Читать книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach - Страница 4
1
Оглавление“U kan ingaan, dokter,” sê die gesette jong ontvangsdame vriendelik. “Dokter Jens en dokter Marita wag op hete kole vir u.”
Lucinda is net so effens op haar senuwees, want al het dié twee direkteure van die Wynland-kliniek haar genooi om vir die onderhoud te kom, moet sy nogtans ’n goeie indruk maak en sy het die afgelope ruk so hard gewerk dat sy bang is sy lyk moeg. Daarom staal sy haar en loop by die groot kantoor in, waar ’n middeljarige man en vrou op gemakstoele by ’n koffietafel vir haar sit en wag.
Hulle staan albei op en glimlag vir haar.
“A, dokter O’Neill,” groet dokter Jens Krause en skud haar hand. “Dis goed om jou weer te sien. Laas was jy nog ’n student in my klas, en dis nou seker agt jaar gelede.”
“Ek onthou u egter goed as ’n uitstekende en inspirerende dosent,” komplimenteer sy glimlaggend.
“Ag, ek was nog altyd geesdriftig en het hard probeer om julle te beïnvloed,” skerts hy. “Ontmoet my vrou en mededirekteur, dokter Marita Krause. Ek het haar in Pretoria ontdek.”
“Aangename kennis, dokter.” Lucinda neem die sagte hand wat nogtans ’n ferm greep het. Sy kyk in oë so potblou soos haar eie en hou van die uitdrukking van sagtheid en verwelkoming daarin.
“Jou reputasie het jou vooruitgeloop, jonge dame,” skerts die vrou. “Ons is baie bly jy het ingestem om vir ’n onderhoud te kom. Sit gerus, dan gesels ons.” Lucinda het pas oorkant hulle plaasgeneem, toe kom die ontvangsdame in met ’n skinkbord waarop daar koekies en tee is.
“Hierdie is ons regterhand, Bets Naudé, vir wie jy al ontmoet het,” sê Jens Krause. “Dankie vir die tee, Bets.”
“Ja, ons het kennis gemaak, dok. Ek wou nog vir dokter O’Neill sê ons sal dit nie teen haar hou dat sy so mooi is nie. So ’n gesig behoort die siekste pasiënt te troos.”
Lucinda is verleë, maar die ander lag.
“Jy sal aan hierdie grapjas gewoond moet raak,” sê Marita kastig streng. “Sowat van kordaat en bekkig het jy lanklaas gesien.”
Bets loop glimlaggend uit, maar knipoog vir Lucinda.
Hemel, hulle tree almal op asof hulle nie twyfel dat sy die pos sal aanvaar nie, dink sy. Dit laat haar gevlei en heerlik gesog voel.
Marita Krause beduie na die skinkbord. “Help jouself, dokter O’Neill.”
Nadat hulle klaar tee gedrink het, sien Lucinda dat die direkteur saaklik lyk. “Teen dié tyd besef jy seker dat ons jou ge-headhunt het, nè?”
“Ek het so iets vermoed, dokter Krause.”
“Ons kliniek word hoog aangeskryf en dis iets waarop ons besonder trots is. Jy weet, ek en Marita het dit op die been gebring met behulp van skenkings van oorsese stigtings en dis ons lewe. Ons is ook trots op die kundigheid van die personeel wat ons gewerf het. Ons het ’n uitstekende laboratorium met ’n patoloog en twee assistente waar ons bloedtoetse en ander toetse kan doen. Benewens die afdeling vir volwassenes het ons ook ’n afdeling vir kinders en ons kry pasiënte uit die hele land, uit Afrika en selfs van oorsee. Ons het nog altyd twee pediaters in diens gehad, maar dokter Sarah van Wyk tree af en ons wil weer so ’n goeie pediater aanstel.”
“Ek weet van haar,” sê Lucinda. “Sy is internasionaal bekend. Wat laat u dink dat ek, wat nog nie eens dertig jaar oud is nie, haar skoene sal kan vol staan?”
