Читать книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach - Страница 7

4

Оглавление

Lucinda is op pad na die kindersaal met die doel om tot klein Nanette van Reenen deur te dring. Dis nie haar diensrondte nie, maar sy het ’n suiglekker by tant Mymie gekry wat nie te veel skade aan die diarree-magie behoort te doen nie en sy gaan met die dogtertjie gesels.

Die afgelope twee dae was sy meer by Erik Huber as by enige van die ander pasiëntjies, en sy het nou te veel van daardie ma gesien. Sy pa was altyd hoflik, maar die ma was krities en moeilik en het die verpleegpersoneel en dokters se lewe aanhoudend vergal.

Eers groet sy die ander kinders wat na haar roep, en toe gaan buk sy oor die bed waar die dogtertjie stil lê, haar pienk beer in haar arms. Lucinda se hart verteder toe sy die jammerlike gesiggie sien.

“Hallo, Nanette, kyk wat het ek vir jou gebring.” Die ogies draai na die suigstokkie, maar sy sê niks en steek nie haar hand uit nie. Lucinda is verplig om die papier self af te haal en dit weer aan te bied. Dié slag kom een handjie huiwerig uit en neem die suigstokkie.

“Jy kan dit lek, maar saggies, hoor,” sê Lucinda, want al het die kind sproei in haar mond, sal die soetigheid van een klein lekkertjie nie skade doen nie.

Nanette steek haar tong uit en lek baie liggies. Haar blik bly op Lucinda soos dié van ’n wantrouige diertjie. Lucinda voel meteens dat haar oë nat word en sy kyk weg om haar emosies onder beheer te kry, en sodat Nanette nie haar trane moet sien nie.

Haar herinnering aan haar eerste ontmoeting met Edwin van Reenen is meteens baie helder.

“Het jy pak gekry?” het hy gevra toe hy haar gekneusde armpies sien.

Toe sy dit beaam, het hy sy arm om haar gesit. “Hulle slaan ons nie hier nie.”

Nooit sal sy dit vergeet nie.

Toe sy dink sy het die trane weggeknipper gekry, kyk sy terug. Sy dink opeens daaraan dat die kind se ma Frans was. Lucinda het Frans op skool geneem, en nou praat sy Frans: “Hoe voel jy vandag?”

Dis asof ’n lig in die kleintjie aangeskakel word. “Bien – goed,” antwoord sy saggies.

Liewe hemel, dink Lucinda, dis oor die kind met haar ma Frans gepraat het dat sy so skugter is. Niemand hier praat Frans nie en hulle het ook nie daaraan gedink nie.

“Geniet jy die bonbon?” vra sy op Frans. “Oui – ja. Merci – dankie.”

Lucinda wens sy kan die kleintjie teen haar hart druk, maar sy durf nie. In elk geval nie nou al nie. Sy sal haar woordeskat ’n bietjie moet opknap sodat sy met Nanette kan praat, want al verstaan sy Afrikaans, is sy skynbaar meer toeganklik as sy Frans hoor.

Sy sit ’n rukkie en hou die kleintjie dop. Wat is nou weer die woord vir “verstik”? Sy onthou net die woorde vir “pas op”. Tussen haar boeke is nog ’n Frans-Engelse woordeboek. Sy sal dit raadpleeg, neem sy haar voor.

“Wanneer kom Papa weer?” vra Nanette sag.

“Ek weet nie, maar ek sal hom skakel en vra.”

Ag foei tog, die ou dingetjie verlang seker na haar afwesige pa. Lucinda se hart loop oor van jammerte.

“Totsiens, ma chère, my liefie, ek sal jou weer sien.”

“Au revoir,” fluister Nanette en beloon Lucinda met ’n glimlag.

Sy kan nie gou genoeg na Marita se kantoor haas nie, waar sy letterlik inbars. Marita kyk op van iets wat sy skryf.

“En nou? Wat lyk jy so opgewonde?”

“Ek het ’n deurbraak gemaak met Nanette. Ek het met haar Frans gepraat en sy het geantwoord. Dis mos haar ma se taal.”

Marita sit haar pen neer en glimlag breed. “Nou toe nou. Jou doring! Natuurlik kan nie een van ons Frans praat nie.”

