Читать книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach - Страница 6

3

Оглавление

Toe Lucinda by die huis aankom, tref sy Werner Huber in die eetkamer aan, besig om te eet. Hy lyk pas gestort, met klam hare en gemaklike klere.

“Ek sien Anna het vir u kos gegee.”

“Ek dwing myself om te eet, maar soos jy sien, luister ek vir jou.”

As hy so gemaklik en informeel is en nie vir haar u sê nie, moet sy seker daarby aanpas, anders kom sy te styf voor.

“Is jou kamer na wense?”

“Ek is baie gemaklik, dankie, en jou huishulp is ’n juweel. Gaan jy saameet?”

“Wel, ek kan. Ek gaan haal sommer vir myself.”

Anna staan en tert bak. “O, is dokter terug? Ek dag ek maak sommer iets lekkers, want daardie arme man lyk vir my so voos.”

“Ek dink hy is. Sy seun is baie siek. Ek skep sommer vir myself op, dan gaan sit ek by hom.”

Met haar bord kos gaan neem sy aan tafel plaas, en sy sien dat hy vir haar gewag het. Sy mes en vurk is neergesit en hy sit penregop.

“Ek hoop jou kos het nie koud geword nie. Jy kon gerus maar voortgegaan het.”

Hy glimlag net en begin weer eet. Hulle eet in stilte en sy is vreeslik bewus van hom. Dit voel asof hy die vertrek met sy persoonlikheid vul. Dis seker die kenmerk van ’n dinamiese mens, iemand aan wie baie ander onderdanig is en van wie hulle afhanklik is. Hy het eenvoudig ’n aura van beheer. Behalwe as hy by sy seun is. Dan lyk hy so hulpeloos en kwesbaar dat dit haar juis raak omdat dit so ongewoon is.

Hy kyk meteens op en betrap haar dat sy vir hom kyk. Vervaard slaan sy haar blik neer.

“Het jy baie projekte in Afrika?” vra sy om die gespanne stilte te verbreek.

“Ek het op ’n tyd drie gehad, want oral is infrastruktuur nodig of aan die vergaan. Maar as ek hierdie laaste een afgehandel het, kom ek terug Suid-Afrika toe om net hier te werk. Die lewe wat ek tot dusver gelei het, het my huwelik laat skipbreuk ly en gemaak dat ek my kind te min gesien het. Ek kon byna ses maande lank nie na hom toe gaan nie, toe kom kuier hy vir my. En kyk wat het gebeur.”

“Jy kon dit tog nie verhelp nie. Hy is baie gelukkig om ’n pa te hê wat so omgee.”

Hy kyk ondersoekend, deurpriemend na haar en sy kyk braaf terug.

“Ek verneem jy was … is … ’n weeskind.”

Het die Krauses dit tog nie vir hom vertel nie? dink sy. Waarom sou hulle haar met hom bespreek het?

“Ja, my ouers is dood toe ek ongeveer drie jaar oud was. Ek is na pleegouers vir ’n jaar en daarna na die weeshuis.”

Sy sê dit met finaliteit in haar stem wat te kenne moet gee dat sy nie uitgevra wil word nie. Hy doen dit ook nie, maak net in stilte sy ete klaar.

“Ek gaan sommer dadelik weer terug,” kondig hy aan. “Sal jy my asseblief verskoon?”

“Sekerlik. Ek sal binnekort weer na Erik kom kyk.”

By die deur draai hy om. “Ek wil net weer dankie sê vir jou gasvryheid.”

“Ag, dis ’n plesier. Ek help graag as ek kan.”

Hy glimlag en stap uit. Dis asof hy die suurstof in die kamer saamgeneem het en sy meteens effens kortasem voel.

Toe sy ’n rukkie later kliniek toe stap, besef sy dat sy haastig is om daar te kom.

Ná ’n saalrondte waarin sy ’n tydjie by die slapende Nanette vertoef het, gaan sy na Erik Huber se privaat kamer. Sy pa sit regop langs die bed asof hy waghou, sien sy. ’n Verpleegster is ook daar.

“Hoe gaan dit hier?” vra Lucinda en ondersoek die seun.

“Sy koors is steeds baie hoog, dokter,” sê die verpleegster.

Terwyl Lucinda met die kind en die verpleegster besig is, voel sy heeltyd Werner Huber se donker oë op haar, asof hy wil bepaal of sy dinge reg doen om die kind se lewe te red. Hy lyk vir haar nogal wantrouig en dit kwel haar. Sy hoop hy onderskat nie haar vermoëns nie, maar nou ja, dit kan seker aan sy paniek toegeskryf word.