Marita Krause glimlag vir haar. “Moenie dink ons het nie verskeie potensiële kandidate geïdentifiseer nie. Jy het die reputasie by Tygerberg dat jy ’n harde werker is en dat jy baie goed met kinders klaarkom. Ek is seker hulle wil jou nie verloor nie, maar onthou, hulle kry darem altyd nuwe bloed namate die mediese studente afstudeer. Ons is bereid om die salaris wat jy nou kry te verdubbel om jou te lok.”
Lucinda kyk verstom na haar. “Verdubbel?”
“O ja. Die kliniek doen goed en ons kan bekostig om ons mense behoorlik te vergoed.”
Lucinda byt vlugtig op haar lip. “Dit gaan nie vir my bloot om geld nie, maar om beskadigde kinders weer fisiek en geestelik heel te kry. Daar gaan baie trauma met siekte gepaard.”
“Dit besef ons maar alte goed,” sê Marita Krause. “Ons weet jy het ook sielkunde deur Unisa gestudeer ten spyte van jou veeleisende werk. Jy werk blykbaar al sedert jy gekwalifiseer het by Tygerberg, en eintlik kon jy al ’n privaat praktyk oopgemaak het of by een aangesluit het.”
Haar man kyk stip na Lucinda. “Ons het jou werklik hier nodig. Een van die redes is dat ons vigspasiëntjies meer word. Daarom bied ons nie slegs ’n beter salaris nie, maar uitstekende byvoordele. Jy kan byvoorbeeld gratis in een van ons kothuise intrek. Die een wat dokter Van Zyl ontruim, kan vir jou opgeknap word.”
Lucinda voel die versoeking al groter word. Die omgewing hier is pragtig tussen die wingerde en berge. Sy sal nie meer deur die verkeer tussen Kaapstad en Tygerberg hoef te sukkel nie. Ongetwyfeld is hierdie kliniek baie goed toegerus en het dit die modernste geriewe, wat nie altyd die geval is by die opleidingshospitaal nie. Sy sal boonop haar duur dorpshuis in Kaapstad, waarvoor sy ’n groot verband moes uitneem, kan verhuur. Dit sal die verbandkoste help dek.
Maar om weg te gaan van die kindereenheid by Tygerberg sal ook hartverskeurend wees. Vir haar wat wees grootgeword het, was haar kollegas daar soos ’n familie.
Sy frons, kyk af na haar hande. “Ek sal daaroor moet dink.”
“Kom ons wys jou ons fasiliteite, dan besluit jy,” sê Jens Krause, en hy klink regtig asof hy dink dit sal die deurslag gee.
“En hier is ons kinderafdeling.”
Lucinda loop agter Jens aan die saal binne en kyk na die ruimte, die lig en vrolike dekor. Dit voel asof haar hart swel. Dis so mooi, veel mooier as by Tygerberg, maar die kinders hier lyk net so siek. Sy tel tien beddens.
“Ons het MIV-positiewe kinders en drie teringgevalle wat ons afsonderlik behandel omdat dit so aansteeklik is. Tussenin kom kinders met alles van brandwonde tot gastritis ook hier aan.”
Terwyl hulle deurloop, kyk die kinders wat nie so siek is nie, grootoog en nuuskierig na hulle. Lucinda steek vas toe sy ’n dogtertjie met groot, hartseer oë en blonde krulle sien. Die kind hou ’n pienk beertjie styf vas. ’n Gewaarwording soos ’n herinnering aan iemand van lank gelede, kom by Lucinda op.
Sonder om twee keer te dink, loop sy nader. “Hallo, jong, wat is jou naam?”
Die dogtertjie huiwer eers, maar met ’n klein stemmetjie antwoord sy: “Nanette.”
“Nanette? Dit klink soos ’n feetjie se naam.” Sy word met ’n klein glimlaggie beloon. “Wat is jou beer se naam?”