“Ek wil asseblief Edwin van Reenen se kontakbesonderhede hê sodat ek met hom kan praat. Sy kind vra wanneer hy weer kom kuier.”

Marita staan op en loop na ’n kabinet, waar sy die laai ooptrek en daarin blaai. “Ek het dit hier op lêer, maar dis ook in die elektroniese lêers by Bets.”

Sy haal ’n lywige lêer uit en gee dit vir Lucinda. “Alles wat jy soek, sal hierin wees, ook die mediese rekords van kind en ma.”

“Dankie. Ek leen dit, maar bring dit so gou moontlik terug.”

“Jy is welkom. En … baie dankie, Lucinda. Jy kan net vir Bets vra om jou te help as jy wil bel, maak nie saak waar in die wêreld daardie man hom bevind nie.”

“Edwin van Reenen, is dit jy?”

Sy hoor eers die stilte, en toe antwoord hy: “Ja, wie praat Afrikaans met my?”

“Lucinda O’Neill.”

“Bliksem! Lucinda! My ou maatjie wat ’n dokter wou word. Het jy toe ooit een geword?”

“Ja, ek het.”

“Waar is jy?”

“In Suid-Afrika. Waar is jý?”

“Ek is in Monaco, maar hoe het jy my selfoonnommer in die hande gekry?”

“Ek werk nou by die Wynland-kliniek, Edwin. Ek is ’n pediater en jou dogter, Nanette, is een van my pasiënte.”

Weer is daar ’n stilte, en toe hy praat, klink hy allesbehalwe blymoedig. “Dan weet jy seker alles van my … van ons af? Dat Chantelle, my vrou, aan vigsverwante oorsake dood is, en dat sy dit aan Nanette oorgedra het?”

“Ja. Is jy … skoon, Edwin?”

“Ja.”

Lucinda kan dit skaars glo.

“Daar is nou anti-retrovirale terapie, maar dis nie onfeilbaar nie, soos jy weet. Ek sien dat jou kind dit kry en dit kos jou baie geld. Die kliniek is ook duur. Maar dis nie genoeg nie, Edwin. Nanette verlang na jou en ek dink jy moet aanstaltes maak om haar te kom sien.”

“Liewe Lucinda – die ligdraer, soos ons jou genoem het. Lux in tenebris lucet – ’n lig skyn in die donker, die Latynse leuse van die weeshuis wat jy uitgeleef het deur vir almal moedertjie te speel. Jy het net die regte naam gekry, en klink my jy is nog net soos destyds. Ek is bly my kind is die dokter se geheime passie.”

“Ek is net ’n dokter, Edwin, nie haar ma nie. Sy het haar ouer se ondersteuning nodig, en nie net geldelik nie. Sy is nie net ’n verantwoordelikheid nie, sy is jou kínd, bloed van jou bloed. Sy het jou liefde nodig. Jy weet hoe óns getreur het oor ons gemis aan ouers en familie.”

Sy hoor hom sug.

“Ja, gésel maar hierdie ou sondaar. Ek is skuldig, ek weet. Maar my lewe bestaan uit motorwedrenne dwarsoor die wêreld. Ek kan tog nie ’n dodelike siek kind saamsleep nie. Jy sien hoe sy lyk.”

“Ja, ek sien en ek verstaan jou dilemma, maar sy is ’n mens met gevoelens. Ek stel voor dat jy so gou moontlik kom kuier.”

“Sy is nie … e … in onmiddellike gevaar nie, of hoe?”

“Nie onmiddellik nie, maar dis afdraand al die pad, al doen ons wat.”

“Moenie dink ek weet nie.” Sy stem is skielik hees. “Ek sal kom so gou ek kan, ook om jou te kan sien.” Sy hoor dat hy sy keel skraap. “Is jy nog so mooi soos ’n engel?”

“Ag toe nou, Eddie …”

“Almal was mal oor jou, ook omdat jy so ’n goeie hart het. Caring and sharing. Ek moes met jou getrou het in plaas van met ’n blerrie losbandige Franse model. Dan was my lewe minder sondig en meer op die straight and narrow. Liewe Lucy, ek sal dadelik begin planne beraam om te kom.”