“Meneer Huber, jy moet maar vanaand gaan slaap sodat –” probeer sy.

“Vannag roer ek nie uit hierdie plek nie.” Hy klink so beslis dat dit amper bitsig oorkom.

“Nes jy wil. Ons sal probeer om jou gemaklik te maak.”

“Ek bring vir jou ’n voetstoel, meneer Huber,” bied die verpleegster aan. “Dan kan jy darem jou voete opsit en dalk slaap.”

“Ek glo nie ek sal slaap nie.”

Lucinda onderdruk ’n sug en vang die verpleegster se blik. “Gaan haal dit in elk geval.”

Sy is amper verlig toe Jens en Marita inkom. “Ons kom kyk net hoe dit gaan,” sê Jens.

“Onder die omstandighede nie sleg nie,” verseker Lucinda hom.

Werner staan op. “Dankie vir alles tot dusver, maar as julle nie omgee nie, bly ek vannag net hier. Ek sal in elk geval nie ’n oog kan toemaak nie.”

“Kom ons gee jou net iets vir die spanning –” begin Marita, maar Werner skud sy kop.

“Ek gebruik nie sulke hulpmiddels nie, dankie. Spanning is iets waaraan ek gewoond is. Ek sal nie in duie stort nie.”

Lucinda loop uit sodat die ander kan gesels. In die kindersaal, waar die meeste kinders stil is, hoor sy ’n stemmetjie.

“Tannie, kom hier, asseblief.”

Sy gaan nader aan die bed van waar dit kom. Dis een van die kleintjies met MIV en sy het gesien sy naam is Charles. Soos gewoonlik probeer sy die kinders se name memoriseer.

“Ja, Charles?”

“Is daardie seun wat vanmiddag ingekom het baie siek?”

“Ja, baie. Hy het malaria en sy koors is hoog.” Groot, hol oë kyk na haar en haar hart krimp. Erik gaan waarskynlik oorleef, maar dié outjie lyk vir haar of sy lewe nie lank sal wees nie.

“Sal hy doodgaan?”

Sy skud haar kop. “Nee, niemand sal doodgaan nie. Het julle al aandete gehad?”

“Ja, tannie.”

“Met jellie en vla vir nagereg?”

“Ja, tannie. Ek is lus vir tjoklits, nie jellie nie.”

Sy glimlag. “Ek sal môre vir jou ’n stukkie bring. Net klein, hoor, anders krap dit jou maag om.”

Hy grinnik. “Dankie, tannie. Wat is tannie se naam?”

“Lucinda. Sien jou later weer.”

Sy is op hierdie aarde gesit om kinders soos hy te troos, dink sy toe sy wegloop. Sy het geen ander nut of strewe nie.

Nadat sy die pasiënte met die suster en verpleegsters aan diens bespreek het, gaan sy terug na Erik Huber se kamer. Verpleegster Jenny is daar, besig met iets, en Werner sit stip na haar en staar. Toe sy Lucinda sien, draai sy om en stap uit.

Is die meisie hier om vir Werner te kyk of om na die kind om te sien? wonder Lucinda. Dit maak ook nie saak nie, solank Werner oortuig word dat die versorging goed is, en solank die verpleegster nie haar ander werk afskeep nie.

“Erik is op die oomblik taamlik rustig,” sê Lucinda nadat sy hom vlugtig ondersoek het. Maar net toe sy dit sê, gaan daar ’n bewing deur die lyfie en sy hoor hoe sy tande klap.

Werner spring dadelik op en kom buk oor sy seun. “Daar begin die koorsaanval weer.”

“Dit sal herhaal, want dis simptomaties van malaria. Sy soort malaria kan veroorsaak dat die aanvalle later elke ses-en-dertig tot agt-en-veertig uur plaasvind. Tans is syne nog aanhoudend, maar dit word algaande minder hewig. Hy kry kinien binneaars, maar môre begin ons met die artemisiningebaseerde kombinasieterapie waarvan ek jou vertel het.”

Sy gaan sit op ’n stoel en hou Erik dop.

Werner is weer besig om háár dop te hou. “Jy hoef seker nie te bly nie, dokter. Ek sal julle roep as dit nodig is.”

“Toemaar, ek sal bly. Hulle kan my hier kom roep as iemand anders my nodig het.”

