“Dan weet ek waarheen ons kan gaan. Toe, gaan maak jou mooi. Ek het al vir Anna gewaarsku dat sy nie hoef aandete te maak nie.”
Lucinda gaan ontspan in ’n skuimbad, was haar hare, grimeer en trek mooi aan, alles binne ’n uur. Werner wag reeds vir haar in die sitkamer toe sy inkom en hy lyk so aantreklik dat sy na asem snak.
“Jy is pragtig,” komplimenteer hy.
“Mag ek dit vir jou ook sê?” vra sy skalks.
Hy lag. “Pragtig was ek nog nooit, maar dankie dat jy my probeer vlei.”
Het jy maar geweet, dink sy. Met sy manlikheid en simpatieke persoonlikheid is hy vir haar aantrekliker as die filmstermooie Edwin.
Hy soen haar in die nek sodat haar hele lyf tintel. “Jy ruik ook lekker. Ek sluk jou sommer in.”
Hy hou haar hand vas toe hulle in die motor ry. In die restaurant sit hulle aan ’n klein tafeltjie sodat sy sy lang bene teen hare voel, en daar hou hy ook haar hande vas. Sy sweef van geluk, die spanning en bykanse trauma van die middag by die maatskaplike werker vir eers opsy geskuif.
“Het julle Moët et Chandon-sjampanje?” vra hy toe die kelner kom verneem wat hulle wil drink.
“Ja, meneer. Dis Franse sjampanje, meneer.”
“Ek weet. Bring dit asseblief vir ons.” Hy kyk na Lucinda. “Drink jy graag sjampanje? Party mense kla mos dat dit hulle onmiddellik ’n hoofpyn gee.”
“Ja, graag, maar ek het nog nie dié Franse sjampanje gedrink nie.” Sy vermoed dis baie duur, maar hy kan dit oënskynlik bekostig.
“Daar is ’n eerste keer vir alles, soos die profeet gesê het.”
“Watter profeet?” lag sy.
“Profeet Werner die Manjifieke.”
Sy lag weer en hy soen haar hand. “Jy is opvreetlik as jy lag. Ek wil jou altyd laat lag. Jy kan nie net siekte en ellende sien nie, jy moet die blink kant van die lewe ook ervaar.”
“Daar is nie regtig vir my ’n blink kant en ’n skadukant meer nie. By my vloei die een in die ander, en as dit donker is, wil ek dit lig help maak.”
Hy soen weer haar hand. “Wat sê Van Reenen? Lucy, Lucy, lig van ons lewens?”
Sy trek haar hand weg. “Moenie daarmee spot nie.”
Hy frons skielik. “Ekskuus, dis nie mooi terg nie.”
“U Moët et Chandon, meneer – yskoud,” onderbreek die kelner hulle.
Hy maak oop en Werner proe. “Uitstekend.” Versigtig en behendig skink die kelner dit en verdwyn. Hulle lig hul glase en kyk diep in mekaar se oë.
“Op my Ierse skoonheid,” glimlag Werner. “Geseën is die dag toe jy in my lewe gekom het.”
Sy bloos, maar loop meteens oor van geluk. “Op jou – die beste en slimste man, en die beste pa wat ek nog ontmoet het.”
Hulle teug, en daarna leun hy oor en soen haar ten aanskoue van almal, maar sy gee nie om nie, want hy smaak heerlik en sy bruis van liefde.
“Dit was een van die lekkerste aande in my lewe,” sug hy toe hulle by die huis vir oulaas in mekaar se arms staan, hulle lywe styf teenmekaar.
“En in myne.”
Haar hele lyf smag na vervulling, maar sy gaan haar nie sommerso voor hom werp nie. Nie tensy hy werklik vir haar sê dat hy haar liefhet nie. Hy sê allerhande mooi dinge, maar eers as hy hom werklik verbind het, sal sy dit dalk oorweeg. Sy het haarself in elk geval nog nooit geheel en al aan ’n man gegee nie. Niemand was dit nog ooit werd nie.
Hy dwing haar nie en hy probeer haar nie oorweldig nie.
“As ek ’n haastige en ongeduldige jong man was, het ek jou nou bed toe gesleep, maar as volwasse en wyse man sal ek my gedra,” terg hy en soen haar vir die laaste keer.
Sy voel asof sy haar van hom moet losskeur.
“Die afskeid is hier,” sê Werner toe hulle by die kliniek se voorportaal uitgaan na sy motor. ’n Ordonnans stoot Erik in ’n rolstoel en Lucinda buk om hom op sy voorkop te soen.