“Dankie. Ek sien jou as jy kom.”

“Ek sien uit daarna, engel Lucy.”

Ná die gesprek staan sy diep ingedagte. Hulle het naderhand weer hulle ou bynaampies teenoor mekaar gebruik. Hoe lyk hy nou? Hy was altyd gans te mooi, ’n blonde Adonis, en die meisies het soos vrot vye vir hom geval.

En hy wou van kleins af net een ding doen en dis renjaer word. Hy het al wat ’n motor is raakgesien en hy was roekeloos met alles. Oor die meisies so om hom gedraai het en hy hom ooglopend daarin verlustig het, het sy gevrees dat hy ’n rokjagter en pierewaaier sou word, want alles het vir hom te maklik gekom. So het hy ook op TV gelyk die paar kere wat sy hom gesien het, besig om Formule 1-resies te jaag, te wen en mense met sjampanje te bespuit.

Wel, wanneer hy kom, sal sy kan sien wat werklik van hom geword het. Of daar nog iets van die ou Edwin, of liewer haar vriend Eddie, oorgebly het.

Bets loer om die deur. “Het jy hom gekry?”

“Ja.”

“Was hy bly om van jou te hoor?”

“Ek dink so.”

Bets kom in en slaan haar oë teatraal op. “Hy is die sexyste man wat ek al ooit ontmoet het, behalwe vir meneer Werner Huber. Maar meneer Huber is eerder die tall, dark and handsome, diep soort. Edwin van Reenen is cool, en ek is seker al die vroumense vrek oor hom. Hy hoef net sy pinkie te lig.”

“Dit was juis sy probleem,” merk Lucinda droogweg op. “Hy wou hoog vlieg, en hy het.”

Dalk te hoog, te na aan die son, en toe smelt sy vlerke …

“Wanneer kom hy?” wil Bets weet.

“Sodra hy kan, en wanneer dit sal wees, weet nugter.”

“Ek begin sommer vandag met ’n dieet sodat ek goed kan lyk as hy opdaag,” grap Bets en verdwyn met ’n giggel.

Lucinda gaan na Nanette, wat met die kaalgesuigde stokkie in haar handjie vasgeklem lê.

“Ek het met Papa gepraat. Hy kom kuier,” sê sy op Frans.

Nanette glimlag skamerig. “Wanneer?”

“Gou, sê hy, maar hy is nog ver.”

Sy neem die stokkie uit die taai handjie. “Netnou maak jy jou seer met dié ding. En hier kom die verpleegster met jou kos. Ek hoop jy het nie jou eetlus nou heeltemal verloor nie. Tatta, hoor.”

Die taai handjie lig in ’n groet en sy word weer met ’n glimlag beloon.

“Praat sy tog nie met dokter nie?” vra die verpleegster verbaas. “Mense kry nie veel uit haar uit nie, arme ou dingetjie.”

“Ja, sy praat, maar ek het die sleutel van die toe deur gevind. Haar ma het met haar Frans gepraat, en as ek my bietjie skool-Frans praat, reageer sy geredeliker as wanneer ’n mens Afrikaans praat.”

“Wragtig! Dalk moet dokter vir my ’n paar woorde leer.”

Lucinda lag. “Enige tyd. Dalk moet ek Franse lesse gee, maar ek waarsku jou, my Frans is beperk. Ek was lank terug op skool en ’n mens raak mos verroes wat ’n taal betref.”

Iemand trek aan haar wit jas en toe sy afkyk, staan Charles daar. “Het tannie vir haar ook swiets gegee?”

Lucinda kyk skuldig na die verpleegster, wat kastig kwaai frons. “Net een suigstokkie. Sy is baie skaam. Jy moet met haar maats maak. Sal jy?”

Hy kyk huiwerig na die bed. “Ja-aaa, maar sy praat nie met my nie.”

“Probeer van môre af.”

“Ja, tannie.”

Sy tel hom op en dra hom na sy bed. Hy is so maer dat hy so lig soos ’n veertjie is.

“Hoe oud is jy?” vra sy.

“Ses, tannie.”

Hy lyk vir haar jonger, want hy is so klein, en deernisvol druk sy hom styf vas.