Lucinda skrik wakker toe sy stemme hoor en besef sy het skandelik aan die slaap geraak. Werner Huber lê agteroor en slaap, want ten spyte daarvan dat hy beweer het hy sal nie kan slaap nie, het hy skynbaar van uitputting vroeg al weggedommel.

Jens en dokter Wannenburg is besig om saggies langs die bed te beraadslaag.

Sy vlieg op. “Hemel, ek het sowaar aan die slaap geraak. Hoe laat is dit?”

Jens glimlag. “Sesuur in die oggend. Jy was heelnag hier, en ek is seker Werner sal dit waardeer.”

Sy trek ’n wrang gesig. “Nie as ek aan die slaap raak nie.”

“Die nagsuster vertel my jy was drie-uur nog wakker, maar dat Werner toe al geslaap het. Ek skat hy was totaal uitgeput. Gaan jy nou maar, ons sal oorneem.”

“Dankie. Ek kom weer so gou ek kan.”

“Wat gaan aan?” hoor sy Werner vra en hy staan met ’n bekommerde gesig op.

“Ons kom net vir dokter O’Neill aflos sodat sy darem ontbyt kan gaan eet,” sê Jens. “Sy was heelnag hier by julle.”

Werner vryf deur sy hare en knip rooi oë. “Ek waardeer dit. Daar raak ek toe vas aan die slaap. Hoe gaan dit met Erik?”

“Stabiel en buite gevaar,” verseker Jens hom. “Gaan maar, Lucinda.”

Sy onderskep ’n dankbare blik van Werner Huber voordat sy uitloop, styf van die slaap in die stoel en taamlik moeg. Maar as sy nou ontbyt en koffie ingekry het, is sy weer sterk.

So ver soos sy loop, bly Werner Huber se gesig voor haar geestesoog. Daardie waarderende kyk. Sy is bly sy het die nagwaak met hom meegemaak. Dat sy kon probeer om hom gerus te stel.

Wat is dit omtrent die man wat haar so affekteer? wonder sy. Sy besorgdheid oor sy kind? Sy nederige dankbaarheid al is hy so ’n belangrike persoon? Hy is nie iemand wat ’n mens maklik sal vergeet nie.

Drie ure later kom Lucinda weer by die kliniek aan. Sy loop Bets Naudé en ’n ouerige vrou in ’n pienk oorjas, met ’n trollie vol medikasie, blomme en lekkers, raak.

“Dokter O’Neill, ontmoet tant Mymie Steyn, een van ons vrywilligers. Tant Mymie, hierdie is nou die nuwe pediater van wie ek tante vertel het. Lucinda O’Neill.”

Die tannie se bruin oë vonkel. “Aangename kennis. Ek het gehoor dokter is jonk en mooi, maar sowaar, sowat van ’n Ierse skoonheid met blou oë en swart hare het ek nie verwag nie. Jy is mos Iers, nè, met ’n naam soos O’Neill?”

Lucinda lag, maar sy is altyd verleë as iemand haar voorkoms besing. “Iers van afkoms, maar heeltemal verafrikaans, tant Mymie. Aangename kennis.” Sy skud die benerige handjie.

Bets gee die ouer vrou ’n drukkie. “Tant Mymie help my by ontvangs, dra geskenke aan, lewer lêers, laboratoriummonsters, rekords en medikasie af, en troos pasiënte. Sy is onmisbaar, en die kinders dink sy is hulle ouma.”

“Ek is baie bly om met so ’n aanwins vir die kliniek kennis te maak,” skerts Lucinda.

“Ag, jy is ook ’n aanwins, kind. Ek kan tog nie ledig by die huis sit as ek hier nuttige werk kan doen nie. Al is ek nie so geleerd nie, is daar takies wat ek kan verrig om julle mense se lewens makliker te maak. Jy kan enige tyd op my knoppie druk.”

“Baie dankie, tant Mymie. Ek is nuut en probeer nog alles en almal leer ken. In die roetine kom. Dis heel anders hier as in die groot hospitaal waar ek voorheen gewerk het.”

Bets vat skielik aan Lucinda se arm. “O griet, amper vergeet ek! Dokter Marita wil vir dok sien. Sy wag in haar kantoor.”

“O, dan gaan ek dadelik soontoe. Ek is bly ons het ontmoet, tante.”

Marita sit haar glimlaggend en inwag toe sy daar aankom.

“Wat hoor ek van jou? Dat jy heelnag by klein Erik Huber gesit het?”