“Sien jou weer as jy inkom vir toetse,” sê sy. Sy moet trane wegknipper. Sy gaan die kind net soveel mis soos sy pa.
Sy haal die boek agter haar rug uit. “Ek hoor julle is nie klaar met Jock se storie nie. Vat dit vir jou en as jy dit nie kan lees nie, kan iemand anders dit vir jou lees.”
Erik sit sy maer armpies om haar nek en soen haar ook. “Dankie, tannie.”
Sy moet hard snuif of trane loop by haar neus ook uit, en sy vee dit vinnig met ’n snesie af.
“Ons sien jou Saterdagaand,” sê Marita toe sy Werner omhels.
“Ja, partner, tot Saterdagaand,” grap Jens.
Nou is Lucinda voor Werner en sy probeer haar koel en kalm voordoen.
Hy glimlag af na haar. “Ek sien uit na Saterdag, ook om jou weer te sien.”
Hy soen haar plegtig voor almal en sy wonder wat Erik daarvan dink dat sy pa die dokter so soen.
Haar hart voel leeg toe sy die vertrekkende motor agternakyk en vir oulaas wuif.
Marita kyk haar met ’n glimlag aan. “Ek is bly julle het vriende geword. As ek ’n matchmaker was, sou ek julle by mekaar wou uitbring.”
Blosend lag Lucinda. “Ja, ons het vriende geword. Weet jy, hy het vir Anna ’n reuseklomp geld gegee. Sy is erg in haar noppies en beplan net wat sy alles gaan betaal en koop.”
“Hy is baie vrygewig,” sê Jens. “Soos ek jou al vertel het.”
Lucinda is net terug in haar kantoor toe Bets opgewonde ingebars kom.
“Dok, kom kyk net hier!”
Lucinda moet agter haar aanhaas en sy snak na haar asem. Die ruiker van verskillende kleure rose wat daar staan, is die grootste en verruklikste wat sy nog ooit gesien het.
“Sjoe, dis asemrowend. Dit lyk na honderde blomme.”
“Die bloemiste het dit nou net afgelewer,” vertel Bets. “Dis glo vir jou, dok. Lees die kaartjie.” Lucinda kom agter dat daar ’n gehoor versamel het wat hulle aan die ruiker verwonder. Sy lees die kaartjie: Aan Lucinda, die dokter wat ons harte gesteel het. Liefde, van Werner en Erik.
Sy druk dit met blink oë teen haar bors. “Dis van Werner Huber.”
“Gee tog vir ons meer sulke mans,” sug Bets en rol haar oë hemelwaarts.
“Hier is genoeg blomme om oral in die kliniek te plaas,” mymer Lucinda. “Ek sal vir my ’n bos uitsoek en dit huis toe neem, maar die res kan ons in die kindersaal en oral sit. En een bos in die voorportaal. O ja, en een elk vir dokters Jens en Marita.”
“Regtig, dok?” vra Bets verwonderd. “Dis darem gaaf van jou. Kom, ek help jou.”
Nadat hulle die blomme verdeel het, neem Lucinda ’n bossie met gemengde kleure. “Ek gaan hierdie gou vir Edwin van Reenen gee. Of wil jy?”
Bets bloos en giggel. “Nee, hoe sal dit nou lyk as ek dit doen? Hy sal dink ek vry na hom. Neem dok dit.”
Lucinda wil nie net die blomme neem nie, sy wil ook uitvind wat hy beoog omtrent die ongeluk en die slagoffer in die Stellenbosch-hospitaal.
“Hei, kry ek tog nie blomme by my geliefde nie?” spot hy kliphard toe sy inkom, sodat almal na hulle kyk.
“Verspot,” sê sy. “Ek staan net ’n paar rose uit ’n ruiker af.”
“Watse ruiker?”
“Een wat Werner Huber vir my gestuur het.”
Edwin trek ’n gesig. “Ek wil nie daardie Duitser se blomme hê nie.”
Lucinda verstyf en voel seergemaak. “Ek het nie bedoel om –”
“Nee, dis oukei. Hou dit maar, of gee dit vir Nanette.”
Hoe kan hy so onbeskof wees en haar so in die gesig vat as sy dit goed bedoel? wonder sy wrewelig.
“Ek het reeds vir omtrent almal uitgedeel. Dis nie net vir jou wat ek van Werner se blomme bring nie.”
Hy trek net weer sy mond soos ’n kind wat steeks is, en sy hou maar die rose in haar hand vas.
“Die man wat jy omgery het … weet jy hoe dit met hom gaan?”