“Ek moet weer na die baie siek seuntjie met die malaria gaan kyk. Jy moet soet wees, hoor? En onthou om met arme Nanette maats te maak.”

Sy sit hom in die bed en sien dat die ander na hulle kyk. Binnekort sal sy hulle almal ken. Haar kinders. Sy word altyd vreeslik lief vir hulle.

“Hoe gaan dit hier?” vra sy toe sy by Erik se kamer instap.

Werner Huber staan op uit sy stoel. “Ek kan sien dat dit beter gaan, dankie.”

“Hoe gaan dit met mevrou Huber?”

Hy frons. “Sy het gaan rus. Die hele besigheid put haar uit. Sy het nie baie uithouvermoë nie.”

Lucinda buk oor Erik, wat vas slaap. Sy vee die hare uit sy gesig en dink dat hy na sy pa lyk. Toe sy opkyk, staar Werner Huber stip na haar.

“Jy is goed met kinders.”

“Ja, ek is lief vir kinders en hulle voel dit aan. Ek het juis ’n pediater geword omdat ek vir hulle deernis het, al is hulle hoe stout.”

Hy vou sy arms voor sy bors, maar sy blik wyk nie. “Oor jy as kind swaargekry het, probeer jy nou hulle pyn verlig?”

Verbaas kyk sy na hom. Hy klink so simpatiek en sy donker oë is nie meer krities nie, maar warm.

“Ja, dis oor ek swaargekry het.”

“Het hulle julle in die weeshuis mishandel?”

Sy kyk half verskrik na hom, maar sy stemtoon is so deernisvol dat sy reageer: “Nee, hulle was goed vir ons, sover hulle kon wees. Hulle was mos nie ouers nie. Nee, dis voordat ek weeshuis toe gegaan het dat …”

Wat is sy besig om te doen? Hy is ’n vreemdeling en amper vertel sy hom haar hartsgeheime. Hy lok dit uit.

Sy arms gaan los en hy tree nader. “Wat het toe gebeur?”

“Ag, ons het swaargekry, maar ek praat nie graag daaroor nie.” Sy weet sy klink afwysend, maar daar is goed waaroor sy net nie kan praat nie.

Saaklik en professioneel kyk sy na Erik se kaart en bespreek dan sy toestand met sy pa.

Toe maak sy dat sy wegkom, voordat sy weer iets laat uitglip teenoor hierdie man wat niks met haar persoonlike lewe te doene het nie, maar dit nogtans regkry om haar weerloos en oop te maak. Sy weet nie hoe hy dit regkry nie.

Lucinda word met ’n kreet wakker en besef sy sit regop. Toe sy besef waar sy is, sak sy terug teen haar kussing, maar sy kom agter dat sy natgesweet is en dat sy bewe. Haar wange is ook nat van trane.

Sy het ná ’n lang tyd weer die droom gekry wat haar so in haar kinderjare geteister het. Sy word weer bedreig, geslaan en rondgeruk en sy het nie ’n stem om mee te protesteer nie. En dis seer, dié hale en houe wat op haar reën.

Meteens is daar ’n klop aan haar kamerdeur en sy kyk verskrik op.

“Wie is daar?” roep sy.

“Werner Huber. Ek het jou hoor gil. Is jy oukei?” Hy het natuurlik huis toe gekom, want hy hoef nie meer deurnag te waak nie, dink sy vervaard.

Sy staan op en gaan maak die deur op ’n skrefie oop. Hy staan groot en fors daar, in ’n T-hemp en kortbroek, sy hande op sy heupe.

“Ekskuus, ek dink ek het ’n nagmerrie gehad. Ek moes baie hard gegil het …”

“Dat die dak lig, en ek is ’n ligte slaper.” Hy klink besorg.

“Ag, dis niks, gaan slaap maar weer.”

“Nee, dokter, dis nie niks nie. Dis iets wat in jou onderbewussyn spook. Iets wat uitgehaal moet word. Ek gaan vir ons tee maak sodat jy kan herstel, en dan kan jy weer gaan slaap.”

Sy wil nog protesteer, maar hy verdwyn en sy sien ligte aangaan soos hy na die kombuis loop. Met ’n sug trek sy haar japon aan. Sy gaan nou in nagklere en met los hare voor hom verskyn, maar sy kan tog nie in die middel van die nag aantrek nie.