Lucinda haal haar skouers op. “Ag, sy pa het so paniekerig gelyk dat ek hom wou gerusstel. Dit was die eerste nag. Ná dese sal dit seker nie nodig wees nie.”

“Dit was ’n mooi gebaar, maar dis nie die rede waarom ek jou wou sien nie. Sit gerus, Lucinda, dan gesels ons ’n bietjie.”

Lucinda gaan sit en wonder wat Marita op die hart kan hê. Sy is die soort vrou wat haar oor haar personeel sal ontferm en dit lyk asof iets haar pla.

“Ras Wannenburg vertel my dat jy hewig ontsteld was toe jy hoor dat klein Nanette die kind van die renjaer Edwin van Reenen is. Jy ken hom glo.”

Lucinda kyk na haar en dan af na haar hande. “Ja, toe ek so op vierjarige ouderdom in die weeshuis gekom het, was Edwin ook daar. Ons was van kleins af vriende en was altyd in dieselfde klas op skool, maar ná skool is hy oorsee.” Sy kyk weer op. “Dit was vir my so ’n skok om die kind te sien wat so siek is, en sy lyk baie na hom met die blonde krulhare. Dis veral ’n skok dat sy MIV-positief is.”

“Ja, dis tragies. Skynbaar is dit oorgedra deur die ma, en die pa weier om hier by ons getoets te word. Hy plaas al die blaam op sy oorlede vrou. Die arme ou kleintjie is so teruggetrokke en geen familie kom ooit kuier nie. Nou verstaan ek dis omdat die pa wees is, maar hy het dit nooit vir ons vertel nie. Die ma was ’n Franse vrou, so haar familie is uiteraard ver. Tant Mymie, een van ons vrywilligers, ontferm haar vreeslik oor Nanette en daardie ander outjie, Charles.”

“Ek het tant Mymie so pas ontmoet. Sy lyk dierbaar. Dankie tog vir sulke mense. Ek sal probeer om nie te lyk asof ek vir Nanette in die kindersaal voortrek nie, maar omdat ek haar pa en sy omstandighede ken, sal ek ook spesiale moeite met haar doen.”

Marita sit en bekyk haar skewekop en met ’n glimlag. “Ek is baie bly jy het by ons aangesluit.”

“Ek ook.” Sy staan op. “Is dit al?”

“Ja … O, Erik Huber se ma behoort vanoggend uit Engeland te arriveer. Sy sal maar by ons moet tuisgaan. Daar gaan beroering wees, want die ouers verwyt mekaar al klaar. Wees maar gewaarsku dat die vonke kan spat.”

“Ek sal daarop bedag wees. Dankie, Marita.”

Lucinda staan by klein Charles se bed saam met suster Martie de Koker toe sy sien hoe Marita en Jens deur die kindersaal stap. By hulle is ’n baie mooi blonde vrou wat modieus en elegant aangetrek is. Haar gesig lyk kwaai en terselfdertyd hooghartig.

“O, dit kan net mevrou Huber wees,” fluister suster Martie. “Sy is glo uit die Engelse hoëlui en baie vernaam.”

Jens gaan staan en sê op Engels: “Enid, ek wil jou net voorstel aan dokter Lucinda O’Neill, die pediater wat meestal met Erik werk. Lucinda, hierdie is mevrou Enid Huber, Erik se ma.”

Lucinda tree vorentoe. “Aangename kennis, mevrou.”

Enid Huber bekyk haar van bo tot onder. “Is jý ’n pediater?”

Die ongeloof in haar stem steek Lucinda dwars in die krop, maar sy hou haar gesig uitdrukkingloos. “Ja, ek is.”

“En ’n baie bekwame een daarby,” sê Jens.

Enid Huber se oë vernou. “Wat is my kind se kans op herstel?”

Lucinda aarsel nie. “Goed, sou ek sê, met die regte behandeling.”

“Wel, Werner Huber kan dit sekerlik bekostig. Hy wil mos …” Sy bly stil en draai weg.

Jens kyk Lucinda betekenisvol aan en neem Enid Huber se arm om haar weg te lei.

Lucinda kyk hulle agterna en dink dat sy nie van die vrou hou nie, al behoort sy haar jammer te kry. Daar is iets baie hard en genadeloos aan haar. Sy kom beslis nie soos die moederlike tipe voor nie, daarvoor is sy te blink en te gepoleer. Haar klere spreek van ontwerpersetikette en sy dra duur juwele, amper te oordadig vir ’n besoek aan die hospitaal in hierdie krisistyd.