“Nee. Die polisie het verklarings geneem. Moes ek probeer uitvind wie die bergie is wat in die nag voor my motor ingeslinger het?”
Lucinda kyk verwytend na hom. “Jy was self gedrink. Verwyt die ketel nou die pot dat hy swart is? Dis nie ’n hond wat jy raak gery het nie, dis ’n mens. Ek sal self probeer uitvind hoe dit met hom gaan.”
Edwin lyk kwaad. “Miskien moet jy vir hóm jou blomme gaan gee.”
Geskok kyk sy na hom. Toe draai sy om en loop. Sy hoor hy roep haar terug, maar sy kyk nie weer om nie. Watse soort mens het hy geword?
Van haar kantoor af skakel sy die Stellenbosch-hospitaal en verneem na die man wat ’n paar dae gelede raak gery is.
“Meneer Fielies is reeds ontslaan, dame. Hy het skrape en kneusplekke opgedoen en een arm is gebreek, maar dit was nie nodig dat hy bly nie,” vertel die hospitaalbeampte haar tot haar verligting. As die man in ’n bedenklike toestand was, sou dit verskriklik gewees het. Sy sal eers later vir Edwin vertel, want sy is nog te vies vir hom oor sy katterigheid.
’n Uur later, toe sy en die verpleegsters in die kindersaal besig is, kom Edwin op krukke aangesukkel. Sy ignoreer hom en gaan voort met haar ondersoek van die pasiënt.
“Haai, Lucy,” hoor sy hom sê. “Skuus, man. Ek het nie bedoel om jou verkeerd op te vryf nie.”
“Ons praat later,” sê sy oor haar skouer.
“Oukei, oukei, dokter.”
Sy hoor aan die krukke se gestamp op die vloer dat hy wegbeweeg.
Eers nadat hulle al die pasiënte gesien het, merk sy op dat hy by Nanette sit en gesels, sy krukke teen die bed gebalanseer.
Lucinda is die hele dag so besig dat sy nie weer vir Edwin sien nie, en sy probeer ook nie tyd afknyp om dit te doen nie.
Toe sy die aand by die huis kom, voel dit, ten spyte van Anna se teenwoordigheid, dolleeg en eensaam sonder Werner. Voorheen het dit haar nooit gepla om alleen te wees nie, maar sy verlang reeds na hom.
Haai, sy moet hom mos bel en dankie sê vir die rose, dink sy, en skakel onmiddellik sy selfoonnommer.
“Werner Huber,” hoor sy die diep stem wat rillings van lekkerkry deur haar stuur.
“Werner, dis Lucinda hier. Baie dankie vir die wonderlike en reusagtige ruiker. Hierdie kliniek het nog nooit so iets gesien nie.”
Sy hoor hom saggies lag. “Die rooi is vir my passie, die geel vir jaloesie oor Edwin, die wit vir genade en die pienk vir die rooskleurige toekoms waarop ek hoop.”
Sy woorde skiet ’n Kupido-pyl in haar hart. “Dan is die rose dubbeld werd wat ek gedink het hulle is.”
“Ja, dis die bedoeling. Wat doen jy? Is jy tuis?”
“Ja, en dis so stil hier. Ek het bederf geraak en nou moet ek weer gewoond raak aan alleen bly. Hoe gaan dit met Erik?”
“Goed, dankie. My suster Dagmar en haar man, Horst Kleinhaus die beeldhouer, is hier besig om hom te vermaak terwyl ek werk. Jy het vir hom die boek gegee wat hy vreeslik geniet het en nou het ons ook die DVD van Jock of the Bushveld gaan haal.”
Sy lag. “Dis ’n ou storie, maar kinders geniet dit nog steeds.”
“Ek dink hy mis jou al klaar, want hy praat met Dagmar-hulle oor jou.”
“Ek mis hom ook.”
“En wat van sy arme ou pa?” vra hy met ’n diep, dramatiese stem.
“Ag, vir hom ook.”
“Hy is bly om dit te hoor, want hy voel asof hy een van sy ledemate agtergelaat het.”
Haar hart swel van liefde toe sy dit hoor. “Jy moet maar kom dat ons jou heelmaak.”
“Ek sal. Belowe.”
“Nou ja, jy werk en ek lei jou aandag af. Dankie weer eens vir die rose, en lekker slaap. Liefde vir Erik ook.”
“Slaap jy ook lekker, en liefde van ons albei.”
Liefde, dink sy toe sy afgelui het. Dis nie “Ek het jou lief” nie, maar dit beweeg dalk in daardie rigting. Dromerig gaan tap sy vir haar ’n bad.