Hy werskaf met die ketel en teepot toe sy daar aankom, en hy kom vir haar baie groot en byna intimiderend manlik voor.

“Ek is gewoond aan goed vir myself doen, want ek is ’n enkeling,” grap hy.

Hierdie ander gedaante van Werner Huber, die man met deernis en humor, is die keersy van die verbete, gespanne pa van ’n ernstig siek pasiënt, dink sy en haal melk, suiker en koppies uit. Sy merk op dat hy onderlangs na haar loer en besef sy lyk seker deurmekaar.

“Gaan sit jy,” beveel hy en beduie na ’n stoel by die kombuistafel. “Ek sal jou bedien. Ek is in elk geval in die skuld by jou, want ek woon sommer hier in en kry vyfster-behandeling.”

Gedwee gaan sit sy en kyk hoe hy die ketel laat kook en die water in die teepot giet.

Toe hy naderkom om te skink, verstyf sy. Hy is so oorweldigend. Sy kan net na sy mooi groot hande kyk waarvan die naels kort geknip en netjies is. Hy kom so skoon voor en alles aan hom is netjies, eweredig en goed gevorm. Hy sal waarskynlik vir die meeste mense mooi wees. Nie filmstermooi nie, maar manlik en aantreklik.

Hy gaan sit oorkant haar en wag dat sy melk en suiker kry. Hy hou haar dop en sy probeer om nie lomp te wees nie, maar sy is baie selfbewus.

“Vertel my van die droom wat jy altyd kry.”

Sy skrik toe hy dit sê. “Hoe weet jy ek kry altyd die droom?”

“My liewe dokter, ek weet genoeg van sielkunde af, en my mensekennis is goed genoeg om te weet dat die soort droom wat jou in die nag laat gil, iets is wat diep in die psige vreeslik pla. Ons het almal ons traumas; sommige mense s’n is net erger as ander mense s’n. Maar as jy voel jy wil dit nie vir ’n blote vreemdeling vertel nie, sal ek jou nie probeer dwing nie.”

Die simpatieke oë wat oor die rand van sy koppie na haar kyk, neem hare gevange. Meteens het sy regtig die begeerte om haar hart te lug.

“Ek weet waarvandaan dit kom, maar nie hoe om dit te keer nie. Dit kom uit my vroegste kleintyd. My ouers, wat uit Ierland na Suid-Afrika gekom het, is dood toe ek drie jaar oud was. Ek het ’n jaar lank by pleegouers gewoon, en hulle het my blykbaar só mishandel dat ’n maatskaplike werker my na die Mara Bosman-weeshuis in Bellville geneem het.”

“Dis die mishandeling en die verwerping wat nog al die jare by jou spook.”

Sy stem is so teer en sy gesig so deernisvol dat haar oë onwillekeurig vol trane skiet. Vinnig probeer sy dit wegknipper, maar ’n traan ontsnap en loop teen haar wang af.

Sy wip soos sy skrik toe sy voel hoe Werner se vinger dit afvee. Hy het sowaar sy hand uitgesteek en aan haar geraak. Iets het met haar hele wese gebeur, haar lyf en gees. Dit voel asof hy met haar toor.

Sy snuif en gryp gou ’n papierservet om haar neus af te vee.

“Ek het nog nooit hieroor gepraat nie,” erken sy skor. “Nou vertel ek dit vir jou.”

“Miskien omdat jy weet ek gaan ook deur ’n moeilike tyd. Ek dink jy het iets ervaar wat die seer weer teruggebring het – ek hoop dis nie my seun se siekte nie.”

Deur nat wimpers kyk sy na hom. “Nee, ek glo nie dis net Erik se siekte nie. Dis ’n dogtertjie wat MIV-positief is wat iets diep in my geroer het. Ek het haar pa as kind geken.”

Hy steek weer sy hand uit en vou dit warm om haar hand wat die servet opfrommel, maar hy los dit byna onmiddellik weer.

“Drink eers jou tee voor dit koud word, dan vertel jy my van haar.”

Lucinda teug aan die tee en voel sommer beter. “Haar naam is Nanette van Reenen en haar pa is ’n bekende renjaer.”

