Читать книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach - Страница 15

12

Оглавление

Lucinda skrik wakker van ’n harde geklop aan die voordeur wat deur die grafstil huis weergalm. Dis stikdonker. Onmiddellik dink sy aan Edwin. Hy is seker terug.

Sy skakel die bedliggie aan, trek gou ’n japon aan en kyk op haar horlosie. Drie-uur in die oggend kom hy terug, die vabond.

Toe sy die deur oopmaak, skrik sy groot. Dis nie Edwin nie, maar ’n polisieman. Op die agtergrond sien sy ’n vangwa met ’n flitsende blou lig en hoor sy die geselsradio vaagweg knetter.

“Is u dokter O’Neill?” vra die konstabel.

“Ja. Het iets met meneer Van Reenen gebeur?”

“Ja, dokter. Ek is bevrees hy het iemand raak gery en toe in ’n boom vasgery. Hy was onder die invloed van drank.”

“Genade.” Skok trek soos weerlig deur haar. “Is hy … het hy seergekry?”

“Ja, dokter. Sy knie is lelik gestamp en sy gesig ook, maar hy lewe.”

“En die persoon wat hy raak gery het?”

“Hy’s nie dood nie. Die ambulans het hom weggeneem Stellenbosch-hospitaal toe.”

“Wat gaan aan?” hoor sy Werner se stem agter haar en sy draai om.

“Ag, hemel tog, Edwin het ’n ongeluk gehad. Vertel hom, konstabel.”

Terwyl die konstabel praat, voel sy hoe Werner sy arm om haar skouer sit. Dankbaar leun sy teen hom aan.

“Waar is meneer Van Reenen nou?” vra hy.

“Hy het geweier dat die ambulans hom vat, meneer, en hy’t gesê ons moet hom hier by die kliniek aflaai en ons moet vir dokter O’Neill laat weet. Hy’s nou daar by noodgevalle.”

“Baie dankie, konstabel,” sê Lucinda. “Ek sal dadelik soontoe gaan.”

“Kan ek u daarheen neem?”

“Dankie, maar dis nie nodig nie, ek sal haar neem,” bied Werner aan.

Styf van skok loop Lucinda saam met Werner by die ongevalle-afdeling van die kliniek in. Sy sien vir Jens daar, geklee in ’n ligte sweetpak.

“Hallo, Jens. Die polisie het my kom roep,” sê Lucinda.

“Hy’s nie te ernstig nie, nooi. Net ’n sny aan die voorkop wat baie bloei en ’n knie wat baie hard gestamp het.”

“Jens, hy is MIV-positief,” sê sy dringend. “Ek het dit lankal vermoed, en hy het dit gisteraand bevestig.”

“Ek het dit ook lankal vermoed, maar ek sal die nagpersoneel in elk geval gaan sê.”

Hy draai om en loop en sy kom agter Werner kyk na haar.

“Dis seker die rede, of een van die redes, vir gisteraand se kabaal?” Sy blik is warm en simpatiek.

Sy wens sy kan haar arms om sy lyf gooi en soos ’n drenkeling aan hom vasklou, maar sy hou haar in.

“Ja. En die feit dat hy my gevra het om te trou, en ek nee gesê het.”

“Sowaar? Het hy sy status geken, maar hy wou met jou, wat nie besmet is nie, trou?” Sy stem is laag en gevaarlik.

“Ja. Ek is seker verantwoordelik vir sy gemoedstoestand en die feit dat hy ’n ongeluk gemaak het.”

Jens roep meteens na haar: “Lucinda, meneer Van Reenen wil met jou praat.”

“Verskoon my,” sê sy vir Werner en draf agter Jens aan.

Edwin lê met ’n verband om sy kop en knie, geklee in ’n hospitaaljurk. Sy ruik drank toe sy nadergaan. Hy het beslis meer as die aand se wyn gedrink, en sy vermoed dit was sterk drank soos whisky of brandewyn.

“Wat het jy aangevang?” vra sy streng, maar sy neem sy hand.

“Daar het ’n ou en toe ’n boom voor my ingespring,” grap hy, maar sy gesig vertrek van pyn. “Ek het blerrie seergekry.”

“Ek vermoed die ou wat voor jou ingespring het, nog erger. En die polisie gaan jou van dronkbestuur aankla. Sê nou hulle neem jou lisensie weg?”

“Ag, ek sal net ’n moerse boete betaal. Dis in elk geval tyd dat ek padgee. Ek sal die ding uitsort en betaal vir die skade.”

Jy dink jy kan alles reg betaal, dink sy wrewelig. “Wat van Nanette?”

“Ek sal seker hier moet bly vir ’n paar dae. Bring haar om haar sondige ou pa te sien, as jy nie omgee nie.”