Moenie bevooroordeeld wees nie, betig sy haarself, maar eintlik weet sy sy sien gou deur mense se pretensies.

Jens en Marita kom gou weer te voorskyn en Marita loop na Lucinda.

“Wag so ’n rukkie dat hulle klaar stry, dan gaan praat jy asseblief met hulle.” Sy rol haar oë en stap vinnig weg.

“As jy voorkomende medikasie vir Erik gegee het, het hy seker nie so siek geword nie,” hoor Lucinda Werner Huber se kras stem toe sy net buite die deur van die privaat kamer kom. “Jy is altyd te besig met jou sosiale lewe om behoorlik na die kind om te sien. Hy word deur nannies grootgemaak.”

Is hierdie mense tog nie ná ’n goeie twintig minute steeds aan die stry nie? dink Lucinda ongemaklik. Onseker of sy moet ingaan, huiwer sy.

“As jy nie die helfte van jou tyd in ellendige Afrika gebly het nie, kon jy nou nog vir hom ’n pa gewees het en kon ons gelukkig saamgewoon het.” Enid Huber se stem is skril van verwyt.

“Jy en Erik kon saamgekom het; ek sou gesorg het dat ons goed geakkommodeer word. Maar jy het volstrek geweier om kastig uit die beskawing weg te gaan. Weet jy nie dat as dit nie vir my werk in Afrika was nie, sou jy nie die hoë lewenstandaard gehad het wat jy nou so geniet nie?”

“My ouers sou gesorg het …”

“Ag, komaan, ek weet jou kastige ryk en aristokratiese pa is vrot van die skuld en onder swaar verbandverpligtinge. Hy het glad by my geld geleen terwyl ons getroud was, wat hy nooit terugbetaal het nie. Ek het jou nie eens daarvan vertel nie, al was dit ’n reusebedrag. Ag, hierdie ou argumente is al voos getrap. Wat help dit ons haal die ou koeie uit die sloot? Die punt is: Erik is bedenklik en ons moet hom weer gesond kry.”

Lucinda voel soos ’n luistervink, maar sy besluit dis nou die tyd om die argument te onderbreek.

Enid en Werner Huber staan soos twee vegters teenoor mekaar en albei draai om toe sy inkom. Albei se gesigte is woedend, maar Werner kalmeer vinniger as sy eksvrou.

“Ek sou darem gedink het dié kastige wêreldklaskliniek kon ’n meer ervare dokter gekry het om na my seun om te sien,” merk Enid smalend op.

Is sy besig om haar woede op my uit te haal, of dink sy regtig ek is onbekwaam? wonder Lucinda gegrief, maar sy ignoreer die opmerking.

“Jy kyk net na haar voorkoms en ouderdom, maar sy het genoeg omgegee om laas nag heelnag by Erik te bly, al is hier ’n saal vol ander pasiënte,” kap Werner haar, tot Lucinda se verbasing.

Enid draai weg en gaan buk oor haar seun, wat met koorsige oë na haar kyk.

“Mamma,” fluister hy en steek sy hand uit. Lucinda sien dat hy aan haar syhemp vat, maar dat sy vinnig sy hand keer asof sy bang is hy smeer dit vuil. Lucinda vries van afkeer. As dit haar kind was, sou sy hom omhels het.

“My liefie, jy moet mooi gesond word,” hoor sy die vrou egter met dramatiese teerheid sê.

Werner Huber, wat dieselfde waarneming gemaak het, kook innerlik. Enid was nog nooit demonstratief nie, maar daardie gebaartjie van keer dat Erik aan haar duur klere raak, ken hy alte goed. Dit vul hom met soveel wrewel dat hy ’n wrang smaak in sy mond kry.

Wat is Erik vir haar? Het sy hom ooit so lief soos sy probeer voorgee? Hy was nog altyd in haar pad, maar hy verseker dat sy pa ’n enorme som onderhoudsgeld betaal en sorg dat hulle in ’n duur huis woon, met baie bediendes, ’n klein vloot voertuie en perde.

Watter kontras vorm Enid nie met hierdie toegewyde en sagmoedige jong dokter nie. Die een is hard, die ander sag. Albei is mooi, maar Enid is gekunsteld en opgesmuk, terwyl dokter O’Neill die natuurlikheid self is.

“Ek kom later weer,” hoor hy Lucinda sê en skrik op uit sy mymering. “Roep my as julle my enigsins nodig het, meneer Huber.”

Hartklop Omnibus 3

Подняться наверх