“Edwin van Reenen?”

“Ja. Hy was saam met my in die weeshuis. Maar net ná skool is hy weg en toe ek weer van hom hoor, jaag hy in ’n Grand Prix in Frankryk. Dit was altyd sy droom. Hy het met ’n Franse vrou getrou en sy het vigs opgedoen en blykbaar is hulle kind daarmee gebore. Die vrou is al dood.”

Hy maak ’n geskokte geluid. “Liewe hemel! Het hý dit nie ook nie?”

“Ek vermoed so. Hy kan van die beste anti-retrovirale terapie vir sy kind bekostig, en seker vir homself ook.”

“Ja, hy moes al goed geld gemaak het. Ek weet hy het ’n slag in Duitsland die Grand Prix gewen, en hy jaag vir Ferrari.”

Lucinda drink haar tee klaar en ril liggies.

“Kry jy koud?” vra Werner besorg.

“Nee, ek ril van afgryse. Kan ek asseblief nog van jou lekker tee kry?”

“Onmiddellik.” Hy skink vir haar.

Vannag, hier in die kombuis in die vroeë oggendure, is hy nie meer formeel en op ’n afstand nie. Hy laat haar op ’n vreemde manier geborge voel.

“Jou hart is in jou werk,” sê hy. “Ek kan dit sien, en ek hoor wat mense sê. Ek glo as iemand my seun gesond gaan kry, is dit jy. Al is jy nog so jonk dat dit my eksvrou grief.”

“Dankie vir die vertroue. Ek doen my bes en bid maar net dat ek sal slaag. Elke geval is vir my belangrik.”

Hy skink vir hom ook nog tee.

“Weet jy niks van jou oumas en oupas af nie?”

“Nee. Hulle woon in Ierland, of hulle het daar gewoon. Skynbaar was my ouers van hulle vervreem. Ek het al die jare in my kinderlike onkunde gehoop hulle sal my soek, soos in ’n feëverhaal, maar natuurlik het ek nooit ’n woord van hulle gehoor nie. Dalk is of was hulle arm mense sonder die vermoë om na ’n verre land te reis. Ek het ook gewonder waarom my ouers juis na Suid-Afrika gekom het. Sou hulle ooit vir hulle ouers gesê het waarheen hulle gaan? Dis net vreemd dat hulle so totaal afgesny geraak het van hulle familie.”

“Het jy dit nie oorweeg om jou familie te probeer opspoor nie?”

Sy kyk op in sy oë. “Ek wou al, maar ek was so besig om te studeer vir beurse, deeltyds te werk en toe voltyds te werk en te spesialiseer dat ek dit nog nie aangepak het nie. Dis seker nie iets wat mens binne ’n week kan regkry nie. Jy het tyd, geld en geduld nodig.”

Hy knik. “Dis waar. Maar vir jou eie sielerus en heil moet jy dit dalk eendag doen.”

Sy vee oor haar mond en slaan haar oë neer.

“Jy het die mooiste oë wat ek nog aan ’n mens gesien het,” hoor sy hom sê en vervaard kyk sy op.

Hy glimlag. “Jy is eintlik een van die innemendste mense wat ek al teëgekom het.”

Sy voel hoe ’n blos by haar nek en wange optrek. “Wel … komplimente maak my gewoonlik ongemaklik, maar ek moet seker dankie sê.”

“Voel jy nou beter?”

“Aansienlik beter, dankie, meneer Huber.”

“Ag nee, as mens middernagtelike hartsgeheime deel, dink ek moet jy my Werner noem. En mag ek jou Lucinda noem? Voor die hospitaalpersoneel sal ek jou egter met jou titel vereer.”

Sy glimlag vir hom. “Goed, Werner. Baie dankie vir die tee en troos. Ek waardeer dit regtig. Nou gaan ek weer probeer slaap, en jy moet ook.”

“Ja, weg is jy. Ek sal opruim. Lekker slaap.” Terwyl sy na haar kamer loop, verwonder sy haar oor die medemenslikheid van dié man wat aanvanklik so formidabel en amper skrikwekkend voorgekom het.

Hartklop Omnibus 3

Подняться наверх