Lucinda skud haar kop. “Ai, Eddie. Jy is baie stout. Goed, ek sal haar bring so gou ek kan.”

Die dokter en verpleegsters staan vir hulle en kyk en sy los Edwin se hand.

Toe sy in die verligte voorportaal inloop, sien sy dat Werner en Jens vir haar wag.

“Kom, ek neem jou huis toe,” sê Werner en vat haar arm.

“Jou vriend is gelukkig hy het homself nie ook afgeskryf nie,” sê Jens. “Die motor is glo ’n wrak. Dis ’n wonderwerk dat die man wat hy raak gery het net ’n gebreekte arm en sekerlik verskeie kneusplekke het. Hy kon dood gewees het as meneer Van Reenen nie so woes uitgeswaai het nie.”

“Ek skat Van Reenen het vergeet hoe om stadig te ry,” merk Werner wrang op.

Impulsief soen Lucinda vir Jens op die wang. “Nag, Jens, en dankie.”

“Alles in ’n dag se werk.”

Buite bibber sy van die koue en Werner hou sy arm om haar tot by die groot Mercedes. Die verwarmer is lekker aan terwyl hulle terugry.

“Waar kom dié motor vandaan?” vra sy.

“My suster het dit van my huis in Constantia gebring en ek het haar weer teruggeneem. Dis dié dat ek heeldag weg was.”

“Wat van Rover? Het jy gereël dat hy kom?”

Hy glimlag. “Ja, dis omtrent ’n affêre om ’n hond in te voer. Maar as ek my sin kry, is Erik nog lank hier in Suid-Afrika, en sonder sy hond sal hy miserabel wees.”

“Nie by jou nie, met of sonder hond. Daar moes meer pa’s soos jy gewees het.”

Hy hou voor haar huis stil en kyk na haar. “Daar moes meer sulke vroue soos jy gewees het, dan was die wêreld ’n beter plek.”

Die mooi woorde sink nog in toe hy uitklim, en toe hy haar deur kom oopmaak, neem hy haar in sy arms en soen haar eers teer en toe met hartstog. Sy gee haar oor en lank verken hulle mekaar, sodat sy die koue nie eens meer voel nie.

“Dis moeilik om jou te weerstaan,” sê hy skor toe hy haar uiteindelik los.

“Waarom wil jy?”

Hy lag, soen haar weer en neem haar dan binnetoe. Sy hoop vir meer, maar hy soen haar net vlugtig nag en verdwyn na sy kamer voordat sy nog kan dankie sê.

Met ’n gevoel van onverrigter sake keer sy na haar kamer terug. Haar hele lyf tintel nog van sy omhelsing, die diep soen wat haar mond verken het, die hardheid van sy lyf en die streling van sy hande. Haar hele wese smag na Werner.

Met ’n kreun gaan lê sy klere en al op die bed. Netnou moet sy in elk geval weer opstaan.

Lucinda kom met Nanette by Edwin in die mansaal aan.

Volgens die uitdrukking op die gesigte van die twee verpleegsters wat pas met hom klaargemaak het, het hy hulle vreeslik gesjarmeer. Hy lyk hulpeloos, dodelik aantreklik en waarskynlik vir hulle onweerstaanbaar.

“Hallo, dokter, kom u die pasiënt sien?” vra die een, want Lucinda is in haar wit jas met ’n stetoskoop in die sak, maar sy ken hulle nie.

“Ek bring net sy dogter om hom op te beur. Ek werk eintlik by die kindersaal.”

“Haai, kom sien julle die ou invalide?” grap hy vrolik.

“Papa, jy is ook siek!” roep Nanette en Lucinda help haar om op die bed te klouter.

Edwin se gesig vertrek. “Pasop, kleintjie, my arme ou knie is gekrok.”

“Wys my, Papa.”

Hy wys die verbande en vertel haar van die boom wat voor hom ingespring het, maar niks oor die mens wat hy raak gery het nie.

“Toe hoor ek net boem! En daar lê ek. Gelukkig is daar altyd mense wat ’n mens kom optel.”

Hy kyk na Lucinda en glimlag. “Ek jaag vir ’n lewe en maak nooit ’n ongeluk nie, maar hier op ’n plattelandse paadjie doen ek dit. Ironies, nè?”

“Ja, is dit nie?” Maar jy het gedrink, dink sy, en as jy in die Grand Prix jaag, is jy darem seker nugter.

Hulle gesels eers ’n rukkie, toe sê Lucinda dat sy moet gaan. “Ek moet gaan werk, maar ek los Nanette ’n rukkie hier sodat julle kan kuier.” Sy loop weg voordat hy kan protesteer.