“Net Beertjie.”
Die kind praat met ’n effense vreemde aksent Afrikaans, maar dis nie ’n Engelse aksent nie. Lucinda druk haar skouer en draai terug na die Krauses, wat haar met glimlagte dophou, asof hulle vermoed dat sy reeds halfpad gevang is.
“Dié enetjie is MIV-positief en dis taamlik ver gevorder, want haar ma het vigs gehad,” lig Marita Krause haar sag in.
Lucinda knik, maar haar hart is sommer seer. Sy het al genoeg kinders gesien wat met dié gevreesde siekte gebore word en dis ’n doodsvonnis. Sy kon haar nog nooit genoeg verhard om net klinies te reageer as sy hulle sien nie.
Hier en daar huiwer sy by beddens, of gesels sy met die kinders, maar die blondekoppie bly haar by. Die teringlyertjies gryp haar ook aan die hart.
Nadat sy al die pasiënte gesien het, kom ’n man met ’n wit jas en grys hare saam met twee verpleegsters in.
Dokter Jens stel hulle voor: “Hierdie is die ander pediater, dokter Ras Wannenburg, suster Martie de Koker en verpleegster Jenny de Lange. Mense, ontmoet dokter Lucinda O’Neill, wat tans nog verbonde is aan die Eenheid vir Kinders met Aansteeklike Siektes by Tygerberg-hospitaal.”
Sy skud almal se hande en sien dat hulle haar ondersoekend aankyk.
“Gaan jy by ons aansluit, dokter O’Neill?” vra die pediater vriendelik.
Hy lyk vir haar vaderlik, of soos iemand se vriendelike oom. As hy die kollega is met wie sy moet saamwerk, kan dit net aangenaam wees, dink sy.
“Ek … e … moet nog besluit,” antwoord sy, maar op daardie oomblik weet sy dat sy klaar besluit het. “Hierdie werksomstandighede is onverbeterlik,” sê suster Martie de Koker vriendelik. “Ons almal werk baie lekker hier.”
“Kom, ons gaan wys jou die laboratorium en dan ontmoet jy daardie personeel,” stel Jens Krause voor. “Jy sal baie van hulle dienste gebruik maak.”
Soos Lucinda verwag het, is die laboratorium baie goed ingerig, en drie mense is daar besig.
“Dokter Dawid Botha, ons patoloog, dokter Susan Cilliers en Selma Potgieter,” stel dokter Jens haar voor. “Mense, hierdie is dokter Lucinda O’Neill, wat hopelik binnekort by ons gaan aansluit.”
Almal is vriendelik en weer voel dit vir Lucinda asof haar aanstelling sommer as ’n voldonge feit aanvaar word. Dis amper asof dit ’n verpligting op haar plaas om hierheen te kom.
Nadat sy die mooi kliniek gesien het, die vriendelike personeel oral ontmoet het en die pragtige kothuis in ’n tuin tussen hoë akkerbome gesien het, besef Lucinda dat sy op die plek verlief geraak het. Op die plek, die mense en klein Nanette met haar beertjie.
Die twee dokters Krause sien haar weg.
“Die pos is joune as jy dit wil hê,” glimlag Jens toe hy totsiens sê.
“Absoluut,” stem sy vrou saam.
Lucinda se hart word sommer warm. Dat sy so ’n wonderlike geleentheid op ’n skinkbord aangebied word, is amper te goed om waar te wees.
“Ek sal julle môre op die laatste laat weet,” belowe sy.
Maar sy is reeds besig om te dink hoe sy haar direkteur in die gesig gaan kyk en hom die slegte nuus gaan meedeel. Hy het haar nog altyd ondersteun en in haar geglo, maar dalk het die tyd aangebreek om aan te beweeg.
Lucinda kom saam met haar trek by die kothuis aan en sy is dankbaar dat sy hier tot ruste kan kom en dat die swaar afskeid van Tygerberg verby is. Met besitterstrots kyk sy na die tuin waarin die bome en rankplante oortrek is van lentebloeisels. By die voordeur groei jasmyn oor ’n prieel en dit ruik soet en heerlik.
’n Vrou met ’n besem in die hand en ’n voorskoot aan kom by die voordeur uit.
“Welkom, dokter, ek is Anna Mowies. Dokter Marita het my gekry om dokter te help met huis skoonmaak, kos kook en alles. Is dit reg so?”
“Hallo, Anna. Ja, ek is baie bly jy is hier. Die Krauses dink ook aan alles, lyk dit my.”
“Hulle is goeie mense, dokter. Ek en my familie werk al hier vandat die kliniek oopgemaak het. Ek, my suster Saar, my man Desmond, wat ’n assistent in die kliniek is, en my twee seuns Steven en Shawn, wat die general jobs doen. Dokter Jens noem hulle nutsmanne, want hulle is nuttig. Die movers kan maar indra, alles is silwerskoon binne.”
“Baie dankie.”
Lucinda loop voor en sien dis werklik skoon en al die mure is nuut geverf. Die wit van die kothuis met sy grasdak lyk so mooi, eg Kaaps-Hollands.
“Dis wonderlik,” komplimenteer Lucinda. “Ek gaan vir die mense sê hulle kan maar begin indra. Ek wil die huis reg hê voordat ek oor twee dae by die kliniek inval.”
Dis nog vroegoggend toe Lucinda se selfoon haar wakker lui. Sy moet haar eers oriënteer en besef dan sy is in haar kamer in die kothuis. Vinnig gryp sy die selfoon van die bedkassie af.
“Môre, Lucinda,” hoor sy Jens Krause se stem. “Is jy ingetrek en gevestig?”
“Ek is, dankie, behalwe vir ’n paar dinge wat nog gedoen moet word. Dis so mooi hier, en Anna Mowies is ’n wonderlike hulp.”
Amper vra sy waarom hy so vroeg skakel, maar sy wag dat hy haar self sê.
“Jong, ons het ietwat van ’n krisis en daarom is ek verplig om jou lastig te val.”
“Watter krisis, dokter Krause?”
“Ons het ’n oproep ontvang van Werner Huber, die grootbaas van Huber Construction, wat besig is om ’n pad en brûe in Noord-Zambië te bou.”
“O, ek weet van die maatskappy. Hulle het groot projekte hier in die Kaap ook. Wat wou hy hê?”
“Sy kind het malaria in Zambië opgedoen en hulle bring hom per helikopter hierheen. Ons het ’n helipad, terloops, en dikwels kom krisisgevalle per helikopter hier aan. Die ding is, hulle arriveer vanmiddag, Ras Wannenburg is baie besig en Sarah van Wyk is gister al weg oorsee vir vakansie. Kan ek jou tog vra om ons te kom bystaan?”
“Met plesier. Ek sal binnekort daar wees, dokter Krause.”
“Ag, dankie, Lucinda – ek gaan jou maar so noem, en jy kan gerus vir my en Marita ook op die voornaam noem. Ek sal jou skakel sodra hulle aankom.” “Goed … e … Jens, al voel dit vreemd om my voormalige dosent sommer op sy voornaam te noem.”
Hy lag. “Raak maar gewoond daaraan. Dis net verwarrend om twee dokters Krause op hulle titel en van te noem.”
Wel, hier spring ek aan die diep kant in, dink sy toe hy aflui. Maar gelukkig het sy al voorheen met malariapasiënte gewerk.
Sy spring op en gaan stort. Vandag moet Anna maar op haar eie netjies maak, want sy gaan eers bietjie navorsing doen sodat sy alles op die punte van haar vingers het as die kind hier aankom.
Aan krisisse is sy gewoond, maar sy hoop die kind is nie ellendig nie. Duisende mense sterf elke jaar in Afrika aan malaria. Daar is verskillende soorte, en sommige is weerstandig teen die beskikbare medikasie.