’n Uur later kom sy terug om Nanette te kom haal en sien dat hulle omring word deur pasiënte en ’n verpleegster wat ’n ophef van pa en dogter maak.

“Het julle agtergekom wie dié man is?” terg sy toe sy naderkom.

“Die bekende renjaer,” grinnik ’n man. “Dis ’n verrassing om hóm hier te sien.”

“Ja, renjaers maak ook ongelukke.”

“Haai, Lucy,” roep hy uit toe hy haar sien. “Dis lekker in dié hospitaal. Ek dink ek bly sommer ’n ruk.”

Sy lag. “Dit lyk my so, as jy die middelpunt van die aandag is. Ek kom net vir Nanette haal.”

“Nee,” kla die kind.

“Sy kan maar bly, dokter, dan bring ek haar later terug na julle,” bied die mooi jong verpleegster aan.

Lucinda huiwer, maar sy wil nie Nanette se vreugde bederf nie. “Goed dan, sy kan nog so ’n uur bly.”

“Hierdie mooi dokter was my childhood sweetheart,” spog Edwin en Lucinda voel of sy onder ’n kollig staan soos almal haar beskou.

“Wel, hy oordryf, maar ons was maatjies,” skerts sy, haar wange ongemaklik warm.

Sy maak dat sy wegkom. Dis nes hy is om haar op te eis, dink sy verleë. Netnou dink die mense daar is iets meer as vriendskap tussen hulle.

Lucinda draai in die maatskaplike werker se straat af en hou voor ’n skakelhuis stil. Dis die regte nommer. In die tuintjie sien sy blomme en op die stoep is varings in potte en hangmandjies.

Sy is nog by die tuinhek toe die vrou uitkom, en vaagweg lyk sy bekend. Veel ouer as die vrou wat Lucinda gedink het sy nooit sal vergeet nie, want sy was so gaaf nadat haar pleegouers so ongeduldig en hardvogtig was.

“Hallo, dokter,” groet die vrou. “Kom in, kom in. Jinne, maar jy het darem mooi geword. Mooi gebly eintlik, want jy was die fraaiste ou dogtertjie.”

“Hallo, mevrou.” Skielik skiet haar oë vol trane en sy moet vinnig knipper.

Die huis is nie weelderig nie, maar baie netjies en skoon, en Suzette van der Merwe laat haar op ’n geblomde bank sit. Die skinkbord met sjokoladekoek en tee staan reeds gereed, en die teepot het ’n outydse teemus op.

“Ons versterk eers die innerlike voordat ons oor gewigtige sake praat,” sê die ouer vrou. “Eet jy koek?”

“O ja, graag, en dié een lyk baie verleidelik.”

Die vrou sny ’n enorme sny. “Tee, met melk en suiker?”

“Net met melk, dankie.”

Terwyl hulle eet en drink, gesels die ouer vrou oor die weer, hoe duur die kabelkarretjie by Tafelberg geword het, hoe lekker sy bly. Innerlik gespanne gesels Lucinda saam, eet die heerlike koek, komplimenteer haar gasvrou, en wag.

Eers nadat sy die teegoed verwyder het, bring sy ’n lêer te voorskyn en gee dit vir Lucinda. “Hier is ’n paar afskrifte wat my niggie Ronel gemaak het. Verder sal ek jou maar vertel.”

Lucinda kyk na die dokumente en toe na die vrou, wat haar simpatiek sit en beskou.

“Kyk, jy sal sien jou ouers was Bridgit en Bevan O’Neill, en dat hulle van die dorp Dungannon in Noord-Ierland gekom het. Jou ouers het gesterf in ’n treinongeluk, wat jy oorleef het. ’n Meneer Lourens het probeer om jou Ierse familie op te spoor, maar die O’Neills by wie hy uitgekom het, het beweer dat hulle niks van sulke mense soos jou ouers weet nie. Die Lourense het aangebied om jou pleegouers te wees totdat jou familie wel opgespoor kon word.

Hy was nie so sleg nie, maar sy!” Mevrou Van der Merwe lyk behoorlik kwaad.

“Hulle bure het ’n klag gelê dat die kind van langsaan baie huil en lyk of sy mishandel word, en ek het gaan ingryp. Die vinnigste oplossing was om jou na die weeshuis te neem. Daar was jy skynbaar gelukkig en versorg, en jou grootouers is nooit opgespoor nie, al het ons probeer.”

Lucinda sit eers diep ingedagte en toe kyk sy op. “Waar is die Lourense nou?”

“Hulle het destyds in Vredehoek gewoon, maar dis nie te sê hulle is nog daar nie.”

Lucinda ril toe sy aan die vertrekte gesig van die Lourens-vrou dink en die pyn wat altyd daarop gevolg het. As daar een mens in die lewe is wat sy gedink het sy haat, was dit daardie vrou.

“Wat was hulle voorname?”

“Jy sal in die lêer sien hy is SJ, Stefanus Johannes, dink ek, en sy is Magrieta. Moenie vir my sê jy wil húlle gaan soek nie?”

“Ek glo nie ek wil hulle, veral vir haar, ooit weer sien nie. Ek sien hulle genoeg in my nagmerries. Nee, dis my ware ouers se familie wat ek wil gaan soek.”

“My liewe kind, ek sou dit ook doen as ek jy was. ’n Mens moet mos rus vir jou siel kry.”

“Matrone het dit ook gesê.” En liewe, simpatieke Werner het ook, dink sy.

Sy kyk weer deur die dokumente. “Ek weet genoeg om na Ierland te gaan en te soek. Ek kan u nie genoeg bedank nie, mevrou Van der Merwe. Ook dat u my kom red het … en ’n getraumatiseerde kind so liefdevol behandel het.”

Die vrou se oë blink van die trane. “Ag, liewe kind, ek het soveel ellende gesien terwyl ek nog maatskaplike werk gedoen het, maar vir jou kon ek nie vergeet nie. Jy het my so aangegryp.”

Lucinda sit die lêer by haar handsak neer en gaan omhels die vrou. Albei is nou in trane.

“Ek sal weer kom kuier,” belowe sy. “Noudat ek u ná al die jare weer gevind het.”

Toe sy gaan, omhels hulle soos familie. Sy kyk in haar truspieël toe sy wegry, en Suzette van der Merwe staan nog en wuif. Dankie vader vir mense soos sy, wat ’n skrille kontras vorm met die Magrieta Lourense van hierdie wêreld, dink Lucinda met ’n hart wat oorloop.

Sodra sy by die kliniek aankom, sal sy vir Edwin gaan vertel, en dan vir Werner. Sy hoop die groot, donker man wat haar hart in die holte van sy hand hou, is daar.

“Ek het toe alles uitgevind wat ek kon, en vir die res moet ek maar net my familie gaan soek, daar in verre Ierland.”

Edwin lê haar met sy helderblou oë en bekyk. By hom is daar begrip, en selfs ’n bietjie nyd.

“Jy is gelukkig dat jy darem weet waarheen om te gaan. Wat van die pleegouers wat jou so mishandel het?”

“Magrieta Lourens. Skynbaar was haar man nie so erg nie. Nee, soos ek vir mevrou Van der Merwe gesê het, ek wil hulle nie sien nie. Mits hulle nog lewe. Dalk is hulle al dood, of weg.”

“Ek sou die ou teef in die knie gaan skiet het.”

Lucinda is geskok. “Eddie! Wat sal dit nou help, jare na die tyd?”

“Ek glo nie in hemel en hel nie, daarom sal ek haar op aarde wou straf.”

“Nee, dan is jy net so wreed soos sy.”

“Jou hart was nog altyd gans te sag, behalwe as dit by my kom.”

Sy kyk hom verwytend aan. “Ek was nog altyd goed vir jou.”

Hy sug teatraal. “Maar jy wil nie met my trou nie.”

Sy kan hom net aanstaar. Kan hy dan nie die implikasies begryp van alles wat sy die aand voor sy ongeluk gesê het nie? Blok hy dit net uit as dit hom nie pas nie? Hulle het tog gepraat oor sy MIV-status, en dat sy nie kans sien om ’n renjaer se vrou te wees of bloot hulle verpleër te wees nie.

“Ek moet gaan. Sien jou weer later.”

“Baai, Lucy. Kom gou weer, my eie Florence Nightingale.”

Hy kan haar regtig verstom, dink sy toe sy uitloop. Hy is tog nie dom nie. Sy dink hy is net aspris.

“Lucinda!” hoor sy iemand roep toe sy by haar kantoor wil ingaan en sy draai om.

“Hallo,” sê Marita, wat nadergehaas kom. “Dis ’n skande dat ons jou nog nie vir ete genooi het nie. Hoe lyk Saterdagaand? Ons het iets om te vier.”

“Dit klink lekker. Verjaar iemand?”

“O nee, ons kry mos vir Werner as vennoot, en ons moet dit vier.”

“Haai, dis wonderlik dat ’n ingenieur in ’n kliniek wil belê,” skerts Lucinda.

“Hy het baie vingers in baie paais. Hierdie is vir hom net nog ’n belegging, maar ons verwelkom dit natuurlik. Kom so sewe-uur.”

“Dankie, ek sien uit daarna.”

Hartklop Omnibus 3

Подняться наверх